Monthly Archives: Februarie 2010

Die stress van idols met ’n lollypop ontlont

Standaard

Dit is ‘n stresvolle gedoente om vir ‘n sang-oudisie te gaan!  Des te meer as jy niks van gehoortoetse af weet nie.

Ek onthou hoe ek gehaper het in my vyfde- en sesdejaar (al het ek ‘n geoefende oor van vioolspeel op skool): ek moes sing en dans en agterná-la-la-la.  Met víér pare oë wat my nástaar – en twee sêrleiers wat agteloos vir mekaar grinnik.  Gmpf!

Dit was intimiderend.

* * *

Maar laasweek was ‘n ander storie.  Ek is genooi om in te loer by ons wyk se serenadegroep-oudisies:

Die mense wat kom audition het, kon in groepies kom sing, mekaar ondersteun, ‘n slukkie sjerrie vooraf kry, en is ‘n rukkie later laggend daar weg met ‘n stokkielekker in die hand.

Hulle hét gestress, maar die scenario was heel anders.  Daar was net twee sêrleiers: een met papier en die ander voor die klavier – en albei van hulle het geglimlag en chit-chat sodat diegene wat kom oudisie het, met ‘n diepe inaseming rustig kon begin sing.

* * *

Ná ‘n saam-saam liedjie, is ‘n C-majeur toonleer op- en af gespeel wat elkeen een-een agterná moes sing om hulle range te bepaal (die hoogste en laagste note wat hulle kan bykom).  Dis ‘n maklike oefening, wat jou dadelik laat goed voel en jou gerusstel.

Eers daarná is die moeiliker intonasie/gehoor-toets gedoen met akkoorde en drie-noot deuntjies wat nágesing moes word.  As iemand gesukkel het, is daar eers vinnig-vinnig ‘n makliker akkoord gegee om te probeer ná-neurie.

Dit was briljant.  En ek was sommer trots.

* * *

Die hele senuweeagtige/senutergende oefening is ontlont en omskep tot iets nét positiefs en prettigs, selfs vir diegene wat dit nie sou maak nie; almal kon wegstap met ‘n glimlag én ‘n stokkielekker.

En die teleurstelling wat noodwendig in die lug hang as jy nie ná ‘n oudisie maak nie, is vroegtydig versag deur elke slag vriendelik te verduidelik dat daar slegs vier persone per sangstem verkies kon word.

* * *

Dit is só maklik om, as jy in ‘n magsposisie is, ander persone per ongeluk te verneder/intimideer, selfs al is dit nie jou bedoeling nie – dat dit werklik opvallend en mooi is as mense moeite doen om inherent-intimiderende aktiwiteite vriendeliker te  maak.

Kudos vir dié kultuur!

Die tiran en die glimlaggende man: hoe swaai jy ‘n diktator se kop?

Standaard

In my relatiewe kort beroepslewe het ek al te doen gekry met twee tipe base/leiers.

Die een tipe regeer met ‘n ystervuis.  Hier is kenmerke wat ek al opgetel het:

  • Hulle eis (slaafse) lojaliteit bo alles
  • Hulle gesigte swel rooi op as enige kritiek uitgespreek word (…dit word beskou as ‘n persoonlike aanval)
  • Hulle dwing hulle gesag af deur personeellede laer af een-een te intimideer/viktimiseer
  • Hulle funksioneer in ‘n suiwere magshiërargie.  Enige demokratiese strukture wat bestaan (beheerliggame, rade, oorsigkomitees) word geminag, vermy of gemanipuleer
  • Hulle omring hulleself met vertrouelinge wat as informante kan optree
  • Alle goedkeuring van besluite en toedeling van finansies word by die een persoon gesentraliseer
  • Hulle funksioneer goed in krisisbestuur-omstandighede, maar krake verskyn in hulle mondering sodra hulle besluite moet neem oor sake wat spesialiskennis (of konsultasie) vereis
  • Finansiële verliese of foute wat gemaak word, word onder die mat ingevee.  (Hulle is behendig daarmee om aandag af te lei vanaf die foute wat gemaak is, deur nuwe krisisse te “skep” waaraan aandag bestee moet word)
  • Hulle dring daarop aan om op ‘n titel aangespreek te word
  • Hulle skep altyd die indruk dat hulle baie besig is, soveel so dat mense hulle moeilik kan nader om hulp/advies
  • Hulle skuif mense in hulle poste/portefeuljes rond sodat daar niemand is wat ekspert-kennis in ‘n veld kan ontwikkel nie, en daar heeltyd ‘n mate van onsekerheid heers
  • Hulle praat 90% van die tyd tydens enige vergadering
  • Hulle gebruik pertinent “demokratiese” woorde (visie, missie, eienaarskap, konsultasie) in ‘n poging om hulle ondemokratiese gedrag te verbloem
  • Hulle beskou hulleself as alwetend in die betrokke gesagsposisie waarin hulle is.

Die ander tipe leiers glimlag meer:

  • Hulle bied hulle werknemers/ondergeskiktes die ruimte en vryheid om inisiatief te neem
  • Hulle moedig hulle werknemers aan om hulleself konstant te verbeter (vaardighede en kennis)
  • Hulle werk hard daaraan om ‘n gedeelde visie en missie daar te stel waarin almal inkoop
  • Hulle vra hulle ondergeskiktes om hulle op hulle voorname te noem, en beskou hulle as gelykes
  • Hulle moedig gesprek en dialoog aan, by vergaderings fasiliteer hulle bloot die besprekings, en praat self minder as 50% van die tyd
  • Hulle wentel besluitneming af en verantwoordelikheid op: hulle taak werknemers met uitdagende werk waarvan hulle eienaarskap kan neem, maar stel maatreëls in om gehalte te verseker
  • Hulle beskou kritiek as opbouend en probeer ‘n kritiese ingesteldheid in die werksplek bevorder
  • Hulle bemagtig werknemers deur saam te dink en te praat, en toeganklik te wees vir navrae en advies.
  • Hulle aanvaar dat almal hard werk en probeer om die werkslas so billik as moontlik oor die personeel te versprei.
  • Hulle is altyd oop vir voorstelle en beskou hulle eie posisie van leierskap ook maar as ‘n leerproses

Hierdie verskillende tipe leiers kry ‘n mens ook elders in die samelewing: in leerlingrade, huiskomitees, skole, teekringe, direksies.

Ek wonder hoe om binne die parameters van ‘n studenteleierskapsontwikkelingsprogram studente wat met ystervuis-gedagtes in posisies kom, se gedagtes te swaai dat hulle as vriendeliker leiers uitstap.

Enige idees hierrondom?