Die tiran en die glimlaggende man: hoe swaai jy ‘n diktator se kop?

Standard

In my relatiewe kort beroepslewe het ek al te doen gekry met twee tipe base/leiers.

Die een tipe regeer met ‘n ystervuis.  Hier is kenmerke wat ek al opgetel het:

  • Hulle eis (slaafse) lojaliteit bo alles
  • Hulle gesigte swel rooi op as enige kritiek uitgespreek word (…dit word beskou as ‘n persoonlike aanval)
  • Hulle dwing hulle gesag af deur personeellede laer af een-een te intimideer/viktimiseer
  • Hulle funksioneer in ‘n suiwere magshiërargie.  Enige demokratiese strukture wat bestaan (beheerliggame, rade, oorsigkomitees) word geminag, vermy of gemanipuleer
  • Hulle omring hulleself met vertrouelinge wat as informante kan optree
  • Alle goedkeuring van besluite en toedeling van finansies word by die een persoon gesentraliseer
  • Hulle funksioneer goed in krisisbestuur-omstandighede, maar krake verskyn in hulle mondering sodra hulle besluite moet neem oor sake wat spesialiskennis (of konsultasie) vereis
  • Finansiële verliese of foute wat gemaak word, word onder die mat ingevee.  (Hulle is behendig daarmee om aandag af te lei vanaf die foute wat gemaak is, deur nuwe krisisse te “skep” waaraan aandag bestee moet word)
  • Hulle dring daarop aan om op ‘n titel aangespreek te word
  • Hulle skep altyd die indruk dat hulle baie besig is, soveel so dat mense hulle moeilik kan nader om hulp/advies
  • Hulle skuif mense in hulle poste/portefeuljes rond sodat daar niemand is wat ekspert-kennis in ‘n veld kan ontwikkel nie, en daar heeltyd ‘n mate van onsekerheid heers
  • Hulle praat 90% van die tyd tydens enige vergadering
  • Hulle gebruik pertinent “demokratiese” woorde (visie, missie, eienaarskap, konsultasie) in ‘n poging om hulle ondemokratiese gedrag te verbloem
  • Hulle beskou hulleself as alwetend in die betrokke gesagsposisie waarin hulle is.

Die ander tipe leiers glimlag meer:

  • Hulle bied hulle werknemers/ondergeskiktes die ruimte en vryheid om inisiatief te neem
  • Hulle moedig hulle werknemers aan om hulleself konstant te verbeter (vaardighede en kennis)
  • Hulle werk hard daaraan om ‘n gedeelde visie en missie daar te stel waarin almal inkoop
  • Hulle vra hulle ondergeskiktes om hulle op hulle voorname te noem, en beskou hulle as gelykes
  • Hulle moedig gesprek en dialoog aan, by vergaderings fasiliteer hulle bloot die besprekings, en praat self minder as 50% van die tyd
  • Hulle wentel besluitneming af en verantwoordelikheid op: hulle taak werknemers met uitdagende werk waarvan hulle eienaarskap kan neem, maar stel maatreëls in om gehalte te verseker
  • Hulle beskou kritiek as opbouend en probeer ‘n kritiese ingesteldheid in die werksplek bevorder
  • Hulle bemagtig werknemers deur saam te dink en te praat, en toeganklik te wees vir navrae en advies.
  • Hulle aanvaar dat almal hard werk en probeer om die werkslas so billik as moontlik oor die personeel te versprei.
  • Hulle is altyd oop vir voorstelle en beskou hulle eie posisie van leierskap ook maar as ‘n leerproses

Hierdie verskillende tipe leiers kry ‘n mens ook elders in die samelewing: in leerlingrade, huiskomitees, skole, teekringe, direksies.

Ek wonder hoe om binne die parameters van ‘n studenteleierskapsontwikkelingsprogram studente wat met ystervuis-gedagtes in posisies kom, se gedagtes te swaai dat hulle as vriendeliker leiers uitstap.

Enige idees hierrondom?

14 responses »

  1. Ek hou vir die argetipes. Onthou net dat volgelinge ook in verskillende geure kom. Party mense (jy) omhels vryheid en ruimte, ander vind dit angswekkend. Ontneem jou waardeoordele oor die argetipes nie dalk die volgeling se reg om ook te kies nie. Is daar nie dalk ‘n dialtektiek tussen hierdie tipes nie? Beïnvloed jou (myns insiens korrekte) veroordeling van ‘n spesifieke bestuurstyl nie dalk die gespreksruimte nie?

  2. @kobuse: Wat mense die angswekkendste vind t.o.v. “vryheid en ruimte” is die onsekerheid waarmee dit gepaardgaan, vermoed ek.

    Maar onsekerheid kan by albei leierskapstyle voorkom: waar die leier wel vir jou spesifieke opdragte gee (en jy dus sekerheid het oor wat van jou, op ‘n korttermyn verwag word), het jy kwalik langtermyn sekerheid as die leier elke dag nuwe, onverwante opdragte uitdink. Wanneer jy dus jou dagtaak (of jaartermyn)afgehandel het, kruip daar ‘n onrustigheid in jou gemoed.

    Insgelyks as jy nét ‘n visie en missie het, met min uitgestipte operasionele verwagtinge, dan kan die onsekerheid van wat jy nou eintlik moet doen, ook oneindig lastig wees.

    Albei argetipes sou “onsekerheid” kon bestuur.

    * * *

    Ek verstaan dat mense dit intimiderend kan vind om “inisiatief” te moet neem, of “kreatief” te wees. Die vryheid om jou eie gedagtes oor iets te moet dink, assosiëer ons al van jonks af met die moontlikheid van “foute” maak of “verkeerd” wees.

    In die demokratiese opset kan jy ten minste openlik gesels oor jou onsekerhede en meer leiding vra; in ‘n ystervuisbestel is dit nie die geval nie.

    * * *

    Ek is natuurlik bevooroordeeld hieroor – jy sou self kon sê dat ek demokrasie, ironies genoeg, met ‘n ystervuis sou wou afdwing! En daarmee maak ek inderdaad die gesprek hieroor moeilik.

    Maar daarom vra ek raad. Hoe swaai ‘n mens iemand se kop as hy/sy oortuig is hulle móét stréng wees? As hulle persepsie van posisionele leierskap is dat ‘n mens altyd sélf oplossings moet uitdink en opdragte uitdeel?

    Hoe kweek jy ‘n demokratiese, hiërargie-lose (wat mag betref, nie noodwendig posvlakke nie) omgewing?

    * * *

    Want ons moet iewers begin.

    Anders gaan ons base altyd diktators wees.

  3. Ek dink DMI het ‘n punt beet: onner die dik vel van ‘n ystervuis lê daar gewoonlik ‘n beangste kind wat bo alles mislukking vrees. Een benadering sou wees om hulle saggie oop te maak deur hulle ‘n veilige ruimte te bied om daardie kind uit die donker kas te laat klim. Iets soos Open Space Technology.

  4. Mnr. Muller, ek dink ek ken die antwoord waarna jy soek, want ek het self al daardie denkverskuiwing ondergaan, alhoewel nie in die konteks van ‘n leierskapsposisie nie. Die antwoord is eintlik baie eenvoudig, en verwant aan wat demoerin en Joh ook noem. Die uitvoering van die oplossing is egter baie moeiliker – wel, om enigiemand se denkwyse te verander is baie moeilik en gebeur nie oornag nie.

    En die antwoord: jy moet die persoon kry om sy eie onsekerhede aan te spreek (analoog aan “face your fears”) en te ontdek dat dit ok is om nie al die antwoorde self te ken nie. Vandaar af kan jy die persoon begelei om antwoorde te soek deur samewerking met ander mense. Slegs deur die praktiese oefening van die gewensde denkwyse, sal die persoon se denke kan swaai. Soos Joh ook noem, moet daar dus ‘n veilige ruimte geskep word hiervoor.

    Is ek verkeerd?

    • Hmf, ek moet seker maar aanvaar dat dit heelwat gesprek en tyd vat om waardes/oortuigings te help verander. Maar tyd is nie altyd ‘n luukse wat ‘n mens het nie. En om gesprekke aan te knoop met mense wat ander sienings het, is ook soms maar moeilik… Jy kan nie iemand máák deelneem aan ‘n gesprek nie.

      Ek is self nogals oopkop, dink ek, maar as iemand my waardes ingrypend wil verander, sal ek waarskynlik ook maar hardekwas wees. Kyk nou maar net hoe hardkoppig is ek teenoor die waarde van diktatorskap. Hmf.

  5. Miskien gaan almal hieroor met my verskil, maar ek is van mening dat die antwoord eintlik baie eenvoudig is.

    Indien die student (of die direksielid of wie ookal) optree soos in geval #1 en dit toevallig aangeleerde gedrag is, is die antwoord maklik: gebruik enige taktiek wat die betrokke individu sal oortuig om anders om te tree. Mense is maklik om te beheer.

    Indien die student (of die direksielid of wie ookal) optree soos in geval #1 en dit nie aangeleerde gedrag is nie, maar eerder ‘n oorlewingsmaatstaf van ‘n persoon met ‘n baie lae selfbeeld wat nodig het om ander te kritiseer om beter te voel oor homself…well, then you’re screwed. Daai tipe ouens (ek het self al vir een gewerk) verander nie sommer maklik nie, want daar is ‘n uiters diepgewortelde soort selfhaat in hulle.

    So. Bepaal eers die oorsprong van die gedrag en besluit dan self of dit moontlik is om dit anders te kondisioneer.

    • Of jy kan sommer jou pistool uitruk en dit vir die wat na jou gaan kom makliker maak. Rid te world of evil sê ek….😆 Eintlik is dit makliker om ‘n nuwe job op te spoor, want ek hoor tronkselle is koud en nat.

  6. Ek moet ‘n dialoog skryf vir my seun (13) oor die 3 tipes leiers wat jy kry. 4 rolspelers moet deel neem enige idees of stukke wat beskibaar is

    • @Hellies: As oud-onderwyser sou ek regtig nie aanbeveel dat ouers namens hulle kinders huiswerk doen nie – want dan mis hulle die leergeleentheid wat hierdie oefening hulle bied.

      Op dertien moet hulle self dink watter tipe leiers daar is, self die onderskeid probeer tref en dan dink hoe hulle dit in ‘n mondeling/dialoog kan oordra. Self “leierskap” probeer definiëer.

      Daar is heelwat voorbeelde van verskillende tipe leiers waarmee hulle al vertroud behoort te wees: ‘n klaskaptein, ‘n sportkaptein, skoolhoof, onderwyser, hoofseun, die staatspresident, ‘n sakeleier, of wie ook al. Hulle het alreeds van Hitler, Ghandi en Cleopatra geleer. En hulle weet hoe om dit grappig en informatief aan te bied.

      Die doel van die opdrag is nie bloot om “kennis”/feite êrens te gaan opsoek en opsê nie – die doel van die opdrag is om kreatiewe denk- en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel, in ‘n groep te werk en die waardes van verskillende leierskapstyle met mekaar op te weeg.

      Deur die navorsing namens hulle te doen, ontneem jy hulle van dié leergeleentheid.

      >>

      Wat leierskap betref, is daar verskeie maniere om “tipes” te onderskei – en daar is beslis nie net twee tipes wat altyd en maklik onderskeibaar van mekaar is nie. Om binêre oposisies te skep, is bloot ‘n maklike redevoering-tegniek: demokraties vs. outkokraties, transformasioneel vs. transaksioneel, sosialisties vs. imperialisties, operasioneel vs. verteenwoordigend.

      Leierskap is egter veel meer idiosinchraties (eie tot ‘n individu) as dit; ons elkeen gebruik ‘n verskeidenheid van bestuurstegnieke, tree soms op sonder om ander te raadpleeg, of konsulteer uitvoerig, afhangende van die situasie.

      In ‘n ander inskrywing https://mnrmuller.wordpress.com/2010/08/03/om-pa-te-staan-en-die-wanpersepsies-van-studenteleierskap/ wys ek daarop gewys dat studente dikwels terugval op ‘n transaksionele bestuurstyl, soos onderwysers en ouers meestal teenoor kinders optree.

      Die idee van hierdie kwessies uitlig, is om uiteindelik krities te kan nadink oor die wyses waarop ons instinktief in gegewe situasies optree – en of dit die mees gewensde benadering is, gemeet aan die uitkomste wat jy wil bereik.

      As jy byvoorbeeld ‘n klomp studente uittrap omdat hulle ‘n kombuisarea onnet los en die heeltyd boetes uitskryf (outokratiese bestuurstyl), sonder dat die situasie verbeter, moet jy dalk oorweeg om eerder ‘n oop gesprek met die studente te hê waar hulle self hulle behoeftes en redes en oplossings met mekaar kan deel – en mekaar verantwoordbaar kan hou (demokratiese bestuurstyl).

  7. Pingback: So, jy is klaar met skool en op pad universiteit toe – wat om te verwag « mnr.muller

  8. Pingback: Jou eerste dag op universiteit, en wat om te verwag « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s