Daily Archives: April 19, 2010

Hey, boetie, kom gou hier!

Standaard

“Hey, boetie, kom gou hier!” roep hy die huiskomiteelid nader – dis nou die vriend van my wat ook vyf jaar terug in die koshuis was.

Ek cringe en wil lag terselfdertyd.

Die eerstejaar wat afgevaardig was om ons weg te wys, het sopas vertel dat dié betrokke HK-“Meneer” hom aangesê het om dit te doen.

“Hey, boetie!” skree my vriend weer.

En lanklaas het ek iemand só verontwaardig gesien omdraai en aangestap kom.

* * *

Dis nogals ‘n long drop vanaf ‘n geëerde “Meneer” na ‘n geminagtende “Boetie”.  Ai, dis tragies as jy as buitestaander ‘n oogklap-hiërargie op sy kop keer.

Om volkome gehaat te wees

Standaard

My oudkoshuis – as instansie – haat my tans.

Ná ‘n ope-brief wat ek aan die primarius gerig het, jou inwoners my vanuit badkamervensters uit die koshuis se binnehof uit.

Laasjaar kon ek enige tyd inwandel en tuis voel.  Nou, as ek met ‘n vriend gesels oor die mosaïek-plaveisel wat ons gelê het, sal ‘n eerstejaar op opdrag van ‘n HK-lid, my die deur wys.

* * *

Dit is nogals vreemd om so volkome gehaat te wees deur mense wat my nouliks ken.

Maar, nou-ja, ek moes dit sekerlik verwag het.  Jy kan nie sonder meer as buitestaander kritiek lewer oor ‘n trotse omgewing waar een groep jongelinge die ouer groep op titels en vanne aanspreek nie.

* * *

Naïef het ek werklik gehoop my ope-brief en die doop-inskrywing word platforms vir ‘n oop gesprek oor die veranderingsbestuur wat nog nodig is.

Maar toe nie. 

* * *

Tereg is dit sekerlik vreemd dat iemand vyf jaar ná hy weg is, steeds by sy oudkoshuis inloer – dit gee ek toe.  Dit maak ‘n ad hominem argument teen my té maklik.

* * *

Ek moet seker die hoop wat ek gekoester het vir dié oudtuiste van my, saam met die onnodige onvergenoegdheid, begrawe (dalk neffens Pluto se graf?) …en aanvaar dat ‘n mens weens die tydelike aard van ‘n koshuis net soveel kan vermag.

Dat ‘n koshuis noodwendig terug sal pendulum, ongeag.