Om te yk én te vernuwe

Standard

Prosesse by groot burokratiese instansies moet geyk word.  Prosedures moet vasgelê, herhaal en verfyn word.  Sodat die ratte van die masjien glad kan hardloop.

Dieselfde geld wanneer jy voorgraads klasgee: Aanvanklik het jy nuwe notas en baie idees, maar mettertyd verfyn jy jou loskop-denke tot geykte lesse wat logieserwys suksesvol op mekaar volg.

Maar “yking”, of om “geyk te wees” word ook in ‘n negatiewe sin gebruik: dit is inderdaad onoorspronklik of afgesaag om ‘n geykte uitdrukking te gebruik.

En as ‘n dosent of ‘n onderwyser vergeelde notas uitdeel en nooit nuwe onderrigmetodes gebruik nie, kan dit baie frustrerend wees, veral vir ‘n 2.0 generasie.

* * *

Reglyning teenoor “yking” staan “vernuwing”, wat inherent ‘n chaotiese opsie is: om iets nuuts te skep, of om prosesse op ‘n nuwe wyse te bestuur…  Noodwendig veroorsaak dit verwarring en ontwrig diegene wat gewoond is aan die ritme of roetine van ‘n geykte manier van doen.

Enige vernuwingsopsies laat vrae ontstaan: Hoekom moet ons verander? Why change something that ain’t broke?  Maar dit skep vir kreatiewe siele weer ‘n asemhalingsruimte waar hulle uiteindelik kan vryer rondbeweeg met idees wat buite die grense van die geykte prosedures loop.

Dit gee jou kans om aan te pas by veranderende tye sodat jy met opgedateerde metodes die gewensde uitkomstes kan bereik, sodat jy jou werk kan streamline en produktiewer wees.  Sodat jy selfs jou uitkomste kan heroorweeg en moontlik wysig.

* * *

Dié spanning tussen yking en vernuwing moet ‘n mens verstaan.  Jy moet verstaan dat daar in, sowel liefdesverhoudings as bestuursprosesse, fases van yking en vernuwing afwisselend (en soms gelyktydig) plaasvind.

* * *

Deur nét terug te val op die bekende, omdat veranderingsbestuur juis ongemaklik is, is dwaas.  Dan raak jy die ou onderwyser met die geel notas in die klas.

Netso is om nét te wil verander die heeltyd, sonder om tyd te gee vir die veranderinge om getoets, gemeet en verfyn te word, ook onverantwoordelik.  Dan tree jy bloot impulsief op, en veral in ‘n groterige organisasie, veroorsaak dit wantroue in die hele idee van vernuwing.  Dan doen jy meer skade as goed.

* * *

Vandaar die beweging in die vorige eeu vanaf transaksionele leierskapstyle na transformasionele leierskap – vanaf operasionele bestuur na veranderingsbestuur.

As jy dié wisselende fases sensitief en kreatief kan begelei, dan doen jy goed.  As jy stagneer wanneer jy moet vernuwe, of vernuwe wanneer jy moet yk, dan doen jy sleg.

A change is as good as a holiday, sê die geykte uitdrukking.

2 responses »

  1. Jou naasmekaarstel van liefdesverhoudings en bestuurprosesse se fases van yking en vernuwing fassineer my – sê bietjie meer hieroor…?

    • Ek vermoed die nuutheid (verliefdheid) van twee aangetrokkenes yk mettertyd tot gunsteling-aktiwiteite; vaste vriendekringe; doodvervelige roetines. Dit is goed.

      Maar vir verhoudings om nie te stagneer nie, moet paartjies, voel ek, gereeld genoeg tog ánder dinge doen ook; vernuwe – iets nuuts, ánder vriende maak of nuwer dinge doen.

      Doen jy egter nét dit, nuwe goed die heeltyd, sonder die verstadiging en verrusting, is daar ook nie genoeg om die fladdering van emosies en aktiwiteite bymekaar te hou nie.

      Maar hmf, ek is allermins ‘n kenner op dié gebied😛

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s