Monthly Archives: Julie 2010

Die era van ’n strikdas-professor voor ’n swartbord en ’n klomp enerslykende rykmanskinders is altoos verby

Standard

Ek is nie ‘n kenner van universiteite nie, maar weet wel dat die “idee” van wat ‘n universiteit is, voortdurend verander.

Sommige geboue mag dalk eeue oud wees, maar hoër-onderwys wetgewing, befondsingsformules en wat ons verstaan onder die kernfunksies van ‘n universiteit, verander wêreldwyd.  Dit evolueer soos ons verstaan van onderrigleer toeneem en soos die konteks (en uitdagings) van universiteite glokaal verander.

>>

Ondanks dié constant state of flux, beskou baie afgestudeerdes hulleself intuïtief as eksperts en huiwer hulle nie om hulle stuiwer in die armbeurs te gooi as dit gaan oor universiteitsdinge nie.

(Dis nie sleg om deel te neem aan ‘n gesprek nie; dis net goed om te besef wanneer jy dalk beperkte kennis oor ‘n onderwerp het.)

>>

Wat het verander sedert ‘n vorige generasie graad gevang het?

  1. Regoor die wêreld is daar ‘n drastiese toename in studentegetalle en ‘n tekort aan fasiliteite (massification of the Higher Education sector).
  2. Waar universiteite vantevore befonds is op grond van studenteinskrywingsgetalle, ontvang hulle subsidies op grond van die getal studente wat afstudeer (gradueer) en die kursus wat hulle volg.  Verdere fondse word ingewin deur kontraknavorsing en borgskappe.  Studente se klasgelde dra sowat ‘n derde by.
  3. Die deurvloei van studente, d.w.s. studentesukses is veel belangriker as vroeër, studente word vinniger verbied om verder te studeer as hulle nie genoeg krediete verwerf nie, en akademiese steundienste speel ‘n meer sentrale rol.
  4. Navorsing ontvang groter subsidie as onderrig.  Akademici is konstant onder druk om groot eerstejaarsklasse te hanteer én wetenskaplike artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte gepubliseer te kry.
  5. Personeelaanstellings is moeilik; wêreldwyd sukkel dit om jong akademici aan te stel in die plek van ouer garde wat aftree.  Die status en gerief van akademikus-wees, het, relatief tot ander beroepe, afgeneem.
  6. Die aard en omvang van vakinhoude is meer dinamies (verander meer gereeld) as in die verlede.
  7. Minder klem word geplaas op die blote memorisering en weergee van inhoud; die vaardighede wat jy kan demonstreer en die waardes wat jy aangeleer het, is van groter belang.  Dit bied uitdagings t.o.v. assessering.
  8. Die onderskeid tussen residensiële en afstandsonderrig, en voltyds- en deeltydse studie vervaag, met meer studente wat inpendel, werk en primêr van e-leer gebruik maak.
  9. Nuwe kwessies is belangrik in ‘n post-millennium globaliserende Suid-Afrika: volhoubare ontwikkeling, voedsel- en watersekerheid, verantwoordelike burgerskap, demokratiese waardegedrewe bestuur en leierskap, ens.
  10. Waar eensgesindheid en groepsgevoel voorheen belangrik was, ten koste van andersdenkendes, is daar tans die besef dat andersheid en die verrykende invalshoeke wat dit meebring, belangrik is vir die wetenskap; individualisme en selfverwesenliking geniet voorrang tans, studente is bewus van hulle regte, en beskou hulleself as kliënte.
  11. Waar universiteite destyds elite ivoortorings mog gewees het, word daar tans meer relevansie en betrokkenheid van hulle geëis – ‘n universiteit moet betrokke wees in die gemeenskap, met navorsing wat toegespits is op die uitdagings van die land en streek.

>>

Die lys hierbo kan nog uitvoerig aangevul word.

Praat gerus saam.

Die era van ‘n strikdas-professor voor ‘n swartbord en ‘n klomp enerslykende rykmanskinders is altoos verby.

>>

Verklaring vir die vetkryte

Standard

Noudat ek al klaar ‘n klompie vetkrytsketse gepost het, voel ek effens verplig om darem te verklaar vanwaar, vanwou en hoe en so:

Miskien moet ek begin deur myself te vrywaar, want ek beskou en bedoel nie my gekrabbel as kuns (of die meegaande woorde as filosofie) nie, maar eerder as vinnige pret wat ek graag met julle deel.

* * *

Dit het begin in die Strand by ‘n leë restaurant waar ek gehoop het op ontbyt.  Die krag was af, en daarom die restaurant gesluit.  Buite het dit gereën, maar by die kindertafel was daar papier en kryt en vandaar my eerste skets, sonder jolyt.

‘n Week of wat tevore het ek en my kleinnefie/broerskind (18 maande oud) met vetkryte gekrap, en toe daarso weer (maar dié slag alleen).  Voor dít was dit sekerlik jare terug dat ek myself daarmee verwyl het.  Hoekom weet ek nie, want om net vinnig te teken en in te kleur, is vet pret.  Dit bring net goeie glimlaggedagtes terug.

* * *

Toe ek weer by my ouerhuis was, het ek in ‘n ou laai ‘n boksie kryte herontdek en saamgebring Stellenbosch toe.  En nou, terwyl ek TV kyk, skets ek elke dan en wan ‘n bespotlike prent.

Moet dit dus asseblief nie té ernstig opneem nie, maar laat weet my as jy van een hou: ons kan altyd dit laat blok, en dan kan jy dit ophang bó ‘n toilet, of in ‘n kinderkamer, of waar ook al dié tipe werk by jou kleurskema pas 😛