Die era van ’n strikdas-professor voor ’n swartbord en ’n klomp enerslykende rykmanskinders is altoos verby

Standaard

Ek is nie ‘n kenner van universiteite nie, maar weet wel dat die “idee” van wat ‘n universiteit is, voortdurend verander.

Sommige geboue mag dalk eeue oud wees, maar hoër-onderwys wetgewing, befondsingsformules en wat ons verstaan onder die kernfunksies van ‘n universiteit, verander wêreldwyd.  Dit evolueer soos ons verstaan van onderrigleer toeneem en soos die konteks (en uitdagings) van universiteite glokaal verander.

>>

Ondanks dié constant state of flux, beskou baie afgestudeerdes hulleself intuïtief as eksperts en huiwer hulle nie om hulle stuiwer in die armbeurs te gooi as dit gaan oor universiteitsdinge nie.

(Dis nie sleg om deel te neem aan ‘n gesprek nie; dis net goed om te besef wanneer jy dalk beperkte kennis oor ‘n onderwerp het.)

>>

Wat het verander sedert ‘n vorige generasie graad gevang het?

  1. Regoor die wêreld is daar ‘n drastiese toename in studentegetalle en ‘n tekort aan fasiliteite (massification of the Higher Education sector).
  2. Waar universiteite vantevore befonds is op grond van studenteinskrywingsgetalle, ontvang hulle subsidies op grond van die getal studente wat afstudeer (gradueer) en die kursus wat hulle volg.  Verdere fondse word ingewin deur kontraknavorsing en borgskappe.  Studente se klasgelde dra sowat ‘n derde by.
  3. Die deurvloei van studente, d.w.s. studentesukses is veel belangriker as vroeër, studente word vinniger verbied om verder te studeer as hulle nie genoeg krediete verwerf nie, en akademiese steundienste speel ‘n meer sentrale rol.
  4. Navorsing ontvang groter subsidie as onderrig.  Akademici is konstant onder druk om groot eerstejaarsklasse te hanteer én wetenskaplike artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte gepubliseer te kry.
  5. Personeelaanstellings is moeilik; wêreldwyd sukkel dit om jong akademici aan te stel in die plek van ouer garde wat aftree.  Die status en gerief van akademikus-wees, het, relatief tot ander beroepe, afgeneem.
  6. Die aard en omvang van vakinhoude is meer dinamies (verander meer gereeld) as in die verlede.
  7. Minder klem word geplaas op die blote memorisering en weergee van inhoud; die vaardighede wat jy kan demonstreer en die waardes wat jy aangeleer het, is van groter belang.  Dit bied uitdagings t.o.v. assessering.
  8. Die onderskeid tussen residensiële en afstandsonderrig, en voltyds- en deeltydse studie vervaag, met meer studente wat inpendel, werk en primêr van e-leer gebruik maak.
  9. Nuwe kwessies is belangrik in ‘n post-millennium globaliserende Suid-Afrika: volhoubare ontwikkeling, voedsel- en watersekerheid, verantwoordelike burgerskap, demokratiese waardegedrewe bestuur en leierskap, ens.
  10. Waar eensgesindheid en groepsgevoel voorheen belangrik was, ten koste van andersdenkendes, is daar tans die besef dat andersheid en die verrykende invalshoeke wat dit meebring, belangrik is vir die wetenskap; individualisme en selfverwesenliking geniet voorrang tans, studente is bewus van hulle regte, en beskou hulleself as kliënte.
  11. Waar universiteite destyds elite ivoortorings mog gewees het, word daar tans meer relevansie en betrokkenheid van hulle geëis – ‘n universiteit moet betrokke wees in die gemeenskap, met navorsing wat toegespits is op die uitdagings van die land en streek.

>>

Die lys hierbo kan nog uitvoerig aangevul word.

Praat gerus saam.

Die era van ‘n strikdas-professor voor ‘n swartbord en ‘n klomp enerslykende rykmanskinders is altoos verby.

>>

Advertisements

2 responses »

  1. Ek is verbonde aan twee universiteit in Nederland (as PhD “student” / in opleiding), en beaam wat jy sê. Meeste van die items op jou lysie is ook hier geldig.

    Ek is self negatief ingestel oor die befondsing wat hoofsaaklik toegeken word op navorsings “uitsette”, en gemeet word aan die hand van publikasies. My persoonlike siening is dat die grootste waarde van ‘n universiteit is om (ten minste voorgraads)
    * intelligente mense te versamel in ‘n groep wat kritieke massa besit (in ‘n vrydenkende omgewing)
    * Studente se onafhanklike denke te bevorder deur studente kennis te gee en hulle uit te daag.

    Nagraads kan ‘n mens argumenteer vir navorsing se hoër status, maar realisties gesien is die voorgraadse gemeenskap ‘n groter deel van die universiteite, en lewer dit dalk die groter bydrae aan die land. Die kwaliteit van ons land se onderwysers, dokters, besigheidsmanne, rekenaarprogrammeerders en human resources managers is grootendeels ‘n funksie van hoe goed die Baccalaureus grade is, no?

    Navorsing moet sekerlik aangemoedig word, maar nie ten koste van onderwys nie. Miskien is daar ruimte vir dosente wat fokus op onderwys, sonder om hulle minderwaardig te ag. En miskien sou die akademie beter wees as daar minder snert gepubliseer word (ter wille van die publiskasiegetalle).

    My posisie maak my egter inherent subjektief. Wat dink julle?

    • Aha, goed om vanuit Nederland te hoor 🙂

      Die klem op navorsinguitsette kan veroorsaak dat akademici afgerammelde navorsing, wat nie noodwendig relevant is nie, probeer publiseer, ja.

      Maar dalk is dit die “lesser of two evils”: dit sal jammer wees as akademici nie gebruik maak van hulle stimulerende omgewings om wél navorsing te doen nie, maar nét klasgee.

      Die hoër onderwys omgewing is vandag meer gedifferensieerd: daar is instellings (kolleges) wat hulleself uitsluitlik toespits op voorgraadse programme, met gevestigde instansies (tradisionele universiteite) wat gevra word om op navorsing te fokus, juis omdat hulle alreeds die kapasiteit en nodige infrastruktuur het.

      Maar dit bly maar problematies, veral in ‘n ontwikkelende land, waar jou klem moet lê. Uiteraard het Afrika navorsing nodig, maar ons het beslis ook ‘n blote hoër getal graduandi nodig.

      En tot watter mate moet jy “skills training” befonds, eerder as esoteriese kennisoordrag?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s