Die apokriewe gelykenis van twee liefdevolle mans

Standaard

In die tyd van Jesus se gelykenisse was daar niemand wat dié vraag wou vra nie, want dit het nie swaar genoeg op enigiemand se gemoed gelê nie.

Maar in die meer onlangse geskiedenis was daar ‘n belese man – jy sou hom ‘n skrifgeleerde kon noem – wat wel hierdie vraag wou stel.  Hy raak toe stil en vra in gebed: “Jesus, mag twee mans saam ‘n kind grootmaak?”

Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

Die skrifgeleerde antwoord: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood. Dit is ‘n afstootlike sonde.”

Toe antwoord Jesus hom: “Mens, het jy niks uit my gelykenisse geleer nie? Hoe is dit dat jy kyk, maar nie sien nie, en hoor maar nie luister of verstaan nie?”

* * *

Toe vertel Hy hom die apokriewe gelykenis van twee liefdevolle mans:

“Daar was twee mans wat baie lief was vir mekaar. Hulle het trou aan mekaar gesweer en gelukkig saam gewoon en die rykdom wat hulle vergader het, met hulle naastes gedeel.

“Op ‘n dag kom hulle twee weeskinders teë. Hulle neem hulle in en versorg en klee hulle, en maak hulle groot soos hulle eie.

“Omdat hulle al baie nagedink het oor die liefde, en geweet het dat daar mense is wat hulle haat vir die liefde wat hulle met mekaar deel, het hulle versigtig, maar openlik oor die liefde met hulle kinders gepraat.

“Hulle het die kinders vermaan om nie te veroordeel nie, maar om die rykheid van God se liefde aan almal toe te wens.”

* * *

Die skrifgeleerde was verbaas oor die antwoord wat hy ontvang en het weer stil geword om die tweede deel van die gelykenis verder aan te hoor.

* * *

“In dieselfde streek het daar ‘n man en vrou gewoon wat op ‘n jong ouderdom trou aan mekaar gesweer het, en in die eerste jare van hulle huwelik het die vrou vir haar man twee kinders in die wêreld gebring.

“Soos die kinders ouer geword het, het die man na sy vrou gekyk en haar as die moeder van sy kinders begin sien. Die liefde wat hy vir haar gevoel het, het begin taan, maar in die gees van die Wet het hulle met die huwelik volhard.

“In die streek was daar heelwat egskeidings en ongehude ouers en egbreuk wat deur mense gepleeg is, maar die man en vrou het aan mekaar trou gebly, en die kinders sonder sulke sonde opgevoed.  Maar die twee kinders het ook sonder ‘n liefderyke voorbeeld grootgeword, omdat die man en vrou se liefde vir mekaar stil geword het.

“So het die kinders stilweg besef dat die huwelik eintlik ‘n plig is wat nagekom word. Hulle het na hulle maats se ouers gekyk en gesien dat hulle nie die pligte van die huwelik nakom nie.  Hulle het trots gevoel op hulle ouers se nakoming van die Wet en het aan ander uitgewys hoe sondig hulle ouers is.”

* * *

Die skrifgeleerde het sy oë oopgemaak en hartseer gevoel vir die man en vrou se kinders.

Toe vra ‘n stem in sy gemoed: “In die oë van die Here, wie het hulle kinders die mees liefdevol grootgemaak?”

Advertisements

6 responses »

  1. Mnr.Muller;

    Eerstens moet ek net vir jou sê dat ek regtig die blog begin geniet het. Jou skryfstyl en taal is ‘n inspirasie vir iemand soos ek wat droom om dit regtig goed te kan doen, eendag.

    Die storie lees ek, en dis werklik vir my mooi, die les is kosbaar en maak definitief ‘n impak.

    Nou sal ek graag die mede lesers se opinies (en joune natuurlik) wil hoor oor wanner is dit God se stem wat jy hoor? Hoe weet jy dis Sy fluisteringe in jou oor?

    As die Bybel dan die woord van God is, sal ek graag wil weet hoe moet jy hom lees. As ‘n letterlike riglyn, of as ‘n boek gevul met vergelykings en konsepte wat nie noodwendig letterlik opgeneem moet word nie.

    Daar is die wat vas glo dat alles in die Bybel dinge was wat werklik, net soos dit daar staan gebeur het. Moses se staf by die see wat oopmaak. Die water uit die klip, dinge soos dit.

    Sal werklik geniet om eendag te lees wat jy daaroor skryf.

    Hoekom jy?

    Omdat jy die gawe het om te laat verstaan.

    • @Flintie: dankie vir jou komplimente insake dié inskrywing en my blog; ek waardeer dit.

      Wat hierdie inskrywing betref, wil ek nie voorhou dat dit ‘n godgegewe inspirasie was nie; dit is my feilbare, menslike interpretasie van die gees van die woord (teenoor die letter van die wet) in die bybel.

      Wat die lees van die bybel betref, sal ek altyd mense aanmoedig om dit ten minste een keer te doen: van voor tot agter. Lees dit en bêre dit in jou hart.

      As jy dit meer as een keer lees, doen dit met wysheid en insig: interpreteer die verskillende bybelboeke vir die tekste wat hulle is in die konteks waarin hulle geskryf is: sommige boeke is (letterlike) geskiedkundige skrywes, ander is (figuurlike) poëtiese tekste, ander is briewe aan gemeentes (in heidennasies), jare ná Jesus se dood.

      Onthou ook dat die man genaamd Jesus ‘n Jood was, nie ‘n Christen nie. En lees ook die Qur’an, omdat dit ook van hom vertel. Andersins, as jy net bybeldagboekstukkies of kinderbybelstories lees, voel dit my, stagneer jou geloof tot ‘n voorgeskrewe bygeloof.

      Nietemin, soos ek die gelykenisse verstaan, is die Fariseërs en skrifgeleerdes telkens gemaan om minder voorskriftelik en dogmaties met die woord om te gaan. En om met jou hart te dink en met jou verstand te voel. Of altans, om deur die heilige gees gelei te word, en jou naaste lief te hê, of iets soos dit, min of meer.

  2. Mnr Muller, wat jy sê vind aanklank by my. Ek het ook die vorige pos waarna jy in hierdie ene verwys gaan lees. Goed geskryf. Klink my asof jy, soos ek, voel dat suksesvolle kinders die is wat liefde uitleef en ook weet hoe om dit te ontvang. Selfs liefdevolle kinders kry seer, pleeg selfmoord, maak ‘n gemors by die werk, het onsuksesvolle verhoudings ens..Daar is dus selfs met liefdevolle ouerskap geen waarborge nie. Daar sal natuurlik mense wees wat glo dat kinders wat hulleself kan laat geld in die samelewing, of weet hoe om geld te maak, of weet hoe om pret te hê die suksesvolles is. Wie is ek om te sê dat hulle nie reg is nie? Maar volgens my maatstawwe sou die twee liefdevolle mans die ideale ouers uitmaak.

  3. Wow, dankie mnr Müller, hierdie post is kosbaar.
    Vir my as deel van ‘n ouer generasie wie se portuur geneig is om anders-wees te veroordeel, is dit verfrissend om oopkop hieroor te lees en te dink.
    Ontstellend is dit dat die mense wat veroordeel hulle “bewyse” in die Bybel vind. En dit terwyl Jesus nie veroordeel het nie, maar vrygemaak het.
    Dit is wat ek hierbo lees – ‘n vrymakende gees.
    Drie hoera’s vir die Apokriewe, want dit beteken dat God se Gees ook vandag deur ‘n blog kan praat!

  4. Ek wens meer mense wil hierdie kom lees. Ek wens meer mense wil besef dat geen een van ons durf vingers wys nie. Die kind hoort in die huis waar hy liefde gaan kry. Die kind hoort in die huis waar ouers aan hulle die fondamente van menswees gaan leer. En dit maak nie saak of dit ‘n ma-en-pa, ma-en-ma of pa-en-pa kombinasie is nie. Ultimately is dit waaroor dit gaan – LIEFDE

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s