Hoe kritiseer jy konstruktief op skrif, sonder om te ontstig?

Standaard

Sodra ek ‘n inskrywing maak, herlees ek dit vir tikfoute en lomp sinne, en probeer kyk of ek die punt wat ek wil maak/probleem wat ek skets, in ‘n ligte, gemoedeliker trant kan oordra.

Maar dis moeilik om te peil hoe die leser dít wat ek skryf, léés.

(Neem byvoorbeeld die woord “gemoedeliker” hierbo.  Dit laat klink my waarskynlik arrogant en hoogdrawend.)

* * *

Ook skryf ek as oud-onderwyser.  Ek weet dit is belangrik om eksplisiet na te dink oor wat jy implisiet leer.  Oftewel, om te wonder oor wat jy uit sekere ervarings (alledaags, of buitengewoon) leer. Kortweg, om te reflekteer oor dit wat jy doen.

* * *

Só het ek vanjaar nogals heelwat inskrywings gemaak oor studenteleierskap, enersyds omdat dit ‘n belangstelling van my is – en ‘n groot deel van my studentejare opgeneem het – en andersyds omdat ek tans as inwonende/besoekende hoof studente soms begelei.  Ek bedink dié dinge (juis omdat ek nie altyd die antwoorde het nie).

* * *

Wanneer ek oor studenteleierskap skryf, is die doel drieledig: eerstens vir myself en my tydgenote om daaroor na te dink en te wonder, tweedens vir moontlike toekomstige bespreking en gebruik deur huidige of toekomstige studenteleiers, en derdens sodat die gesprek wyer as bloot die anekdotiese kan kring en meer menings kan uitlok.

Daarom probeer ek interessante, meestal ware, soms verdraaide, maar meestal outentieke (rêrige) verhale en gebeurtenisse oproep.  Want stories dra met dit ‘n tema en anker ‘n abstrakte konsep in die werklikheid, voel ek.

* * *

Wát ek skryf, maak egter dikwels van die studente (tereg) kwaad.  Wat privaat is, word (dikwels sonder hulle aanvanklike medewete) publiek.  ‘n Gesprek op trappe word ‘n gesprek op die internet.

En, selfs al kan hulle kommentaar lewer op my inskrywings, bly die magsverhouding steeds ongelyk… en word ek dus in hulle oë ‘n tiran wat op studente-onkunde teer.

* * *

Dalk moet ek in die vervolg hierdie alledaagse staaltjies, eerder op ys plaas vir ‘n jaar of drie totdat al die karakters werklik anoniem geword het, en die kritiek minder snydend is?

* * *

Nietemin, vir almal wie ek ontstig, vra ek om verskoning – en ek vra julle raad.  Want die bedoeling is nie om ‘n eensydige, afgeronde “waarheid” te post nie. Ek is oop vir kommentaar. Moenie net kwaad wees vir my nie, reageer op dit wat geskryf staan en tree in gesprek – as my gelyke.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s