Op die trappe by ’n studente-saamtrek verskree ek toe die arme verenigingsvoorsitter in ‘n poging om totsiens te sê en ‘n belaglike taaldebat in die kiem te smoor

Standard

Ek was eergister kortstondig by ‘n studentekonferensie waarna kampusleiers van die Wes-Kaap universiteite genooi is.  (Met “kortstondig” bedoel ek eintlik “korter-as-‘n-stonde” (‘n uur), seinde ek net sowat 25 minute daar was.)

In beginsel is sulke bymekaarkom-geleenthede vir my goed en dink ek heimlik terug aan die dae toe ons ‘n Wes-Kaapse studenteleierskapstruktuur (WC_InterimWrkngGrp_report) op die been probeer bring het.  Dis vir my goed dat studenteleiers forums bywoon en hulle verwysingsraamwerke verbreed.

* * *

Teen teetyd groet ek, maar word buite by die trappe per ongeluk vasgetrek in ‘n kortstondige gesprek met ‘n kampusverenigingvoorsitter wat Afrikaans wil beskerm en tolkdienste instel soos op Potch.

(Hy verwys na “Potch” asof dit ‘n universiteit op sy eie is, nie slegs een kampus van die Noordwes Universiteit nie.)

Ek sê vir hom hy is laf, besluite oor taal is ‘n akademiese kwessie, sy vereniging maak ‘n emosionele versugting daarvan en streef ‘n behoudende, Orania-gesinde Afrikanerbastion na. Ek is grappenderwys kortaf, want ek is op pad. Maar ek wil darem ook nie niks sê nie, wat op ‘n kampus moet ‘n mens krities wees en studente konfronteer met teenoorgestelde opinies, glo ek.

Maar hy stry opreg; probeer hulle missie en visie opsê en my verseker hulle leuse (Transformasie in Afrikaans) is méér as bloot ‘n dekmantel.

Ek sug, verdwaas dat hy my inlok in ‘n spel van skyndebat.  Hy moet eerder by die Berg- en Toerklub aansluit, sê ek.  Of by Eko-maties wat TEDx-konferensies reël.  Hy kan sy jonkmensweesgees en -drif elders beter aanwend tot doele wat meer sin het, meen ek.

Sy lapelwapens blink op sy baadjie, noulettend vasgespeld; nee, maan hy, sy vereniging is belangrik.

Afrikaans, voer ek aan, word mos uitgebou deur soms in klaskamers ook van Engels gebruik te maak, dit word nie deur Engels verdring nie.  Die Universiteit sê onomwonde dat hy Afrikaans bevorder as onderrig- en wetenskapstaal – nêrens sê hy iets anders nie.  Afrikaans in ‘n meertalige konteks.  Wat meer wil hulle hê?

Tolkdienste.

Ga! Wil jy nou nét in Afrikaans klasgee, met oorfone op die kop en tolkers wat honderde voorgraadse modules intyds vertaal?  Waar kry jy genoeg vakkennis-spesialiste wat oombliklik kan tolk? En hoe lei jy ‘n dinamiese klasgesprek in so ‘n opset? Moet ‘n dosent nie juis sy Afrikaanse studente ook blootstel aan die internasionale vaktaaldiskoers en -jargon nie?  Nee, gmpf, dis blote politiekery, groet ek.

Minderheidstaalregte hou hy vol.

Deur ‘n vereniging te run wat kasteelbesoeke aflê, agteraf konkel met konvokasie-raadslede en ‘n konstante kibbelary op raadsvlak aanmoedig? Dis counter-revolutionary, comrade.  Die vraag is nie óf universiteite Afrikaans moet bevorder nie, die vraag is hóé.  Deur die universiteitsbestuur verdag te maak, wen jy niks!

En met dit is ek toe eindelik daar weg, sonder ‘n koffie- of tee-opsie.

* * *

Ná die tyd berispe my kollega my.  Hoe kon ek dié student só verskree het.

Ek pleit onskuldig – miskien het ek ten tye effe hard gepraat, maar ek het hom nie verskree nie.  Met wisselende stemtoon het ek die belaglikheid van die saak beklemtoon. Ons was besig met ‘n skyndebat: die reëls is eenvoudig, ons neem mekaar nie ernstig op nie, want ons weet ons opinies verskil.  So, ons swaai ons sinne soos swaarde, skermend.

Nee, selfs ‘n kring omstanders het meegeluister, tugtig hy.

Wat my laat wonder oor die nut van dié spektakelspel.  Het die voorsitter later die skermutseling oordink?  Het hy die spel weer deurgespeel in sy kop en ‘n snydende retort gekry op my woeste veralgemenings? Wat het die spektators hiervan gemaak?

* * *

Maar as ek die voorsitter net beleefd gegroet het, hand geskud het, kamma-geïnteresseerd geluister het hoe hy homself as studenteleier beskou, opinieloos my kop geknik het en beleefd myself verskoon het, dán sou dit, voel ek, wesenlik “verkeerd” gewees het.

Hierdie was ‘n teachable moment probeer ek my kollega verduidelik, maar hom oortuig ek nie maklik nie.

* * *

Let wel: Hierdie is my eie weergawe van gebeure twee dae gelede. Ek skryf dit in ‘n ligte trant en het geen slegte gevoelens jeens die betrokke vereniging of -voorsitter nie.  Uiteraard het ons gesprek nie presies so verloop nie, ook nie my gesprek met my kollega daarná nie.  Hierdie is bloot ‘n anekdotiese vertelling wat ek juis neerskryf, omdat ek onseker is of my bravade sinvol was of nie.  Ek is só gewoond daaraan om volstoom op windmeule af te storm, dat ek nie altyd oplet dat dit nie soseer drake is nie.

19 responses »

  1. Pingback: Hoe skryf jy iets sonder om ander kwaad te maak? « mnr.muller

  2. Moet ons nie eerder fokus daarop om ‘n uitnemende universiteit te wees, as om vir onsself allerhande kunsmatige hekkies op te stel nie? Ek is bereid om te help bou aan ‘n MIT-gehalte instituut, maar nie aan ‘n bastion, ‘n kerk of ‘n politieke pion nie. Maar die spel moet homself seker maar uitwoeker, tot ons vriende ook in hulle eie denke hierdie ooglopende skaakmat ervaar.

    • @Stéfan: Probleem is, universiteite het meervoudige funksies en identiteite waarvan jy jouself nie sommer kan losmaak nie: voorgraads is jy ‘n skool vir die massas, maar nagraads ‘n elite high tech MIT én ‘n sakeskool wat werkende professionele studente bedien.

      Mense stry meestal oor die aard van die eersgenoemde identiteit waar duisende studente voorgraadse onderrig ontvang. Duisende, waarvan die meerderheid Afrikaans is en tereg in Afrikaans moet kan klas loop.

      Maar jy kan nie as instelling laasgenoemde identiteite bedien, sonder om van dieselfde dosente ook voorgraads in te span nie: as jy ‘n top internasionale wetenskaplike kry om navorsing uit te bou, moet sy voorgraads ook klasgee en haar kennis kan deel… maar dit gaan sukkel in Afrikaans.

      Ook as jy byvoorbeeld ingenieurswese onderrig, maar al jou studente is slegs Afrikaans, wit en manlik, dan dra jy dalk die vakspesifieke kennis oor, maar jy ontwikkel kwalik die studente se nodige generiese vaardighede (en netwerke) om suksesvol in ‘n multikulturele Suid-Afrika te funksioneer.

      • Dan is daar ook die kwessie dat feitlik alle Afrikaanse studente goed tweetalig is, en dat die groter besigheidswêreld / internasionale gemeenskap feitlik deurgaans in Engels funksioneer.

        Hierdie is moeilike vrae: ons wil graag in Afrikaans onderrig gee, maar hoe doen ons dit sonder om te diskrimineer, en sonder om ons einddoel uit die oog te verloor. Ek is nie seker dit is altyd haalbaar nie.

  3. Kan jy ‘n bietjie uitbrei op dié uittreksel en daarna die kloutjie van die eerste sin by die tweede bring?

    “Deur ‘n vereniging te run wat kasteelbesoeke aflê, agteraf konkel met konvokasie-raadslede en ‘n konstante kibbelary op raadsvlak aanmoedig? Dis counter-revolutionary, comrade.”

    • @Piet le Roux: ek voel dat die wyse waarop hierdie vereniging probeer om Afrikaans te bevorder, nie die saak dien nie. En dat hulle met hulle aksies inderwaarheid die doel teenwerk.

      • …lede van die vereniging is vir lank die enigste mense wat ten minste IETS probeer doen het…deur niks te doen nie, is die saak slegs vererger…jy het m.a.w. net die saak vererger…balk uit eie oog…

      • @Janneman27: Die “taalstryd” is, volgens my, ‘n strooiman-argument waar die universiteit se bestuur voorgestel word as anti-Afrikaanse saboteurs wat wíl verengels en onder politieke druk swig om dit te doen.

        Met ‘n fiktiewe rede om ontsenu te wees, kan die betrokke vereniging (en enkele alumni) dus geregtig voel om alles in die “stryd” te werp om op raadsvlak te “baklei” vir die taal.

        Dít terwyl ál die fakulteite op akademies-verantwoordbare wyse hulle kurrikula probeer bedryf, en die bevordering van “Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal in ‘n meertalige konteks” (vanaf die eeuwisseling en daarná – en nog steeds) voorop stel.

        * * *

        Baie dosente werk aktief om Afrikaans te bevorder – sonder om onraad te saai of spoke op te jaag. Deur byvoorbeeld kurrikulêr (in vakdidaktiek Afrikaans) onderwysstudente te begelei om kreatiewe skryf te onderrig. Ek sien nie hoe dít as “niksdoen” tel of Afrikaans se saak vererger nie.

  4. …dalk sal dit help om op te hou skyndebatte meevoer en te luister as iemand hul opinie gee voordat jy jou opinie lewer en dan eers, nadat julle mekaar VERSTAAN, ‘n uiteindelike opinie te vorm…

    …tot dan mors alle “vrye” denkers hulle tyd…en ander mense s’n…

    • Ek dink jy slaan die spyker op die kop, Janneman27: ek moet méér luister of, as ek nie die tyd het nie, eerder nie gesprekke met vreemdelinge in ‘n kontroversiële rigting instuur nie. Ek stem saam met jou.

      Nietemin, soms gebeur dit wel: Ek het die verenigingsvoorsitter hallo-gegroet; hy het gesê hy herken my van 2005; toe vra ek in watter kapasiteit hy by die konferensie is, en toe noem hy sy vereniging.

      Die gesprek was alreeds aan die gang… ek moes óf swyg dat ek nie glo in sy vereniging se aktiwiteite nie (waaroor ek darem effens ingelig is) óf ek moes wel my teëkanting noem (wat ek toe gedoen het).

      En dit is hoekom ek hierdie petalje opskryf.

      Ten minste bied ek hierdeur aan hom (of enersdenkendes) die kans om op ‘n beredeneerde wyse die pro-Afrikaanse saak te stel. In ‘n asinchroniese en semi-anonieme ruimte.

      En dit bied ook vir my ‘n geleentheid om die gebeurtenis te oordink – en te wonder of ek “reg” opgetree het.

      • …seker waar…ek voel egter dat mense (die mensdom) meer daaruit baat as mens dink voor mens praat in plaas van andersom…

        …of ten minste dan stilbly as mens nie daaroor wil dink nie…ondeurdagte uitings veroorsaak gewoonlik meer kwaad as wat mens wil…

        …net ‘n gedagte…oftewel ‘n “deurdagte”…

      • @Janneman27: Ek verseker jou dat ek al voorheen heelwat oor die taalaanbieding by Wes-Kaapse universiteite gedink het, en ook die betrokke vereniging se stigting sien kom en gaan het. Op my dag het ek selfs gedien in die universiteit se raad.

        My uitlatings was dus nie ondeurdag in die sin dat ek nie al uitvoerig gedink het oor dít wat ek gesê het nie. En ook al albei kante toe geredeneer het met vriende en kollegas nie.

        Die enigste ondeurdagtheid waaraan ek skuldig pleit, is dat ek nie beplan het om ‘n “debat” op daardie dag by die trappe met die betrokke persoon te voer nie.

        (Ek plaas “debat” in aanhalingstekens, omdat geen van die punte wat ek genoem het, weerlê is nie én omdat die verenigingsvoorsitter homself nie oopgestel het om oorreed te word nie. In ‘n ware debat moet albei partye bereid wees om oorreed te word op grond van die ander se argumente.

        Maar oor vrese, is ek bevrees, kan jy nie rasioneel debatteer nie.)

      • @Janneman27: Ek verstaan nie hoe jy kan impliseer niks is/word gedoen nie.

        Dít terwyl daar ‘n taalsentrum in die lewe geroep is om akademiese geletterdheid te bevorder.

        ‘n Afrikaanse kunstefees is uitgebou.
        Nota’s word vertaal; nuwe vakinhoude word konstant ontwikkel.

        Die universiteit staan nie stil nie; by uitstek is navorsing ‘n dinamiese aktiwiteit.

        Al wat ‘n stok in die speke van vooruitgang kan steek, is oningeligte protes.

      • Ek dog jy spreek jouself juis teen ondeurdagte clichés soos daardie uit?

        Vooruitgang in die verkeerde rigting kan net so skadelik, of meer so, wees as ‘n onbeweeglike status quo. Kyk maar na sommige passievolle leiers uit die verlede, en na al die nare dinge wat onder hulle “progressiewe” denkvaandel uitgevoer is.

  5. Pingback: Konvokasie, kom volk die nasie : ’n metafoor « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s