Vaarwel aan ’n wêreldstad sonder skyline

Standard

Hiermee groet ek vir eers ‘n indrukwekkende stad.

‘n Voetgangerstad vol ou sjarme en moderne gerief.  Waar jy bogronds en ondergronds maklik regkom met stiptelike, rooi busse, swart taxi’s en kleurgekentekende tube-treine.  Waar bordjies en wegwyserkaarte jou lei van een museum en monument na die ander, met enkel telefoonhokkies vol gesellinnommers rooi daarin opgeplak.

Ek groet ‘n stad wat ‘n aardige dorpsgevoel aan hom het, al wemel dit van toeriste en uitlanders wat ponde wil verdien.  Waar jy dieselfde toebroodjiewinkels op elke straathoek sien en ‘n wegneemkoffie koop teen die aanslag van die wittende koue.

‘n Stad wat wil-wil die agtergrond wees vir ‘n René Magritte skildery – met mans en vroue toegeknoop in elegante eenderse swart jasse (wel sonder keilhoedens).  Waar die stappende werkendes jou stip aankyk, sonder ‘n kopknik of vriendelike groet.

Ek verlaat ‘n grys stad, toegewit in mis en nat.  Skoon, sonder openbare vullisdromme (‘n verweer teen rommelkrappendes).

Ek groet ‘n stad vol dialekte en aksente, ‘n kosmopolitaanse brug, deurwinter en deurtrap met grondboontjieverkopers langs die pad.

‘n Stad waar studente vrylik betoog, waar joernaliste vaardig skryf en die publiek verwoed lees.

Vaarwel, en tot wedersiens.

* * *

Vanmiddag vang ek die trein op Paddington-stasie vanaf Londen na Newport/Cardiff (Wallis) toe om ‘n konferensie by te woon.  Vrydag keer ek kortstondig terug om my vlug Kaapstad toe te vang.

9 responses »

  1. Ek neem aan jy het bietjie koud gekry, alhoewel die weer die week nie so naar met ons was soos verlede week en die week vooraf nie. Dis een ding wat ons dadelik opgeval het, hierdie “eenderse” lyk met die swart – dis deel van die “offisiële” kleredrag. lol… [was daar nie iewers ‘n gedig/liedjie wat die woorde “swart op wit en wit op swart” in het nie – of is dit nou my geheue wat nie werk nie] Strak gesigte – goeie opmerking! Het jy die mense in die tube beskou? – sit soos lyke. Elke ou te bang hy “offence” die ander deur net links/regs te kyk. As jy volg keer weer kom, maak seker jy is by London Bridge stasie so om en by 7-8vm – dan sal jy sien hoe hul die strate letterlik skoonspuit met amper kookwater – groot tenk-vragmotor – van die nag se slapers om die stasie wat daar bietjie “mors”. Ek het dit vir meer as ‘n jaar aanskou – die skoonmaak. [terloops, luister bietjie na die liedjie [dis op youtube ook] “Streets of London” deur Roger Whittaker – as jy nog nie het nie. Wat hy daar sing is baie waar/raak.]

  2. Ek het so pas gaan kyk na waar Hay-on-Wey is – die afstand vanaf Cardiff. Dit gaan jou 1 1/2 uur se ry neem – AS jy kan en graag wil. Dis ‘n plekkie VOL boekwinkels! “Town of books” is dit bekend voor. Dis ‘n plekke op die grens van Eng/Wales en jy stap letterlik van een boekwinkel na die ander – maar jy het ‘n hele dag daarvoor nodig. Lekker plekkies vir teen+skons ens. ook. Geniet dit, as jy daarby kan uitkom.
    http://www.hay-on-wye.co.uk/bookshops/default.asp
    Gaan loer bietjie. Daar is een buitelug “boekwinkel” – die boeke staan sommer in die oopte en jy vat wat jy wil hê en los die geld in ‘n gleufie [foto op my ander blog] – maar dis ou tweedehandse boeke, moet ek bysê ook – daar’s ‘n ou vervalle “kasteel” ook.

  3. André – jou verhale vol van woordekuns sit ‘n glimlag op my gesig. Dit is nie die verbeeldinglose banale woorde van die alledaagse mensdom nie, maar stukkies glimmende humor, insig en helderheid in ‘n see van troebel konformiteit.

  4. Pingback: Verslag van ‘n vlugtige besoek aan Engeland « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s