Blogposts as mini-memoires (of ’n greep op penisse)

Standard

Wat begin het as ‘n plek op die web waar ek Xhosa- en Lewensoriënteringlesse kon post, het hierdie wordpress-ruimte stelselmatig vervorm tot ‘n reeks outobiografiese refleksies.

Interessant hoeveel staaltjies span uit frustrasies oor studenteleierskap; ek het dit nie verwag nie.

As ‘n memoire gedefiniëer word as ‘n greep uit jou lewe wat jy beskryf, oor reflekteer en aan ander kommunikeer, dan, vermoed ek, is hierdie blog inderdaad dít: ‘n hoop asinchroniese memoires uit my groeiende verlede.

Soms post ek bloot vetkrytsketse; dit het ook sy plek.

Maar dit is interessant om te sien waaroor ek als aan’t skryf is, en te wonder hoekom ek gedryf sou wees om dit te doen – wátter dinge my aanraak en dwing om iets wat eintlik net ‘n vlugtige gebeurtenis was, in my gedagtes te verleng.

Ek is bly ek doen dit; om die tyd te vat om dít wat ég is (vir my), te probeer verwoord… dit leer my ‘n rustigheid aan.  En maak my bewus van my feilbaarheid; my naïewe idealisme soms, en my eiewyse arrogansie.

Ek voel ek leer meer wanneer ek oor ‘n gebeurtenis reflekteer.

>>

Maar ‘n blog genaamd “mnr.muller en sy virtuele chalkboard” kom soms verkeerd aan ander oor, het ek besef.

Die meeste mense se konnotasie aan wie en wat ‘n onderwyser is, verskil van myne.  Hulle sien ‘n onderwyser as die een wat voor staan in die klas met ‘n lat en ‘n les; ‘n prediker van die weg, die waarheid en die eksamenvraestel.  Met die swartbord ‘n altaar waarop heilige koeie gegiet word; die bordkryt alleenlik in die onderwyser se hand.

Dit is allermins die tipe onderwyser wat ek was.

Ek het nie voor by ‘n swartbord gestaan nie, maar in die biblioteek, met losstaande turkoois-tafels en losstaande stoele, selfs rusbanke in die “klas”.  My witbord was op wieletjies, en die kleurpenne in almal se hand.  Vir ‘n Xhosa-les oor liggaamsdele, deel ek ‘n swemgala-foto uit met pyle wat wys na leerders se kop, oë, neus, maag, bene, skouers, knieë; ek deel woordeboeke uit in die klas, en laat hulle self die woorde opsoek en inskryf; dan sit ek tussen hulle en por hulle aan om maniere te vind hoe om dié nuwe woorde te memoriseer: leer hulle die vaardigheid aan om assosiasies te tref, om te leer.  “Iliso” (oë) sê Chris, herinner hom aan die “Elize”, een van die karakters in hulle Afrikaanse voorgeskrewe boek, wat swaksiende is: Briljant!  Party interpreteer dat die pyl wys na ‘n elmboog, die ander ene soek “voorarm” op.

En só leer ek ook.  Konstant in gesprek met woerelende leerders; elkeen met ‘n eie kennisvlak, vrae, persepsies en wanpersepsies, ervaringe, wysheid en inslag tot geluk.  Ons daag mekaar uit; ‘n graad 9 seun soek die Xhosa-woord op vir “penis” en skryf dit op sy papier en die witbord neer, met ‘n pyl wat hy na die seun se boardshorts trek.  Ons lag en besef “umthondo” is dalk van “-thanda” (-hou van/-lief wees) afgelei, ‘n koppeling wat hy nou kwalik sal vergeet.  (Later daardie dag roep die skoolhoof my in: een van die vroue-leerders se ouer het gebel oor onwelvoeglike woordgebruik in die klas.)

>>

‘n Week of so gelede nooi die einste “umthondo”-oudleerder, nou ‘n eerstejaarstudent, my oor na sy universiteitskoshuis, wat ook eertyds my oudkoshuis was.  Ek het hom ‘n ekstra oranje knopie gevat, baie gepas omdat hy syne juis vroeër die vorige week verloor het.  (Die knopies dra hulle vir ‘n kort tyd om mekaar op kampus te kan uitken; ‘n slim simbool waarmee jy ‘n sin van eenheid kan skep, al is almal ooglopend anders aangetrek.)

Vir my, wat graag met jongmense werk – en my kort tyd by my oudskool soms verlang – was dit heerlik om sy interpretasies van die werklikheid te kon aanhoor, en oudergewoonte uitdaag.

Miskien sal ek daarom nie vertel hoe die onderprim, vir wie ek toe in die koshuisgang raakgeloop en vriendelik gegroet het, my agterdogtig aangekyk het en ‘n tree terug gegee het nie, nie noem hoe die inwonende hoof my kort daarná kom opsoek het in die quad en gevra het dat ek in die toekoms my eerder eers by hom moet aanmeld nie; laat ek eerder vergeet hoe die primarius hande-voor-sy bors bly staan het toe ek hom ‘n stukkie koue waatlemoen aanbied.  Vir my is hulle nog kwaad oor ek durf kritiek lewer. Durf reflekteer oor praktyke wat vir hulle heilig is.

>>

Welke klaskamer-atmosfeer jy ook al wil skep, oop vir kritiek en gesprek; nie almal geniet dié vryhede nie.  Soms is dit intimiderend om op die witbord te kan skryf – deel te neem aan die koei se slag.  ‘n Hand op te steek; van iemand te verskil.  (Sê nou maar net die afgeslagte koeie was nooit heilig nie?)

>>

Umthondo is ‘n mooi woord, deels vanweë my moontlik-verkeerde assosiasie met “-thanda”.  Maar ook omdat dit ‘n greep uit my lewe uit oproep, van ‘n jonger ek wat dit kon waag om die leerplan oop te gooi vir verrassings en vermanings en pret.

‘n Woord waarmee jy verskillende grepe se drade saam kan trek, pun intended.

Kyk, hy is skadeloos, wees hom tog genadig.

>>

6 responses »

  1. Ek dink as meer onderwysers interessante klasse aanbied, sal leerders ook met meer umf leer. Ek dink ‘n groot probleem is dat baie onderwysers hul passie verloor het/of dalk net nooit gehad het nie, en dis die leerders wat daaronder ly. Onderwys gee is nie net nog ‘n werk nie.

  2. Mnr Muller – ek wens ek het onderwysers soos jy gehad. Daar was ‘n paar goeies, maar veel te veel vrottes.

  3. Gmf, ek moet sê die interseksualiteit het my totaal uit my kassie laat skrik🙂 – vreemde kombinasie van memoirs en penisse😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s