Monthly Archives: Maart 2011

Hierdie naweek klink ons ’n glasie 1984 rooiwyn op my oud-koshuis

Standaard

In Augustus 2001 by die 40ste reünie van ons oudkoshuis het die huiskomitee wat dit gereël het, ‘n stofbedekte bottel rooiwyn van 1984 gekoop by die wynveiling. Elke HK-lid het R50 neergesit, d.w.s. 13 x R50 = R650, nogals ‘n aardige bedrag vir ‘n klompie studente.

As sobere sekretaris en betroubare argivaris is ek gevra om die bottel vir ‘n dekade te hou sodat ons dit kan oopkurk vanjaar by die 50ste feesvieringe.

Dít gebeur hierdie naweek – tensy ons besluit om dit vir die wynveiling te skenk 😛

In die dae toe universiteite nog klein was

Standaard

In die dae toe universiteite nog klein was, was onderrigleer dalk gebaseer op ‘n leersamer model as tans.

Die getalle was beter: slegs ‘n handvol studente per dosent, wat beteken dat daar in sekere dissiplines ‘n een tot een mentorskap van student tot akademikus kon wees; ‘n kollegiale atmosfeer waar studente nie en masse by die lesingsale uitgepeul het of op die trappe moes plek in neem nie, maar kritiese klasgesprekke saans by die dosent se huis kon verder voer.

Miskien was kennis toe heiliger. Studente het dosente gerespekteer vir die kosbare kennisbron wat hulle is; dosente het die geleentheid waardeer om idealistiese jongmense te kon begelei in nuuskierige, kritiese waarnemings en kreatiewe denke. Voor die taaldosent het waarlik (vanaf hul eerstejaar!) die toekomstige digters, landsleiers en denkers gesit.

In die dae voor assessering te ernstig geneem is:  ja, jy kon ‘n paar feite onthou, maar jou punt het eintlik afgehang van jou vermoë om te kon debatteer en vrae vra; deelneem; belangstel; uitdaag; omgee.

>>

Duidelik het ons iets daarvan verloor.

Ons het beslis ook heelwat bygekry – en die demokratisering van die hoër onderwys, wat universiteitskennis een van die hoofstroom-verhandelbare kommoditeite gemaak het, is op verskeie vlakke aanprysbaar.

Maar êrens, voel ek, het ons die essensie van universiteit-toe gaan; om te wil leer dink, verloor.

>>

Slegs enkele ou universiteite, waar die mure oortrek is in mos en groen blare het die luuksheid van intergeneratiewe gesprekke behou. Waar die dosente weet hulle het die toppresteerders oorkant hulle; waar daar met gedagtes gespeel word en idees vrylik seks kan hê; waar klasgrootte en voorgraadse studentegetalle klein gehou word. Waar boeke in boekrakke die koshuisgange op pad common rooms toe begelei: eeue se akademieskap.

Soveel ánder gedagtes rondom universiteit het wel vir die vale ontwikkel. Ons het assesseringsmatrikse, multiple choice vraestelle; ons het koshuise wat verwoed blinde trots en lojaliteit by hulle inwoners indwing (moet tog net nie krities wees nie!), ons het met mékaar seks, nie met skeppende gedagtes nie. Die bottels klingel in plastieksakke op ‘n Woensdagmiddag ná klas; die dosente neem verlief met die draaloë die volgende oggend.

>>

En studente leer eendimensioneel met feite omgaan: in hulle beroepsgerigte dissiplines swot hulle oninteressante, irrelevante feite op – die vetgedrukte woorde – vir ‘n toetspunt. Hulle kuier met klasmaats en kamermaats, almal met dieselfde dimensionele denke, en praat des te nimmer nooit oor akademie nie – nee, hulle moet ontsnap van ‘n ondraaglik-sinlose bestaan van toetse en take oor dinge waaroor hulle nie nuuskierig is nie – en waar nuuskierigheid ook nie verlang word nie.

Die dosente is perdalks net so afgestomp soos die sisteem.

Die stadige teug aan ‘n glas rooiwyn met glinsterende oë omdat jy die denke in ‘n kind se kop laat loskom, gebeur nie. Jy staan in ‘n klas in ‘n wolk van bordkryt om in die aand ‘n bottel rooiwyn alleen op te drink met ‘n rooi pen in die hand besig om 630 vraestelle te bepunt.

>>

Ons almal ontpit olywe meganisties.

Om gehalte te verseker, tel ons die aantal pitte (of die aantal olywe); ons kyk of die botteltjies dig verseël, die plakkertjies haaks geplak is, en dan gom ons ‘n vervaldatum einde ten laaste vas.

Die reuk van stinkende olywe kleef aan ons hande.

Maar ons ontwikkel nooit ‘n smaak – die liefde – daarvoor nie.

Eerder ‘n gebottelde haat, ‘n walging, ‘n klein klotsel kots in die keel, uitgestal op ‘n rak.

Die klank van stekelrige fynbos wat geel en oranje teen die nagwind brand

Standaard

Rooi

teen die hange van die berg waar stekelrige fynbos nou-nog groei

hoor ek weer die klank van die brand toe dit naby was; die son was rooi en die vensterbanke vol roet

op die stoep waar ons gespeel het op die groen mat met sonpatrone oor alles

in ‘n tyd vol haasbek-herinneringe en yslekkers taai om die mond

>>

hoor ek weer die klank van die brand toe dit naby was; die son was rooi en die vensterbanke vol roet

ag, seerkry was skielik en sommer simpel soos kaalvoet op ’n bloublasie trap of ’n oop, teer knie

in ‘n tyd vol haasbek-herinneringe en yslekkers taai om die mond

en die reuk van ryp koejawels wat swaar hang in die lug en soet

>>

ag, seerkry was skielik en sommer simpel soos kaalvoet op ’n bloublasie trap of ’n oop, teer knie

op die stoep waar ons gespeel het op die groen mat met sonpatrone oor alles

en die reuk van ryp koejawels wat swaar hang in die lug en soet

teen die hange van die berg waar stekelrige fynbos nou-nog groei

>>

(Hierdie geheue-greep is geskryf in die vorm van ‘n pantoen: ses versreëls wat elk een keer herhaal in nog ‘n strofe: 1234 2546 5361)

Die diensmeisie en haar koperpan

Standaard

Soms is dit moeilik om te skryf. Waar begin jy? Waaroor skryf jy?

Seegogga het my nou die dag genooi om ‘n einde op haar onvoltooide sprokie te skryf – ‘n uitdaging wat ek toe selfs ‘n tweede keer geniet het.

Gaan loer gerus in en skryf jou eie einde verder. Hoe gemaak as ‘n diensmeisie en ‘n oorsese prins op mekaar verlief raak, maar elk ‘n eggenote en lot kinders het? Hoe skryf jy vir hulle ‘n happily ever after?

Om die vuur van belangstelling aan te vlam

Standaard

Ek is ‘n week of drie gelede gevra om my klasgee-filosofie te verwoord.  Hierso is dit (in my mooiste Engels):

>>

Personal teaching philosophy

I teach, because it is fun for me to do so. I enjoy facilitating discussion and seeing people grow in the complexities of and naunces in their thinking. It is a way for me to serve, maintain hope and create meaning through the work I do.

Teaching to me is more than the mere transferral of content matter; it is a critical engagement with knowledge and the community (and landscapes) of practice within which it is constructed and shared – and at its heart is a reciprocal, trusting relationship with those you teach and with those from whom you learn.

Apart from teaching the curriculum, it is important for me to develop students’ creative and critical reasoning skills, for them to challenge the status quo – and to keep their inherent interest and curiosity alive: “Education is the kindling of a flame, not the filling of a vessel” (Socrates).

I recognise the responsibility of being a teacher and vow to practise my profession in an ethical manner. I believe in the scholarship of teaching and learning – in reflecting and improving on the strategies I employ to facilitate learning, and remaining active in the research field, as a lifelong learner.

I subscribe to constructivist and connectivist learning theories and believe in blended learning, catering for personal differences of students in terms of their diverse backgrounds, personal experiences, multiple intelligences and preferred learning styles.

I want to challenge and surprise (even frustrate) the students I teach; make them feel and think; inspire them to act; make them laugh, and be confident.

Sharing in their lives, their thoughts and fears, joys and sorrows is my reward.

As teaching remains a challenge I will be open to criticism and welcome new ideas.

>>

Wat sou jy toevoeg? Waarvan verskil jy?

In die era van Facebook, sal jy jou oud-onderwysers opsoek?

Limeriek (met die angel in reël vyf)

Standaard

‘n Limerick/limeriek het ‘n aabba-rympatroon en ‘n kenmerkende ritme:

taTAM tataTAM tataTAM

taTAM tataTAM tataTAM

taTAM tataTAM

taTAM tataTAM

taTAM tataTAM tataTAM

>>

Phillip de Vos is die Afrikaanse Limerick-meester; sy advies (in limerick-vorm) is:

Daar’s vyf reëls in ‘n limerick:

Hul’s snaaks of stout, of effens siek.

Hul het iets om die lyf

En die angel in vyf

Is die fyn draai van die briek

>>

Hierso is ‘n eie onlangse probeerslag:

>>

Estelleke sê ons moet skryf!

‘n Haiku het vyf sewe vyf

Hier tel ek dan nou

my vingers is blou

Die bladsy se woorde staan styf

>>

Probeer gerus jou eie!

Die waarde van intergeneratiewe gesprekke

Standaard

Ek het ‘n vriendekring, my ouderdom, vir wie ek betreklik gereeld sien.  Ons gooi frizbee, drink whisky, eet pizza, woon mekaar se troues by, en gaan kamp soms saam vir Nuwejaar. ‘n Vriendin kom gereeld by my wasgoed was.

Maar merendeels bestaan my lewe tans uit gereelde interaksie met mense aansienlik ouer of jonger as ek. Ek timmer aan ‘n blok gips in ‘n beeldhouklas, leer skryf in ‘n memoires-kursus; in albei gevalle is ek die jongeling. Amper weekliks wandel ek langs die strand met ‘n vriendin wat amper-amper 60 is; sit op ‘n stoep en gesels oor die ruisende see.

Dan het ek ook jongeres wat by my aanklop – en ook dit geniet ek terdeë. As inwonende hoof vergader ek met studenteleiers; as voormalige onderwyser kom loer eerstejaars (graad 8’s van ouds) soms by my in. Die teologie- en teoretiese fisika-studente gesels oor ateïsme en god terwyl my vriendin haar wasgoed was. As ek huis toe gaan, speel ek sokker met my ouer broer se kleuter-kinders. Elke dan en wan help ek ‘n tiener met ‘n gedig.

>>

Ek dink dit is gesond. Dit is natuurlik dat verskillende generasies in oop gesprekke met mekaar gesels; mekaar se gedagtes bedink. En ek dink ons het heelwat van mekaar te leer. Dit is vir my ongelooflik verrykend om my broer se kinders te sien groei van slap baba’s tot jong sokkerspelers. Dit is sinvol om te sit en sien hoe dit skemer word op ‘n balkon met wyn en kaas. Ek adem van die studente se idealisme in as hulle passievol oor hulle menswees gesels.

>>

Dit laat my wonder oor koshuise: hoe gesond is dit om ‘n klomp jaargenote saam te kluister, in ‘n ruimte só gerieflik dat hulle nouliks uitkom? Mis ons nie iets van die dinamika van die lewe nie? Laat ons hulle nie te veel oor aan hulle eie genade nie?

Universiteitskoshuise is een ding: daar het jy darem kursusse wat oor jare heen span: M- en PhD-studente wat ten tye oor die kampus heen wandel. Maar hoe gemaak in kolleges – waar senioriteit van een jaar na die volgende in ‘n tweejaar-kwalifikasie op nuwelinge afgedwing word; waar jou skopus van fokus só vernou dat jy eintlik ‘n oombliksmens word in ‘n heeltyd-speeltyd kamma-wêreld, onbewus van die werklikhede wat om jou aangaan?

Daar is iets ongesonds aan nét jongmense om mekaar. As jy geen perspektief om jou toelaat anders as dié wat jou siening versterk nie. Of altans, dit vermoed ek.

Die lewe is, altemit, ‘n gesprek.