In die dae toe universiteite nog klein was

Standaard

In die dae toe universiteite nog klein was, was onderrigleer dalk gebaseer op ‘n leersamer model as tans.

Die getalle was beter: slegs ‘n handvol studente per dosent, wat beteken dat daar in sekere dissiplines ‘n een tot een mentorskap van student tot akademikus kon wees; ‘n kollegiale atmosfeer waar studente nie en masse by die lesingsale uitgepeul het of op die trappe moes plek in neem nie, maar kritiese klasgesprekke saans by die dosent se huis kon verder voer.

Miskien was kennis toe heiliger. Studente het dosente gerespekteer vir die kosbare kennisbron wat hulle is; dosente het die geleentheid waardeer om idealistiese jongmense te kon begelei in nuuskierige, kritiese waarnemings en kreatiewe denke. Voor die taaldosent het waarlik (vanaf hul eerstejaar!) die toekomstige digters, landsleiers en denkers gesit.

In die dae voor assessering te ernstig geneem is:  ja, jy kon ‘n paar feite onthou, maar jou punt het eintlik afgehang van jou vermoë om te kon debatteer en vrae vra; deelneem; belangstel; uitdaag; omgee.

>>

Duidelik het ons iets daarvan verloor.

Ons het beslis ook heelwat bygekry – en die demokratisering van die hoër onderwys, wat universiteitskennis een van die hoofstroom-verhandelbare kommoditeite gemaak het, is op verskeie vlakke aanprysbaar.

Maar êrens, voel ek, het ons die essensie van universiteit-toe gaan; om te wil leer dink, verloor.

>>

Slegs enkele ou universiteite, waar die mure oortrek is in mos en groen blare het die luuksheid van intergeneratiewe gesprekke behou. Waar die dosente weet hulle het die toppresteerders oorkant hulle; waar daar met gedagtes gespeel word en idees vrylik seks kan hê; waar klasgrootte en voorgraadse studentegetalle klein gehou word. Waar boeke in boekrakke die koshuisgange op pad common rooms toe begelei: eeue se akademieskap.

Soveel ánder gedagtes rondom universiteit het wel vir die vale ontwikkel. Ons het assesseringsmatrikse, multiple choice vraestelle; ons het koshuise wat verwoed blinde trots en lojaliteit by hulle inwoners indwing (moet tog net nie krities wees nie!), ons het met mékaar seks, nie met skeppende gedagtes nie. Die bottels klingel in plastieksakke op ‘n Woensdagmiddag ná klas; die dosente neem verlief met die draaloë die volgende oggend.

>>

En studente leer eendimensioneel met feite omgaan: in hulle beroepsgerigte dissiplines swot hulle oninteressante, irrelevante feite op – die vetgedrukte woorde – vir ‘n toetspunt. Hulle kuier met klasmaats en kamermaats, almal met dieselfde dimensionele denke, en praat des te nimmer nooit oor akademie nie – nee, hulle moet ontsnap van ‘n ondraaglik-sinlose bestaan van toetse en take oor dinge waaroor hulle nie nuuskierig is nie – en waar nuuskierigheid ook nie verlang word nie.

Die dosente is perdalks net so afgestomp soos die sisteem.

Die stadige teug aan ‘n glas rooiwyn met glinsterende oë omdat jy die denke in ‘n kind se kop laat loskom, gebeur nie. Jy staan in ‘n klas in ‘n wolk van bordkryt om in die aand ‘n bottel rooiwyn alleen op te drink met ‘n rooi pen in die hand besig om 630 vraestelle te bepunt.

>>

Ons almal ontpit olywe meganisties.

Om gehalte te verseker, tel ons die aantal pitte (of die aantal olywe); ons kyk of die botteltjies dig verseël, die plakkertjies haaks geplak is, en dan gom ons ‘n vervaldatum einde ten laaste vas.

Die reuk van stinkende olywe kleef aan ons hande.

Maar ons ontwikkel nooit ‘n smaak – die liefde – daarvoor nie.

Eerder ‘n gebottelde haat, ‘n walging, ‘n klein klotsel kots in die keel, uitgestal op ‘n rak.

Advertisements

2 responses »

  1. Sjoe, ek hou hiervan, die nostalgie is oorweldigend. Dalk was dit hoekom ek universiteit toe wou gaan en daar wou klasgee!
    Nou is ek pynlik bewus van die sisteem se gekonstipeerdheid, jou uitstekende beskrywing van olywe in bottels.
    Kom ons dink alternatiewe uit! Dalk geheime geselsgroepe soos in “Dead poet society”…

    • Hehe, snaaks hoe ek nostalgies kan raak oor ‘n era wat ek nooit geken het nie! (Dalk was dit heel anders gewees toe?) Dit sou vir my great wees as studente sou wou meegesels met groeperinge buiten hulle selwers, maar ek is bevrees die koshuise hou hulle goedsmoeds gevange, in ‘n ontwikkelingstyd waar jy “wil behoort” bo enigiets anders.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s