Die moskee se plafon is hoog as jy kaalvoet op die mat sit

Standard

Die moskee se plafon is hoog as jy op die mat sit: ‘n dik, blou tapyt. Gewyd.

So sit ons, al die mans – ook die imam wat die troue lei. Ek loer soms vir hom deur koppe wat knik.

Die kinders is min getraak, loop stil rond en lag; die ouer seuns sit en kniel op die mat, effens lusteloos. Die tieners en jong ouens sit met hulle handpalms oop as die videokamera hulle kant toe swaai, maar tel dan weer hulle selfone in dieselfde afkykende posisie, met oop hande op.

Van die ouer mans sit op ‘n eenvoudige bank; beter vir die rug.

Die bruid is bo by die balkon en hou die nikkah (haar troue) dop, saam met haar susters en my vriendin. Blykbaar is dit ongewoon dat hulle enigsins teenwoordig is, maar die imam moedig dit aan; dit is goed. Ons sien hulle nie.

>>

Passasies uit die Qur’an word in ‘n sangstem voorgedra. Die Arabies hul die seremonie in mistiek.

Ek hou my hande opwaarts oop; ek vermoed die seën word uitgespreek, en ek volg dit op met ‘n inasemende handevryf oor my gesig. Voel asof ek die heil inadem.

>>

Ná die seremonie, later in ‘n skoolsaal, is vele tafels gedek. Sonder pretensie. Die hele gemeenskap is genooi: neefs, niggies, ooms, tannies, bure, familievriende. Die kinders hardloop los rond en speel met mekaar tussen die geregte deur. Soet en sout voorhappies is reeds op die tafel, saam met trosse druiwe.

Die geregte word deur tiener-neefs en -niggies bedien.

Tydens die onthaal, breuk die mans vir ‘n wyle weg. Hulle bid met hulle volle liggame: eers met hulle hande oop, tikkend teen die ore, dan om die lyf gevou. Arabiese dreunsange word herhaal; dan word daar gebuk, dan gekniel, dan weer opgestaan, en die proses herhaal.

Die vroue klets rustig voort. Geslagsrolle in die gemeenskap duidelik uitgestip.

Eindelik is die gebede klaar; die mans trek hulle skoene aan, tel die lappe van die grond af op.

>>

Ons eet met vurk en hand; vat-vat die rys en vleis saam en proe met vingers in die mond. Drink water en sap; vonkel-druiwesap met die tweede gereg. Dit is salig sonder wyn.

>>

Teen 20:30 is die onthaal klaar; vroeg genoeg vir jong kinders om te gaan slaap. Die vader van die bruid sê ‘n sangrym op terwyl sy saam met haar skoonfamilie se vroue uit die skoolsaal stap. Haar susters huil neffens hul ma, langs hul pa wat in Arabies sing.

>>

Saterdag was ‘n heilige dag.

En ‘n troue is volbring.

One response »

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s