Monthly Archives: Mei 2011

as die reën inspireer en weer verweer

Standaard

Dit blits en donder. ‘n Vriendin in die Strand pos ‘n haiku op haar facebook-voorstoep. Dit vang die weer se wanklanke vas:

bliksemstrale skiet
seemeeue in fladdervlug
donderweer sidder

>>

Traag en lui sit ek elders in ‘n dorp vol verroeste blare en verstopte riole, ‘n ent weg van die see. Ek dink my die krysende seemeeue in en sien die wolkmassa opbou oor die gryse grou. Van my vriendin se stoep sak die reën in vlae oor die swart pad.

reën dreun neer
in klakkelose weersin
op tere gemoed

my haiku eggo
soos ’n hond se blaf. die wind
’n besem oor die sand

daar waar die stoep nat
en die wolke dig is hier
sweef die eggo’s nou

hoor hoe skreeu die meeu
luister: jy hoor haar verlangs
krys: ’n oop gebed

die lug hang swanger
swaar die grys, die krys
die pryssang en lof

tog verdof die glim
die rante van die wolke
versomber tot swart

en lig flits soos pyn
’n oopgevlekte leuen
soos die water breek

Advertisements

Ek het gister gestem; dus, as ek reg verstaan, mag ek nou kla.

Standaard

Ek het gister gestem; dus, as ek reg verstaan, mag ek nou kla.

Veral twee onsinnige stellings wat gereeld in die verkiesingstyd gemaak is, kwel my:

  1. “As jy nie stem nie, mag jy nie kla nie.”
  2. “Elections are the life-blood of our communities.” (TV-advertensie)

>>

Dit grief my as sulke stellings onkrities herhaal word.

Ek waardeer die reg om te stem – wat insluit die reg om nie te stem nie.

Soms is dit beter, dink ek, om nie te stem nie. As jy nie glo in of genoeg weet van ‘n kandidaat om vir hom/haar te stem nie, dan is dit méér verantwoordelik om eerder weg te bly.

Maar sodra iemand ingestem is en betaal word om dienste te lewer, dan hoef daar nie voorwaardes aan gekoppel te wees om te mag kla of kapsie aan te teken nie. Elke individu het die reg om te eis dat sy/haar belastinggeld verantwoordelik aangewend word. As jy nie belasting betaal nie, mag jy nie kla nie, is dalk ‘n meer geldige stelling (alhoewel, ook dít bevraagteken kan word – seinde werklose mense, bejaardes en studente tog ook insae moet kan lewer?)

>>

Vanwaar dat stemmery kwansuis die “lewensbloed” van gemeenskappe is? Wat impliseer dié metafoor – dat gemeenskappe nie kan lewe sonder verkiesings nie?

Tog sekerlik is dit ‘n onjuiste oordrywing? Gemeenskappe bestaan uit mense, gesinne, families, tradisies – partypolitiek is maar laag op dié ranglys. As jy dan metaforiese taal wil gebruik, sê eerder “verkiesings is ‘n vinger op die pols van gemeenskappe – en dan ook maar net insake partypolitiek.

>>

As “leer” selde die gevolg van “onderrig” is…

Standaard

Ek het laasjaar by die Society for Research in Higher Education-konferensie Etienne Wenger hoor praat oor sy sosiale leerteorie-konstruk “communities of practice” wat hy uitgebrei het na individue wat in ‘n landscape of practice tussen verskillende “communities” rondbeweeg.

Vanaand lees ek weer ‘n bietjie van hom; ek hou van die inleidende paragraaf in sy hoofstuk “A social theory of learning” wat in die boek Contemporary theories of learning opgeneem is. Dit is ‘n samevoeging van lank-tevore gepubliseerde artikels van hom:

Our institutions, to the extent that they address issues of learning explicitly, are largely based on the assumption that learning is an individual process, that it has a beginning and an end, that it is best separated from the rest of our activities, and that it is the result of teaching. Hence we arrange classrooms where students – free from the distractions of their participation in the outside world – can pay attention to a teacher or focus on exercises… To assess learning, we use tests with which students struggle in one-on-one combat, where knowledge must be demonstrated out of context, and where collaborating is considered cheating. As a result, much of our institutionalized teaching and training is perceived by would-be learners as irrelevant, and most of us come out of this treatment feeling that learning is boring and arduous, and that we are not really cut out for it.

Etienne Wenger (1998) Communities of Practice: Learning, meaning and identity

>>

JOOL is dood; lank lewe JOOL!

Standaard

JOOL is dood, lank lewe JOOL!

Die primkomitee (die hoofleiers van elke wyk en koshuis) het saamgesit en -dink en -wonder en gesê: “Genoeg is genoeg; basta! Tot hier toe en nie verder nie!” (Sien Die Burger: http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Maties-se-nee-vir-jool-20110507).

‘n Mens kan die redes hiervoor vanuit verskillende ooghoeke bekyk. Wat ek wil voorhou, is twee gehalteversekeringsuitgangspunte waarmee ek vermoed die JOOLkomitee nie tredgehou het nie. Om “gehalte” te meet, moet organisasies kan uitspraak lewer oor:

  1. Hoe gerat hulle is om in hulle doelwitte te slaag (fitness for purpose) en
  2. Of hulle doelwitte relevant is vir die huidige konteks en die rolspelers betrokke (fitness of purpose)

Alhoewel die JOOLkomitee, myns insiens, nogals redelik goed geraak het met dinge reël: hulle kan ‘n trollieresies reël in Victoriastraat wat skrik vir niks (fitness for purpose), het hulle dekades laas behoorlik ondersoek gedoen of dit nog enigsins sin maak om trollies te reël (fitness of purpose). Trollies = ‘n straat vol paviljoene (wat moeilik is vir koshuispare om te reël, want daar is net sovéél paviljoene op Stellenbosch), met eerstejaars wat skree vir tientalle trollies, gestoot deur enkele eerstejaars, in ‘n hindernisbaan, wat bepunt word bloot op die versiering daarvan, in ‘n week wat te vol en besig is vir die eerstejaars om dit te versier… Iewers het hulle duidelik per ongeluk die plot verloor. Die geleentheid opsigself maak nie sin nie.

>>

Netso met vele aspekte van JOOL. Waar daar destyds ‘n heel ander gemeenskapsgees geheers het en ‘n handvol vragmotors met ware blommetjies en ogiesdraad verniet versier is en kosteloos deur die strate van Stellenbosch gery het met ‘n gepaardgaande vreugdefees – het tientalle trokke ‘n duur storie geraak met crinkle paper, bloudraad, kragopwekkers, brandblussers, gesigverf, helder klerepakkies en duisende studente wat moeg deur die strate op ‘n bloedwarm Saterdagoggend moet stap en bedel. Basta, vlotte!

>>

Alle instellings loop die gevaar om, indien hulle nie gereeld hulle missie en visie – en die uitvoering daarvan – krities ondersoek en omvattend bevraagteken nie, irrelevant te raak. In dié geval het Student fun with a purpose al hoe meer vervaag, veral onder HK-lede wat hulleself oor ‘n mik moes werk om honderdduisende rande se borge en geldinsamelingstoere oor vakansies te reël. Not much fun. Not much fun at all.

En ook die direkte uiteinde van die fondse ingesamel t.o.v. die wyse waarop dit teruggeploeg is in die gemeenskap, is nie goed genoeg aan almal gekommunikeer nie… Dus not much of a purpose either.

>>

Alles is darem nie tot niet nie. Die koshuise en privaatwyke wil graag tydens die verwelkomingsweke direk by betekenisvolle gemeenskapsprojekte betrokke raak, sodat die nuweling-eerstejaarstudente die vreugde van medemenslikheid ten volle kan ervaar.

En die unieke skouspel, Vensters, word ook voortgesit, maar op ‘n koste-effektiewer manier: dieselfde verhoog, klank en ligte gaan deur verskillende produksies gedeel word, wat ook gaan beteken dat die eerstejaars sélf ook meer van die spektakel kan geniet.

>>

Wat was JOOL aanvanklik? Ek vermoed dit was ‘n fees vir die gemeenskap.

Wat het JOOL geword? ‘n Ondraaglike kompetisie.

Wat word JOOL nou? Ek vermoed weer ‘n fees vir die gemeenskap.

>>

O, en tussendeur was dit ook vlugtig bekend as “Karnaval”.

Skoolhoofde wat graad 8’s laat doop, moet strafregtelik vervolg word

Standaard

Hierdie foto’s is vanjaar op ‘n skool se webtuiste gelaai onder die lêer Gr. 8-Oriëntering:

        

Ek sê dank die skoolhoof summier af!

Of hoe voel jy? Is dit alles deel van opbouende pret?

>>

Solank as wat ons omgewings aanhou skep waar matrieks, weens hulle ouderdom, dink en glo hulle is beter as ander – en hulle die mag gegee word om hulle gesag uit te oefen – kan ons nie ‘n oop, demokratiese samelewing daarstel nie.

As jy iemand waarlik wil laat tuis voel tussen ander, voel ek, is dit nie nodig om hom/haar af te breek en dán op te bou met verwagtinge van blindelingse lojaliteit nie. Nee. Die kere wat ek werklik gewaardeer gevoel het as skoolleerder, was daardie kere waar persone my behandel het, nie as die kind wat ek was nie, maar as die grootmens wat ek besig was om te word.

En om blindelings in iets te glo… watse burgers lei ons vir die samelewing op?

>>

Van blougat tot ouman: hoe die Bosoorlog steeds woed in 2011

Standaard

‘n Skrywersvriend het onlangs sy manuskrip vir my gegee om te lees. Ek voel bevoorreg. Dit handel oor sy anti-held diensplig-ervaringe tydens die grensoorlog – en die weermag-waansin wat daarmee gepaardgaan. Hy skryf dit met ‘n goeie dosis sinisme en satire wat ek geniet; sy invalshoek herinner my aan Catch-22 se Yossarian (sekerlik een van my gunsteling fiktiewe karakters) se tong-in-die-kies waarnemings.

>>

Tot op hede weet ek min van die grensoorlog; diensplig is afgeskaf toe ek nog in die laerskool was, en ek het nooit kadette geoefen in die hoërskool nie. Ja, vaagweg weet ek van Boetman wat die bliksem in was, maar dit is ‘n oppervlakkige besef, nie ‘n geïnvesteerde verstaan nie.

So toe ek sy manuskrip beginne lees, het ‘n nuwe (ou) wêreld vir my oopgegaan, honderde kilometers bo in die lug teen honderde kilometers per uur, rustig met ‘n glasie whisky op ys, ver verwyderd van die werklikheid (op ‘n vlug).

>>

Wat vir my jammer was, is dat ek baie van die mees bisarre, komieklike insidente op ‘n eienaardige wyse herken het. Die tweede-laagste rang wat hulle beperkte gesag op die laagste rang (die troepe) uithaal met fisiese oefeninge, sielkundige aftakeling, konstante afkyk, staan in die son, kort storte, hare afskeer en ‘n ewige paradeer sonder enige verweer. Dié aspekte is almal steeds opgesluit, oorgedra en ingebed in koshuistradisies van jare later.

Dit skaam my om te sê, maar drie dekades ná die oorlog woed aspekte daarvan steeds wild op die Bos. Met die beste bedoeling, besef ek, maar sonder begrip; sonder verstand.

>>

Op die lughawe, in die boekwinkel, vang my oog ander memoires wat op die rakke staan. “Troepie: van blougat tot bosoupa” is een se titel. Dit verklaar hoekom ‘n standbeeld op die kampus se sitvlak jaar-op-jaar blou geverf word, deur eerstejaars wat hulleself “blougatte” noem.

Ek google “blougatte” en kom op ‘n facebook groep af met trotse foto’s van 2009 se eerstejaarsgroep/troep; duidelik is dit nie net die standbeeld wat deurloop nie:

Ook sien ek ‘n Hoër Tegniese Skool se graadags word lieftallig “blougatte” genoem; die webwerf lys jukskei as een van hulle skoolsporte.

Tydens die oriëntering hang blou naambordjies om hulle nekke; aan die einde van die oriëntering sing hulle hand-op-die-bors hulle skoollied. Hier spring hulle vreugdevol in die lug:

>>

Die grensoorlog was vanaf 1966 tot 1989, maar ek vermoed dit impakteer tot vandag toe veral Afrikaanse skole en universiteite. Wat behoue gebly het, is die meem dat aftakeling van nuwelinge nodig is, of jy nou aankom in graad 8 of as eerstejaar – jy moet ‘n bietjie suffer om waarlik “man”/mens te word.

>>

Solank as wat skool- en koshuishoofde in hierdie georkestreerde boelie-gedrag glo, en dit as ‘n waarde ag, bly die tradisies en praktyke voortleef as ‘n onbedenkte spel – wat vir die meeste individue as ‘n hegte groep saambind, maar vir party hoër-op individue vrye teuels gee om sadisties en gemeen te wees, vir die pret.

>>