JOOL is dood; lank lewe JOOL!

Standard

JOOL is dood, lank lewe JOOL!

Die primkomitee (die hoofleiers van elke wyk en koshuis) het saamgesit en -dink en -wonder en gesê: “Genoeg is genoeg; basta! Tot hier toe en nie verder nie!” (Sien Die Burger: http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Maties-se-nee-vir-jool-20110507).

‘n Mens kan die redes hiervoor vanuit verskillende ooghoeke bekyk. Wat ek wil voorhou, is twee gehalteversekeringsuitgangspunte waarmee ek vermoed die JOOLkomitee nie tredgehou het nie. Om “gehalte” te meet, moet organisasies kan uitspraak lewer oor:

  1. Hoe gerat hulle is om in hulle doelwitte te slaag (fitness for purpose) en
  2. Of hulle doelwitte relevant is vir die huidige konteks en die rolspelers betrokke (fitness of purpose)

Alhoewel die JOOLkomitee, myns insiens, nogals redelik goed geraak het met dinge reël: hulle kan ‘n trollieresies reël in Victoriastraat wat skrik vir niks (fitness for purpose), het hulle dekades laas behoorlik ondersoek gedoen of dit nog enigsins sin maak om trollies te reël (fitness of purpose). Trollies = ‘n straat vol paviljoene (wat moeilik is vir koshuispare om te reël, want daar is net sovéél paviljoene op Stellenbosch), met eerstejaars wat skree vir tientalle trollies, gestoot deur enkele eerstejaars, in ‘n hindernisbaan, wat bepunt word bloot op die versiering daarvan, in ‘n week wat te vol en besig is vir die eerstejaars om dit te versier… Iewers het hulle duidelik per ongeluk die plot verloor. Die geleentheid opsigself maak nie sin nie.

>>

Netso met vele aspekte van JOOL. Waar daar destyds ‘n heel ander gemeenskapsgees geheers het en ‘n handvol vragmotors met ware blommetjies en ogiesdraad verniet versier is en kosteloos deur die strate van Stellenbosch gery het met ‘n gepaardgaande vreugdefees – het tientalle trokke ‘n duur storie geraak met crinkle paper, bloudraad, kragopwekkers, brandblussers, gesigverf, helder klerepakkies en duisende studente wat moeg deur die strate op ‘n bloedwarm Saterdagoggend moet stap en bedel. Basta, vlotte!

>>

Alle instellings loop die gevaar om, indien hulle nie gereeld hulle missie en visie – en die uitvoering daarvan – krities ondersoek en omvattend bevraagteken nie, irrelevant te raak. In dié geval het Student fun with a purpose al hoe meer vervaag, veral onder HK-lede wat hulleself oor ‘n mik moes werk om honderdduisende rande se borge en geldinsamelingstoere oor vakansies te reël. Not much fun. Not much fun at all.

En ook die direkte uiteinde van die fondse ingesamel t.o.v. die wyse waarop dit teruggeploeg is in die gemeenskap, is nie goed genoeg aan almal gekommunikeer nie… Dus not much of a purpose either.

>>

Alles is darem nie tot niet nie. Die koshuise en privaatwyke wil graag tydens die verwelkomingsweke direk by betekenisvolle gemeenskapsprojekte betrokke raak, sodat die nuweling-eerstejaarstudente die vreugde van medemenslikheid ten volle kan ervaar.

En die unieke skouspel, Vensters, word ook voortgesit, maar op ‘n koste-effektiewer manier: dieselfde verhoog, klank en ligte gaan deur verskillende produksies gedeel word, wat ook gaan beteken dat die eerstejaars sélf ook meer van die spektakel kan geniet.

>>

Wat was JOOL aanvanklik? Ek vermoed dit was ‘n fees vir die gemeenskap.

Wat het JOOL geword? ‘n Ondraaglike kompetisie.

Wat word JOOL nou? Ek vermoed weer ‘n fees vir die gemeenskap.

>>

O, en tussendeur was dit ook vlugtig bekend as “Karnaval”.

9 responses »

  1. Goeie opinies. Ek stem saam dat JOOL so bietjie sy doel verloor het (of misgekyk het, of van vergeet het, of iets). Dit sal opwindend wees om te sien waarmee studente voorendag kom om dit te vervang…

  2. Met ‘n gehalteversekeringslens op, kyk jy ook, buiten vir die “fitness for purpose” en “fitness of purpose”, na die koste-effektiwiteit van al prosesse in die sisteem.

    Alhoewel baie geld ingesamel is en word met JOOL en die komitee se finansiële prosesse bo verdenking is, vermoed ek dat die gevoel op voetsoolvlak anders was.

    As jy ooit as koshuispaar ‘n JOOL-fondsinsamelingstoer gereël het, sou jy besef dat daar heelwat geld op petrol, verblyf en kos spandeer word; as jy wil goed doen in die Vensters-kriteria, dan is dit makliker om punte te verwerf vir klank, ligte en kostuums as ‘n kreatiewe storielyn.

  3. Wel, toortsie, wat is JOOL/Karnaval?

    ‘n Mens moet dit nie verwar met die verwelkomingsweek en -aktiwiteite nie. Daar sal steeds skakelings tussen koshuise wees, met kultuuraande, vrugtefeeste, fakulteitsbesoeke en Vensters.

    Sekere van die JOOL-aktiwiteite het bloot te veel, en te kompeterend geraak – soveel so dat JOOL-portefeuljes huiskomitees lamlê met die hoeveelheid werk wat dit inhou en die aantal geldinsamelingsaktiwiteite wat dit vereis.

    Ja, daar is ‘n sekere nostalgie aan “blommetjies-vou” vir Vlotte, maar Vlotte is lank reeds nie iets waarvoor daar deurnag word nie. Weens die kompeterende aard van JOOL beplan seniors die ontwerp reeds die vorige jaar en bou dit onafhanklik van die eerstejaars. Laasgenoemde is net verantwoordelik vir ure omsit met foamolite en crinkle paper, en bilkskud as deel van ‘n beknopte optog deur warm strate.

    Wat is JOOL? Hoekom is dit? Wat is die doel? Waaruit moet dit bestaan? Dit is goed dat daar ‘n bestekopname gedoen word, voel ek.

    Sien gerus die primkomitee se amptelike persverklaring: http://sr.sun.ac.za/sites/default/files/PK%20RAG%20Statement%20English.pdf

  4. Mnr. Muller toon werklik waar ‘n ongelooflike vermoeë wat betref die ordening van rede en die uitdrukking daarvan… BRAVO!! Dit is ook wonderlik om te sien dat hierdie bespreking wel gegrond is op geldige bronne, nl. die artikel in Die Burger en die verklaring van die Primkomitee. Ek wonder maar net of die ware outoriteit in hierdie saak, nl. die JOOLkomitee se opinie ooit versoek is, en of hulle weer soos in die verlede ook ontneem is van hul stem.

    Dit is egter nie iets wat Mnr. Muller se verantwoordelikheid is nie en ek waardeer die opregte kommentaar!

  5. @DeWet: Ek sien ongelukkig (nog) nie ‘n persverklaring op MatiesJool se webblad http://www.matiesjool.co.za/ nie.

    Destyds toe die naam van Karnaval na Jool verander is, het dieselfde vraag oor wie “die ware outoriteit” is t.o.v. Karnaval, oftewel aan wie Jool behoort, ontstaan. Behoort Jool aan die nuweling-eerstejaars, aan die huiskomitees, die Joolkomitee, aan die hele Stellenbosse gemeenskap, die Universiteit, of aan die Karnavalbeheerraad…? (Dalk is dit onmoontlik om iets wat organies oor jare heen ontwikkel het en so baie verskillende rolspelers het, te “besit”.)

    Kom ons gee die dinge tyd. Hopelik sal daar, in die reëlings vorentoe, strategies beplan word, by ander kampusse ondersoek ingestel word en ‘n bietjie nuut gedink word oor die pad vorentoe. (Ek vermoed die Joolkomitee was juis van plan om so ‘n bechmarking-ondersoek te loods.)

    Universiteite is lewendige organismes. En studentelewe-omgewings is by uitstek dinamies en wispelturig; daarom dat jy konstant jouself moet afvra of jy tred hou met die veranderende omstandighede, of jy dien in almal se belange, en of jou uitkomste belyn is met ‘n visie waarby almal inkoop.

    >>

    Nietemin, ek hoop nie enigiemand voel skuldig of verleë oor die verwikkelinge tans nie. In ‘n stelsel verweefd met kompleksiteit is dit soms nodig dat die system moet crash sodat almal kan stilsit vir ‘n ruk en terugkeer na die drawing board. Of altans, so voel ek.

  6. Pingback: As sêr die gevaar van JOOL loop « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s