Monthly Archives: Julie 2011

per ongeluk het ek ’n nuwe genre oopgeskryf

Standard

As deel van ‘n driemanskap het ek en twee mede-musketiers ‘n imperialistiese skryfgroep binnegedring en hulle vir een aand aan oopgevlekte Afrikaans onderwerp.

Ons het ons skryfsels saamgegooi en ons swaarde fyngeslyp om geslepe en skerpsinnig ons saak te beveg as Die Driemanskap vir die Behoud van Afrikaans by Engelse Skryfgroepe.

Ter voorbereiding merk die een kavalier op dat my verjaarsdagwense op facebook ‘n fantastiese en fenomenale fenomeen is in die wyse waarop ek per ongeluk metaforiese taal met wenslike wense wesenlik verweef. Oombliklik besluit ons om dit saam te voeg as deel van ons totale aanslag in dié groep vir wie sonnette nog heilig is.

So besluit, so geslyp. En vernuftig looi ons hulle met die haiku, pantoen, diamantes, cinquian, mymeringe en ‘n hele lot digvorme waaronder my facebook-wense ‘n nuwe toevoeging is.

So gedoriewaar, wanneer jy op facebook of google+ iemand met hul verjaarsdag gelukwens; waarom doen jy nie meer moeite nie? Dink aan die [betrokke persoon], aan ‘n aktiwiteit wat julle saam gedoen het, en verwerk dit tot ’n unieke seën, waarmee jy jouself tot die ander persoon se menswees in ’n metaforiese woordwens bind.

  1. [Joernalis wat oor geestelike sake skryf] ôg, mag jy hang in die lug, gekruis in ’n lotus en blom van geluk!
  2. [oudskolier, swemmer, oudste in gesin] mag jy klief deur die jaar soos ’n  ouboet deur water, en sigsag asemskep in die golwe van later.
  3. [Kaalvoet-Jannie (musikant)] geluk, rockster: mag jy oorval word deur aanhangers wat met dikswart penne in volle bors jou toejuig en wulps hulle onderklere verhoog toe slinger waar jy tevrede staan met jou kitaar punt in die wind en ’n bottel Tas by jou voete, kaal.
  4. [mimiekkunstenaar/akteur] Mag ’n neongroen balon haar tou om jou vinger span en sagkens knoop vandag sodat oral waar jy loop jy ’n bundel lug kan lees in die wind en onthou van malvalekkers en oranje vingers en plastiekbekers met aangemaakte koeldranksap en Disney-karakters helderkleurig teen die rant.
  5. [drawwer] Geluk – hoop jou verjaarsdag is ’n stadige hartklop teen ’n gerieflike pas, afdraand ná ’n mergelende klim met ’n ligte seebries sagkens deur jou hare, met moeë maar uitgelate bene op pad na die eindstreep, eufories.
  6. [oudkoshuisvriend, Teekan-tradisie onder Jakarandabome met fietse in] Geluk, jongeling! Mag jy vandag ’n versuikerde koppie tee drink en terugteug aan soete herinneringe op lendelam bankies in ’n ruimte vol gras tussen Jakarandas en fyn blaartjies wat sag neerstof oor ’n samesyn van gedagtes en glimlagte skeef soos ’n fiets in ‘n boom wat skuins oor jou kop hang vandag op jou verjaarsdag.
  7. [Repelsteeltjie-sprokie vriendin] Hi, baie geluk – geniet jou dag en jaar; mag jy nooit in ’n toring toegesluit word om goud uit hooi hoef te spin nie! Of indien wel, mag jou swart ballonne vol van helium wees om jou sag uit ’n venster grond toe te laat sweef
  8. [Vriend wat sterrekyk; Anakin-Tigger = grys kat] Geluk! Mag jy sag grys word soos Anakin-Tigger, gereeld boomklim en oopmond staar na die sterre wat flonkerend knipoog al die pad 40 toe 🙂
  9. [oud-wiskunde onderwyser] Geluk met jou ouderdom + 1; geniet die dag: mag jou vreugde streef na ∞
  10. [oudkoshuisvriend met wie ek vir ’n week ’n kamer in Bacchus-laan (seksie) gedeel het] ôg, waar ons weer sit onder die vallende stuifmeel/blare van die jakarandabome met oorsoet tee – dáár waar wêrelde se politiek gepraat is, afgewissel met grappe oor hamsters… of nee vroeër: in die gang van Bacchus in ’n gedeelde week… tóé was ons jonk. Nou, met jare wat afmeet en idealisme wat kwyn; werk wat daagliks bewerk word… nóú raak ons ouer, die jare plooi om ons hoofde, op ons lyf… maar mag jy wyser wees en wyser raak elke dag in die jaar wat vorentoe ontplooi – afgemete wéét hoe om ouer te word, steeds jonk te bly en die lewe te geniet. (Oftewel, geluk ou maat, jy moet lekker verjaar!)
  11. [ek’t ’n lift gevang saam met hom op sy resiesmotorfiets, viool in die hand] Veels geluk, jongeling! Mag jy jou dag geniet soos ’n motorfietsdraai snel om Merriman-sirkel.
  12. [hokkiespeler van Ceres] Geluk; lekker jaar vorentoe! Gryp dit vas soos ’n hokkiestok en pot die jaar met ’n klinkende slag in ’n briljante boog oor die bun se gras. Mag jou jaar so vrugbaar wees soos Ceres in die somer.
  13. [junior wat een aand laat dronk met ’n parkeerpaal teen hulle kamermuur gehardloop het om my wakker te maak langsaan; ek was elders] … as ek gisteraand ’n geel parkeerpaal kon haal en teen jou slaapkamer muur stamp om jou vroeg wakker te gemaak het, sou ek – om te sê “veels geluk” en “lekker verjaar, ou maat”…
  14. Baie geluk; hoop jy het ’n heerlike dag met vars rogbrood en bulgaarse joghurt, vrugte en borrelende vonkelsap. Geniet dit – en lekker jaar vorentoe!
  15. [vriend wat gesprekke en huisbouprojekte gelei het] Veels geluk, mater, hoop jy voer diepere diskussies oral waar jy wandel en bou huise in klip en klei.
  16. [oudonderwyser-kollega wat met ’n melkboer getrou het] Baie geluk, melkmeisie-juffrou! Hoop al die somme op die swartbord tel vandag op en elke kind bring jou ’n blom en ’n mooi rooi appel!
  17. [PhD-student by Oxford, waar dit heeltyd daar mistig was] Cheers! Ek lig ’n King’s Arms bier sierlik op in die lug en wens jou ’n helder dag toe met son op jou rug. Oftewel, geluk!
  18. [oudleerder wat hom aan middele vergryp] Geluk, jongeling. Hoop jy oorleef jou wilde jare om ’n wyse man te word wat vergenoegd kan sit op ’n stoep, mymerend oor die tye wat was, en met ’n gesonde groentetuin om welgeluksalig in te ploeg. Oftewel, lekker verjaar.
  19. [oudkollega, allergies vir eiers, met ’n babadogter] Hi, geluk! Hoop jy het ’n reuse eierlose verjaarsdagkoek, swaargelaai met kerse wat helderkleurig afdrup op pienk versiersuiker. En dat Klara jou help om dit uit te blaas, want dáár waar ’n rokie trek, smeul daar ’n vuurtjie. Lekker jaar vorentoe!
  20. [vriend wat vertel het van oupa wat hom whisky laat proe het as kind] Geluk 🙂 Soos die naderende dood jou betrag, hoop ek jy vermy haar vir goed en leef in vreugde voort met salige geluk van ouer word, al bult ’n boep waar ’n geriffeldheid eens was en al raak die hare dunner en yl, wens ek jou ’n lewer toe wat whisky kan vat soos ’n oupa van vroeër, en longe wat oggende kan inasem asof met vars nou op die gras. Oftewel, lekker verjaar, ou maat, en ’n vrugbare hart.
  21. [PhD-musiekstudent] Veels geluk; hoop jy het ’n goeie dag in die argiewe waar jy vind wat jy wou vind: dat musieknote nooit stof vergader nie en ’n verjaarsdag jou met ’n naelstring aan die aarde bind. Oftewel, geniet jou dag, mag jy ’n pluimpie rook die lug inblaas en terugsit terwyl jy dophou hoe dit swel en verdamp, en jou nuwe lewensjaar klam inasem, soos ’n oggend vroeg met dou op die gras.
  22. [vriend wat “thousand words” blog het en ’n kultuuraand verjaarsdagpary gehou het] Hoop jy’t ’n heerlike dag binnekort en dat jy ’n goeie jaar sal hê met vele kultuuraande en boeke vol bladsye met woorde wat in sinne smaak soos dit klink as jy dit hardop lees en later saggies besing in jou duisendste stem. Kalwe solank die lagplooie uit, sodat ons kan sien dat jy vrolik was. Oftewel, geluk!
  23. [Musiekkanaal-joernalis wat ook oor geestelike sake skryf] Geluk, MK-hoofverslaggewer! Hoop jy kry rich bitch toiletpapier en gratis Angus Buchan-kaartjies sodat jy kan kies wat om aan die brand te steek saam met die kersies op jou verjaarsdagkoek der koeke of ’n koffie-kelnerin wat dalk hou van poësie sonder deeltekens, sodat jy kan uitblaas als wat vlamvat en deur die rook tevrede jou kop kan knik en sê: “Waarlik, dit het dag geword en dit het nag geword en dit was goed!”. Altans, lekker verjaar; geniet jou dag!
  24. [vriend wat doseer] Veels geluk, vriend – mag jy vandag jou moleskine boekie oopflap terwyl jy draf en oor ten minste twee filosofiese vraagstukke lamenteer, oor die wysheid van ouerword en die vraagstuk van eerstejaar-vraestelle merk. En mag die res van die dag gevul wees met goeie kaas, swaar wyn en rokerige whisky soos jy jouself verdiep in die vreugdes van dekadente pret en ontpitte olywe, noudat jy ’n meester is op jou vakgebied. Goeie jaar vorentoe 😛
  25. [oudklasmaat van skool met honde] Geluk, rooikopmeisie voor in die klas. Hoop jou honde hardloop vandag sirkels om jou met hangende tonge wat drup van geluk 🙂
  26. [vriendin wat graag kamp, lees en whisky drink] Hey, geluk! Hoop jy’s iewers in ’n Cederbergse tent met ’n Breytenbach of Brink en ’n Chivas of ’n blue. Geniet jou dag en jaar!
  27. [jong kollega wat blog en kitaar speel] Maar my gedoriewaar! Ten spyte van die nerpende hitte is jy nou mitsdien ouer! Geluk en felisitasies; mag die grys hare teen jou slape jou gesag gee in die werkplek, sowel as ’n parkeerplek hier waar ons soms grys van die slaap laat ná aankomtyd die gebou met pilare, pilasters, suile en ongestrykte vlae ómry op soek na ’n skadukol vir ’n tjor wat eens luuks was in ’n vorige millennium. Mag jy die dag impromptu omtokkel en die fyngesnaardes laat ophou sug, en ’n helderkleurige hemp met strepe beginne dra om die oog weg te lei van jou midderif wat jaar-op-jaar beginne uitboep van die 2-minute noodles en vreugdevieringe soos vanaand met klinkende bier en so meer. Overgesetgeluk!
  28. [oudstudenteleier, nou by Kovsies, wat in Kaapstad gebly het] Geluk! Hoop jou dag is genotvol soos ’n stille wandeling op ’n soel aand in Tamboerskloof, met vriende wat wuif en kopknikkend groet.
  29. [estelleke]… waar jy sit op die stoep met die see, soos ’n wederfee Viljee, salig afgetree, mag die kolliehonde êrens anders loop blaf en tjank en die kinders ver-weg skree; waar jy sit met seesterre (seer stêrre) en oesters vol pêrels op jou stoep met die see en ’n idee wat kom en gaan soos die gety en die waan en saam-saam lag vir die prag van die boepensmaan op dié verjaarsnag wat sag soos ’n kniekombers om jou vou vanaand op dié dag van gouerword (soos die oranje son wat ’n lemoen met die vuis gegryp het en lugtig hang, vredig soos ’n bol wol) waar jy sit op die stoep met die see in elke sintuig en die lug ’n waterverf op ’n klam doek, waar jy sit op die stoep met die see, vir eers tevrede soos ’n seemeeu op die rug van die wind, en teug aan ’n koppie earl grey tee, met laventelpatrone op die koppies, soos die kleur van die lug, waar jy sit op die stoep met die see…
  30. [jazz-musiekstudent vir wie ek in die laerskool skaak onderrig het] Hey, geluk skaakspelspeler van my verre verlede; mag jou vreugdes vermenigvuldig soos ryskorrels op elke verdubbelende blok – en mag al daai jazz van happiness en jolyt en sin van die lewe oopgrrits soos ’n tweede bierblikkie koud in jou hand wat jy omhoog hou saam met pelle om ’n vuur en sê cheers, nou braai ons die nuwe lewensjaar in sy glory in, vol geluk. Of so iets 🙂
  31. [vriend in London by wie ek gekuier het] Geluk vrind in die verte! Mag die Londônners jou behoorlik groet vandag as julle in eenderste gewaad verby mekaar stap van een tube platform na die ander; hoop jy koop roasted peanuts op die millennium brug en bring jou tate tussen sonneblomsade van keramiek deur… en telke ander vreugdes in die nuwe lewensjaar wat voortsnel na die immer-ongewilde dertigers toe!
  32. [oudkoshuis senior wat vir ’n jaar lank misterieus teen ons deur getik-klop het] Aha, met aftikkende vingers sou ek nou teen jou deur wou kom groet en sê hallo, geluk en voorspoed; hoop dit gaan goed – geniet die jaar! 🙂
  33. [vriend wat gereeld kom frizbee gooi en rooibos drink, my ouderdom] Geluk, vriend – mag ons nog heelwat frizbees vang en rooibos drink voor ons rûens die dag ingee; in welke geval ons kierie-swaardgevegte sal hou en rooibos drink, wat ook pret is. 🙂
  34. [omgewingsbewuste vriendin] Mag jy vandag ry op ’n dolfyn se rug en ’n prop in BP se gat opdruk sodat die seë skoon kan wees en ’n soel bries deur die lug rondwaai. Oftewel, gelukkige verjaarsdag; hoop die krant lê haarself uit, sonder spelfoute, met geverfde naels.
  35. [koshuisman wat met oranje cones as luidsprekers skreeusnaakse beledigings laataand aan die buurkoshuis sou skree] mag uitbundige ouens met oranje verkeerskeëls luidrugtig vir jou gelukwens vanaand nes jy rustig wou gaan slaap – sodat jy kan onthou van jonkwees en deel wees van ’n vreugdefees ad infinitum!
  36. [Knikkie] Mag jy ‘n magiese verjaarsag oormôre vier, lustig op jou swaaiende heimat in ‘n knikkende kompartement van ‘n volstoom trein. Daar sal jy skaterlag en Bolandse bessieborrels pluk, by die stasie uitklim en opvlieg met die switserse sneeumeeue tot bo-op die punt van die Matterhorn waar jou kleinkinders se gegiggel sal eggo tot en met ‘n witgespande kuslyn van ‘n nabygeleë strand.

André die Ontdekkingsreisiger

Standard

In ‘n onlangse sandbak-oefening het ek myself met hierdie Playmobil-mannetjie vereenselwig – ‘n ontdekkingsreisiger met ‘n oorgroot verkyker en ‘n groen tas vol van dít wat ek deurentyd met my omswerwinge aan die leer is:

In die opvolgbak wat ek daarná moes bou (wat my toekoms versinnebeeld), lê my tas begrawe in die sand onder ‘n boom (‘n droë seewier, regop ingedruk) wat ek laat groei het (dit was eers plat in die sand). Die verkyker en geel pet lê bo-op die hopie wat uitbult van die tas,  sodat ‘n volgende reisiger dit kan ontdek en opgrawe, en ten volle toegerus sy pelgrimstog kan begin.

Self sit die mannetjie salig, veel verder weg, rustig terug, met al sy avonture agter die rug, verlos van sy bagasie, gelate, tevrede, besig om die hier en die nou te geniet, langs ‘n wit kers wat flakkerend-sag brand, en kosmiese sirkels in die sand.

Vir ‘n oomblik huiwer ek en wonder ai, hoe sinloos al die ander voorwerpe wat in my eerste sandbak die wêreld volgestaan het (‘n kerktoring, vlag en ‘n hoekige motorkar) – ek moes selfs ‘n speelgoed-helikopter op die rand van die sandbak plaas om van die harwar te kon ontsnap…

Maar toe ek skerper kyk, sien ek al die indentasies, al die indrukke nagelaat van al die verskeie voorwerpe wat eers daar was. Wat hoekig was, is rond.

En dit was goed.

‘n Geleefde landskap.

Haiku’s as facebook-verjaarsdagwense

Standard

Onlangs het ‘n vriend verjaar; ek het op sy facebook wall geskryf:

“ôg, mag jy hang in die lug, gekruis in ‘n lotus en blom van geluk!”

Hierso is my verwerking daarvan, in haiku-vorm, vir die filologiese mistikus:

Levitasie

vir die alohmteenwordige Bertus!

ôg, jy hang in die

lug, gekruis in ‘n lotus

en blom van geluk

>>