Monthly Archives: Augustus 2011

As sêr die gevaar van JOOL loop

Standaard

Vanjaar se kampussêr-finaal was indrukwekkend; goed gereël met als wat seepglad verloop het. Op kampus is die sêr-uitdunne en -finaal immergewild; die sale sit vol van toeskouers; ‘n uithalergeleentheid.

Tog is daar ‘n sluimerende gevaar, vermoed ek.

>>

>>

Hoe meer die kompetisie-aspek gedryf word, hoe groter raak die risiko dat die essensie, die idee van sêr, verlore gaan.

(Ek het dit al in 2005 besef toe ek gehelp het met die reël van die “nasionale” sêr. Die wengroepe van vyf kampusse (tien sêrgroepe in totaal) het teen mekaar gewedywer om as wenners gekroon te word; ek het die optredes so gesit en kyk en net besef dat ons ver wegbeweeg het van ‘n groepie mans wat op die ingewing van die oomblik gaan troebadoer by iemand se meisie. Dit was kostuums, temas, gechoreografeerde danse, dikwels saamgeflans in die styl van ‘n revue.)

Van die geromantiseerde troebadoerery het daar min oorgebly. Sêrgroepe word vroeg in die jaar ná senutergende oudisies saamgestel. Die sêrleiers beplan hulle hele somervakansie lank om die regte liedjies te verwerk, en dan word daar kampe gereël, in stemgroepe verdeel en geoefen-oefen-oefen.

Basta met gaan optree by ‘n skool of vir ‘n ouetehuis – watwou as jy op die ingewing van die oomblik wil gaan sing by ‘n meisie se kamervenster! Ga, hoekom sal jy nou kosbare oefentyd op sulke trivialiteite mors?

>>

Onlangs op ons kampus is JOOL gestop. Die prettige student fun with a purpose was bloot nie meer lekker nie; en die doelwitte – om te wen – nie relevant nie.

Opsigself is daar natuurlik niks fout daarmee om ‘n storielyn aanmekaar te flans, ‘n toneelspel aanmekaar te sit en ‘n vlotoptog te hou ten aanskoue van die breëre gemeenskap nie. Maar die idee van JOOL is uit die oog verloor.

Sodra jy probeer om té graag te wen, dink ek, dryf jy weg van jou eintlike missie: dan bestee jy te veel geld op klank en ligte, koop kostuums aan, ens.

>>

Sêr staan op dieselfde breekpunt as JOOL, vermoed ek.

Al wat kort, is dat ‘n wengroep moet besef wen opsigself is nie ‘n waardige doelwit nie. ‘n Groep wat bereid is om te sê Nee, ons wil nie julle voorgeskrewe liedjie sing nie en weer die ware tradisie agter die geïnstitusionaliseerde praktyk te vind.

The tail is wagging the dog on this one, just as with RAG.

>>

Foto © http://bravenboer.co.za/

my landskapspoësie van die vroeë negentigs

Standaard

In my standerd 3 (graad 5) gedigteboekie tref ek die volgende reeks rymende versreëls in drie strofes aan:

Bondels pers teen die verste kim
waar die heideveld teen die steiltes klim
Skerp teen die hemel uitgetand
lê die lyne diep teen elke rant

Donker en koel golf ry na ry
die diep, nat klowe waar die skadu's bly
en die sagte mos oor alles kruip
waar skugter soms 'n bokkie suip

Die berge troon bo die velde wyd
met aan sy voet die blomtapyt
En diep geheimenisse broei
waar die disa in die klowe bloei.


					

jongleur van die lewe

Standaard

In sub B (graad 2) het ek ‘n woord geken wat ek intussen vergeet het: “jongleur”

Die sirkus word in ‘n gekleurde tent gehou. Die sirkusbaas moet eers alles reël voordat hulle kan begin. Daar is baie snaakse hansworse. Daar is ook jongleurs wat balle gooi. Daar is ook vuureters wat vuur eet. Daar is kunstenaars. Daar is mense wat baie goed kan balanseer. Daar is ‘n orkes. Daar is ook akrobate. Daar is ‘n leeutemmer wat met ‘n sweep slaan. Die leeus bly in die hokke. Al die diere word eers mak gemaak. En dan begin die sirkus.