Konvokasie se taal(e)mosie as ’n pleidooi vir Die Koerant: ’n metafoor

Standard

Ek hou van koerante. Ek het daarmee grootgeword. Dit bevat iets van alles, met berigte van oraloor, ook in my streek. Ek hou van die tekstuur in my hand; die ritseling in my greep.

Maar hoe gemaak in ’n veranderende wêreld? Waar koerante aangevul en mettertyd vervang word met/deur ander media? Waar jy die skakel op jou ipad volg na ’n youtube clip rakende die nuus? Waar die uitgediende koerant (o)opgevou word tot flitsende lig? In die niet in verdwyn?

Sê ek nee? Basta met vernuwing…?

Eis ek, op ’n emosionele whim, dat alles in my bedrukte media behoue bly? Dat kennis in een rigting in een taal aan my kinders se kinders oorgedra word? Soos in die ou dae? In swart-en-wit?

Geen keer is daar tog aan digitale ontwikkeling nie … maar ek kan my daarteen verset! Ek kan mense wat so oud is soos ek laat saam rally en sê Hou julle hande van ons krante af! Ontwikkel die gedruktes en verligtes apart! Ja, hulle kan mos maar onse nuus copy en paste soos hulle wil; maar hou ons s’n op papier. Dié wat ipads het, kan mos enige nuus gaan lees! Behou ons Koerant soos Hy is. Dit is óns pulp dié!

[Ons kan standpunt inneem en ’n graaf plant voor die gety.]

(Ons kan ’n koerantafleweraarseun inspan om die optog te lei.)

Basta met wat die joernaliste wil doen! Ga, die redakteur behoort tog aan ons – dit is óns koerant; ons vólksbesit! Ons rég! Mijn récht. Ja, iedereen heeft recht op een naaimasjien.

>>

Hierdie inskrywing is my reaksie op die taalmosie wat eergister deur die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch aanvaar is en sluit aan by Bun Booyens, gasspreker van die aand, se toespraak oor die noodwendige migrasie van gedrukte na elektroniese media.

Myns insiens, berus die mosie op suiwere emosie, ingestem deur alumni wat verlang na ’n (mitiese) tyd toe lesings slegs in Afrikaans aangebied is. Dit was tog goed; niks hoef te verander nie; niks moes verander het nie: hou die koerant op papier soos hy is!

Ongeag of die joernaliste (die dosente) opgewonde is oor die nuwe platforms (meertalige, globale wêreld) en die redakteur (die rektor) bewys lewer van die online joernalistiek (die onderrig en leer) se meriete en sukses. Ongeag dat die migrasie vanaf ’n eenvoudige verlede na ’n meer verweefde hede, die Koerant se oorlewing verseker – ongeag dit als, sal hulle stem vir dit wat hulle ken, vir ’n simplistiese antwoord op vrae wat gelaai is met kompleksiteit.

Die mosie:

  • speel in op vrese dat Afrikaans aktief bedreig word: dit is nie die geval nie
  • suggureer dat die universiteitsbestuur nie Afrikaans bevorder nie: dit is blatant onwaar
  • eis dat alle lesings in Afrikaans geskied: ignoreer verskille tussen voor- en nagraadse studente, verskillende fakulteite, en laat geen ruimte toe vir die aanstelling van enige nie-Afrikaanssprekende kenners nie
  • eis dat, waar nodig, klasse in Engels gedupliseer of tolkdienste ingestel word: ignoreer alle praktiese implikasies (aantal lesings wat herhaal moet word; getal tolke wat opgelei en aangestel moet word) en pedagogiese gevolge van so ’n skeiding (diversiteit in klasgesprekke word verhinder, taakgerigte onderwys val plat en deelname aan globale kennisnetwerke word gestriem)

Die mosie is nie ’n klagte oor ’n spesifieke dosent wat nie haar lesing in Afrikaans aanbied nie. Dit is nie ’n klagte wat ingedien is by ’n klasverteenwoordiger, of by die departementshoof of dekaan nie. Dit is nie ’n klagte wat gewortel is in die realiteit nie … Dit is ’n ideologiese mosie oor ’n spesifieke Misverstaan van ’n Universiteit: dat dit ’n plek moet wees wat Afrikaans bevorder en dán uitnemendheid en dán diversiteit. Dít terwyl universiteite gelyktydig die uitdagings, te midde van vele ander strategiese prioriteite, verreken: leer word in die messy werklikheid van meertaligheid gefasiliteer, in Suid-Afrikaanse (en dus ook in Afrikaanse) gemeenskappe, met navorsing wat in globale kennisnetwerke verken word.

>>

Ondanks die waansin, is die mosie ingestem – en daarmee het die lede van die konvokasie hulleself weereens van die universiteit – die bestuur, personeel en studente (wat uit protes by die vergadering uitgestap het) – vervreem.

Die Koerant is nie dood nie, die konvokasie hou dit vas, glo hulle.

Intussen tweet, blog en facebook die res van ons maar rustig en lustig voort.

5 responses »

  1. Hierdie is presies die rede waarom Afrikaans wel sal uitsterf, en dan sal allie stryders luidkeels skreeu: “Ons het julle mos gesê!” En die drommels sal nooit kan verstaan dat dit juis hulle paranoiese laer-mentaliteit is wat hulle eie onnergang bewerkstellig het nie.

    Miskien moet hulle aangemoedig word om liewer windpompe innie karoo gaan beveg.

  2. Op die ou einde is hierdie ook maar net ‘n ekonomiese kwessie: vraag en aanbod. As daar nie ‘n vraag is na gedrukte media nie, is daar geen ekonomiese aansporing vir die aanbod nie. Dis tog logies dat mediakorporasies sal jaag na waar die grootste wins is.

    As daar nie ‘n vraag na Afrikaanse onderrig is nie, sal daar mettertyd ook nie ‘n aanbod daarvoor wees nie. As die meerderheid studente Engels is, dan maak dit net ekonomies sin om lesings in Engels aan te bied.

    Maar, met universiteite is daar ‘n ander faktor: sosiale verantwoordelikheid. Studente en hul ouers is nie noodwendig bewus van die voordele van moedertaalonderrig nie, so hulle sal nie noodwendig protes maak as alle lesings skielik verengels nie. Voornemende studente het ook nie die opsie om te kies om by ‘n ander universiteit te studeer waar lesings wel in Afrikaans aangebied word nie, want daar is nie ander opsies nie. Hoe nou gemaak? Ongeag dat daar ‘n onbewuste behoefte na Afrikaanse lesings is, is daar niemand wat dit wil aanbied nie. Dis hoekom emosie so ‘n groot rol speel – vir die sosiale verantwoordelikheid teenoor die stemlose minderheid.

    Tog stem ek saam dat niemand sal baatvind daarby deurdat so ‘n komplekse probleem so simplisties benader word soos jy beskryf nie. Ons kan nie net sê: “Afrikaans oral” nie. Ek wonder wat ons kan leer by Europese universiteite wat vooraanstaande bydraes maak tot internasionale navorsing (m.a.w. uitnemende instansies), terwyl hulle ook nie lesings in Engels aanbied nie. Dink bv. Frankryk, Spanje, Duitsland en Switzerland! Natuurlik is die taalkonteks anders, maar ek wonder…

    • Ek wil nie die argument reduseer tot ekonomiese terme van vraag en aanbod nie, want dáár verskil die dryfvere beslis vir die koerantwese (wat nuus bedryf) teenoor die universiteitswese (wat kennis verhandel). Albei moet “geld maak”, maar goeie joernalistiek en goeie wetenskap word nie gedefinieer aan die hand van die geldelike wins wat opgelewer word nie.

      Wanneer joernaliste nuwe tegnologie aangryp, omdat hulle beter joernalistiek daarmee kan beoefen, laat ons hulle nie verhinder om dit te doen, bloot uit sentiment nie. As lektore dit regkry om Afrikaanse studente in hulle moedertaal te onderrig en bloot te stel aan die akademiese wêreldtaal waarin die diskoers plaasvind, laat ons hulle nie verhinder nie.

      Veral nie as behoudenheid die ondergang van die instellings kan beteken nie!

      Hiermee bedoel ek nie dat studente nie die reg moet hê om deel te neem aan die besluitneming oor taalgebruik in die klaskamers nie. Inteendeel, die studente hét die reg om te kla as daar enige akademiese kwelling is. As hulle ongemaklik is oor die wisseling van taalgebruik deur ’n spesifieke lektor in ’n spesifieke module, dan kan hulle dit aanmeld in die anonieme terugvoer vir daardie module, of hulle kan die probleem by die klasverteenwoordiger aanmeld, of by die dosent self, die kursuskoördineerder, die akademiese belangeraad, die studenteraad, die dekaan, die viserektor, die rektor, of selfs die Senaat … maar nie by oudstudente wat geen insae het t.o.v. hoe ’n lektor onderrig nie.

      >>

      Die meeste alumni wat in die saal kom stem het, het onderrig ontvang in ‘n tyd voor rekenaars, In ‘n tyd toe hulle dalk self met taalwisseling gesukkel het, in ‘n tyd toe die studentegetalle minder was, dosente selde navorsing gedoen het en Engels as die aartsvyand, nie ’n globale bondgenoot nie, beskou is.

      Min van my jaargroep het opgedaag by die alumni-vergadering. Hulle het geen rede om te kom luister na rugbystories en te stem oor taal nie. Hulle ken van ’n universiteit wat meer kompleks is as bloot die emosie oor taal. Dit beteken nie hulle is nie lief vir Afrikaans nie, dit beteken nie dat hulle nie Afrikaans bevorder nie – dit beteken bloot dat hulle nie bang is nie.

      In ál die beleidsdokumentasie van die universiteit word die bevordering van Afrikaans as strategiese prioriteit uitgelig en ook as sodanig bestuur. Navorsing word oor meertalige onderrigmodelle gedoen, en ja, daar word veral na ander lande se universiteite gekyk wat met soortgelyke uitdagings sit – dit is onderliggend tot die wetenskaplike proses.

    • Francois C: ek sal graag ‘n langer antwoord wil skryf maar het nou beperkte tyd.

      In kort: Ek is nie bewus van enige land met soveel kulturele en taaldiversiteit soos Suid Afrika, waar moedertaalonderrig op universiteit goed werk nie. Frankryk en Duitsland is reuse lande met baie groter getalle moedertaalsprekers – wat almal één taal praat. En inderdaad isoleer hul taal hul effens van die res van die wêreld maar ten minste kan hulle hul artikels in Engels publiseer (en doen hulle dit meestal ook). Switserland is meertalig, maar sterk verdeeld in provinsies met uniforme afsonderlike tale. En hierdie tale vorm deel van die groot omringende lande (Frankryk, Duitsland, Italië) waaruit hulle diversiteit kan ontgin.

      Afrikaans het baie minder van ‘n kritieke massa om op sy eie te kan staan. Stellenbosch sal baat by ‘n groter groep moontlike dosente (vanuit die res van Suid Afrika en die wêreld). En aangesien Suid Afrika nie uitsluitlik Afrikaanstalig is nie, is dit ook nie wenslik om eksklusief in Afrikaans voort te gaan nie. In ‘n land met soveel verdeeldheid dink ek is dit die verkeerde keuse.

      Maar soos die konvokasie het ek ook sterk emosionele verbintenisse tot Afrikaans. Dis moeilik as jou hart en jou verstand verskillende dinge sê. In hierdie geval dink ek egter ons moet verstandig wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s