verganklikheid

Image

pa en seun

Pappa se huldeblyk

Dit is ’n voorreg om ’n huldeblyk aan my pa, Tinus (Marthinus Carel) Müller te lewer.

Dit is ’n voorreg én dit is intimiderend, omdat (i) ons trane maar vlak lê vandag, (ii) ons almal hom slegs ten dele geken het; ek slegs vir 32 van sy 70 jaar, en (iii) my pa se woord- en taalgebruik só verdomp knap was dat ons hom dit kwalik kan nadoen.

My Pá het die kuns onder die knie gekry om die kern van ’n bonkige storie bondig te verpak met die nodige krag en kwinkslag om deernis daarvoor te wek. Of dit nou ’n nuusberig was in afgemete Afrikaans of ’n kamma-nederlandsche verjaarsdaglimerick vir van zijn vrienden. Of ’n roerende huldeblyk aan sy skoonpa; ons Opa.

Toe ons rondgevra het wat vir julle van ons Pa uitstaan, het amper almal sy gul taalvernuf onthou. Hoe lief was hy nie daarvoor om ’n nuwe woord in ’n blokkiesraaisel te ontdek of ’n ou woord opnuut in te span nie! Só vertel hy ’n maand of wat gelede van medikasie wat sy tydelike konstipasie sou verlig: “Ons hoop op volmaak-gevormde, wollerige kuttels.” sê hy.

Soos dit ’n huldeblyk betaam, moet ek iets kwytraak oor my Pa se kindertyd, sy beroep- en gesinslewe en tussendeur dalk ’n paar grappighede laat val wat nie almal van hom af geweet het nie. Ná hierdie huldeblyk vra ons sy vriend, Mnr. Tobie Barnard, om meer van my Pa se Bybelstudie- en vriendekring te vertel.

Kindertyd en studentedae

My pa is gebore as die oudste van vier kinders uit ’n groottotaal van sewe. Van sy grootword op Tulbagh het hy luisterryk vertel. Van plase genaamd “Tierkloof” en “Mooiplaas”. Van Chevvies, Buicks, Pontiacs en allerlei motors wat my broer Tim op twee jaar al kon uitken. Matrasse wat uitgedra is op die stoep, my ouma se kastaaiingbrood; sy broers en susters in die vrugteboord en almal op ’n streep in handgemaakte klere van streepsakke; sy pa as boer, prokureur en burgemeester wat sy slim seun Kaapstad toe gestuur het vir sy hoërskool-opleiding. Hoe my Pa as regsstudent ál die pad van Stellenbosch tot Tulbagh fietsgetrap het. En die keer toe hy deur die ganse kampus om hulp genader is nadat hy met ’n mosie van wantroue van sy koshuis se inwonende hoof ontslae geraak het.

My pa is gedoop Marthinus, hy is Tinus genoem deur sy ouers, Tienie deur sy vriende en Timmie deur sy halfbroer, George, wat as jongman oorlede is. My Pa het as skoolkind op die Tuine rugbyveld vir die laer spanne haker gespeel … en vandaar af die huis raakgesien waarin ons nou al vir meer as dertig jaar woon. Alhoewel my Pa vir ’n kort tydjie in Johannesburg gewerk het, het hy hom in Seepunt en toe hier in Oranjezicht gevestig, en ter wille van ons gesinstabiliteit, bevorderings-geleenthede wat elders was, oorgesien.

Ek wonder wie van julle weet dat my Pa Kuns as skoolvak geneem het? Op Universiteit die Fotografieklub gestig het? Dat hy Pontius Pilates hoogs verkoue op die verhoogplanke vertolk het in matriek? Op ons stoep hang ’n verdofte poeierverfskildery van sy skooldae af – en ek en Ludi het selfgemaakte speelkaarte ontdek met gesigte van cops ’n’ robbers daarop, en die motors wat hulle sou ry, heel-realisties, in ink geskets. Miskien het my Pa julle vertel van die keer toe hy sy kamermaat voor die Studentehof moes verdedig oor die staatspresident se dogter wie se hare hulle in die kleure van die landsvlag gekleur het?

My Pa het graag en gemaklik stories uit sy kindertyd vertel, veral as iemand nuuts by die geselskap aangesluit het. Of soms het dit net Karen se klavierklanke uit die kamer langsaan gevat om hom vir ’n oomblik terug te neem Tulbagh toe.

Beroepslewe

As beroepsman, kan ek onobjektief sê, was my pa briljant. Hy het vasgenael Springbokradio se stories geluister as kind en of dit nou koerantberigte was of TV-nuus; my pa was ingelig. Ek onthou die krap van sy baard as ons hom goeienag kom soen het … waar hy die vroegaand nuus kyk met amper ’n heilige ontsag daarvoor – maar as een van ons inkom, draai hy na ons met sy oë wat glinster. Ek hoor nog hoe rasper sy baard onder my lippe teen sy wang.

My Pa was tevrede daarmee om nuusstories te dek wat die ander nie eintlik wou nie. Waar hofsake te vervelig was, het my Pa dit so lewendig beskryf, dat die verslaggewers ná hom daarvoor gewedywer het. Die landbou-berriggewing het hy so kranig gedoen dat hy vir lank die seremoniemeester by die landbou-skrywersvereniging se jaarlikse dinee moes wees. Sy algemene kennis en taalvernuf was knap; sy humorsin skerp – vir ’n tyd lank het hy sy eie radiovasvraspan gehad wat aan die gewilde Span-Saam program deelgeneem het.

Hy het lang ure gewerk om onderhoude presies te redigeer. Hy het gekry dat apartheidstryders in Afrikaans met hom sou praat en dan elke “uhm” en “aah” geknip en die lint gelas terwyl sy aandete by die huis in die lou-oond wag. In seker die moeilikste oorgangsjare van ons land was my Pa ’n politieke verslaggewer; hy het FW de Klerk se 1992 toespraak onder oë gehad kort voordat dit gelewer is. Hy het onderhoude met Biskop Tutu, Mandela, Boesak en vele ander gevoer en hulle het hom jare later nog gegroet as hulle hom in die Parlement of elders raakgeloop het.

En dan was my pa boonop lief vir Aprilgekgrappe – en die fyn-fyn kuns om ’n storie te skryf wat gelyktydig belaglik en geloofwaardig is. Daar is gemoedelike poetse wat hy gebak het waarvoor mense hom nog steeds moet vergewe.

My Pa was ook ’n kleinsakeman-entrepreneur: Toe die snoepie by die SAUK toegemaak het, het my pa die geleentheid aangegryp en proviand in grootmaat by Makro aangekoop en by sy werkslessenaar gesmous. Mense kon sommer vat wat hulle wou en die nodige kleingeld los. Só het ons as gesin ook altyd ’n voorraad van blikkieskoeldrank gehad wat hy netjies, op die nippertjie, in ’n koelboks gepak het voordat ons ’n langpad iewers heen aangedurf het (of al het ons net twee blokke boontoe gery na my Oma en Opa-hulle toe).

Gesinslewe

As my pa ’n kranige joernalis was, was ons (sy gesin) sy top-nuusstories van die dag. Hy het ons hele kindertyd in film vasgevang; of dit nou met sy kamera was of met sy mikrofoon en bandopnemer wat hy opgestel het om ons musiek- en ander uitvoerings op radiokasetbande op te neem. Selfs gesinskonserte op Ou-Kersaand. Eenkeer toe ons vir hom by die SAUK gaan kuier het, het hy ons besoek in ’n kort nuusberigstyl opgeskryf en vertel dat dit nasionaal uitgesaai is.

Ek onthou my pa wat sorgvuldig in die studeerkamer foamalite– en karton-vliegtuigies uitsny … as my Ma my stuur om hom te roep vir ete, halfpad af by die wenteltrap. Hy het fyn voortgewerk aan die ontwerpe wat destyds op eierboksies gedruk was en het dit nougeset verbeter, met ’n skuifspeld hier-en-daar vir ’n meer vaartbelyne verspreiding van gewig – sodat ons almal saam met hom ’n reeks eksperimentele vlugte vanaf die skuinste op die Tuine-rugbyveld kon gaan toetsgooi op ‘n Saterdag sonder wind.

My Ma het hom sowat veertig jaar gelede ontmoet. Sy het hom gevind in ’n karig-gemeubileerde woonstel met los planke op opgestapelde bakstene as boekrakke; hom getrou en gesweer sy sal nooit een van haar kinders sonder meubels by ’n woonstel laat intrek nie. Só het my Pa elke keer wat een van sy vier kinders koshuis toe moes gaan of na ’n nuwe huis of woonstel moes trek, gedweë met sy kombi of Caravel uitgehelp. Hy kon ’n kar pak dat jy tweekeer meer daarin kon pas as wat jy vooraf veronderstel het.

My Pa se plig by die huis was om wasgoed te was. Hiervan het hy ’n geliefde ritueel gemaak, met sy radio aan, by die trappe af – die een balie na die ander, met sekere klere wat geweek word; ’n wit en ’n donker was, en sokkies-saam-met-handdoeke. Ons klere was so goed versorg dat ek dít wat afgewentel is vanaf Tim na Karen na Ludi, nog soos nuut kon dra. Hy het vrolike deuntjies gefluit terwyl hy die wasgoed aan die draad ophang.

My Pa se ander groot taak was om die weeklikse inkopies te doen. Hy het voortdurend pryse vergelyk, langsaam deur die winkelrye gevleg en die rooiste tamaties en varsste vrugte uitgesoek. Dit is miskien nou ’n in-ding om omgewingsbewus te wees, maar my Pa het lank vóór die Groen-beweging inkopiesakke opgevou en hergebruik; koeldrank- en melkhouers geknip vir tregters en nuttige bakkies-en-deksels, en uitgespoelde blikkies en opgestapelde koerante herwin. Hy het met ’n snoeiskêr in die kombi se kattebak rondgery en by parkeerterreine die lae-hangende takke (wat andersins motors se dakke sou krap) namens die munisipaliteit geknip.

Die winkelpersoneel in die Tuinesentrum gaan hom verseker mis. Hy was nooit te haastig om met ’n kassiere ’n kort gesprek aan te knoop nie; hy het terwyl hy die inkopies op die toonbank pak, stil bereken hoeveel dit als gaan kos en kon die geskatte bedrag in kontant betaal nog voordat als verreken is. Kassiere het hom herken as die oom met plastieksakke wat dateer uit die tagtigs, miskien gelap met maskeerband, maar netjies opgerol en reg vir hergebruik. My Ma vertel van ’n werknemer van Pick ’n’ Pay wat hierdie week huis toe gebel het om te hoor hoe dit met my Pa gaan … en in trane uitgebars het toe sy die nuus hoor.

When asking our English-speaking friends, their foremost comment was that my father was a “strong” man: morally strong and physically independent. Someone who would work in the garden by himself – even though it looked a bit like a forest – and systematically cut down a tree whose roots were causing cracks in the wall; single-handedly, or perhaps with some reluctant help from his kids. He was loyal: loyal to his employer for more than thirty years, loyal to his neighbourhood, church and friends, and loyal to his wife and family.

Hy was sterk en moedig in sy siekbed, met ’n aftakelende kanker wat vanaf sy kolon vesprei het na sy longe, ribbes en brein. My pa se gesig was in die laaste maand aan die linkerkant verlam, maar hy het sy Wyn-van-die-Maand rooiwyn in kleiner botteltjies gegooi waarin hy ’n rooi strooitjie kon balanseer en sy pille een-een daarmee afsluk.

Die chemo van die afgelope agt jaar het hom fisies uitgeteer, sy voetsole en vingerpunte rou gelaat en hom vinnig moeg laat word. Maar hy het nie gekla nie; ’n week voor sy dood het hy gesê: “Wat kan ’n mens dan doen? Elke mens wil aanhou lewe.”

Ons Pa is laasweek dood, maar hy leef nog in ons voort. Wanneer Tim vier kinders se doeke omruil, Karen ’n boom eiehandig in haar tuin afsaag, Ludi sy graankosse lustig meng of ek karikature skets om wakker te bly tydens vergaderings … Ons sal sekerlik nie sy tikmasjien-handskrif kan namaak nie; of blokkiesraaisels voltooi onder sy geliefdes se name sodat hulle verras kan word as hulle onverwags pryse wen nie. Maar ons hou elkeen sorgvuldig tred van ons motors se petrolverbruik … en wanneer ons stad toe gaan, doen ons dit een keer per maand, vroeg in die oggend, parkeer waar die parkering gratis is, stap ’n ver ent en gaan eet dan eers ’n stewige ontbyt, lees die Cape Times en bestel ’n Wimpy-koffie met die dik lagie skuim bo-op.

My Pa het laasweek in die ou Volkshospitaal (Medi-Clinic) gesterf – rustig, met die vredige klanke van sy geliefdes om hom: sy vrou, kinders en kleinkinders. Ons weet nie hoe baie hy kon inneem of hoor – waarvan hy als bewus was – nie … maar dalk het die vrolike kindergeskal hom vlugtig teruggevoer na sy eie kinderdae (tussen sy oorle broers en susters); of dalk was hy vir ’n wyle weer ’n trotse, jong pa met die woelige klomp rondom hom.

Ek is hartseer dat my Pa nie ’n langer tyd met sy kleinkinders – en hulle met hulle Oupa – kon beleef nie.

3 responses »

  1. André, dit was nou pragtig en roerend — en ek voel ek moet dankie sê dat jy dit met ons deel. Hierdie bring vir myself ook ‘n groot klomp herinneringe terug en kan waarskynlik deels toegeskryf word daaraan dat ons pa’s in ‘n besonderse era grootgeword en oudgeword het. Ek dink nou veral aan hoe my eie pa so by die inkopies se somtotaal kon uitkom voor die kassier. Ek’s ook bly om nou te verstaan waar jou kamma-nederlands vandaan kom.😉 Die stuk wat jy geskryf het is besonders. Ek’s seker daar was maar ‘n groot knop in die keel die dag toe jy dit voorgedra het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s