Category Archives: Aspris

Kwelpuntjies om oor te debatteer

Konvokasie se taal(e)mosie as ’n pleidooi vir Die Koerant: ’n metafoor

Standaard

Ek hou van koerante. Ek het daarmee grootgeword. Dit bevat iets van alles, met berigte van oraloor, ook in my streek. Ek hou van die tekstuur in my hand; die ritseling in my greep.

Maar hoe gemaak in ’n veranderende wêreld? Waar koerante aangevul en mettertyd vervang word met/deur ander media? Waar jy die skakel op jou ipad volg na ’n youtube clip rakende die nuus? Waar die uitgediende koerant (o)opgevou word tot flitsende lig? In die niet in verdwyn?

Sê ek nee? Basta met vernuwing…?

Eis ek, op ’n emosionele whim, dat alles in my bedrukte media behoue bly? Dat kennis in een rigting in een taal aan my kinders se kinders oorgedra word? Soos in die ou dae? In swart-en-wit?

Geen keer is daar tog aan digitale ontwikkeling nie … maar ek kan my daarteen verset! Ek kan mense wat so oud is soos ek laat saam rally en sê Hou julle hande van ons krante af! Ontwikkel die gedruktes en verligtes apart! Ja, hulle kan mos maar onse nuus copy en paste soos hulle wil; maar hou ons s’n op papier. Dié wat ipads het, kan mos enige nuus gaan lees! Behou ons Koerant soos Hy is. Dit is óns pulp dié!

[Ons kan standpunt inneem en ’n graaf plant voor die gety.]

(Ons kan ’n koerantafleweraarseun inspan om die optog te lei.)

Basta met wat die joernaliste wil doen! Ga, die redakteur behoort tog aan ons – dit is óns koerant; ons vólksbesit! Ons rég! Mijn récht. Ja, iedereen heeft recht op een naaimasjien.

>>

Lees verder …

Bedreiging van die binneland

Standaard

Ek was laasweek vir drie dae in Gauteng. Vanaf die lughawe tot Roodepoort ry ons verby die een advertensiebord na die ander in ‘n uitgestrekte voorstad, met omheinde Toskaanse villas in sekerheidskomplekse agter vyfmeterhoë mure, verder beveilig met veelvuldig-gespande elektriese drade.

Kan ons nie ons bakstene en elektrisiteit beter inspan nie?

Ek het gister gestem; dus, as ek reg verstaan, mag ek nou kla.

Standaard

Ek het gister gestem; dus, as ek reg verstaan, mag ek nou kla.

Veral twee onsinnige stellings wat gereeld in die verkiesingstyd gemaak is, kwel my:

  1. “As jy nie stem nie, mag jy nie kla nie.”
  2. “Elections are the life-blood of our communities.” (TV-advertensie)

>>

Dit grief my as sulke stellings onkrities herhaal word.

Ek waardeer die reg om te stem – wat insluit die reg om nie te stem nie.

Soms is dit beter, dink ek, om nie te stem nie. As jy nie glo in of genoeg weet van ‘n kandidaat om vir hom/haar te stem nie, dan is dit méér verantwoordelik om eerder weg te bly.

Maar sodra iemand ingestem is en betaal word om dienste te lewer, dan hoef daar nie voorwaardes aan gekoppel te wees om te mag kla of kapsie aan te teken nie. Elke individu het die reg om te eis dat sy/haar belastinggeld verantwoordelik aangewend word. As jy nie belasting betaal nie, mag jy nie kla nie, is dalk ‘n meer geldige stelling (alhoewel, ook dít bevraagteken kan word – seinde werklose mense, bejaardes en studente tog ook insae moet kan lewer?)

>>

Vanwaar dat stemmery kwansuis die “lewensbloed” van gemeenskappe is? Wat impliseer dié metafoor – dat gemeenskappe nie kan lewe sonder verkiesings nie?

Tog sekerlik is dit ‘n onjuiste oordrywing? Gemeenskappe bestaan uit mense, gesinne, families, tradisies – partypolitiek is maar laag op dié ranglys. As jy dan metaforiese taal wil gebruik, sê eerder “verkiesings is ‘n vinger op die pols van gemeenskappe – en dan ook maar net insake partypolitiek.

>>

Soms wonder ek oor Paulus – daai inglourious basterd

Standaard

Soms wonder ek oor Paulus.

Ek weet maar min van die man, want hy het geleef lank voor my tyd – maar ek wonder of ek met ’n oop verstand in/aan sy evangelie kan glo of nie.

Toe hulle hom nog Saulus genoem het, vóór sy Damaskus-ervaring, het hy immers gehou daarvan om voltyds Jode wat deel van ‘n splintergroep was, te vervolg. Hy wou die kerk uitroei. Soos die SS-man in Inglourious Basterds het “Saulus soos ’n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig” (Handelinge 9:1). Hy was happy toe Stefanus gestenig is. Kortom: Saulus was ’n bliksem.

Daarom wonder ek oor dié man… oor sy geestesgesondheid. “Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit” (Handelinge 8:3). Ek wonder, want as ‘n mens hom – as mens – wil verstaan, moet jy tog sy persoonlikheidstipe probeer verstaan. Watse tipe mens geniet sulke geweld?

Elders in die geskiedenis sien ons soortgelyke fanataci moor en plunder. Klink vir my altoos soos Apartheid-polieste. In vandag se terme was hy ‘n fundamentalistiese ekstremis: ’n militante Fariseër, jy sou kon sê ’n lid van ’n sekte – maar op pad Damaskus toe, skyn ’n skerp lig op hom, verblind hom vir drie dae, en ’n meegaande stem oortuig hom tot hiertoe en nie verder nie. En in ’n oogwink bekeer hy homself en word ’n opperste evangelis, dié soort wat ons vandag steeds ken: iemand wat imponeer met sy toesprake en mense van heiden en verre stadions toe roep met beloftes van verlossing.

Ag, miskien is ek te sinies, maar ek sukkel om myself te vereenselwig met albei weergawes van dié man. Van Saulus se vooroordele hou ek niks van nie; van Paulus se evangalistiese hallelujas ook nie.

Soms wonder ek oor Paulus.

* * *

Maar dis okay, ek hou darem van die hoofkarakter van die Nuwe Testament.

Die apokriewe gelykenis van twee liefdevolle mans

Standaard

In die tyd van Jesus se gelykenisse was daar niemand wat dié vraag wou vra nie, want dit het nie swaar genoeg op enigiemand se gemoed gelê nie.

Maar in die meer onlangse geskiedenis was daar ‘n belese man – jy sou hom ‘n skrifgeleerde kon noem – wat wel hierdie vraag wou stel.  Hy raak toe stil en vra in gebed: “Jesus, mag twee mans saam ‘n kind grootmaak?”

Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

Die skrifgeleerde antwoord: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood. Dit is ‘n afstootlike sonde.”

Toe antwoord Jesus hom: “Mens, het jy niks uit my gelykenisse geleer nie? Hoe is dit dat jy kyk, maar nie sien nie, en hoor maar nie luister of verstaan nie?”

* * *

Toe vertel Hy hom die apokriewe gelykenis van twee liefdevolle mans:

“Daar was twee mans wat baie lief was vir mekaar. Hulle het trou aan mekaar gesweer en gelukkig saam gewoon en die rykdom wat hulle vergader het, met hulle naastes gedeel.

“Op ‘n dag kom hulle twee weeskinders teë. Hulle neem hulle in en versorg en klee hulle, en maak hulle groot soos hulle eie.

“Omdat hulle al baie nagedink het oor die liefde, en geweet het dat daar mense is wat hulle haat vir die liefde wat hulle met mekaar deel, het hulle versigtig, maar openlik oor die liefde met hulle kinders gepraat.

“Hulle het die kinders vermaan om nie te veroordeel nie, maar om die rykheid van God se liefde aan almal toe te wens.”

* * *

Die skrifgeleerde was verbaas oor die antwoord wat hy ontvang en het weer stil geword om die tweede deel van die gelykenis verder aan te hoor.

* * *

“In dieselfde streek het daar ‘n man en vrou gewoon wat op ‘n jong ouderdom trou aan mekaar gesweer het, en in die eerste jare van hulle huwelik het die vrou vir haar man twee kinders in die wêreld gebring.

“Soos die kinders ouer geword het, het die man na sy vrou gekyk en haar as die moeder van sy kinders begin sien. Die liefde wat hy vir haar gevoel het, het begin taan, maar in die gees van die Wet het hulle met die huwelik volhard.

“In die streek was daar heelwat egskeidings en ongehude ouers en egbreuk wat deur mense gepleeg is, maar die man en vrou het aan mekaar trou gebly, en die kinders sonder sulke sonde opgevoed.  Maar die twee kinders het ook sonder ‘n liefderyke voorbeeld grootgeword, omdat die man en vrou se liefde vir mekaar stil geword het.

“So het die kinders stilweg besef dat die huwelik eintlik ‘n plig is wat nagekom word. Hulle het na hulle maats se ouers gekyk en gesien dat hulle nie die pligte van die huwelik nakom nie.  Hulle het trots gevoel op hulle ouers se nakoming van die Wet en het aan ander uitgewys hoe sondig hulle ouers is.”

* * *

Die skrifgeleerde het sy oë oopgemaak en hartseer gevoel vir die man en vrou se kinders.

Toe vra ‘n stem in sy gemoed: “In die oë van die Here, wie het hulle kinders die mees liefdevol grootgemaak?”

O gaats! Die badkamers word omskep in kantoorruimtes! (Word die toilethokkies as afskortings behou?) Wat? En nou moet ons nog die toiletrolle se aantal velletjies tel!

Standaard

In die administratiewe gebou waar ek werk, is kantoorruimte nogals ‘n probleem. Mense sit alreeds drie-drie in sommige kantore. Vandaar die volgende kennisgewing wat ek op die twee badkamerdeure aangebring het, met vandag se datum onderaan:

DERDEVLOER BADKAMER(S) OMSKEP IN KANTOORRUIMTES

Weens die lae gebruikersfrekwensie van die derdevloer badkamers word daar tans oorweeg om hierdie vertrek(ke) te omskep in ‘n kantoorruimte vir twee tot vier personeellede.

Om te help bepaal watter badkamer die hoogste gebruikersfrekwensie het, word u vriendelik versoek om elke keer wat u hierdie badkamer (B3218) gebruik, ‘n e-pos te stuur aan …* sodat daar bereken kan word watter badkamer wel behoue moet bly en as ‘n unisex lokaal ingerig moet word.

Hierdie reëling is bloot om die minste ongerief te veroorsaak met die kantoorherindelingsproses.

Dankie vir u samewerking!

* Ek los maar die e-pos adres weg uit dié inskrywing!

>>

Vir die toesighouer van die skoonmaakpersoneel het ek weer vertel van die memo wat gesirkuleer is t.o.v. die toiletpapier:

Sekere rolle is gevind wat minder as 150 velletjies papier het en daarom word daar gevra dat een toiletrol uit elke pak afgerol moet word om te tel hoeveel velletjies daar is.  Rolle met minder as 150 velletjies moet teruggestuur word na die Aankope-afdeling toe.  Toiletrolle wat wel die regte aantal velletjies het, moet asseblief weer netjies opgerol word vir gebruik in die badkamers.

>>

Het jy enigiemand vandag ‘n lekker streep getrek?

Of het jy dalk niksvermoedends self in ‘n grap getrap?

Op die vooraand van ’n grap-dag wonder ek wat om te doen

Standaard

Laasjaar op 1 April het ek twee kollegas geflous deur e-posse vanaf hulle rekenaars uit te stuur – nie die “wettigste” grap wat ‘n mens mag pleeg nie, maar in ons administratiewe omgewing, ‘n heel geslaagde (en goedbedoelde) truuk.

Die een se verspreidingslys het spotgoedkoop turksvye belowe, die ander een s’n kreatiewe fudge-pakkies (lemon grass fudge, marmite fudge, ens.).

Hulle telefone het onophoudelik beginne lui met al die bestellings, sonder dat hulle kon uitpluis hoekom mense sodanig op soek is na doringlose turksvye of die eienaardigste fudge-resepte (ons het die e-posse uit hulle sent-items delete).

* * *

(Albei kollegas is môre met verlof.)

* * *

Wat was die grappigste April’s Fool joke wat jy al teëgekom het?

Read the rest of this entry

Woer jy op jou woek of post jy op jou blog? Wanneer transleer jy swak en wanneer assimileer jy twak? En is daar enige meriete in die Taaldebat?

Standaard

In ‘n vorige post vat my lesers mekaar aan oor hulle woordgebruik.  Die een sê die woord “woer” moet in sy moer in vlieg.

Self voel ek ambivalent oor al die vertalings wat Jan Internet aanpak: Oornag het my Facebook in ‘n boer verander en vandag praat my WordPress ook Afrikaans.

Die ding is vertaalkuns is maar moeilik.

Elke Jan Rap en sy google kan nie sonder meer frases oorplaas in ‘n ander taal deur net losstaande woorde te wil vertaal nie; jy verg ‘n vaardige fundi wat ‘n idee soomloos kan vertolk.

* * *

Ook in die akademie sukkel mense met die skep van behoorlike vaktaal-terminologie.  Computer jargon klink weird en fake in Afrikaans: Dubbel-klik met jou regtermuisknoppie op die Vensters-ikoon.  Ugh.

So, hoe gemaak met internetjoernalistiekterminologie?  Skep jy nuwes of copy en paste jy die Engelse woord?  Tik jy dit in italics?  Hm.  My voorkeur is dat jy ‘n nuwe post pos op jou blog.

* * *

Wanneer ek langs die Strand se kuslyn wandel, grief dit my telkens as ek die nuwe woonstelblokke se name lees: Topaz, Hibernian Towers, ens.  Ek sou die groot blou-gebou so graag wou Bloublasie noem en die groene Khula Khaya (khula = groei/vry wees en khaya = huis/tuiste).  Tsk.

* * *

Ek dink die truuk is om ‘n bietjie nederlands te gaan oplees om waarlik briljante neologismes te kan skep.  Oerwoorde wat ons al vaagweg verloor het, opdiep en heraanwend.

* * *

Uiteraard is ek ‘n voorstaander van die T-opsie: ek glo meertaligheid bevorder begrip.

mnr.muller was te besig om kommentaar te lewer op ander ouens se blogs as om self iets te post, so verskoon hom asseblief en lees gerus wat hy daarso op die ander ouens se blogs kwytgeraak het m.b.t. filosofie

Standaard

Ek is ‘n swak blogger.

Ek skryf te min en te ongereeld, en wanneer ek die dag kommentaar lewer op iemand anders se blog, dan gaat ek heeltemal oorboord.

Nietemin, as jy wil weet by watter gesprekslyn ek onlangs betrokke geraak het, volg gerus my diskoers op flippiefanus se bloginskrywing oor Wiskunde en filosofie.  Kortom sê hy: “Filosofie is snert”.  Kortom sê ek: “Is nie”.  Bleh.

88 comments later en ons het min vordering gemaak, hehe. Ek is amper op die punt waarby ek met hom wil saamstem, seinde ons soveel gebabbel het en niks bereik het nie!

* * *

Dis vreemd waarby ‘n mens alles per ongeluk betrokke raak in die blogosfeer.  Ander dag sien ek ek is ‘n kampvegter vir gay regte.  Dis nogal cool.  Jy hoef nie gay te wees om ‘n goeie saak te ondersteun nie.  Jean du Plessis se lesingreeks oor gay wees is ‘n absolute plesier om te lees. Regtig ‘n worthwhile read.

* * *

Gister gesels ek en my tweedejaar kamermaat oor ons soortgelyke wanhopige, kommerlose lewens.  (Ek plaas juis die twee teenstrydighede naas mekaar.) Ons is albei haarlynopskuiwende-boepenskwekende jongmense, tersiêr opgevoed en twyfelend in ons aparte, maar gedeelde sinlose, maar sinfnuikende, bestaansomgewings.

Ons het lekker gesels.

En ons het ‘n paar weke gelede lekker treingery Kaap toe.

* * *

Dus, as ek min blog, vra ek om verskoning – ek voel veral skuldig teenoor dié met wie ek amper uitsluitlik in dié medium kommunikeer.

Maar die feit is, ek hou nie eintlik hiervan nie; ek hou daarvan om iemand in die oë te kyk wanneer ek met hom/haar praat.  Ek hou van die opflakkering van emosies – nie van moeilik-interpreteerbare tussen-die-reëls emoticons nie.  Ek hou veel meer van klasgee as blog oor klasgee, maar nou ja.

Ek is ‘n swak blogger.

Maar ek sal probeer om aan nuwe inskrywings te dink.

* * *

Ugh. ‘n Kenmerk van ‘n swak blog is, volgens my, wanneer die skrywer in ‘n selffolterende geweeklaag van meta-blogging verval.  Hehe, ten minste doen ek dit met ‘n tikkie ironie (‘n meta-meta-geweeklaag dus!).

Eergistraand het DF Malan en oudpresident BJ Vorster luid feesgevier in Higgovale, Kaapstad

Standaard

Eergister vroegaand het ek partytjie gehou in Kaapstad – en dit was heel plesierig, dit kan jy maar glo.

Die onthaalplek was ‘n gastehuis in Higgovale Villa Margaretha – wat regdeur wit-wit-wit geverf is en plek-plek versier met nagemaakte Grieks/Romeinse beelde, en koper- en silwerware strategies uitgestal.  ‘n Tikkie blanko Europa.

Dit was die partytjie van ‘n vriend van my, toevallig ‘n DF Malan – ‘n vervroegde viering van sy dertigste verjaarsdag, en ‘n kans vir ons om sy Nederlandse vriendin te ontmoet.  (Lees van sy naamgenoot en voorvader, oudpresident DF Malan.)

Ons het lekker buitekant op die stoep gesels, maar toe die son in die skadu van die dennebome sak, is ons inwaarts gedryf na die beloofte kaggel.

Maar in die voorportaal van die villa het ek hom die eerste gewaar, in die loom namiddag:

Ek moes versigtig sluk aan my vonkelsap, want regs by die gangetjie van die voordeur, op ‘n tafeltjie, sekuur geplaas vir die doel, was ‘n borsbeeld van ene oudpresident BJ Vorster wat met ‘n bronsblik elke gas se buik reguit bekyk.  (Die gasvrou blyk toe ‘n Vorster te wees.)  ‘n Varswit ruiker is by die beeld neergelê.

Overgesetseinde was die partytjie ‘n heerlike sukses; ‘n luidgevierde fees.  Ek kon soos in die goeie ou dae, lekker kuier met my Stellenbosse oudkoshuispelle, met wie jy mos maar ‘n bond opbou.  Die kos is geskep en die wyn het gevloei.

Die twee sjokolade nageregkoeke is toegewit met versiersuiker en bedien met joghurtvla en ligte dessert-appeltjies.  Op een was ‘n enkele flakkerende fakkeltjie geplant, wat François flink doodgeblaas het, begroet deur verjaarsdaggesange.

Ek moes vroeg ry en het ‘n paar van die witleë etensborde opgestapel en kombuis toe geneem na ‘n Siena en Liena vir die opwas, almal gehandgroet, gekasta-buig vir oom BJ, en in die straat waar die rye motors gestaan het, die donker nag met ‘n sy soel asem gegroet, die karwag in Xhosa bedank en in rand vergoed, in my donker karretjie geklim en in my truspieël vir vriende in hul wit Audi totsiens gewuif.

Vort na ons aparte tuislande.