Category Archives: Xhosa

Sistematiese blog-lesse vir die aanleer van isiXhosa

Blogposts as mini-memoires (of ’n greep op penisse)

Standaard

Wat begin het as ‘n plek op die web waar ek Xhosa- en Lewensoriënteringlesse kon post, het hierdie wordpress-ruimte stelselmatig vervorm tot ‘n reeks outobiografiese refleksies.

Interessant hoeveel staaltjies span uit frustrasies oor studenteleierskap; ek het dit nie verwag nie.

As ‘n memoire gedefiniëer word as ‘n greep uit jou lewe wat jy beskryf, oor reflekteer en aan ander kommunikeer, dan, vermoed ek, is hierdie blog inderdaad dít: ‘n hoop asinchroniese memoires uit my groeiende verlede.

Soms post ek bloot vetkrytsketse; dit het ook sy plek.

Maar dit is interessant om te sien waaroor ek als aan’t skryf is, en te wonder hoekom ek gedryf sou wees om dit te doen – wátter dinge my aanraak en dwing om iets wat eintlik net ‘n vlugtige gebeurtenis was, in my gedagtes te verleng.

Ek is bly ek doen dit; om die tyd te vat om dít wat ég is (vir my), te probeer verwoord… dit leer my ‘n rustigheid aan.  En maak my bewus van my feilbaarheid; my naïewe idealisme soms, en my eiewyse arrogansie.

Ek voel ek leer meer wanneer ek oor ‘n gebeurtenis reflekteer.

>>

Maar ‘n blog genaamd “mnr.muller en sy virtuele chalkboard” kom soms verkeerd aan ander oor, het ek besef.

Die meeste mense se konnotasie aan wie en wat ‘n onderwyser is, verskil van myne.  Hulle sien ‘n onderwyser as die een wat voor staan in die klas met ‘n lat en ‘n les; ‘n prediker van die weg, die waarheid en die eksamenvraestel.  Met die swartbord ‘n altaar waarop heilige koeie gegiet word; die bordkryt alleenlik in die onderwyser se hand.

Dit is allermins die tipe onderwyser wat ek was.

Ek het nie voor by ‘n swartbord gestaan nie, maar in die biblioteek, met losstaande turkoois-tafels en losstaande stoele, selfs rusbanke in die “klas”.  My witbord was op wieletjies, en die kleurpenne in almal se hand.  Vir ‘n Xhosa-les oor liggaamsdele, deel ek ‘n swemgala-foto uit met pyle wat wys na leerders se kop, oë, neus, maag, bene, skouers, knieë; ek deel woordeboeke uit in die klas, en laat hulle self die woorde opsoek en inskryf; dan sit ek tussen hulle en por hulle aan om maniere te vind hoe om dié nuwe woorde te memoriseer: leer hulle die vaardigheid aan om assosiasies te tref, om te leer.  “Iliso” (oë) sê Chris, herinner hom aan die “Elize”, een van die karakters in hulle Afrikaanse voorgeskrewe boek, wat swaksiende is: Briljant!  Party interpreteer dat die pyl wys na ‘n elmboog, die ander ene soek “voorarm” op.

En só leer ek ook.  Konstant in gesprek met woerelende leerders; elkeen met ‘n eie kennisvlak, vrae, persepsies en wanpersepsies, ervaringe, wysheid en inslag tot geluk.  Ons daag mekaar uit; ‘n graad 9 seun soek die Xhosa-woord op vir “penis” en skryf dit op sy papier en die witbord neer, met ‘n pyl wat hy na die seun se boardshorts trek.  Ons lag en besef “umthondo” is dalk van “-thanda” (-hou van/-lief wees) afgelei, ‘n koppeling wat hy nou kwalik sal vergeet.  (Later daardie dag roep die skoolhoof my in: een van die vroue-leerders se ouer het gebel oor onwelvoeglike woordgebruik in die klas.)

>>

‘n Week of so gelede nooi die einste “umthondo”-oudleerder, nou ‘n eerstejaarstudent, my oor na sy universiteitskoshuis, wat ook eertyds my oudkoshuis was.  Ek het hom ‘n ekstra oranje knopie gevat, baie gepas omdat hy syne juis vroeër die vorige week verloor het.  (Die knopies dra hulle vir ‘n kort tyd om mekaar op kampus te kan uitken; ‘n slim simbool waarmee jy ‘n sin van eenheid kan skep, al is almal ooglopend anders aangetrek.)

Vir my, wat graag met jongmense werk – en my kort tyd by my oudskool soms verlang – was dit heerlik om sy interpretasies van die werklikheid te kon aanhoor, en oudergewoonte uitdaag.

Miskien sal ek daarom nie vertel hoe die onderprim, vir wie ek toe in die koshuisgang raakgeloop en vriendelik gegroet het, my agterdogtig aangekyk het en ‘n tree terug gegee het nie, nie noem hoe die inwonende hoof my kort daarná kom opsoek het in die quad en gevra het dat ek in die toekoms my eerder eers by hom moet aanmeld nie; laat ek eerder vergeet hoe die primarius hande-voor-sy bors bly staan het toe ek hom ‘n stukkie koue waatlemoen aanbied.  Vir my is hulle nog kwaad oor ek durf kritiek lewer. Durf reflekteer oor praktyke wat vir hulle heilig is.

>>

Welke klaskamer-atmosfeer jy ook al wil skep, oop vir kritiek en gesprek; nie almal geniet dié vryhede nie.  Soms is dit intimiderend om op die witbord te kan skryf – deel te neem aan die koei se slag.  ‘n Hand op te steek; van iemand te verskil.  (Sê nou maar net die afgeslagte koeie was nooit heilig nie?)

>>

Umthondo is ‘n mooi woord, deels vanweë my moontlik-verkeerde assosiasie met “-thanda”.  Maar ook omdat dit ‘n greep uit my lewe uit oproep, van ‘n jonger ek wat dit kon waag om die leerplan oop te gooi vir verrassings en vermanings en pret.

‘n Woord waarmee jy verskillende grepe se drade saam kan trek, pun intended.

Kyk, hy is skadeloos, wees hom tog genadig.

>>

Advertisements

Xhosa #8 – Toets jou kennis!

Standaard

xhosa_seuntjie_iiEk het lanklaas ‘n Xhosa-les gepost.

Laas  het ons op naamwoorde gefokus, spesifiek die Xhosa-woorde vir liggaamsdele.

In Xhosa #6 het ek die volgende Xhosa-naamwoorde gegee: kop, nek, been, voete, knie, borskas, hare, hand, hemde, broeke en atlete.

In Xhosa #7 het jy nog woorde gekry: oog, mond, tand, neus, ken, wenkbrou, onderarmholte, maag, tepel en liggaam.

Hoe het jy te werk gegaan om dié nuwe woorde te onthou?  En hoe suksesvol was jy?  Kan jy die volgende woorde na Afrikaans vertaal:

ikhwapha, umlomo, umlenze, impumlo, isilevu, iinyawo, ingono, iihempe, iibhulukhwe, isifuba, iliso, ababaleki, idolo, intamo, intloko, iinwele, ushiyi, izinyo, isandla, isusu, umzimba…?

Indien nie, moet ons fokus op onthou-vaardighede en hoe om nuwe woorde aan te leer.  Daarvoor moet ons weet hoe om ons hele brein in te span vir die oor-en-weer onthou-proses.

Hoeveel woorde kon jy sedert laas les onthou?  Het jy volpunte?  Is daar woorde wat jou makliker bygebly het?  Hoekom?

Xhosa #7 – nog naamwoorde

Standaard

Dis tricky om vreemde woorde van ‘n nuwe taal te leer.  Ons begin met naamwoorde van liggaamsdele sodat jy self aan jou neus kan vat, die woord daarvoor hardop kan sê, die woord kan neerskryf en dit met assosiasies kan probeer onthou.  Haha, speel gerus simpel simon met jouself!

Leer lekker hard – hierdie woorde en Xhosa #6 s’n.  Die volgende les, Xhosa #8, gaan jou kennis toets!

intloko nobuso

Xhosa #6 – umzimba

Standaard

Soos jy in die eerste Xhosa-les gelees het, is naamwoorde (dinge) in Xhosa baie belangrik.  Vandag kan jy elf nuwe naamwoorde leer.  Probeer om assosiasies te tref – skryf die woord uit, teken ‘n prentjie, en vryf jou knieskyf terwyl jy  idolo  hardop sê.  Sterkte!

umzimba

Xhosa #5

Standaard

Gou weer tyd vir ‘n Xhosa-les!

‘n Mens moet darem kan hallo en koebaai sê in enige taal – ook in Xhosa.  Nou destyds toe die boere daarso by die xhosa’s aangekom het, en almal nog vreedsaam aan weerskante van die rivier gebly het, het die Xhosa’s ‘n snaakse sêding van daardie Afrikaanse omies oorgeneem – die gebruik om, tesame met ‘n handwuif, vir iemand “môre” te sê.

  • Môre Jan    Molo Jan
  • Môre Piet    Molo Piet
  • Môre Xolisa    Molo Xholisa

Haha, maklik nè?  Die wonder van kruisbestuiwing, darem!  Hierdie idee van  Molo!  wat Hallo! vir een mens beteken, het daartoe gelei dat goeiedag vir meer as een mens  Moloni!    Hallo, julle!  (kyk Xhosa #2) geword het.  Hierdie  Moloni  het geassimileer tot Molweni  wat vandag Hallo (vir meer as een mens) beteken.   {Sê ‘n paar keer  moloni  hardop, en vergelyk dit met  molweni.  Laasgenoemde sê definitief makliker en vorm lekkerder in die mond.}

  • Môre Jan en Piet!    Molweni Jan noPiet!
  • Hallo leerders!    Molweni bafundi!    [leerders = abafundi, maar die eerste letter val weg as iemand direk aangespreek word.  So ook is Jan eintlik in die u-klas, d.w.s   uJan]

Die werkwoord -phila  ken julle mos.  Dit beteken “leef”.  Jy ken ook die vraagwoord  njani…?  wat hoe…? beteken.  As jy wil vra: “Hoe gaan dit met jou?” sal jy in Xhosa vra “Leef jy nog?” of “Hoe is dit?” (“Hoezit?”):

  • Usaphila?    Leef jy nog?  [Letterlik vertaal: Jy nog leef?]
  • Kunjani?    Dit is hoe?  [Die Ku-  is ‘n algemene “Dit is…”]

Om te antwoord hierop is maklik… maar jy kan self indink dat daar in elke taal ‘n klomp variasies is om elke denkbare gemoedstoestand te beskryf.  Hey, nee ou, dit gaan so-so.  Jis, goed man, en jy?  Wragtag, kakker kan dit nie vandag nie.  Die lys is legio.

‘n Baie standaard antwoord in Xhosa is om te sê:

  • Hayi, ndisaphila, enkosi!    Nee, ek leef nog, dankie!

Ukubulisa

Gaan soek ‘n paar Xhosa-sprekendes op hierdie week en kyk of jy vertalings vir die ag speech bubbles in die .jpg file hierbo in die hande kan kry!

  • Hamba kakuhle!    Mooi loop!  (d.w.s.  Totsiens)

Xhosa #4

Standaard

Vraagsinne 

Hierdie Xhosa-les is ‘n lekker kort ene.  Onthou, ons sal nog baie op woordeskat moet fokus hierna, om genoeg naamwoorde en werkwoorde te hê om sinne mee te kan bou, én ons sal nog ‘n hele klompie taalreëls ook stelselmatig moet aanleer.

Ons weet bv. dat al die naamwoorde in Xhosa in verskillende klasse is, en dat dit nogals bepaal hoe die res van ‘n sin gaan lyk (want elke naamwoordklas het sy eie skakels).

Maar bogenoemde stuff gaan ons binnekort tema-vir-tema deurdraf.  Laat ons nou eers die derde tipe sin wat ‘n mens kan maak, bespreek.  Die eerste tipe was 1. Bevelsinne, die tweede tipe sin was 2. Stelsinne (seker die algemeenste sinsbouvorm), en vandag bespreek ons 3. Vraagsinne.

‘n Vraagsin het ‘n vraagteken aan die einde!  So eenvoudig soos dit:

  • Uyafunda?    Leer jy/hy/sy?    [klem op die léér]
  • Ndifunda?    Leer ek?    [klem op die ék]
  • Indoda ihamba?  Stap die man?
  • Libaleka ihashe?    Hardloop die perd?  [Dieselfde as: Ihashe libaleka?]

Let ‘n paar dingetjies op:

  1. Die -ya- wat voor die werkwoord gebruik word, skuif die klem na die werkwoordsgedeelte van die vraag (of die stelsin for that matter).
  2. Die volgorde waarin die onderwerp, voorwerp en werkwoord gebruik word, is glad nie so belangrik in Xhosa (as in Afrikaans of Engels) nie.  (Omdat naamwoorde in klasse gedeel is, weet ‘n mens dadelik watter woord “gekoppel” word aan die werkwoord (d.w.s. wie die aksie uitvoer), want daardie naamwoordklas se onderwerpskakel word as voorvoegsel met die werkwoord verbind: Lihamba?    Loop dit?    [iets in die li- klas, in hierdie geval, waarskynlik dan nou die ihashe    perd].
  3. ‘n Mens kan ‘n kort, losstaande woordjie: na  gebruik om die vraag-wees van ‘n vraag te beklemtoon.  Haha, ons kan eintlik dit vertaal na: “?”.  Soos in Afrikaans en Engels, gaan ‘n mens se stemtoon op aan die einde van ‘n sin as ‘n mens ‘n vraag vra.  Hierdie na    ?  help ‘n mens om daai stemstyging uit te voer.

Raait.  Obviously is daar baie vrae wat ‘n mens kan vra.  En nes Afrikaans en Engels dedicated vraagwoorde het, het Xhosa ook.  Leer bietjie die volgende:

  • -bani…?    wie…?
  • kutheni…?    hoekom?
  • -phi…?    waar?
  • ntoni…?   wat?

Probeer nou hierdie volgende sinne vertaal:

  1. Iphi indoda na?
  2. Stap jy?
  3. Hardloop die atleet?
  4. Kutheni umfundi ukhaba umbaleki?
  5. Bayafunda ntoni?

Sterkte!  Het jy enige vrae oor vraagsinne?  Vra gerus!

Xhosa #3

Standaard

Stelsinne 

Naamwoorde in Xhosa is belangrik.  Dit sien ons sodra ons stelsinne skryf.

Elke “ding” of “mens” (elke naamwoord dus) in Xhosa is in ‘n spesifieke naamwoordklas.  umfundi    leerder,  en  umbaleki    atleet,  is in die um-  naamwoordklas.  MAAR  indoda    man, en  ihashe    perd,  is onderskeidelik in die i- en li- naamwoordklasse.

Wanneer ons stelsinne in Xhosa maak, moet ons oplet in watter naamwoordklas die onderwerp (van die sin) is, sodat ons die regte onderwerpskakel voor die werkwoord kan aanlas:

  • Umfundi uyahamba.    Die leerder hy loop.  [die -ya- dui teenwoordige tyd aan]
  • Umhambi uyaqhuba.    Die atleet hy bestuur.
  • Indoda iyahamba.    Die man hy loop.
  • Ihashe liyabaleka.    Die perd hy hardloop.

Miskien, as jy bogenoemde sinne lees, verstaan jy nou hoekom die Afrikaans wat moedertaal Xhosa-sprekendes praat, dikwels die “oortollige” voornaamwoord (“hy”) bevat.

Let ook op dat daar m.b.t. die Xhosa voornaamskakels, geen onderskeid tussen hy of sy getref word nie:

  • Ndiyahamba.    Ek loop.
  • Uyahamba.    Jy of Hy/Sy loop.
  • Siyabaleka.    Ons hardloop.
  • Niyafunda.    Julle lees/leer.
  • Bayaqhuba.    Hulle bestuur.

Probeer nou die volgende sinne vertaal:

  1. Siyatya.
  2. Julle hardloop.
  3. Die man bestuur.
  4. Die perd leef.
  5. Umbaleki uyakhaba.

(Die vertalings sal later in die comments gepost word.)