Tag Archives: drankgebruik

Life skills #6 – wie is meer volwasse?

Standaard

Voor ons verder gaan met die bespreking van die vierde Lewensoriënteringkwessie (die vorige drie het gegaan oor rook, drink en vloek), wil ek hê leerders moet die vraag hieronder vir die vyf verskillende scenario’s beantwoord:

Wie is meer volwasse?

  1. Die meisie wat haar sakgeld uitgee op sigarette en saam met haar vriende rook of die meisie wat haar sakgeld spaar en sonder rook kan sosialiseer?
  2. Die ou wat vyf biere kan down en nugter huis toe ry, of die ou wat drie drankies stadig geniet en ‘n lift reël as hy pub toe gaan?
  3. Die meisie wat in ‘n kort rompie sewe ouens in een aand vry, of die meisie wat rustig gesels met die twee interessante ouens en nuwe vriende maak?
  4. Die ou wat ‘n patchy donsbaard groei om ouer te lyk of die ou wat gereeld skeer en wag vir sy baard om digter te word?
  5. Die meisie wat haar onderwyser uitvloek, of die meisie wat geartikuleerd van haar onderwyser verskil?

Soms probeer tieners net ‘n bietjie te hard.

Of hoe dink jy?

Skoolleerders

Advertisements

Life skills #4 – drink jouself moertoe

Standaard

In die vorige life skills post het ek genoem dat ‘n mens uit leerders se facebook feeds kan aflei dat hulle al van jonks af rook, drink, vloek en vry.

Laas het ons oor social smoking gesels; in vandag se blog-les praat ons oor alkoholgebruik en hoe om jouself nie moertoe te drink nie.

Ouers, family en vriende

Die meeste grootmense drink socially.  Jou pa en ooms gryp na ‘n biertjie om die vuurtjie wanneer hulle vleisbraai en grappies maak, jou broer en sy pelle drink brandewyn en coke na ‘n krieket game, jou oupa drink whisky op ys net voor hy gaan slaap, jou suster soet vodka-vrugtesap as sy saam met haar vriendinne kuier, en jou ma ‘n ligte, droeë witwyntjie, of rosé saam met ete. 

Baie mense gebruik selde of nooit alkohol nie en hou meer van vrugtesap en gaskoeldrank, water, koffie en tee.  Party mense drink nie, omdat hulle geloof dit verbied.  Party omdat dit baie goedkoper uitwerk.  Party omdat hulle geneigd is om nie te kan ophou as hulle eers begin het nie.  To each his own.

Hoekom drink mense enigsins?

Mense drink omdat dit vir hulle lekker is.  Alhoewel jy miskien meer hou van milkshakes en coke, en gril vir die bitter smaak van koffie of bier, is daar baie smake wat vir mense lekkerder raak namate hulle ouer word.

‘n Drankie wat alkohol bevat, het ‘n ligte kalmerende/verdowende invloed op die sentrale senuweestelsel, wat dit veral vir ‘n gekuier tussen grootmense aangenaam maak, omdat dit almal help ontlaai (van stress by die werk, ens.) en losser, oper gesprekke kan laat voer.  (‘n Mens kan natuurlik netso goed daarsonder ontspan.)

Met wyn en whisky kan ‘n mens tydens die gistingsproses ‘n hele reeks komplekse geure vasvang deur die drank vir jare in houtvate te laat lê – en vir heelwat mense is dit ‘n absolute plesier om hulle in dié smake te verkneukel.  Self hou ek van die smoky smaak van sekere whiskies.

Is dit normaal om te wil proe?

Kinders is van nature nuuskierig oor alles wat rondom hulle aangaan.  Hulle is veral nuuskierig oor wat grootmense doen, en wat ouens wat net ‘n bietjie ouer as hulleself is, aanvang.  Dis deel van die menslike ontwikkelingsproses.  Dis dus nie ongewoon dat ‘n laerskoolkind skelm ‘n bier uit ‘n yskas sal steel, ‘n slukkie neem, sy gesig trek, die res by die drein afgooi, en wonder hoe om van die bottel ontslae te raak, nie.

As jy al van kleins af blootgestel is/word aan alkohol, en miskien ‘n bietjie likeur na ‘n sondagmaal, ‘n glasie vonkelwyn by ‘n troue, of ‘n slukkie nagmaalwyn in die kerk, geniet/geniet het, is jy miskien glad nie so geinteresseerd in drank nie; dis ook normaal.

Party mense vang dadelik ‘n liking in rooiwyn, maar verpes ‘n sekere kultivar.  Hoe meer blootstelling jy mettertyd kry, hoe kieskeuriger sal jy waarskynlik raak.

Om te drink tot jy kots

Die probleem met drank is dat jongmense dikwels kuier met die uitsluitlike doel om dronk te word.  Hulle doen dit as ‘n aktiwiteit sigself, want dis maklik om te beplan: koop drank; nooi vriende.  Dis iets om ‘n klomp mense (of dit net ‘n klompie pelle saam is, of ‘n huge house party met ouens én meisies is) saam te bind.

En alkohol is ‘n verdowingsmiddel – ‘n dwelm wat jou senuweestelsel aantas.  Dus, as dit jou hoof-mission is om dronk te word, dan hou jy waarskynlik van die newe-effekte wat dit oplewer: 

Een vir een verloor jy die normale gebruik van jou liggaamsfunksies.  Jy sien goed blurry, jou tong knoop oor maklike frases, jou gedagtes raak foggy, jy raak uit sync uit met jou bewegings, ens.  

As jy heelwat drink, gaan jou fyn motoriese vaardighede (soos jou hand-oog koördinasie en jou spraak-vermoë) daarmee heen, dan jou groot motoriese vaardighede (soos jou balans), en uiteindelik gaan jou liggaam in een van twee vergiftigingstoestande in: of jou liggaam forseer jou om op te gooi (om van die gifstowwe ontslae te probeer raak), of jy pass uit (wat jou verhoed om verdere skade aan jouself aan te rig).

Maar alhoewel dit ‘n ervaring opsigself is, is dit nie spesifiek lekker om onbeheersd dronk te raak en met ‘n hoofpyn die volgende dag wakker te word nie; mense geniet meer die kuier-aspek, en die verloor van inhibisies (skaam wees).  Party ouens sweer daarop dat dit hulle lekkerder laat dans.

So hoe drink mens socially sonder om moertoe te raak?

Wel, min mense drink aspris totdat hulle uitpass.  Daar is enkele mense wat drank uit-en-uit as ‘n dwelmmiddel gebruik en verslaaf is aan die nie-meer-omgee-nie gevoel wat dronkenskap vir ‘n mens gee.  Maar by jongmense is dit meestal die geval dat ouens net nie lekker weet wanneer om op te hou drink nie.

Jy kom by ‘n partytjie aan, daar is vodka wat jy nie proe nie in die punch, jy drink ‘n hunters dry om te probeer groot lyk, drink nog ene, en nog ‘n bietjie punch – en dan het jy, sonder dat jy dit besef, te veel alkohol in jou bloedstroom om kop te hou.

So, pas maar op en volg van hierdie reëls:

  1. Koop jou eie drank – weet wat jy drink en hoe sterk die stuff is wat jy inneem.
  2. Gaan gereeld badkamer toe en drink baie water tussendeur.  Na elke shot vodka of bier moet jy ten minste ‘n glas water drink om jou liggaam ‘n fighting chance te gee.  Jy sal steeds lekker mellow raak, maar langer kan uithou en minder sleg voel die volgende oggend.
  3. Kuier met ouens op wie jy regtig kan vertrou.
  4. Skink halwe glasies.  Dan lyk dit asof jy heeltyd kuier, en altyd ‘n drink in jou hand het en dan bodder ouens nie om die heeltyd jou te laat down nie.
  5. Moenie iets randoms vinnig afsluk nie.  Een strafdop kan jou binne sekondes laat uitpass en jou in die hospitaal laat beland – dis nie lekker om by jou 21st in ‘n medi-Clinic ingeboek te word nie.
  6. As jy sien jou vriend gaan overboard, stap saam met hom badkamer toe en laat hy water drink.  Stap maar die pad saam met hom in die toilethokkie as dit nodig is, en in die aand, draai hom op sy sy sodat hy nie aan sy opgooisels verstik nie.
  7. Moenie dronk chicks probeer score nie.  Rêrig, dis ‘n goor game daai.  En dis niks om op trots te wees nie.  Dis veel lekkerder om ‘n meisie doodnugter te vry.
  8. Onthou dat jou kapasiteit vir alkohol elke dag anderste is.  As jy geoefen het, sal jy vinniger dronk word.  Drink dus stadig en wissel af met water, en hou by ‘n limiet waarop jy vooraf besluit het.
  9. Let op hoeveel jy drink – moenie wag vir die fisieke simptome nie; jy kan die een oomblik nugter wees en die volgende oomblik tref die alkohol jou dat jy smoordronk wankel.
  10. Moenie jou dors met drank probeer les nie – drink sap of water of koeldrank, en drink die alkohol vir die lekkerte, met kleiner slukke.

Drank is ‘n maklike manier om ‘n bymekaarkom-geleentheid volgens sosiale konvensies “fun” te maak.  Dadelik het jy ‘n aktiwiteit waarrondom jy kuier.  Jy gesels die volgende dag oor hoe dronk jy was; jy raak afhanklik van jou buddies wat jou kop bo die toiletbak moet help hou.  Hm, heerlik.

Daar is egter steeds dinge, sal jy gou uitvind, wat regtig meer pret is as om aspris dronk te raak.  As jy kan, probeer daai fase in jou lewe dalk te skip: drink matig – maar drink omdat jy die smake en geure van dit wat jy drink, geniet – spaar eerder jou geld op die goedkoop shots, en koop vir jouself ‘n ordentlike bottel rooiwyn wat jy lekker saam met ‘n bord kos en goeie vriende kan geniet.

Maar nietemin, sterkte.  Die pressure op jongmense is om te drink.  Dit vat nogals guts om nugter te bly.

En indien jy wel uitgaan en hard kuier, geniet die kopseer, nadors en gaps in jou geheue wat dit meebring.  Hoe sê hulle mos: Youth is wasted on the young – en blackouts beteken jy het sekere van jou breinselle permanent beskadig.

Hm, dis al advies wat ek nou vir jou het.  Stem jy saam met wat ek hier sê?  Dink jy tieners kan wegkom sonder ‘n savanha in hul hand?  Op watter ouderdom dink jy moet ouens begin drink?  Is drank van die duiwel, of moet ‘n mens dit van jonks af geniet?  Wat dink jy van binge drinking (drink om dronk te raak)?  Wat is jou advies?