Tag Archives: gedig

Digterwordende sketse

Standaard

As deel van die Kreatiewe Skryfonderrig-kursus wat ek ongereeld help onderrig, woon ek en Estelleke een keer per maand, saam met sowat agt ander pelgrims, ‘n kreatiewe skryf-kring onder leiding van oudprofessor, dr Dorian Haarhoff, by.

Hy fasiliteer die skryfproses-proses waar die eindproduk nie soseer die belangrikste is nie, maar die wegmymering van jou gedagtes na ‘n onderbewuste skeppendheid wat jy ontsluit.  In laas Woensdag se oefening het hy ons twee-twee mekaar laat skets, linkshandig, terwyl hy agtergrondpoësie lees; waarná ons oorgegaan het in onredigerende skryfwerk.

Hierso is my resultaat van daardie aand:

>>

Digterwordende skets

vir Mariëtte

met my dom hand

genetwerk aan my lomp verstand

skets ek jou –

per ongeluk ’n aanklag –

met elke lyn:

wat spits was, word krom; wat glad is, verplooi

en hoe meer ek probeer keer, hoe meer ver-

weer jou gesig onlewendig.

 

 …en nou,

nou ná die skets

skryf ek jou ’n houtskool-gedig

maar ai, met die rugkant van my hand

genetwerk aan die ánder verstand wat –

per ongeluk soos ek skryf – stilsta-

dig die lyf van die gedig weg-

vryf:

 

die woorde hang in die lug     ’n poeierige nagedagtenis

’n asem wat uiteindelik          en heel geleidelik sagswart                verdamp.

>>

Om suiwer wiskunde te vertaal na ’n barbaarse taal

Standaard

‘n Vriend van my quote vroeër vandag ‘n paar versreëls van ene NP Van Wyk Louw as ‘n status update.  (‘n Bietjie te gekultiveerd vir ‘n son-warm Desember, as jy my vra.)

Hierso is die hele gedig; hy het net die tweede strofe aangehaal, seker omdat hy langs die see is/was:

SUIWER  WISKUNDE

Die uurwerk kantel.  En die ligbruin by
hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug
word, nooit saad sal skiet, en nooit verby
hierdie verstarde uur sal groei.  Die lug

het stil soos ys gaan staan, so wit en blou.
Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim,
bly in sy ligte sirkels vasgehou
en moet sy see ‘n ewigheid versuim.

Als goed en wel, maar toe reageer ‘n Engelse Facebook-vriend van hom, heeltemal dismayed omdat hy nie kan volg wat gesê is nie.

Vandaar hierdie inskrywing.

Dis goeie oefening om gedigte te probeer vertaal.  Dit sukkel, maar die sukkel is goed vir jou, glo ek.  Dit help jou met die verstaan van die oorspronklike gedig, en slyp jou vaardigheid in die doeltaal waarin jy dit probeer omskakel.

Hier is my poging; lewer gerus kommentaar en help my om daarop te verbeter:

PURE  MATHEMATICS

The clockwork tilts.  And a lightbrown bee
hovers silently above a permissive flower
never to pollinate, never to grow
beyond this rigid hour. The sky, the sea

are frozen still in white and blue.
A wave longing to break into froth and foam
remains restrained in tiny circles, on its own
forsaking the will of the waters, forever due.

Julle sal sien dat ek die ABAB-rymskema verander het na ABBA en dat my Engelse woordeskat nogals sukkel.

Toe, skryf vir my ‘n haikoe?

Standaard

‘n Haikoe is ‘n tipe digvorm (ontleen aan die Japannese digkuns) met 5 klankgrepe (soos lettergrepe) in die eerste reël, sewe in die tweede reël en weer vyf in die laaste reël.  Gewoonlik is daar ‘n verwysing na ‘n spesifieke seisoen êrens in die gedig.

Hier is ‘n voorbeeld wat ek sommer uitgedink het:

Kom op ‘n reëndag

Kom drink bossietee en steel

die stoom se asem.

Die vaste metrum (ritme van die lettergrepe) en kompaktheid van dié tipe gediggie, dwing jou as skrywer om suinig met woorde, klanke en tema om te gaan.

(Eintlik bevat “reën” in my eerste versreël twee lettergrepe, hm, maar nou ja… ek interpreteer dit maar as ‘n enkele klankgreep, haha.)

So, gee dit ‘n shot!  Neem gou ‘n minuut of sewe en kyk of jy die gevoel wat jy nou voel, of die omgewing waarin jy tans is, kan beskryf.  Volgens die 5-7-5 formaat van ‘n haikoe.