Tag Archives: gedigte

Woordemoes

Standard

Met my vorige paar inskrywings het ek ’n klompie gedigte gepost wat ek vinnig geskryf het ná ’n  rondspelery op wordle. Wat ek doen, is ek copy en paste twee of drie gedigte (of ander stukkies teks) in, laat die program ’n woordemoes-prentjie skep, en gebruik dan die woorde om in versreëls iets nuuts te konstrueer: lekker postmodernisties as jy my vra: something old, something new, something borrowed, something blue.

Kyk gerus na my woord-stimulus inskrywing en speel saam; basta met die diepere dinge – om digterlik te leef, beteken nie jy hoef ’n grootse digter te wees nie – en om skeppend te wees, beteken nie jy hoef als nuut uit te dink nie. Kreatiwiteit en heelbrein-dink gaan ook daaroor om ouerhede te vermeng met nuwe gedagtes. Kyk gerus of die stimulus vir jou werk.

Speel saam! Skommel sommer jou eie skryfsels in die wordle-blender (die woordverwerker) en kyk watter nuwe kombinasies kom op! Sodra vreemde woorde verrassend langs mekaar staan, spring jou brein in overdrive om ’n kreatiewe konneksie te skep. And that is when the magic happens.

Wat maak ’n goeie gedig goed?

Standard

Hoe meer ek met pantoene en cinquiane rondspeel, hoe meer wonder ek of digkuns ‘n ambag is wat aangeleer en ingeoefen moet word, of nie.  Kan jy dit aanleer of is dit ‘n ingebore talent wat slegs aan enkelinge beskore is?

Op skool word poësie dikwels as ‘n mistieke entiteit aangebied.  Ons word agterstevoor onderrig: eers die meesterstuk, dan definisies en voorbeelde van die elemente van goeie poësie (rym, ritme, ens.).  En dan, eers nadat als bespreek en opgesom is, moet jy ‘n gedig oor ‘n lukrake onderwerp produseer as huiswerk vir die volgende dag.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hoe om rou emosie in woorde om te sit, dit krities te beskou, stelselmatig te redigeer en te wéét wanneer dit klaar/goed is.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hóé om ‘n cliché te herken of rymwoorde só in te span dat dit nie soos ‘n Kurt Darren song klink nie.

Die tricky ding is, goeie digters flans verskeie emosionele assosiasies saam in nuwe beelde, logies-georden met ‘n klankrykheid en -ritme.  Hulle span hulle kreatiewe en logiese denke afwisselend in.  Onderwysers moet dus éérstens ‘n emosionele respons by leerders wek, tweedens vir hulle begelei om dit kreatief te verwoord en derdens krities te verfyn.

Ongelukkig is daar nog ‘n bykomende stap: leerders moet eers hulle vrees vir foute-maak verleer.  Poësie moet dalk nét formatief (met opbouende kommentaar) geassesseer word, en nie vir ‘n rapportpunt gemerk word nie.

Leerders moet die vrymoedigheid hê om onklaar gedigte klas toe te bring en saam-saam mekaar te kritiseer en raad te gee.  Hulle moet gesels oor wát hulle wou bereik, sê hoe hulle dit probeer doen het, en vertel waarmee hulle nog sukkel.  Só ontmoet die onderwyser hulle op hulle vlak.

Wat die onderwyser wél kan bepunt, is leerders se refleksies oor die skryfproses.  As jy kan agterkom dat ‘n leerder gewroeg het met aspekte van sy/haar gedig(te), dan is dit goed.

Bogenoemde is ‘n heel anderste proses as wat ons tans in skole pleeg.  In skole ontleed ons poësie van die meesters en bepunt die rymelary van die leerders.  Die illusie word geskep dat digters ‘n ander spesie is; gebore met ‘n goue pen in die hand – nêrens op skool sien ons dat selfs die groot name met woorde wroeg/gewroeg het nie.

Beide die cinquian en die pantoen is nuttige digvorme om leerders te begelei om te waag, speel, probeer, kritiseer, aanpas en weer te probeer.

Maar eers moet jy die gevoel/emosie aanwakker – dit is die eerste stap.

Sukkel met sewe see cinquians

Standard

Die digkuns is, volgens my, nie so gehul in die mistiek as wat ons dikwels dink dit is nie.  Almal kan dig; dis bloot ‘n vaardigheid wat jy moet slyp.  Of hoe?

Om gedigte makliker te skep, gebruik digters al eeue lank vaste digvorme om struktuur en vorm aan hulle gedagtes te gee.

Op skool leer ons van Engelse en Italiaanse sonnette, maar in Afrikaans is daar handiger digvorme, veral ontleen aan Oosterse digkuns, om ons woorde in te giet.  Prettige voorbeelde is die Haiku, Tanka en Pantoen, maar met hierdie inskrywing wil ek jou uitdaag om ‘n Cinquian te probeer skryf.

Speel ‘n bietjie rond; hierso is die patroon:

‘n Cinquian het vyf rymlose reëls, met altesaam sowat 11 woorde of 22 lettergrepe in die hele vers, wat soos volg in die reëls gegiet word:

  • Versreël 1: een woord (of 2 lettergrepe) wat die titel verskaf;
  • Versreël 2: twee woorde (of 4 lettergrepe) wat die eerste woord beskryf;
  • Versreël 3: drie woorde (of 6 lettergrepe) wat aksie weergee;
  • Versreël 4: vier woorde (of 8 lettergrepe) wat gevoel/emosie weergee;
  • Versreël 5: een woord (of 2 lettergrepe) wat ‘n ander woord vir die titel verskaf.

Hier volg my probeerslae – dis ‘n work in progress, so enige en alle kritiek is welkom!

SEWE  SEE  CINQUIANS

Lewensredder
Sonbruin kurwes;
Jy tuur deur skuimbrandings…
…langs lense wat jou lie(f)s beloer:
Lokaas-lyf

Vlieërs
Bont sterte
Wat swieg deur die winde –
Ons kyk oopmond na helder lig
Spieëlings

Kasteel
Hoë    torings
Opgestapel met sorg
En trots versier met wier en skulp –
Spoelsand

Kanoe
Rooi roeispane
Oor golwe deur bamboes
Roei ons rustig, ontspanne by
Onrus

Lyfplankryer
Jou lyf lenig
Teen die plank gedruk
In afwagting op die deining
Waaghalsseun

Visterman
Gehard en fris
Sirrrrrrits jy in ’n boog
Jou Weskushoek in die gety
Hardebaard

Nuwejaar
Lywe oral
’n gewoel en gelag
2008 vergaan in
Vuurwerke

Probeer gerus jou eie cinquian skryf, of help my met myne. 

Wat lekker aan dié digvorm is, is dat die cinquian jou help/forseer om jou woorde elegant onder mekaar te orden.

Om te stut en hamer

Standard

Ek beskou myself nie as ‘n digter nie, maar het die afgelope twee jaar die voorreg gehad om met ‘n ywerige aspirant-skrywer/digter, Ronnie Elliott, te werk.  Die volgende gedig het hy in graad 8 (standerd 6) geskryf ná ek hom ‘n bietjie van Breytenbach vertel het:

bedreiging van die onkundiges
vir Breyten Breytenbach
 
Meneer Breytenbach, meester van poësie soos ek dit ken,
vergun my om myself aan u voor te stel:
ek is die tienderjarige met die bruin oë
en blas vel en ek plaas my verstand onder ‘n juk
om vir u ‘n gedig te brou   soos byvoorbeeld:
jou woorde is karamel wat op my smaakkliere
sambokslaan
en jou metafore is melkfonteine
en jyself – ‘n Zeus op jou vakgebied
(met ‘n grys baard)
en met oë soos dié van ‘n perd
     
jou gedigte is ‘n rekreasieterrein vir my siel
en uit elke soete strofe
borrel daar pers suikerstroop
en ek teug aan die sap
van elke klank
en lettergreep
     
ja, waarlik,
die vrugte van jou handewerk
is ‘n tonikum vir my geestestoestand
en ek drink aan die sjampanje
wat jy op ‘n wit blad brou
     
orals in my kamer
praat die ink van jou pen met my
en ek verheug my
oor die klank
van jou
saffierstem
   
meneer, in feetjieland kan ek skryf soos jy;
wanneer ek slaap en my kop met my smokkel,
maar ek weet    en jy weet
dat dit bloot ‘n gogelary met my oë en verstand is
want in die lewe van tyd sal niemand u ooit kan namaak nie
 
Ronnie Elliott (27/08/2006)
      
Hy is die daaropvolgende jaar (laasjaar) ‘n goue sertifikaat (100%) hiervoor toegeken by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod.  Dis nie aldag dat jeugdiges intertekstualiteit pleeg nie!  Of hoe?