Tag Archives: haiku

Haiku’s as facebook-verjaarsdagwense

Standaard

Onlangs het ‘n vriend verjaar; ek het op sy facebook wall geskryf:

“ôg, mag jy hang in die lug, gekruis in ‘n lotus en blom van geluk!”

Hierso is my verwerking daarvan, in haiku-vorm, vir die filologiese mistikus:

Levitasie

vir die alohmteenwordige Bertus!

ôg, jy hang in die

lug, gekruis in ‘n lotus

en blom van geluk

>>

as die reën inspireer en weer verweer

Standaard

Dit blits en donder. ‘n Vriendin in die Strand pos ‘n haiku op haar facebook-voorstoep. Dit vang die weer se wanklanke vas:

bliksemstrale skiet
seemeeue in fladdervlug
donderweer sidder

>>

Traag en lui sit ek elders in ‘n dorp vol verroeste blare en verstopte riole, ‘n ent weg van die see. Ek dink my die krysende seemeeue in en sien die wolkmassa opbou oor die gryse grou. Van my vriendin se stoep sak die reën in vlae oor die swart pad.

reën dreun neer
in klakkelose weersin
op tere gemoed

my haiku eggo
soos ’n hond se blaf. die wind
’n besem oor die sand

daar waar die stoep nat
en die wolke dig is hier
sweef die eggo’s nou

hoor hoe skreeu die meeu
luister: jy hoor haar verlangs
krys: ’n oop gebed

die lug hang swanger
swaar die grys, die krys
die pryssang en lof

tog verdof die glim
die rante van die wolke
versomber tot swart

en lig flits soos pyn
’n oopgevlekte leuen
soos die water breek

Oornag is dit winter

Standaard

geute vol (blare)

oornag is dit winter en

gryp jy my (hand) vas

< haiku >

o, verspotte sloot

verstopte sloot    stap ek al-

leen (deur) die blare

< haiku >

ek dog nog jy rek

na my hand, vingers vervleg

toe leu(e)n jy weg

< haiku >

alleen al leuen

wandel ek Victoria

strate stadig stil

< haiku >

stratedig stroof ek

my vingers verherfs vergeefs

tot leë siele.

< haiku >

so skryf ek nou maar

patetiese haikoes son-

der rym of seisoen.

< haiku >

…want sy soen nie   maar

lê elders     (sonder haikoes)

(wat seisoenig bloei)

< haiku >

haar soen sysag   op

r/nuwe lippe    horison

blom (met valstande)

< haiku >

hoor die son langs haar

kus – nou ru – breek soos branders

teen die rotswang vas

< haiku >

stukkies pers skulp steek

brandend oral waar ek stap

(__  _____  ____  ___)

Toe, skryf vir my ‘n haikoe?

Standaard

‘n Haikoe is ‘n tipe digvorm (ontleen aan die Japannese digkuns) met 5 klankgrepe (soos lettergrepe) in die eerste reël, sewe in die tweede reël en weer vyf in die laaste reël.  Gewoonlik is daar ‘n verwysing na ‘n spesifieke seisoen êrens in die gedig.

Hier is ‘n voorbeeld wat ek sommer uitgedink het:

Kom op ‘n reëndag

Kom drink bossietee en steel

die stoom se asem.

Die vaste metrum (ritme van die lettergrepe) en kompaktheid van dié tipe gediggie, dwing jou as skrywer om suinig met woorde, klanke en tema om te gaan.

(Eintlik bevat “reën” in my eerste versreël twee lettergrepe, hm, maar nou ja… ek interpreteer dit maar as ‘n enkele klankgreep, haha.)

So, gee dit ‘n shot!  Neem gou ‘n minuut of sewe en kyk of jy die gevoel wat jy nou voel, of die omgewing waarin jy tans is, kan beskryf.  Volgens die 5-7-5 formaat van ‘n haikoe.