Tag Archives: houtskool

“die vroue het hom die eerste gewaar in die loom namiddag | toe die arbeid klaar was”

Standaard

Ek geniet houtskool: jy kan maklik oor die lyne vryf en donker dele ligter maak, of ligter dele donkerder.

Soms gaan sit ‘n mede-tekenaar plonks voor jou, en dan is dit nou maar so: eensklaps is jy jou model se voete kwyt. Nouja, dan teken jy maar voetstoots dít wat jy voor jou het.

Digterwordende sketse

Standaard

As deel van die Kreatiewe Skryfonderrig-kursus wat ek ongereeld help onderrig, woon ek en Estelleke een keer per maand, saam met sowat agt ander pelgrims, ‘n kreatiewe skryf-kring onder leiding van oudprofessor, dr Dorian Haarhoff, by.

Hy fasiliteer die skryfproses-proses waar die eindproduk nie soseer die belangrikste is nie, maar die wegmymering van jou gedagtes na ‘n onderbewuste skeppendheid wat jy ontsluit.  In laas Woensdag se oefening het hy ons twee-twee mekaar laat skets, linkshandig, terwyl hy agtergrondpoësie lees; waarná ons oorgegaan het in onredigerende skryfwerk.

Hierso is my resultaat van daardie aand:

>>

Digterwordende skets

vir Mariëtte

met my dom hand

genetwerk aan my lomp verstand

skets ek jou –

per ongeluk ’n aanklag –

met elke lyn:

wat spits was, word krom; wat glad is, verplooi

en hoe meer ek probeer keer, hoe meer ver-

weer jou gesig onlewendig.

 

 …en nou,

nou ná die skets

skryf ek jou ’n houtskool-gedig

maar ai, met die rugkant van my hand

genetwerk aan die ánder verstand wat –

per ongeluk soos ek skryf – stilsta-

dig die lyf van die gedig weg-

vryf:

 

die woorde hang in die lug     ’n poeierige nagedagtenis

’n asem wat uiteindelik          en heel geleidelik sagswart                verdamp.

>>