Tag Archives: inlywing

Ek weet sy is gisteraand as HK-lid aangewys, want sy het ’n plakkaat om haar nek, kersversierings op haar kop en HK + haar koshuisnaam in swart geskryf op haar wange

Standaard

Sopas op die Rooiplein stap ek verby ‘n student wat verby my stap.

Ons ken mekaar nie.

Maar ek weet sy is gisteraand as HK-lid aangewys, want sy het ‘n plakkaat om haar nek, kersversierings op haar kop en HK + haar koshuisnaam in swart geskryf op haar wange.

* * *

So, toe keer ek haar voor (miskien moes ek net aangestap het) en wens haar geluk.  En twee sinne dieper in die gesprek vra ek haar tog hoe sy voel om só opgedress te wees.

Sy glimlag net trots en sê sy gee nie om nie, mense wens haar die heeltyd geluk.

* * *

Nietemin probeer ek maar weer, tipies ek, om haar vinnig die praktyk meer krities te beskou – en vertel vir haar van manlike HK-lede wie se hare destyds vir dieselfde doel geskeer is – en vra of sy nie aan ‘n meer waardige manier kan dink om dieselfde doel (jou vriende te laat weet jy is tot ‘n leiersposisie verkies) te bereik nie – dalk as die uittredende HK hulle baadjies kon uitleen vir die dag?

Maar nee, die praktyk is goed en reg.  En sy koop nie die gedagte om dit dalk in die toekoms (volgende jaar as sy die nuwe HK-lede sou gelukwens) effens anderste te doen nie.

Ons groet, darem heel vriendelik.

* * *

Vreemd dat ons hierdie rituele het: ons verneder die nuwe HK-lede so ‘n bietjie (sodat hulle hul plek ken), en dan ‘n maand later reik hulle pragtige foto’s uit aan ander huiskomitees om te wys watse dames/gentlemen hulle as groep is – ‘n skynbeeld/image wat hulle ook later voorhou aan die nuweling-eerstejaars.

* * *

Ek verstaan die studentepret-element hieraan.

Daar is baie ander dinge wat ook aan nuutverkose HK-lede gedoen is/word.  In sommige koshuise dra hulle jou kamer leeg en skuif al jou goed badkamer/quad toe.  In ander gevalle wag die verrassing op die HK-kamp waar jy kaal uitgetrek word, vasgebind aan die ander nuweling-HK-lede en iewers afgelaai word om kilometers ver in die reën terug te stap, besmeer met rooi-aas en geslaan met ‘n lat.

Teen studentepret is ek nie gekant nie, allermins, maar ons moet tog bedink hoekom ons sulke dinge doen – waarom het ons die behoefte om ‘n mede-volwassene, vir wie ons sopas verkies het tot ‘n verteenwoordigende posisie, soos ‘n kinderpartytjie-ganger aan te trek?

* * *

Dalk is dit nie ‘n lat nie; dalk word die hare nie geskeer nie, maar die doop-beginsel is steeds so duidelik soos daglig.

* * *

Dalk is dit maar hoe dinge is.

Advertisements

In die aande het ’n kaalkop-bebaarde senior met ’n piksteel deur die gange gestap

Standaard

Toe ek as eerstejaar by my universiteitskoshuis aangekom het, is my ouers met gul glimlagte begroet deur skyn-vriendelike huiskomiteelede (dertien verkose inwoners van die koshuis, meestal derde- en vierdejaars).

Diegene wat kon, het baarde oor die Desember-vakansie gegroei.  En die oomblik toe die ouers weg is, het hulle in nors karakters verander wat die eerstejaars laat afkyk, rondmasjeer en vir lang ure in die son staan.

Ons moes elke HK-lid “Meneer” noem, met ‘n rympie wat soms gegroei het tot “Meneer Gees-en-Deelname Van den Bergh” of “Meneer Beheer, Ons Onderprimarius, Meneer Olivier”, ens.  Ons is op ons beurt afgejak as “jarre” en moes onsinnige takies verrig tot die HK se plesier.

Soos die oriënteringsweek verbygesloer het, het die HK ons emosioneel en fisies afgebreek en strategies dag-vir-dag weer psigies opgebou.  Lateraan het die eerstejaars perfek geslow-march oor die quad en netjies in gelid gemasjeer en luid geroep “Alles vir die Huis” terwyl ons met ons vuiste teen ons borskaste slaan.

Daar is geskakel met die een vrouekoshuis ná die ander, in ‘n haarfyn-uitgewerkte program waarvan die jarre net-net betyds ingelig is om betyds te kon spoedstap na die volgende ontmoetingsplek wat uitgestip was.  Ons het danspassies en krete geoefen vir JOOL-aktiwiteite; ons het langs die atletiekbaan en swembad geskree.  Trots.

In die aande het ‘n kaalkop-bebaarde senior met ‘n piksteel deur die gange gestap.  Op die boonste vloer het hulle groot klippe gerol wat druisend weergalm het bo ons koppe.  Ons moes met oop deure slaap en in koue water stort.  Elke dag “dagdrag” dra: langbroeke en netjiese hemde in ‘n snikhete son.  Die gange het geruik na stink sokkies.

Heen-en-weer het twee dooplieutenante geloop en vir ure aaneen geprewel dat ons “karakter, styl en trots” moes hê.  Dat ons die gentlemen-koshuis is.  Hoe die wasmasjiene werk.  Refreine wat herhaal terwyl die eerstejaars moeg afkyk.  Nou-en-dan het iemand flou geval van die hitte.

Toe die seniors terugkom, het hulle geskree: “Jar, jou lewer is myne!”

* * *

Die jaar daarop is ek self as HK-lid verkies; my hare is afgeskeer – en op die laaste dag van die HK-kamp het die prim en onderprim die res van die huiskomitee ingelyf: klere uitgetrek, met visaas bestrooi, knoffel laat eet, op ‘n verlate parkeerterrein afgelaai, met duct tape vasgebind aan mekaar, twaalf houe elk met ‘n stuk pyp toegedien, en in die yskoue reën gelos.

In die donker het ons terug gestrompel, met stroop klewend tussen ons bene, en eiers, meel, aas en modder oor ons lywe.

Karakter, styl en kots.

* * *

Die jaar daarop was ek weer in die HK, saam met drie behoudende oud-HK-lede wat besluit het dié HK-inlywing moes voort.  Teësinnig staan ek toe met ‘n tuinslangpyp voor bukkende, vuilgesmeerde HK-lede.  Waansin.

* * *

Eers in my derde termyn kon ek dié onsinnigheid stopsit – en heel naweek oop en gemoedelik met die nuwe HK-lede kamp, sonder intimidasie of magspel.  Ons het die junior HK-lede gelykwaardig behandel.  Ons was vriendelik.

Vir die eerstejaars het ons op die naam begin noem; hulle welkom laat voel, laat sit in die skadu op die gras terwyl ons hulle staaltjies vertel en aanmoedig om mekaar uit te daag en vir mekaar om te gee.

Met opset het ons die doopkaptein-idee laat vaar – en elke aspek wat herinner het aan weermagpraktyke geskrap.

* * *

Want, het ek gereken: ons wil nie fikse enersdenkende soldate of flukse onbevraagtekende slawe oplei nie, maar kritiese, kreatiewe individue by ons koshuis verwelkom – wat hulle sê kan sê en inisiatief kan neem.

* * *

Ek onthou ‘n mede-HK-lid van my eerste termyn wat my berispe het: Moenie vriende maak met die jarre nie, ou – hulle is nie ons speelmaats nie.  Hulle gaan oor jou lóóp.

Hulle het nie.

Inteendeel, die eerstejaars vir wie ons vriendelik en gasvry ontvang het, en medemenslik behandel het – hulle het veel langer in die koshuis gebly, méér vir kampus gedoen en beter vriende van my geword as diegene wat moes afkyk terwyl ‘n HK-lid met hulle praat.

Waar my mede-HK-lede “jarre met kersgat houdings” gesien het, het ek ons toekomstige kampusleiers gesien.

* * *

“Ons wil nie die beste koshuis op kampus wees nie,” het die HK begin sê, “maar die beste koshuis vir kampus”.

* * *

Gister het ek weer ingeloer by my oudkoshuis.

Die eerstejaars wat leiers geword het, is nou uit.  Dis reeds drie generasies later.

Die jarre staan weer in drie rye, roep luidkeels “Meneer dit en dat” vir elke senior wat verbykom; die HK-lede is bebaard en glimlag nie.

Die eerstejaars lyk onseker en loer af ondertoe, hulle langmouklere natgesweet.

* * *

Ons is terug in die 1990’s, dink ek.

En sug.