Tag Archives: jaarblad

Jaarblad #6 – matrieks ‘007

Standaard

Die Jaarblad wat ek uitgelê het, is onder sensuur geplaas.  Dalk kan jy uitpluis hoekom?  Hierso is die tweede-laaste seksie in die Jaarblad, die bladsye wat die matrieks se laaste skooljaar herdenk:

     

Regdeur die Jaarblad 2007 sal jy vind dat daar nie net die mooiste foto’s geplaas is nie, maar ook die mees betekenisvolle en inligtingdraende foto’s wat die jaar se verloop toelig.  Bladsy 33 se foto is van 40 days toe die matrieks (matrieks ‘007) almal hulle gesigte swart geverf het.

In 2006 se Jaarblad (wat welliswaar nie onder sensuur geplaas is nie!) het ek ‘n individuele eksamenskryf-foto van elke matriekleerder ingesit, maar in hierdie publikasie het ek besluit om eerder die registerklasse af te neem en die alfabetiese klasregisters as naamlyste te gebruik.

Witrokdag (bladsy 36) is die laaste skooldag van die matrieks, en sluit ‘n tranetrekker-seremonie in, met ‘n onthaal en blomme vir onderwysers, en ‘n erewag, ens.  (Die voorbladfoto is ook van daardie spesifieke dag.)

Die grootgroep-inhaakfoto is by die interskole geneem, ná die matrieks se victory lap om die atletiekbaan – ‘n mooi huldeblyk aan ‘n jaar se matrieks.

Miskien sou ‘n mens kon kritiek lewer en méér verslagdoening by hierdie deel (en oor die koshuise) eis, maar ek het gevoel die jaarverslag aan die begin van die Jaarboek 2007 is voldoende, tesame met die leerderraad se verslag ook vroeër in die publikasie.  Belangriker vir my was om die “gees” van die jaargroep in relevante foto’s vas te vang.

Advertisements

Jaarblad #5 – kultuur, koshuise en ‘n grapsoen

Standaard

Ek raak self nou al heel moeg vir hierdie Jaarblad-posts.  Maar ons is darem amper klaar.  In die vorige inskrywing het julle van die kultuurbladsye gesien – hier is nog ‘n laaste een en dan ‘n paar fotobladsye van die twee koshuise: die Rog en die Sop. 

  

Ai, dalk is dit die oordrewe soen van die twee koshuis-grapjasse wat die koeël deur die kerk laat spat het?  Hierso is die deel uitgelig van bladsy 31:

Sou jy ‘n Jaarblad verban a.g.v. hierdie sameflansing van koshuisfoto’s?

 

Jaarblad #4 – where is Wally?

Standaard

Om welke rede ook al, is die Jaarblad 2007-skoolpublikasie wat ek einde laasjaar uitgelê het, geproeflees en vanjaar laat druk, maar toe dit klaar gedruk is, in die skoolkluis toegesluit en onder sensuur geplaas.

Ná heelwat versoeke van my kant af om die rede(s) hiervoor uit te vind (ek is nie meer by die skool nie, maar werk nou elders), het ek nog steeds geen lysie van klagtes vanaf die skoolbestuur ontvang nie (ek het die publikasie einde laasjaar ingegee, uitgedruk op harde kopié, en gesave in ‘n redigeerbare elektroniese formaat).

Ek het selfs aangebied om in te ry Kaapstad toe en enige/alle tekortkominge  reg te stel sodat die Jaarblad 2007 ten minste elektronies versprei kan word.

Maar nou ja, geen foute is/word aan aan my gekommunikeer nie, so ek weet regtig nie watter gruwelike flater(s) ek begaan het nie.  Ek kan net spekuleer.  Help my dus asseblief om die foute te vind: save die jpg-files en maak dit groter oop as jy nie mooi kan sien nie, en laat weet dan in die comments as jy iets opmerk wat jy voel onvanpas vir ‘n jaarblad is.  Of laat weet as hierdie klompie bladsye vir jou heel aanvaarbaar is.

Sou jy sensuur hierop toepas (die bladsye wat volg beeld die leerareas Gasvryheidstudie, Toerisme en Kuns uit, en is die eerste bladsye van die Kultuur-afdeling)?

     

Ai ai ai, dalk hou ons grappige Gasvryheidstudie-juffrou die gemashde ertjies-bakkies te verleidelik vas?

Jaarblad #3 – okay, okay, ek is nie heeltemal onskuldig nie

Standaard

Hierdie inskrywing moet saam met Jaarblad #1 en Jaarblad #2 gelees word om die konteks te verstaan.

Dalk is die sensuur geregverdig?

Ja wel, ek pleit nie hééltemal onskuldig nie.  In my eerste inskrywing oor hierdie onderwerp het ek gebieg dat ek die Jaarblad 2007 opgedra het aan al die onderwysers wat vir die matrieks tydens hulle skoolloopbaan klasgegee het.  Maar toe lys ek ook die 30 onderwysers wat in die loop van vyf jaar bedank het.  Dit sou ‘n skoolhoof kon ontstel…  Dalk is dit die sensuur werd?  Ek het die volgende geskryf:

Opdrag

HIERDIE Jan van Riebeecker word opgedra aan al die oud- en huidige JvR-onderwysers van die afgelope vyf jaar.

Alhoewel die bestuur, ondersteunende personeel, ouers, leerders en breër gemeenskap ’n belangrike rol speel in die bestaan van die Hoërskool Jan van Riebeeck, kan die integriteit, harde werk, ekstra tyd en liefde wat elke JvR-onderwyser insit, nie gering geskat word nie.  Hulle direkte, vormende invloed op leerders maak van die skool ’n besonderse belewenis vir ieder en elk.

Vir hulle onblusbare passie en onbaatsugtige opoffering, dra die Hoërskool JvR hierdie publikasie aan elkeen van hulle op.

In die besonder onthou ons al die onderwysers wat JvR die afgelope vyf jaar verlaat het; mag hulle paaie terugkronkel na dié spesiale plek:

Louise Bester, Rudi Bosman, Jeanne Botes, Hanlie Crous, Madelein du Toit, Johan Grobler, Emmarentia Groenewald, Riaan Hitge, Edna Horn, Rentia Klue, Christie Liebenberg, Danie Malan, Marlene Malan, Ryna Malherbe, Alet Mihalik, André Müller, François Niewoudt, Madeleine Niewoudt, Esté Oliphant, Annanette Olivier, René Olivier, Retha Olivier, Trevor Robertson, Annemarie Smit, Leroy Steenkamp, Elza Steyn, Stephanie van Schalkwyk, Carien Visser,  Comina Visser, Hilda Yssel.

Dit was nogals aspris van my.  Ek kan dink dat ‘n skoolhoof dalk nie sal hou van ‘n lys name van onderwysers wat sedert die begin van sy termyn bedank het nie.

Maar hieronder is daar nog ‘n tweede kontroversiële stuk wat ek ook aanhaal (bladsy 17), omdat ek weet dat almal nie noodwendig eers die jpg-prentjie save en dan oopmaak en inzoom om die teks te lees nie.

Die tweede stukkie teks wat ook aspris is, was my verslaggie oor die biblioteek se werkinge:

Biblioteek

ONZE geel bibliotekie is al vir jare lank knus genestel in die hartjie van die skool.  Alhoewel daar in die afgelope paar jaar dikwels daarna verwys is as ’n “mediasentrum”, bly dit in wese ’n lokaal omlyn met boekrakke vol boeke, ’n tydskrifrak, naslaanarea, gemaklike banke, seegroen werktafeltjies, en een Windows 98 rekenaar vir die uitreik van boeke.

Leerders gebruik die fasiliteit baie gereeld, veral omdat daar in die nuwe kurrikulum verpligte lees-tyd ingewerk is vir beide Afrikaans en Engels.  Ook benodig al die ander leerareas (veral  in grade 8 en 9) UGO-take wat ure se naslaanwerk vereis.

Met die vertrek van mev Adele Tillema in 2005, het daar ’n einde gekom aan die era van ’n bibliotekaris soos voorheen omskryf—iemand wie se hooftaak dit was om leesmateriaal aan te skaf en boeke uit te reik.  Bykomend daartoe is die pligstaat uitgebrei om o.a. ’n registerklas te administreer, Xhosa-lesse en Navorsingstegnologie-periodes aan te bied, as bemarker vir die skool op te tree, publikasies uit te lê, ’n bemarkingsvideo te redigeer, fotograaf te wees, die Jannewales op Kloof (in 2006) te reël, en al die kultuuraktiwiteite te organiseer (as sameroeper van die Kultuurkomitee).  Vir volgende jaar word die pos van mediabestuurder verder aangevul met voltydse akademiese klasgee-verpligtinge vir Lewensoriëntering (grade 10-12) en Afrikaans (graad 8).

Ook is die mediabegroting die afgelope twee jaar ingekort om die skool se finansies ’n bietjie te buffer—wat beteken dat ons nouliks nuwe boeke kon aankoop, en feitlik uitsluitlik op donasies staatgemaak het.  (Baie dankie aan oudleerder, Amanda Botha, wat gereeld nuwe lekkerleesboeke geskenk het.  Ook het mnr. Rayno Snyman ’n advertensie-agentskap gekry om ’n verskeidenheid nuwe tydskrifte maandeliks te borg.  En die JIP skenk elke dan en wan ’n boek in ruil vir ’n knap leerder-resensie daaroor.)

Ten spyte van hierdie tekorte aan tyd en geld, het die biblioteek nietemin gefloreer.    Dis ek, Anna; Breinbliksem; Nie vir kinders nie, en die Fritz Deelman– en Maasdorp-reekse is deur die leerders verslind, en die gewilde twee Spud-boeke is met boete– en fotostaatkaartgelde aangeskaf.  Afrikaanse vertalings van Nobelprys-skrywers soos Albert Camus en Thomas Mann is op kerkbazaars gekoop, en Afrikaanse, Engelse, en Vertalende woordeboeke is by die Kaapstadse Boekefees vir die onderskeie taal-onderwysers aangeskaf.

Baie dankie aan ’n baie behulpsame biblioteekkomitee o.l.v. Madelein Matthee en Joshua Bateman.  Hulle het die boeke ingevorder, oorgetrek en op die rakke gepak én in die reënweer leerders vasgevat wat die biblioteek as kuierplek en kafeteria wou besmet!

Dis my hoop dat die biblioteek sy plek sal behou as die hart en siel van die skool, en as ’n toevlug vir elke leesgierige leerder.

In die derde en vierde paragrawe rapporteer ek dat daar nie meer ‘n dedicated bibliotekaris-pos bestaan nie.  Maar ek kan dink dat die skoolhoof dit dalk as ‘n direkte aanval op hom kon beskou.  Sou jy, indien jy die skoolhoof was, 700 publikasies terughou oor dié berig?  Onthou, die skoolhoof het ‘n uitdruk (harde kopié) van die jaarblad gehad, sowel die elektroniese weergawe (waaraan nog ge-edit kon word) om te proeflees.  Hulle het dit laat druk; nie ek nie.

Maar is my biblioteekberiggie (gegewe dat die inhoud feitelik korrek is) ontaktvol genoeg om sensuur uit te lok?

   

Of wat dink jy?  Het die hoof sy hand oorspeel?