Tag Archives: kapitalisme

Ek het gister myself soos ’n goeie kapitalis probeer vergoed

Standaard

Ek het gister myself soos ‘n goeie kapitalis probeer vergoed en met ‘n bankkaart in ‘n beursie na ‘n winkelsentrum geepad.

Om iets te koop.

Iets onnodigs, oorbodigs, suiwer vir die plesier van iets duur aanskaf; om my maandelikse salaris as vergoeding in te span: myself te vergoed, my lewe te verbeter, my met die rykhede van die aardse wêreld te vermaak, because you’re worth it, sê die een of ander grimmige advertensie.

So sit ek my beste gesig op, my beste voetjie voor, en loop in ‘n klerewinkel waar daar genoeg genaaide lappe hang om ‘n klein nasie te klee.

Ek wandel tussen hangers; haak ‘n paar nader om my swaargelaaide arm, gaan aantrekhokkies toe met die maksimum getal items. Trek toe die gordyn. Verklee in drie weerkaatsings van myself. Gee die oranje nommer terug, hang die items op, herhaal die proses.

Vir ‘n wyle huiwer ek met ‘n leerbaadjie, afgemerk: donkerbruin pas by my bleek vel en ligte hare. Maar dan besef ek meteens ek sal ‘n motorfiets ook moet koop vir dié look, en hang toe maar daardie gedagte ook op. En voel verlig.

Verlaat die klerewinkel.

In my ‘n meubelwinkel.

Sit op stoele.

>>

Uiteindelik eindig ek in kruideniersware winkel. In ‘n supermark soos wat daar oral is.

En met kontant koop ek ‘n saadbrood en ‘n afgemerkte Emmentaler-kaas met switserse gate. Rooibostee en no-name bessiesap. Koningskos, dié spys en drank.

>>

Buite die katedraal van Kapitalisme, gooi ek kollekte in ‘n karwag se hand.

Sug soos ek by my stofblou karretjie, warm gebak in die son, inklim. Waarlik, ek’t brood in die sweet van my aanskyn verdien, dink ek. Soos ‘n goeie Calvinis.

>>

Kapitalisme kom tot ‘n val. (II)

Standaard

Hierdie artikel volg op Kapitalisme kom tot ‘n val.  Die volgende artikel het betrekking: http://www.orionmagazine.org/index.php/articles/article/2962/.

Ek hoor graag wat julle daarvan dink; talle interessante punte word gemaak.  Onder andere van Kellogs wat met groot sukses (voor die Tweede Wêreldoorlog) oorgeskakel het vanaf ‘n 8-ure werksdag na net 6 ure.  Die gemeenskappe het gefloreer; mense het tuingemaak en met hul kinders gespeel by die huis.  Dis jammer dis nie meer die geval nie.

Deesdae is dit voorwaar asof ons ons siel verkoop aan Mammon.  Ons verwyl al ons sonskyntyd agter ‘n lessenaar en voor ‘n rekenaarskerm.  Ons dien elke dag ons tronkstraf uit: Jy sal hard swoeg en al jou dae sal jy doringbos eet.

Is daar dus eerder ‘n spirituele revolusie op hande?  Johannes – dalk selfs die wederkoms?

FROM THE EARLIEST DAYS of the Age of Consumerism there were critics. One of the most influential was Arthur Dahlberg, whose 1932 book Jobs, Machines, and Capitalism was well known to policymakers and elected officials in Washington.

Dahlberg declared that “failure to shorten the length of the working day . . . is the primary cause of our rationing of opportunity, our excess industrial plant, our enormous wastes of competition, our high pressure advertising, [and] our economic imperialism.”

Since much of what industry produced was no longer aimed at satisfying human physical needs, a four-hour workday, he claimed, was necessary to prevent society from becoming disastrously materialistic. “By not shortening the working day when all the wood is in,” he suggested, the profit motive becomes “both the creator and satisfier of spiritual needs.” For when the profit motive can turn nowhere else, “it wraps our soap in pretty boxes and tries to convince us that that is solace to our souls.”

 (Dankie vir Francois C. se blogskakel op my vorige post – die link is afkomstig daarvandaan.)

Kapitalisme kom tot ‘n val.

Standaard

Dalk is die dae van ons huidige verbruikersamelewing getel?

Wanneer ek my woonstel-posbus leegmaak van die advertensiepamflette, besef ek telkens hoe baie vermorsing daar in dié wêreld is: ondernemings probeer konstant om ‘n “vraag” te skep na ‘n onnodige “aanbod” wat hulle jou vir-slegs-hierdie-naweek-teen spesiale-uitverkoping-afslag-tarief kan bied .

Watter leefmiddele het ons werklik nodig?

Watter beroepe is onontbeerlik?

Hoeveel geld gaan in die rondte vanaf die skoenmaker na die fabriekeienaars na die handelsnaammense na die skoenwinkeleienaar na die pamfletdruk-ouens na die posafleweraar sodat ek die soveelste stuk gemorspos in die drom kan gooi?

Wanneer ek deur ‘n groot winkelsentrum stap, sien ek orals stuff te koop wat bloot oorbodig is.

Hoeveel worsrolvingers moet verder vat aan ‘n kitch ornamentjie vanaf een witolifanttafel na ‘n volgende kerkbazaar na die daaropvolgende laerskoolkermis voordat dit ook op ‘n vullishoop beland?

Kan ons ons tyd as mense nie beter benut nie?

Kan ons nie ophou om polisse te oudit van mense wat statisties nie saak maak nie?

Kan ons nie doen wat belangrik is nie?

Miskien is dit maar net ek wat tans weer moet notules skryf van vergaderings wat aanbevelings moet maak aan ‘n volgende beplanningskomitee wat moet rapportteer aan die daaropvolgende uitvoerende komitee sodat besluite bekragtig kan word deur die raad en wysigings aangebring kan word aan ‘n swaar, logge, organisasie se klonkende ratkasmasjien met geykte prosesse, prosedures en wette.

Maar is ‘n revolusie nie op hande nie?

Hoe hoog moet die voedsel- en petrolpryse styg voor ons ophou verbruik?

Dalk moet die ekonomie tot in sy moer omgestook word!

Vanwaar skep ons ‘n bestel wat akteurs en sportspelers verheerlik?  ‘n Wêreld waar almal ‘n supersize koffie afslurp voor ‘n flikkerende facebookskerm in hul gedeelde kantoorcubicles?

The end is nigh.

Binnekort gaan die millenniërs sê:  Genoeg is genoeg; langer sal ons nie voortploeter nie!  Ons wil iets bydra tot die wêreld.  Ons moet.  Dis  ons reg.

En dan gaan die voorhangsel van die kapitalistisme skeur.

The world don’t need Shakespeare as much as I thought

Standaard

Miskien was ek naief, maar ek’t gedink dat – as jy regtig goed is in iets en dit passievol nastreef – dan sal mense jou geld gee om jouself ten volle daarin uit te leef.

Vandaar my studies in die humaniora en pedagogie (onderwys).

Hm.

Hoe is dit dan that the world don’t need Shakespeare as much as I thought…*

In ‘n wêreld wat werk met vraag en aanbod, verdien ‘n middelmatige geoktrooieerde rekenmeester altyd ‘n groter salaris as ‘n geniale digter/skrywer/liriekskrywer/onderwyser.

Daar is bloot nie ‘n vraag na mense om sulke passies uit te leef nie.  Die mark soek ouens wat bereid is om hulle eie drome opsy te skuif, en met middelmatige pligsgetrouheid sake-doelwitte na te jaag.

Werk blyk slegs ‘n middel tot ‘n doel te wees.  ‘n Manier van kos op die tafel kry.  Brood in die sweet van jou aanskyn verdien.

Dus was die beroepsvoorligter destyds reg:  word ‘n aktuaris, of ‘n ingenieur.  Want die wêreld wurg passie uit ‘n mens se lewe uit.  En trap op uitnemendheid.

Gmpf.  Moet als deesdae volgens ‘n besigheidsmodel (handelsretoriek) werk?

Is daar nie iets sielsverrykenders as kapitalisme nie?

Of moes ek eerder beroepsrugby gespeel het?

* ‘n reël uit ‘n song van die jazzerige sanger,  Jamie Cullum