Tag Archives: karnaval

As sêr die gevaar van JOOL loop

Standard

Vanjaar se kampussêr-finaal was indrukwekkend; goed gereël met als wat seepglad verloop het. Op kampus is die sêr-uitdunne en -finaal immergewild; die sale sit vol van toeskouers; ‘n uithalergeleentheid.

Tog is daar ‘n sluimerende gevaar, vermoed ek.

>>

>>

Hoe meer die kompetisie-aspek gedryf word, hoe groter raak die risiko dat die essensie, die idee van sêr, verlore gaan.

(Ek het dit al in 2005 besef toe ek gehelp het met die reël van die “nasionale” sêr. Die wengroepe van vyf kampusse (tien sêrgroepe in totaal) het teen mekaar gewedywer om as wenners gekroon te word; ek het die optredes so gesit en kyk en net besef dat ons ver wegbeweeg het van ‘n groepie mans wat op die ingewing van die oomblik gaan troebadoer by iemand se meisie. Dit was kostuums, temas, gechoreografeerde danse, dikwels saamgeflans in die styl van ‘n revue.)

Van die geromantiseerde troebadoerery het daar min oorgebly. Sêrgroepe word vroeg in die jaar ná senutergende oudisies saamgestel. Die sêrleiers beplan hulle hele somervakansie lank om die regte liedjies te verwerk, en dan word daar kampe gereël, in stemgroepe verdeel en geoefen-oefen-oefen.

Basta met gaan optree by ‘n skool of vir ‘n ouetehuis – watwou as jy op die ingewing van die oomblik wil gaan sing by ‘n meisie se kamervenster! Ga, hoekom sal jy nou kosbare oefentyd op sulke trivialiteite mors?

>>

Onlangs op ons kampus is JOOL gestop. Die prettige student fun with a purpose was bloot nie meer lekker nie; en die doelwitte – om te wen – nie relevant nie.

Opsigself is daar natuurlik niks fout daarmee om ‘n storielyn aanmekaar te flans, ‘n toneelspel aanmekaar te sit en ‘n vlotoptog te hou ten aanskoue van die breëre gemeenskap nie. Maar die idee van JOOL is uit die oog verloor.

Sodra jy probeer om té graag te wen, dink ek, dryf jy weg van jou eintlike missie: dan bestee jy te veel geld op klank en ligte, koop kostuums aan, ens.

>>

Sêr staan op dieselfde breekpunt as JOOL, vermoed ek.

Al wat kort, is dat ‘n wengroep moet besef wen opsigself is nie ‘n waardige doelwit nie. ‘n Groep wat bereid is om te sê Nee, ons wil nie julle voorgeskrewe liedjie sing nie en weer die ware tradisie agter die geïnstitusionaliseerde praktyk te vind.

The tail is wagging the dog on this one, just as with RAG.

>>

Foto © http://bravenboer.co.za/

JOOL is dood; lank lewe JOOL!

Standard

JOOL is dood, lank lewe JOOL!

Die primkomitee (die hoofleiers van elke wyk en koshuis) het saamgesit en -dink en -wonder en gesê: “Genoeg is genoeg; basta! Tot hier toe en nie verder nie!” (Sien Die Burger: http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Maties-se-nee-vir-jool-20110507).

‘n Mens kan die redes hiervoor vanuit verskillende ooghoeke bekyk. Wat ek wil voorhou, is twee gehalteversekeringsuitgangspunte waarmee ek vermoed die JOOLkomitee nie tredgehou het nie. Om “gehalte” te meet, moet organisasies kan uitspraak lewer oor:

  1. Hoe gerat hulle is om in hulle doelwitte te slaag (fitness for purpose) en
  2. Of hulle doelwitte relevant is vir die huidige konteks en die rolspelers betrokke (fitness of purpose)

Alhoewel die JOOLkomitee, myns insiens, nogals redelik goed geraak het met dinge reël: hulle kan ‘n trollieresies reël in Victoriastraat wat skrik vir niks (fitness for purpose), het hulle dekades laas behoorlik ondersoek gedoen of dit nog enigsins sin maak om trollies te reël (fitness of purpose). Trollies = ‘n straat vol paviljoene (wat moeilik is vir koshuispare om te reël, want daar is net sovéél paviljoene op Stellenbosch), met eerstejaars wat skree vir tientalle trollies, gestoot deur enkele eerstejaars, in ‘n hindernisbaan, wat bepunt word bloot op die versiering daarvan, in ‘n week wat te vol en besig is vir die eerstejaars om dit te versier… Iewers het hulle duidelik per ongeluk die plot verloor. Die geleentheid opsigself maak nie sin nie.

>>

Netso met vele aspekte van JOOL. Waar daar destyds ‘n heel ander gemeenskapsgees geheers het en ‘n handvol vragmotors met ware blommetjies en ogiesdraad verniet versier is en kosteloos deur die strate van Stellenbosch gery het met ‘n gepaardgaande vreugdefees – het tientalle trokke ‘n duur storie geraak met crinkle paper, bloudraad, kragopwekkers, brandblussers, gesigverf, helder klerepakkies en duisende studente wat moeg deur die strate op ‘n bloedwarm Saterdagoggend moet stap en bedel. Basta, vlotte!

>>

Alle instellings loop die gevaar om, indien hulle nie gereeld hulle missie en visie – en die uitvoering daarvan – krities ondersoek en omvattend bevraagteken nie, irrelevant te raak. In dié geval het Student fun with a purpose al hoe meer vervaag, veral onder HK-lede wat hulleself oor ‘n mik moes werk om honderdduisende rande se borge en geldinsamelingstoere oor vakansies te reël. Not much fun. Not much fun at all.

En ook die direkte uiteinde van die fondse ingesamel t.o.v. die wyse waarop dit teruggeploeg is in die gemeenskap, is nie goed genoeg aan almal gekommunikeer nie… Dus not much of a purpose either.

>>

Alles is darem nie tot niet nie. Die koshuise en privaatwyke wil graag tydens die verwelkomingsweke direk by betekenisvolle gemeenskapsprojekte betrokke raak, sodat die nuweling-eerstejaarstudente die vreugde van medemenslikheid ten volle kan ervaar.

En die unieke skouspel, Vensters, word ook voortgesit, maar op ‘n koste-effektiewer manier: dieselfde verhoog, klank en ligte gaan deur verskillende produksies gedeel word, wat ook gaan beteken dat die eerstejaars sélf ook meer van die spektakel kan geniet.

>>

Wat was JOOL aanvanklik? Ek vermoed dit was ‘n fees vir die gemeenskap.

Wat het JOOL geword? ‘n Ondraaglike kompetisie.

Wat word JOOL nou? Ek vermoed weer ‘n fees vir die gemeenskap.

>>

O, en tussendeur was dit ook vlugtig bekend as “Karnaval”.

Staan in die algemeen nader aan Vensters

Standard

Gisteraand was dit weer sulke tyd: studente, ouers, kinders en locals kon happily deur Victoriastraat vleg om die spektakel van Vensters te beleef!

Destyds was Vensters bloot die versiering van koshuise se buitevensters as voorbrand vir die Vlotoptog, hier-en-daar aangevul deur klein toneel-impromptu’tjies.

Maar vandag is Vensters, met groot geverfde doeke teen stellasies opgehang, opgeboude verhoë, luidsprekers wat die dialoog en musiek uitbasuin, ingedrilde dansies, professionele klank- en ligte, en goeie skarebeheer op paviljoene, die main event.

Koshuispare skryf in die vakansie hulle 10-minute stories, neem dit op, werk dansies uit, en beplan die kostuums en backdrop sodat, wanneer die jaar begin, die eerstejaars net hulle passies kan inoefen en perform.

Wat ‘n belewenis!

Vanjaar was daar méér vertonings, met nuwe privaatwyke, en Boland Kollege, Isa Carstens en Elsenburg wat ook deelgeneem het.  Die shows was grappig en goed gechoreografeer, en die gees in die skares en onder die eerstejaars opgewek, drankvry en vrolik.

Graag wil ek dus, namens die klomp random mense wat gisteraand ‘n gratis kunstefees kon beleef, baie dankie sê aan al die joolkomitees, eerstejaars en organiseerders wat ‘n vreugdevolle gemeenskapsfees op die been gebring het.  Ek sien uit na volgende jaar dié tyd!

Gaan kyk gerus op Kommerkas se blog vir kleurryke joolfoto’s.