Tag Archives: koffie

Verweefde geskiedenisse

Standaard

Hierdie afgelope drie maande het ek vir myself probeer uitpluis wat my rol as inwonende hoof van ’n universiteitskoshuis (waar ek vir ’n vier-jaar termyn aangestel is) moet wees.

… ek is nie aldag seker of inwonende hoofde nodig is nie; studente is immers volwassenes en in gevestigde koshuise is die leierskapstrukture goed op dreef, met verslae wat vanaf een generasie na die volgende oorhandig word.

Nietemin het ek aansoek gedoen – en by ’n besondere interessante plek beland: die eerste koshuis in Suid-Afrika waar vroue- en mansstudente van verskillende rasse in een universiteitskoshuis saamgevoeg is: voor Apartheid tot ’n val gekom het op die kampus waar Apartheid uitgedink is.

By die eerste huisvergadering het ek ’n kort oorsig gegee van wie ek is en waarom ek aansoek gedoen het – en hulle bedank vir die vriendelike wyse waarop hulle my welkom laat voel het:

My voorlegging het ek afgesluit met die voorneme om die koshuis deeglik te leer ken: om met vorige inwonende hoofde, onlangse afgestudeerdes, ouer alumni en huidige inwoners te gesels – en om oop te wees vir voorstelle van wat my rol behoort te wees.

>>

Die eerste kwartaal is verby – en ek het beslis meer koffie gemaak vir meer mense as ooit tevore; my herberg van ’n huis kon ek ingerig kry met genoeg ruimtes vir gesprek. En geleidelik het ek beleef hoe my lewe met ‘n ganse gemeenskap s’n verryk word.

Lees verder

Advertisements

Waardegedrewe koffie en die gelykenis van motorwas

Standaard

“Hey, kom gerus in,” nooi ek die primarius binne.  Sy koshuis oefen venstersdanse op die gras.  Hulle eerstejaars het sweepmerke op hulle bene wat hulle trots afshow vir die vrouestudente met wie hulle skakel.

“Dankie, Meneer.” antwoord hy beslis.

“Nee wat, jy hoef my nie te ‘meneer’ nie,” lag ek.  “Noem my sommer André,” sê ek.  “Koffie?”

“Nee dankie, Meneer.  Uhm.  André.”

“Ag, wel, die water kook al…” paai ek, “Of wil jy eerder koeldrank hê – of sap?”

“Koffie is reg, dankie… André.”

>>

>>

“Ek het met een van jou eerstejaars gesels…” lei ek in, en talm ‘n oomblik vir vir die nodige dramatiese effek. “Lyk my julle doen ‘n goeie werk,” verras ek hom met iets positiefs.

<ongelowige stilte>

“Hy is regtig trots op julle koshuis,” vertel ek verder “…en hy sê hy geniet elke oomblik.”

Ek verduidelik hoekom ek met die eerstejaar beginne gesels het; hy het oorkant die grasvlakte regop gestaan en afkyk, alleen by ‘n groepie seniors wat hom peper met vrae.  Ek brei nie verder daaroor uit nie.  Noem niks van die Weet jy waar is Modderdam?-vraag nie.

Die primarius wag vir die “maar” wat moet volg op my kompliment en saaklike stellings.

Ek noem dat die eerstejaar van die platteland van ‘n plaasskool af kom – daar is hy op skool ingelyf, so, hy is ‘n tawwe kalant.  Hy (die eerstejaar met wie ek vroeër gesels het) het gesê dit was pret toe die eerstejaars die dag tevore mekaar se hare geskeer het; van die ouens was regtig moeg vir hulle haarstyle en hulle geniet dit om eenders te lyk.

“Dit was heeltemal vrywillig; hulle het dit self gedoen…” skerm die primarius.

“Ja-nee,” sê ek en beweeg van die onderwerp af: “…dis mos maar altyd moeilik om te sê met groepe: mense voel mos maar jy moet doen wat die ander doen… so dis maar moeilik om te sê wat is ‘vrywillig’ of nie… Maar nietemin, die eerstejaar was vol lof vir julle program tot dusver!”

>>

Die water kook klaar en ek skink twee koppies.

“Skuus, ek sien ek het nie melk nie, maar hierso is suiker?” bied ek aan.

Hy gooi ‘n lepel suiker in, roer dit om.  Ek haal eetgoed uit my kas en ons gaan sit.

“Dis seker ‘n bietjie intimiderend om te moet gesels met ‘n ander wyk se hoof?  Jammer as dit ongemaklik is; ek hoop dis oraait?”

“Ja-nee, dankie, geen probleem!” sê die primarius en sluk aan sy koffie. Hy sak met sy rug terug in die swaar leunstoel waarin hy sit.

“Snaaks, ek was ook ‘n HK-lid op my dag,” sê ek en blaas my beker koel (want die koffie is warm, sonder melk).  “Ons het ook die eerstejaars so laat afkyk – maar dit was nou in die vorige millennium – ek verstaan dit nogal… en dit lyk my julle het hulle nou presies waar jy hulle wil hê; jy drill hulle aan die begin so ‘n bietjie en breek hulle effe af, en dan op die derde dag kan jy begin fun hê met hulle en hulle gees opbou.”

Ons lag oor die eerstejaars van die vorige dag wat soos ape op vier bene agter die HK-lid met die bynaam ‘Bobbejaan’ moes kruip-spring-stap.  Daar is ‘n plek vir belaglikhede, beaam ek.  (Studentepret is ook ‘n waarde.)

Ons gesels ‘n bietjie oor hulle spesifieke konteks.  Die koshuis waarby hy is, bedien merendeels nie-universiteitstudente en is op ‘n ander kampus geleë.

Ek bied vir hom van die koekies aan wat my buurvrou gebak het.

“Ons het ook so gemaak met ons eerstejaars die eerste jaar; hulle aanvanklik gedril asof hulle in die weermag was.”  Ek sluk stadig aan my koffie.  “Maar op die ou end was ek vir drie jaar in die HK…” noem ek, want ek wil hê hy moet weet dat ek uit ervaring praat. “Dinge het nogals verander oor daai tyd.”

>>

En hier gebruik ek toe ons ervaringsleer van sopas as voorbeeld:

“Jy weet – in my derde jaar van HK-wees, het ons probeer maak soos nou…” Ek beduie na óns wat sit en koffie drink.  “Jy weet, ek – as senior ou – nooi vir jou, sê nou maar ‘n eerstejaar, in vir koffie.  Ons sit, gemaklik, drink koffie, en praat soos twee gelykes met mekaar.  No frills, no fuss.  Geen ja-meneer, nee-meneer nie.  Jy kan vir my vrae terugvra; ons ‘jy’ en ‘jou’ mekaar, maar dit beteken mos nie ons het enigsins minder respek vir mekaar nie?

“Maar in my eerste jaar in die HK was dinge anders; ek sou vir ‘n eerstejaar corner en sê: ‘Jar, maak vir my koffie!’  En as hy dit bring, aandring op beskuit.  En dan wanneer ons sit, sou ek hom ook vrae gevra het, amper soos daai seniors net-nou vir die eerstejaar.

“Die doel is dieselfde,” verduidelik ek. “En die uitkoms eintlik ook.  Ek bedoel, die seniors wil ook maar net die eerstejaar leer ken.”

>>

Ek en die primarius gesels nog verder tot ek seker is hy verstaan die gelykenis.  Daar is twee maniere om saam met ‘n eerstejaar koffie te drink: jy kan hom forseer om vir jou koffie te maak, of jy kan hom nooi sodat jy vir hom kan skink.

“Dink jy nie hoe ons dit nou doen, hierso, is gemakliker nie?”  buig ek my vraag retories.  “Om as gelykes te sit en te gesels.  En dis eintlik al wat die universiteit wil hê; dat HK’s eerder werklik vriendelik is, en om jou in te nooi soos dít, is mos gasvry.”

Die prim stem saam.  Hy ken die rympie van Vriendelik, Gasvry en Menswaardig.

>>

“Toe ons soos in die ou dae gedoop het, die eerstejaars laat afkyk het en opdragte op hulle geskree het, het ons gevind hulle bly nog vir maande op hulle hoede vir ons. Julle vind dit sekerlik ook,” sê ek, “dat hulle eintlik net leer hoe om ‘n masker voor te hou.”  (Dat hulle jou aanhou ‘meneer’ noem, al vertel jy hulle jou regte naam.)

Ek vertel die primarius van nóg ‘n voorbeeld, van hoe eerstejaars jou motor sal was in die eerste week as jy hulle ‘n opdrag toesnou, maar dit nooit weer sal doen later die jaar nie, en beslis nie vir ‘n senior as hulle eers tweedejaars is nie!  Daarenteen, as jy self jou kar was op ‘n warm dag en iemand nader wink om te help, is daar min mense wat só ‘n uitnodiging sal weier, en diegene wat saam met jou dit meemaak, sal dit weer saam doen, uit respek en vriendskap, en pret.

“As respek die einddoel is, met watter metode dink jy is jy meer suksesvol?” vra ek.

>>

“Toe ons begin het om die aanspreekvorm te verander, die doopluitenant geskrap het, en in kleiner groepe medemenslik met die eerstejaars gepraat het, toe was daar geen sprake van maskers en voorbehoud nie.  Jy kon vinniger vriende maak; die ouens se ware persoonlikhede leer ken.

“En jy moet eerlik wees; jy kan tog nie met integriteit heel vakansie ‘n baard groei – en glo dis die regte ding om te doen – én probeer om onintimiderend en vriendelik te wees nie?  ‘n Woeste baard sê tog nie ‘welkom’ nie.”

>>

Voor ons koffie op is, moedig ek die primarius aan om leiding te neem en sy koshuis se denke deur die loop van die jaar te probeer verander vir 2012.

Om dinge bloot te doen soos in die verlede, verg geen leierskap nieLeierskap is om die tekens van die tye te lees en jou instelling daarmee te probeer belyn; mense se koppe te swaai.

“Wat jy met intimidasie regkry, is om soldate af te lewer wat luister na als wat jy sê en jou opdragte presies uitvoer,” sluit ek af.  “Maar dis nie wat ons by ‘n universiteit wil hê nie… By ‘n universiteit wil ons juis hê dat almal gelyk is, en idees kan uitruil, krities kan wees, dinge bevraagteken.  Die land kort oopkop, demokratiese landsburgers.  Nie ouens wat afkyk en wag vir ánder se opdragte nie.

>>

Ons groet vriendelik.

Later die aand hoor ek ‘n HK-lid skree: “Kyk op, eerstejaar!”

>>

‘n Kosmetiese verandering, ek weet, maar dalk tekenend van iets méér.

Of altans, so hoop ek.

>>