Tag Archives: kreatiewe skryf

Ontgaping van die moeë siel

Standaard

Pantoen vir ‘n moeë liggaam | Ontgaping van die moeë siel

…die wydtes van die slaap ontgaan my
| klam ingebed onder die dun kombers |
…tik…die…tyd…deur…my…kop…
~ my gedagtes dwaal deur die dag se gedane dinge ~

| klam ingebed onder die dun kombers |
– dan rol ek om en knies my voosgevoude kussing!
~ my gedagtes dwaal deur die dag se gedane dinge ~
En ek bid vir die rus om te kom… maar:

– dan rol ek om en knies my voosgevoude kussing!
…tik…die…tyd…deur…my…kop…
En ek bid vir die rus om te kom… maar:
…die wydtes van die slaap ontgaan my

* * *

Haha, ja-ja, ek weet ek het dit oordoen met die leestekens, maar nietemin – ek hou van die pantoen-digvorm.  Jy sal sien dat daar hierbo eintlik net ses unieke versreëls is wat elke keer volgens die patroon elders in die vers herhaal.

Die herhalende reëls vorm – anders as waaraan ons gewoond is – ‘n rustige, sikliese ritme.  Die digvorm het dit derhalwe nie ten doel om, soos miskien met ‘n sonnet, ‘n gedagteprogressie op die spits te dryf nie; eerder om juis die eb en vloei van ‘n gedagte/gevoel/emosie voor te stel.  Amper soos ‘n wiegende mantra.

Probeer gerus self!

Advertisements

Wat maak ’n goeie gedig goed?

Standaard

Hoe meer ek met pantoene en cinquiane rondspeel, hoe meer wonder ek of digkuns ‘n ambag is wat aangeleer en ingeoefen moet word, of nie.  Kan jy dit aanleer of is dit ‘n ingebore talent wat slegs aan enkelinge beskore is?

Op skool word poësie dikwels as ‘n mistieke entiteit aangebied.  Ons word agterstevoor onderrig: eers die meesterstuk, dan definisies en voorbeelde van die elemente van goeie poësie (rym, ritme, ens.).  En dan, eers nadat als bespreek en opgesom is, moet jy ‘n gedig oor ‘n lukrake onderwerp produseer as huiswerk vir die volgende dag.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hoe om rou emosie in woorde om te sit, dit krities te beskou, stelselmatig te redigeer en te wéét wanneer dit klaar/goed is.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hóé om ‘n cliché te herken of rymwoorde só in te span dat dit nie soos ‘n Kurt Darren song klink nie.

Die tricky ding is, goeie digters flans verskeie emosionele assosiasies saam in nuwe beelde, logies-georden met ‘n klankrykheid en -ritme.  Hulle span hulle kreatiewe en logiese denke afwisselend in.  Onderwysers moet dus éérstens ‘n emosionele respons by leerders wek, tweedens vir hulle begelei om dit kreatief te verwoord en derdens krities te verfyn.

Ongelukkig is daar nog ‘n bykomende stap: leerders moet eers hulle vrees vir foute-maak verleer.  Poësie moet dalk nét formatief (met opbouende kommentaar) geassesseer word, en nie vir ‘n rapportpunt gemerk word nie.

Leerders moet die vrymoedigheid hê om onklaar gedigte klas toe te bring en saam-saam mekaar te kritiseer en raad te gee.  Hulle moet gesels oor wát hulle wou bereik, sê hoe hulle dit probeer doen het, en vertel waarmee hulle nog sukkel.  Só ontmoet die onderwyser hulle op hulle vlak.

Wat die onderwyser wél kan bepunt, is leerders se refleksies oor die skryfproses.  As jy kan agterkom dat ‘n leerder gewroeg het met aspekte van sy/haar gedig(te), dan is dit goed.

Bogenoemde is ‘n heel anderste proses as wat ons tans in skole pleeg.  In skole ontleed ons poësie van die meesters en bepunt die rymelary van die leerders.  Die illusie word geskep dat digters ‘n ander spesie is; gebore met ‘n goue pen in die hand – nêrens op skool sien ons dat selfs die groot name met woorde wroeg/gewroeg het nie.

Beide die cinquian en die pantoen is nuttige digvorme om leerders te begelei om te waag, speel, probeer, kritiseer, aanpas en weer te probeer.

Maar eers moet jy die gevoel/emosie aanwakker – dit is die eerste stap.

Sukkel met sewe see cinquians

Standaard

Die digkuns is, volgens my, nie so gehul in die mistiek as wat ons dikwels dink dit is nie.  Almal kan dig; dis bloot ‘n vaardigheid wat jy moet slyp.  Of hoe?

Om gedigte makliker te skep, gebruik digters al eeue lank vaste digvorme om struktuur en vorm aan hulle gedagtes te gee.

Op skool leer ons van Engelse en Italiaanse sonnette, maar in Afrikaans is daar handiger digvorme, veral ontleen aan Oosterse digkuns, om ons woorde in te giet.  Prettige voorbeelde is die Haiku, Tanka en Pantoen, maar met hierdie inskrywing wil ek jou uitdaag om ‘n Cinquian te probeer skryf.

Speel ‘n bietjie rond; hierso is die patroon:

‘n Cinquian het vyf rymlose reëls, met altesaam sowat 11 woorde of 22 lettergrepe in die hele vers, wat soos volg in die reëls gegiet word:

  • Versreël 1: een woord (of 2 lettergrepe) wat die titel verskaf;
  • Versreël 2: twee woorde (of 4 lettergrepe) wat die eerste woord beskryf;
  • Versreël 3: drie woorde (of 6 lettergrepe) wat aksie weergee;
  • Versreël 4: vier woorde (of 8 lettergrepe) wat gevoel/emosie weergee;
  • Versreël 5: een woord (of 2 lettergrepe) wat ‘n ander woord vir die titel verskaf.

Hier volg my probeerslae – dis ‘n work in progress, so enige en alle kritiek is welkom!

SEWE  SEE  CINQUIANS

Lewensredder
Sonbruin kurwes;
Jy tuur deur skuimbrandings…
…langs lense wat jou lie(f)s beloer:
Lokaas-lyf

Vlieërs
Bont sterte
Wat swieg deur die winde –
Ons kyk oopmond na helder lig
Spieëlings

Kasteel
Hoë    torings
Opgestapel met sorg
En trots versier met wier en skulp –
Spoelsand

Kanoe
Rooi roeispane
Oor golwe deur bamboes
Roei ons rustig, ontspanne by
Onrus

Lyfplankryer
Jou lyf lenig
Teen die plank gedruk
In afwagting op die deining
Waaghalsseun

Visterman
Gehard en fris
Sirrrrrrits jy in ’n boog
Jou Weskushoek in die gety
Hardebaard

Nuwejaar
Lywe oral
’n gewoel en gelag
2008 vergaan in
Vuurwerke

Probeer gerus jou eie cinquian skryf, of help my met myne. 

Wat lekker aan dié digvorm is, is dat die cinquian jou help/forseer om jou woorde elegant onder mekaar te orden.

Probeer ’n pantoen!

Standaard

Probeer gerus om ‘n pantoen te skryf.  Dis ‘n digvorm waar versreëls in die daaropvolgende strofes herhaal.  In Afrikaans help dit jou veral om iets meesleurends te skep.

Die digvorm verg slegs ses oorspronklike reëls wat dan volgens die patroon verdubbel en gerangskik word om oor twaalf reëls te strek.  Die laaste strofe skryf heeltemal homself!  En rym is opsioneel.

Strofe 1

Reël 1
Reël 2
Reël 3
Reël 4

Strofe 2

Herhaal reël 2 (strofe 1)
Reël 5
Herhaal reël 4 (strofe 1)
Reël 6

Strofe 3

Herhaal tweede versreël van strofe 2 (reël 5)
Herhaal reël 3 (strofe 1)
Herhaal vierde versreël van strofe 2 (reël 6)
Herhaal reël 1 (die heel eerste versreël van die gedig)

In die gedig hieronder het ek my verbeel ek staan op my oorle ouma se woonstelbalkon en staar na die see, die verte in.

Langafstrand

Anderkant die horison:
Waar die see die strand ontmoet,
Trek die gety nou terug;
En in rotspoele krioel die lewe

Waar die see die strand ontmoet,
Daar spoel die seeslakkies uit –
En in rotspoele krioel die lewe
Soggens en saans teen ’n verre kus

Daar spoel die seeslakkies uit –
Trek die gety nou terug;
Soggens en saans teen ’n verre kus
Anderkant die horison:

Lees nog pantoene op Estelleke se blog en speel-skryf saam.  Dit hoef nie meesterlike digkuns te wees nie; slegs ses reëls – ek is seker jy kan!

Om werk te merk

Standaard

Onderwysers word oorlaai met merkwerk.  Een opstel x 35 leerders x 4 klasse per graad = baie rooi ink.  Veral taalonderwysers het ontsaglike hoeveelheidjies merkwerk (lees, luister, praat, skryf) vir elke kind se portefeulje.

So moes ek ook onlangs 22 parodieë bepunt.

Maar hoe nou gemaak as jy wil fokus op die leerders se groei en ontwikkeling?  …as jou lesplan uitloop op die redigering van tekste en jy leerders/studente wil kry om selfvertroue te ontwikkel in hul eie kreatiewe vermoëns…?  Maak jy dit nie als ongedaan met die merkery ter wille van ‘n punt nie?  …want of jy nou 18 of 47 uit 50 kry – albei punte ontmoedig verdere léér!  ‘n Punt veronderstel dat die proses afgehandel is: klaar, finis, afgemerk.  Punt.

lees verder

Parodie in drie dele: redigeer (3)

Standaard

Kreatiwiteit kan, volgens my, geleer en -onderrig word.  So ook kreatiewe skryf.

In my parodie-opdrag word leerders (in hierdie geval opvoedkunde-studente) begelei deur ‘n omskeppingsproses van ‘n sprokie tot ‘n eie verhaaltjie:  Eers som hulle die oorspronklike teks op, en dan torring hulle aan die verskillende verhaalelemente (karakters, tyd, gebeure, ruimte, tema en vertelinstansie) om die hele affêre snaaks te maak.

Hierdie benadering berus sterk op die konstruktivistiese leerteorieë wat nie net aanvaar dat leerders “kreatief” is of outomaties snap wat met die konsepte “opsomming”, “parodie” of “verhaalelemente” bedoel word nie, maar konstant hulle eie verstaan skep, en begelei moet word om – deur self te doen en te sukkel – geleer te kry.

lees verder

Parodie in drie dele: vlymskerp spot (2)

Standaard

In die eerste deel van die Parodie in drie dele is huidige Vakdidaktiek Afrikaanse studente aan die Universiteit van Stellenbosch gevra om ‘n klompie sprokies te lys, een te kies, en ‘n opsomming daarvan as comment te post.

Dis ‘n goeie eerste stap in die parodieskryfproses.

Om ‘n teks te parodiëer, moet jy die geykthede van ‘n teks omverwerp en aspris van sekere “verwagte” normes afwyk.  (Om dit te doen, moet jy eers mooi weet watter geykthede daar is.)

Hoekom ons onderwysers onderrig om leerders parodieë te laat skryf

Hierdie oefening met die onderwysstudente doen ek, omdat kinders, en veral tieners en millenniërs daarvan hou om anargisties te wees.  Om gesag uit te daag.  En om te speel en te waag en te lag.

Vir onderwysers is dit dus ‘n studentegesentreerde, prettige, interaktiewe les waarmee hulle die leerders in die proses van kreatiewe skryf kan begelei én hulle onderrig in die verskillende onderdele van ‘n narratief.

Jy wil hulle nie noodwendig graad 8’s leer wat die definisie van ‘n parodie is nie, maar jy wil hulle wel leer hoe om ‘n teks te parodiëer.  Hoe om snaaks te wees; hoe om te speel.  Hoe om dit te geniet om te waag met skryf.

Dis maklik om met leerders te begin gesels oor sprokies, van Shrek (wat ‘n parodie is) tot die broers Grimm se verhale; ook is dit waardevol om leerders te laat saamgesels en hulle sprokies en parodieë uit te ruil – jy gaan sien hoe laterale denke deur hulle saampratery bevorder word.

Hoe begelei ons leerders om tekste te parodiëer

Kom ons kyk na ‘n klompie maniere waarop jy aan ‘n teks kan torring:

  1. Verander die karakters se name, hulle karaktereienskappe, of hulle fisiese voorkoms.  (Sodra jy jou verbeel dat Rooikappie oorgewig is, en jy pas die tradisionele sprokie daarvolgens aan, dan kry jy met snaakse moontlikhede te make.  Hoe gaan die Wolf haar byvoorbeeld kan insluk?  Hoe gaan Rooikappie vrolik deur die woud trippel en blommetjies pluk vir haar ouma?)
  2. Verander die tyd waarin die sprokie afspeel.  (In plaas van lank, lank gelede kan jy Hansie en Grietjie nou laat afspeel in ‘n wêreld vol xenofobiese VIGS-wesies.  Solank jy hou by die idee van die sprokie, maar jy verander dalk die lekkergoedhuisie na ‘n dwelmhool, kan jy ‘n donker-humor parodie oplewer waarin jy met die hedendaagse hekse spot.)
  3. Verander die gebeure van die oorspronklike sprokie.  (Wat gebeur as Aspoestertjie nie haar skoentjie verloor nie, of as die galante prins nie ‘n happily ever after oplewer nie?  Hehe, ek dink sopas aan een van Roald Dahl se prettige Revolting Rhymes)
  4. Wysig die omgewing/milieu/ruimte waarin jou parodie afspeel.  (ipv Doringrosie se koninkryk wat in ‘n lange slaap verval, laat dit ‘n shopping mall wees wat toegroei met rankrosies.)
  5. Torring aan die tema van die sprokie.  (Dalk wil jy jou uitspreek teen Gouelokkies se misdaadneigings eerder as wat jy die drie bere se pap te dik aanmaak.)
  6. Verander die vertelstyl of fokalisator van die sprokie-narratief.  (As die alomteenwoordige derdepersoonverteller vervang word met ‘n eerstepersoonsverteller, of Hansie en Grietjie vanuit die heks se suster se oogpunt vertel word, kan dit lekker grappig raak.)

Kan jy aan nog verhaalelemente dink wat jy kan omkeer en verfomfaai?  (Daar is nog heelwat – dink ‘n bietjie!)

* * *

Gebruik nou jou sprokie-opsomming (maak seker dat dit korrek en volledig is) en speel ‘n bietjie rond daarmee.  Verander eers ‘n karakter effens – kyk watse idees maak dit in jou kop los; speel met die tyd – moderniseer die verhaal (wat MXit die Wolf vir die drie varkies?), of laat dit in die ruimtetyd of oertyd afspeel; speel ‘n bietjie rond met van die gebeure – dalk kan die Wolf wél by die baksteenhuisie inkom en spek skiet; dalk kan jy jou parodie in Stellenbosch laat afspeel, of Koekenaap; inverteer ‘n bietjie die tema en kyk wat gebeur dan; ensovoorts.

Geniet dit; verander dan ook die titel van jou aanvanklike sprokie (maar sodat ons steeds kan raai wat jy parodiëer).  Post jou draft-storie sodra jy ene aanmekaar getoffie het.  Kom ons kyk hoe fyn kan jy spot.