Tag Archives: laterale denke

Verbeelde lente (en gedagtes oor denke)

Standard

‘n Verre vriendin wat my telkens aan die dink sit, vra my vroeër vandag oor “verbeelding” uit.

Hm.  Dis tog interessant dat ‘n mens as kind so ‘n ryke verbeelding het, maar dat groterwordende mense dit vaagweg verloor.

Miskien word ons realiteit-neuronstrate te veel geteer, en ons fiksie-wandelpaadjies te selde bewandel; dan groei dit toe en kwyn dit weg?

Ek het nooit ‘n imaginery friend gehad nie, maar hoe fassinerend is die gedagte nie! Om jouself ‘n hele wese te kan inverbeel.

Of miskien verloor volwassenes nie hulle verbeeldingskrag nie; ons kanaliseer dit bloot in “nuttiger” rigtings:

As kind verbeel ons onsself in speletjies in: cowboy & crooks of ontdekkingsreisigers of space rangers; as volwassenes verbeel ons onsself in ‘n mercedes of ‘n board meeting of doen ons ‘n statistiese vooruitskatting van voorspelbare scenarios.

Dalk dryf seks en werk ons gedagtes weg van onskuldige kinderrykdom-drome.

(Tog is dit belangrik in verskillende velde van die wetenskap om jou te kan verbeel wat sal gebeur as jy teen die spoed van lig sou kon beweeg… Ek wonder of die “tipe” verbeelding egter verskil van speel-verbeelding en/of blote white-picket-fence-drome?)

Dalk is mense maar oor die algemeen baie vatbaar vir meme/gemeenskaplike gedagtestrominge.

Ons verruil ons eie skeppendheidsgedagtes vir algemeen-aanvaarbare verbeelde “suksesse”, vandaar die sprokiestroues met ridders op wit perde en mans se threesomes met modelle op strande.  In welke geval ons denke die geneigdheid het om te verval in cliché’s.

Hoe het die skaduwees nie monstergesigte getrek teen die slaapkamermure nie; die wolke hasies geword wat spring nie; hoe lewendig was jou gunsteling speelgoed nie!

Dalk het verbeelding met breingolflengtes te doen: as jy speel is jou denke “losser”, die fyn lyn tussen skyn en werklikheid verstippel, amper soos wanneer jy slaap en jou denke soomloos spring van een beeld na ‘n ander.

Dalk dans ons onsself nie genoegsaam om vure in ‘n trans nie.

Of moontlik is verbeelding bloot chemiese afskeidings in die brein. As jy hallusinasies kan oproep met ‘n bietjie tik/dagga/morfien, hoekom enigsins ‘n mistieke element daaraan koppel? Dalk kry jy rasionele rekenkundiges op die een end van die chemiese spektrum en skisofreniese geestesieners aan die ander entjie.

T.o.v. skilder, skryf en storievertel het ons soms ‘n daggakoekie nodig om verby die alledaagse meme te dink; om klank te voel en kleure te proe. Om jou te verbeel; om te ontsnap – om te vlug na ‘n alternatiewe realiteit.

Dié daggakoekie kan self ‘n verbeelde entiteit wees: middele wat jou help om weer so wyd soos ‘n kind se genade te dink.

Andersins sou ‘n mens ook verbeelding kon opdeel in verskillende tipe opmaakdenke: ‘n geneurie in jou kop, of ‘n somuitwerkery; dalk duik jy op die sportveld terwyl jy stilsit in ‘n klaskamerbank; dalk beweeg jy na jou stil grasveldjie met ‘n rivierstroompie in jou kop, of verbeel jy jou sal-jy-met-my-gaan-fliek vraagvraery aan die rooikop twee banke links voor in die klas.

Hoe selde woerts ek deesdae weg op ‘n wilde verbeeldingsvlug?  Hoe selde verlustig ek my in ‘n absurde fantasie?

Where have all the flowers gone?

Gone to graveyards every one.

Konvergente, divergente en laterale denke: in en uit die boks

Standard

As beginner-onderwyser het ek gou agtergekom dat leerders nie altyd lekker snap hoe om te dink of hoe om te leer nie.

Wanneer hulle veronderstel is om krities te wees, is hulle nie; wanneer hulle kreatief/oorspronklik moet wees, dan gebruik hulle net helder papier om hulle mieliestronk-plagiaat te verbloem.  Omdat onderwysers meestal net op Kennis en Begrip fokus, leer die leerders weinig van probleemoplossing of kritiese denke wat Toepassing, Analise, Sintese en Evaluering (hoëvlak-denke) vereis (volgens Bloom se taksonomie).

Ons leer hulle copy en paste – nie dink en skep nie.  Ons onderrig leerders om oplosbare probleme netjies op te los; nie onoplosbare situasies (waaruit die lewe meestal bestaan) verantwoordelik te bestuur nie.  Ons sê vir hulle om kreatief te wees, maar vertel nie vir hulle hoe nie.

Hulle vang ook nie altyd hoe hulle geassesseer gaan word of hoe hulle bepunt word nie.  Dus kry hulle soms per ongeluk ‘n goeie punt in sommige opdragte/take, en soms per ongeluk ‘n swak punt.

Vir kreatiewe opdragte/take/opstelle is daar verskillende tipe denkstrategieë nodig: jy moet eers wyd dink, assosiasies oproep, leemtes raaksien, nuwe moontlikhede opdiep, en dan gestruktureerd en logieser te werk gaan met die proses vorentoe.

Die leerproses is so ‘n kreatiewe, konstruktivistiese affêre, dat dit regtig moeilik in ‘n boks geplaas kan word.  Tog is dit juis wat die samelewewing verwag moet gebeur.  Ons soek rapporte.  Ons soek simbole.  Ons soek sertifikate.  Punte.  “Leer” en “onderrig” moet konstant ge-oudit en gemeet word aan die hand van gehalteversekeringstandaarde.  Andersins kan ons nie “bewys” dat “leer” plaasgevind het nie.

Watse tricks of the trade is daar om leerders te help leer?  Leer hulle werklik, of leer hulle slegs hoe die onderwyssisteem werk (of hoe om onderwysers te manipuleer)?

Op universiteit moes ek al telkens bontstaan om studente te help om behoorlik te leer vir ‘n toets – en nie net die handboek ad infinitum deur te lees nie, maar om die inhoudsopgawe (wat eintlik ‘n opsomming opsigself is) te gebruik.  ‘n Mens kom die leemtes veral agter op nagraadse vlak wanneer studente eintlik moet begin navorsing doen, maar slegs vaardig is in naslaanwerk pleeg.

Suksesvolle studente leer nie noodwendig dink nie; hulle bemeester bloot die vaardigheid om feite klakkeloos te memoriseer en tydens ‘n toets/eksamen te regurditeer.

* * *

As opdrag het ek my vakdidaktiek Afrikaans-studente gevra om ‘n bietjie De Bono na te slaan en te reflekteer oor hoe jy sy thinking skills met heelbrein-meervoudige intelligensie-onderrig kan integreer.  Veral t.o.v. kreatiewe skryf.

Kom ons kyk wat hulle navorsing (of gaan dit blote naslanery wees?) oplewer!  Praat gerus saam al is jy nie ‘n Afrikaansonderwyser-student nie 😛  Hoe onderrig jy iemand om kreatief te wees?

Parodie in drie dele: opsomming

Standard

‘n Goeie kreatiewe-skryf oefening vir hoërskoolleerders is om ‘n parodie van ‘n sprokie te skryf.

(‘n Parodie is kortweg ‘n spottery of verdraaïng van die oorspronklike teks; sprokies is feëverhale.)

Die hele skryfoefening beslaan uit drie dele.

Deel een: som die oorspronklike sprokie op

Laat die kinders gesels en lag oor sprokies.  Lys ‘n klompie op die bord en laat hulle twee-twee aan nog sprokies dink en die name neerskryf op ‘n wit papier.  Help hulle reg met die Afrikaanse benaminge vir Cinderella, Goldilocks en dies meer.  Onderskei tussen strokies en Disney stories en sprokies (feëverhale).  As iemand ‘n sprokie noem wat die ander nie ken nie, laat hom/haar kortliks vertel waaroor dit gaan.

Nadat die leerders (en die onderwyser) aan al die verskillende sprokies gedink het waaraan hulle kon, laat elkeen dan één sprokie kies waarvan hy/sy hou en goed ken.  En laat elkeen dan sy/haar sprokie in so tien tot vyftien reëls opsom.

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n puntsgewyse opsomming van Hansie en Grietjie:

  1. Eendag lank, lank gelede hoor Hansie en Grietjie hoe hulle stiefma by hulle pa kla oordat hulle so arm is. Sy stel voor dat Hansie en Grietjie in die bos gelos word sodat daar genoeg kos vir hulle twee sal wees om te eet. Sy het nog nie gehoor van kindermishandeling, die handves van menseregte of welfare nie En sy het nie besef dat twee husse met lang ore afluister nie.
  2. Toe Hansie en Grietjie bos toe geneem is, laat val hulle ’n spoor wit klippies om hulle pad onverdwaalbaar te maak/ hulle weg terug te vind.
  3. Ná hulle verrassende terugkeer, fnuik die stiefma vir Hansie en Grietjie en sluit hulle by die huis uit en stuur hulle die bos binne sonder enige klippe. In die plek daarvan laat val Hansie en Grietjie broodkrummels om hulle pad terug te vind.
  4. Maar Slim vang sy baas, oftewel die bosdiere Hansie en Grietjie se krummels. Die eekhorings, miere, voëls en pofadders eet al die krummels op of steek dit êrens onder die grond weg langs hulle karsleutels. Gevolglik verdwaal Hansie en Grietjie.
  5. Hulle kom af op ’n lekkergoedhuisie en begin daaraan te peusel ten spyte van die feit dat dit sleg is vir hulle tande.
  6. Die lekkergoedhuisie se eienaar, ’n heks, of Die Heks, gryp vir Hansie en Grietjie en gooi vir Hansie in ’n hok terwyl Grietjie die huisie fluks begin skoonmaak.
  7. Die Heks voer Hansie dik sodat sy hom kan eet. Sy kan nie goed sien nie en voel telkens Hansie se vinger deur die tralies om vas te stel of hy vetter word.
  8. Grietjie gee vir Hansie ’n beentjie om deur die tralies te steek in plaas van sy vinger. So flous hulle Die Heks (wat duidelik nie te slim is nie én ook nie lekker kan sien nie) dat sy dink Hansie is baie maer.
  9. Uit desperaatheid besluit Die Heks om maar maer sop van Hansie te maak en sy kook ’n groot pot water op die vuur.
  10. Voordat Hansie egter in die sop kan beland (!), stoot Grietjie Die Heks in die vuur en ontsnap saam met Hansie uit die huis.
  11. ’n Groot wit gans laai hulle op en vlieg vir Hansie en Grietjie terug huis toe waar hulle ouers hulle met ope arms ontvang. Hulle slag toe die reuse gans, begin ’n verekus-singbesigheid en bêre die vleis vir happily ever after.

Okay, miskien is die opsomming hierbo nie die beste voorbeeld nie, maar nietemin.  As jy feëverhaal-boeke byderhand het, laat die leerders sommer tussendeur hulle sprokies naslaan om te kyk of daar inderdaad ‘n wit gans vir Hansie en Grietjie kom oplaai het.

Dis die eerste deel van die parodie-skryf: om die teks waarmee jy spot, heeltemal te ken.  (Jy sou die opsommings ook kon bepunt, of gebruik in latere taaloefeninge.)

Neem gerus deel aan hierdie skryfopdrag – probeer dit gerus:

  1. Lys in jou comment die name van sowat vyftien sprokies, en
  2. Kies dan een sprokie, en som hom op.

Ek lees graag julle opsommings!

Hoe om ‘n fees te reël

Standard

Dit wil voorkom asof elke dorpie deesdae ‘n fees reël.  Of dit nou ‘n oesterfees, vleisfees, kaasfees, wynfees, whiskyfees, boekefees, walvisfees of kunstefees is, is eintlik maar om te ewe.  Mense wil bymekaarkom, kuier en ‘n bietjie geld maak/verkwansel.

Hierso is my tips hoe om ‘n fees te reël:

  1. Kyk uit vir iets unieks in die dorpie/stad waar jy woon.  As die mense kranig koeksusters bak, gebruik dit as vertrekpunt.
  2. Beskou krities die kapasiteit vir en behoefte aan ‘n fees.  Is daar genoeg venues en genoeg mense/toeriste?  Dink aan skoolsale en rugbyvelde en bestaande teaters.  Hoe kan jy nog mense lok?
  3. Kies ‘n seisoen en ‘n datum vir die fees.  Dis natuurlik maklik om ‘n somerfees te reël waar mense in die buitelug kan rondstap – maar ‘n kaggel-en-koeksusterfees kan ‘n unieke attraksie word vir Koekenaap.  Vergelyk jou datum met ander feeste in die omtrek.
  4. Sluit vennootskappe.  As jy ‘n fees-idee het wat goed sal werk vir die dorp, kry ander instansies van die dorp betrokke.  Kry die gemeentesaal verniet, en gratis advertensies in die dorps- en streekskoerant.  As die een kerk of koerant nie wil inkoop nie, nader ‘n ander een.  Kry ‘n skool of twee betrokke.  Moenie met hulle gaan praat om dinge “verniet” te kry nie – knoop geselsies aan oor ‘n idee wat voordele vir albei partye kan inhou; wat kan help dat die koerant se sirkulasiesyfer opgestoot word.
  5. Kry ‘n tentatiewe program bymekaar.  Maak ‘n gewilde kunstenaar voorlopig vas, en lys ‘n klompie shows. 
  6. Werk ‘n budget uit vir dié wish list – en kry solank quotes vir klank-en-ligte.  Werk uit of jy genoeg belangstellendes op die dorp sal kan kry om die kaartjies uit te verkoop.  Minimeer jou risiko.
  7. Sodra jy ‘n voorlopige program het, sowel as ‘n koerant en radiostasie aan jou kant, kan jy begin onderhandel met ondernemings in ruil vir bemarkingspasie/lugtyd/blootstelling op plakkate.  Dalk vind jy ‘n paar restaurante wat geesdriftig wil adverteer aan feesgangers, en heel moontlik kan jy ‘n celebrity verniet huisves in ‘n gastehuis in ruil vir erkenning op die kaartjies van die betrokke kunstenaar se show.  Gebruik dit wat jy het om mee te onderhandel – betaal die mense met VIP-kaartjies en verkoop aan hulle jou langtermyn “idee” van die fees. 
  8. Maak die idee vas deur ‘n visie en missie te skryf – die “hoekom” en “hoe” van die fees.  Sorg dat dit volhoubaar is en nie net eenmalig vir eie gewin nie – niemand wil in so iets belê nie.
  9. Soek ‘n ghoeroe wat weet van feeste vir wie jy om hulp en raad kan vra: ‘n skrywer of so wat al by baie feeste betrokke was.  Die idee is om ‘n unieke, interessante feesprogram saam te stel wat mense van heinde en verre sal lok.  Om ‘n gewilde kunstenaar in te span, nie net vir ‘n show nie, maar ook saam met ‘n koeksusterstee waarvoor die ryk tannies duur sal betaal om by gesien te word én ‘n praatjie by die skool met aspirant leerders.
  10. Maak ‘n groot finansiële borg vas, of ‘n reeks kleiner borge waaruit jy ‘n begrotingsbudget kan opstel.  Lys al jou idees neer van hoe jy ‘n hype rondom die fees kan genereer.  Jou bemarkingskoste en wins wil jy uit borge genereer, met die kaartjieverkope wat jou shows (kunstenaars, venues en klanktoerusting) laat gelykbreek.
  11. Besluit op ‘n naam, logo, slagspreuk en look vir die fees.  Kry ‘n website up and running.
  12. Werk volgens ‘n tydlyn wat jy opstel.  Span handlangers op die regte tye in.  Laat druk die kaartjies en kry ‘n effektiewe kaartjieverkoopsisteem in plek.
  13. Sorg dat die administrasie tot in die fynste detail gedoen word.  Kontrakte moet reg wees.  Die uitleg van die stalletjies-vloerplan (met kragpunte) moet versprei word.  Maak eerder die fees effens kleiner vir die eerste twee jaar totdat daar ‘n groter kapasiteit is om meer aktiwiteite aan te bied.
  14. Sorg dat jy goed na jou kunstenaars en borge omsien.  Ontvang hulle openhartig, reël vir verblyf en stuur goeie korrespondensie voor- en na die tyd uit.
  15. Hou ‘n plakboek van al die mediaberigte wat jy genereer, en kry ‘n paar fotograwe om tydens die fees van alles foto’s te neem; hou ook alle briewe en e-posse vir latere gebruik.
  16. Teiken spesifieke mense vir sekere shows.  En, as jy ‘n klassieke musiekuitvoering in ‘n kunssalon het, reël ‘n ent weg ‘n klompie garage bands, ‘n foam masjien en hot dog stalletjies vir die jonger kinders – sodat die hele gemeenskap kan deelneem aan die feestelikheid.
  17. As jy mense op een plek saamkry, kan jy geld daaruit maak.  Kry klere lables en koeldranke en so om te adverteer (of produkborge te gee) by die foam party, en ‘n wynplaas om ‘n wynproe met die klassieke musiekuitvoering aan te bied.  Dan is almal happy. 

All in all is ‘n fees ‘n lekker ding.  Die organisasie daaragter is soms lastig, maar dit kan baie lekker wees as jy daarvan hou om lateraal te dink en probleme kreatief op te los.

Watter unieke fees sou jy wou reël?