Tag Archives: leer

Sewe eksamenwenke aan ’n matriekleerder wat sy eerste naweek omgelê het op Clifton se strand.

Standaard

Nou die dag geselstik ek met ‘n matriekleerder via gmail se chatfunksie.  Hulle eksamens begin nou.

Toe gee ek hom sewe tips:

  1. Leer jou inhoudsopgawes. Dit sal jou ‘n goeie struktuur in jou kop gee waarby jy feite kan aanhaak. Blaai ook vinnig-vinnig deur ‘n ou vraestel om ‘n goeie idee te kry van wát tipies getoets word.
  2. Werk vinnig: Moenie jou handboek soos ‘n storieboek lees nie – vluglees dit soos ‘n ensiklopedie: soek die feite wat nodig is op die vrae wat jy vermoed hulle gaan vra.
  3. Figure vooraf uit wat jy alreeds weet en wat jy nog nie weet nie. Dit kan baie verleidelik wees om herhaaldelik weer-en-weer te lees wat jy alreeds ken en die “moeilike” goed uit te stel tot later. Moenie. Werk vinnig, sorg dat jy weet wáár in jou inhoudsopgawe die werk wat jy ken, inpas, en weet waar die gaps in jou verstaan nog is.
  4. Maak leer fun. As jy feite moet memoriseer, omdat jy weet hulle gaan vra om die 10 watookals te lys, dan kry shortcuts om die lys te kan onthou. Gebruik al jou sintuie; teken prentjies in jou kop, ens. Maar maak dit pret.
  5. Wanneer jou tyd uithardloop, kyk weer vir oulaas na jou inhoudsopgawe en maak weer ‘n mental opgawe van wat jy weet en watter dele fuzzy is. Tydens die eksamen sal jy dan ook weet watter vrae om eers te skip en later na terug te kom.
  6. Geniet die vraestel! Onthou, ‘n vraestel is ook maar net ‘n vraestel. Hulle gaan jou nie probeer vasvra nie; hulle toets maar net stelselmatig die inhoud van jou vak. Geniet die challenge en werk so vinnig as wat jy kan – nie omdat jy hoef haastig te wees nie, maar omdat hulle meestal nie die complicated antwoord soek nie, maar die obvious ene.
  7. Leer in kort spurts en gee vir jouself elke nou en dan ‘n lekker, kort break.  Sien uit na die lang vakansie wat voorlê en ontspan vir ‘n uur ná ‘n vraestel voor jy nog ‘n leersessie aanpak.

Hm, het my blogvriende enige ander raad vir die eksamenskrywendes?

Hehe, I pity the poor fools.

Advertisements

Om die lande van Afrika weg te gooi

Standaard

africa-mapNou die dag gooi ek amper ‘n pamflet weg waarop ‘n uitgewersmaatskappy ‘n kaart van Afrika het.  (Op die kaart is hulle logo oral waar hulle ‘n verspreidingstak het; amper in elke Afrikaland).  Sommer ‘n simpel pamflet.

Met die dromflap oop bekyk ek vlugtig my kontinent en wáár elke Afrikaland lê:  Togo, Benin, Burkina Faso.

Vreemd, dink ek, dat Aardrykskunde op skool atlyd vir my so ‘n onbenullige vak was.  Ek moes met moeite memoriseer dat hulle in die Vrystaat met mielies boer – ‘n feit wat vir ‘n stadskind in die Kaap nie veel beteken nie.

En daar waar ek toe staan, vooroorgebuk – gereed om Afrika weg te gooi – vang die nuuskierigheid my opeens: ek wil wéét waar elke land van Afrika is.

Ek hou die pamflet; gooi ander goed weg en besluit om die kaart te probeer memoriseer.

Die kaart laat dink my aan ‘n Aardrykskunde-eksamenvraag: tipies sou jy genommerde lande moes identifiseer. En die laerskoolonderwyser sou jou waarsku dat jy die kaart op bladsy 57 moet leer vir die toets.

Hmf.  Om te memoriseer is nie meer maklik nie.

Ek lees die rondom-die-Sahara lande se name, bekyk die grense en probeer dan die name herroep sonder om te kroek.  Ek herhaal die proses, tel later die dag weer die pamflet op en besef dat ek eintlik net my korttermyngeheue gebruik…

En toe tref dit my: ek is ‘n totale idiot.

Ek is só gekondisioneer om Aardrykskunde te memoriseer soos vir ‘n eksamenvraag, dat ek nie besig was om enigiets te leer nie.  Want om al die lande tydelik te kan uitken, leer my niks méér van enige van die Afrikalande nie.  Ek verwyl my tyd met ‘n sinlose memory game en nie met ‘n heelbrein leerervaring nie.

Ek onderrig myself verkeerd.

Hoe leer ‘n mens?  Ek wéét mos.  Ek wéét hoe leer werk:  Jy moet neuronverbindings skep; jy moet ‘n netwerk van kennis voortbou op bestaande kennis; jy moet jou meervoudige intelligensies inspan.

In plaas daarvan om die hele kaart deur te lees sodat ek dit ná ‘n ruk foutloos kan herroep, moet ek eerder land-vir-land ‘n bietjie gaan oplees op Wikipedia.  Síén hoe lyk die land se mense, wat hulle issues is, wat elke land uniek maak; eie assosiasies vorm met die nuwe kennis, sodat Togo nie net ‘n naam op ‘n kaart vir my is wat ek soms aan verkeerde grense koppel nie, maar dat ek die landsgrense kan inkleur met ‘n volle prentjie van ‘n volwaardige nasie.

So dikwels onderrig ons leerders bloot om feite te herroep in toetssituasies.  Ons moedig dit derhalwe aan.  Maar om dooie landsgrense te memoriseer, is nie lekker nie – dis vervelig; ons maak kinders se natuurlike fassinasie met die wêreld om hulle dood.

* * *

Eers nadat ek saam met ‘n vriend deur die nege provinsies van Suid-Afrika getoer het – en ek die veranderende landskap eerstehands kon ervaar – verstáán ek mynbou en mielies – én gee ek actually om.

Stadig maar seker, is ek besig om my passie vir aardrykskunde te herwin.  Net soos my pamflet van Afrika.

Leer dink #1: I think therefore I create

Standaard

Jou brein is ‘n komplekse netwerk van neurone wat elektronies, chemies en biologies met mekaar verbind (is).  Of altans, dis hoe ek dit verstaan.

Ander mense sal dalk eerder na die verskille tussen linker- en regterbreinlobbe verwys, of die chemiese balans en dopomienvlakke in jou brein.  Ek wil vir eers volstaan by ‘n netwerk van neurone.

synaptic-connectionsWanneer jy jonk is, werk jou brein volstoom om nuwe neurone met mekaar te verbind.  Teen die tyd dat jy die woordjie “mamma” aanleer, het jy alreeds ‘n verweefde netwerk van neurone waarby jy dié brokkie inligting kan voeg.  Borsmelk, warmte, liefde, kos, troos, hulp en gemak word als by die één woordjie ingebed.  Tesame met die ma se gesig, stemtoon en -klank, en roetine.

Aanvanklik flans jy vanuit al die dele van jou brein hierdie konsepte saam tot woorde.

Chomsky het gespostuleer dat kinders ‘n natuurlike taalverwerwingsmeganisme het, juis omdat hulle hele brein ophelder as ‘n kind ‘n nuwe woord aanleer.

Daarteenoor gebruik volwassenes meestal net geïssoleerde dele van hulle brein as hulle ‘n tweede- of derdetaal lateraan aanleer.  As jy byvoorbeeld “umama” memoriseer, skep jy slegs ‘n flouerige nuwe neuronverbindinkie tussen dié nuwe woord en jou moedertaal-eweknie (wat vollediger ingebed is).

Dit bring ons by leer en onderrig.

As ons besef dat kennis, vaardighede en waardes wat ons onderrig, eintlik nuwe neuronverbindings is wat deur elke leerder geskep moet word (en nie net ‘n copy-en-paste kennisoordrag-oefening is nie), dan hou dit daadwerklike implikasies in t.o.v. hóé ons onderrig en hoe ons verseker dat dit wat geleer word, by die regte, reeds-bestaande neuronverbindings inskakel.

(Onthou: leerders is konstant besig om hulle breine te gebruik, hetsy dit is om ou paadjies voos te stap of nuwe paadjies uit te lê.  Selfs in jou slaap bewandel jy in jou drome die stegies van jou brein.  ‘n Leerder is dalk nie aldag besig om jou kurrikuluminhoud se neuronverbindings te skep nie, maar hy/sy is wel aan die skep.)

Hoe nou gemaak met beter leer?

Uiteraard wil ons almal graag slimmer wees: dinge beter verstaan; makliker onthou en gouer snap.  Eienaardig hoe lief skole en universiteite daarvoor is om kennis en feite op jou te dump, maar hoe min moeite daarmee gedoen word om denkvaardighede te onderrig.

Ek vermoed jy kan dinge beter verstaan, makliker onthou en gouer snap as jy moeite doen om met jou hele brein nuwe neuronverbindings aan te las.

As jy byvoorbeeld die woordjie “idolo” (Xhosa vir “knie”) moet onthou: buig jou knie, vat aan die ronde knieskyf (patella), sê “idolo”, rol die o’s met jou mond, koppel dit aan verwante konsepte soos draf, skop, hardloop, skarnier…  Eers dán gaan jy direk in Xhosa begin dink.

Of, gestel jy moet iets oor “solar power” aan graad 4 leerders onderrig; moenie  oor sonpanele en elektrisiteit praat voordat hulle nie verstáán waarvandaan die woordjie “solar” kom nie.

Ons gooi te dikwels feite soos bakstene na leerders; maar verduidelik nooit vir hulle hoe om die goed op mekaar vas te sement nie.  Just another brick in the wall.

Dalk is dit tyd dat ons ‘n bietjie sementmeng- en troffeltegnieke moet onderrig.

Xhosa #8 – Toets jou kennis!

Standaard

xhosa_seuntjie_iiEk het lanklaas ‘n Xhosa-les gepost.

Laas  het ons op naamwoorde gefokus, spesifiek die Xhosa-woorde vir liggaamsdele.

In Xhosa #6 het ek die volgende Xhosa-naamwoorde gegee: kop, nek, been, voete, knie, borskas, hare, hand, hemde, broeke en atlete.

In Xhosa #7 het jy nog woorde gekry: oog, mond, tand, neus, ken, wenkbrou, onderarmholte, maag, tepel en liggaam.

Hoe het jy te werk gegaan om dié nuwe woorde te onthou?  En hoe suksesvol was jy?  Kan jy die volgende woorde na Afrikaans vertaal:

ikhwapha, umlomo, umlenze, impumlo, isilevu, iinyawo, ingono, iihempe, iibhulukhwe, isifuba, iliso, ababaleki, idolo, intamo, intloko, iinwele, ushiyi, izinyo, isandla, isusu, umzimba…?

Indien nie, moet ons fokus op onthou-vaardighede en hoe om nuwe woorde aan te leer.  Daarvoor moet ons weet hoe om ons hele brein in te span vir die oor-en-weer onthou-proses.

Hoeveel woorde kon jy sedert laas les onthou?  Het jy volpunte?  Is daar woorde wat jou makliker bygebly het?  Hoekom?

Konstruktivisme #3 – Vrae vra sonder antwoorde

Standaard

Almal van ons onthou ‘n onderwyser voor in die klas wat ‘n les aanbied.  Hy/sy praat oor die onderwerp en vra elke nou en dan ‘n vraag – soms gerig aan ‘n spesifieke individu; soms skiet die hande op in die lug.  Vir die onderwyser is dit ‘n geleentheid om die les te stuur in ‘n rigting, of om leerders wie se gedagtes afdwaal, te laat wakkerskrik, of om te kyk of die leerders volg wat aangaan.

Ook ken ons van vraestelle met langvrae en kortvrae – langvrae wat meestal ‘n bietjie begrip toets en kortvrae wat basiese feitekennis bepunt.

Maar wat is die doel van vrae vra aan leerders?  Wil ons regtig net regte/verkeerde antwoorde hê wat ons kan merk en bepunt vir ‘n rapport?  Wil ons net hê leerders moet kiertsregop sit in ‘n klas?

Moet vrae mooi antwoorde hê?  (…en meervoudige keusevraelyse net antwoorde wat onderling uitsluitend is? :P)

In leergesentreerde klaskamers is die rede vir vrae eerstens om leerders te laat dink – krities en bevraagtekend oor die werk te laat reflekteer – en tweedens om hulle antwoorde/ redenasies/ bykomende vrae met mekaar te laat vergelyk en bespreek.  Die onderwyser fasiliteer dié onderhandeling van kennis en begrip, en begelei hulle tot hoër orde denke (toepassing van die inligting, sowel as die opbreek en bymekaarvoeg, of integrasie van verskillende insigte wat opgedoen is, en die uiteindelike nadink en refleksie oor dit wat geleer is en hoe die nuwe werk inpas by vooraf kennis).

Om soos vorige onderwysers klas te gee, is maklik (en soms nodig).  Dit is hoekom so baie onderwysers outomaties terugval op ‘n lesingformaat met vrae-en-antwoordsessies.  Jy as onderwyser is tog die draer van kennis, laat jy die leë koppe vul… 😉

Dis moeiliker om leerders te laat dink en redeneer, en om seker te wees dat hulle gedagtes en besprekings nie afdwaal nie.  (‘n Mens moet tricky vrae vra en take uitdink wat die leerders aan die dink sal kry.)

Hoe vra jy jou vrae in die klas?

Volg hierdie skakel http://www.teacherstoolbox.co.uk/constructivism.html vir meer info oor konstruktivisme.