Tag Archives: magshiërargie

Van blougat tot ouman: hoe die Bosoorlog steeds woed in 2011

Standaard

‘n Skrywersvriend het onlangs sy manuskrip vir my gegee om te lees. Ek voel bevoorreg. Dit handel oor sy anti-held diensplig-ervaringe tydens die grensoorlog – en die weermag-waansin wat daarmee gepaardgaan. Hy skryf dit met ‘n goeie dosis sinisme en satire wat ek geniet; sy invalshoek herinner my aan Catch-22 se Yossarian (sekerlik een van my gunsteling fiktiewe karakters) se tong-in-die-kies waarnemings.

>>

Tot op hede weet ek min van die grensoorlog; diensplig is afgeskaf toe ek nog in die laerskool was, en ek het nooit kadette geoefen in die hoërskool nie. Ja, vaagweg weet ek van Boetman wat die bliksem in was, maar dit is ‘n oppervlakkige besef, nie ‘n geïnvesteerde verstaan nie.

So toe ek sy manuskrip beginne lees, het ‘n nuwe (ou) wêreld vir my oopgegaan, honderde kilometers bo in die lug teen honderde kilometers per uur, rustig met ‘n glasie whisky op ys, ver verwyderd van die werklikheid (op ‘n vlug).

>>

Wat vir my jammer was, is dat ek baie van die mees bisarre, komieklike insidente op ‘n eienaardige wyse herken het. Die tweede-laagste rang wat hulle beperkte gesag op die laagste rang (die troepe) uithaal met fisiese oefeninge, sielkundige aftakeling, konstante afkyk, staan in die son, kort storte, hare afskeer en ‘n ewige paradeer sonder enige verweer. Dié aspekte is almal steeds opgesluit, oorgedra en ingebed in koshuistradisies van jare later.

Dit skaam my om te sê, maar drie dekades ná die oorlog woed aspekte daarvan steeds wild op die Bos. Met die beste bedoeling, besef ek, maar sonder begrip; sonder verstand.

>>

Op die lughawe, in die boekwinkel, vang my oog ander memoires wat op die rakke staan. “Troepie: van blougat tot bosoupa” is een se titel. Dit verklaar hoekom ‘n standbeeld op die kampus se sitvlak jaar-op-jaar blou geverf word, deur eerstejaars wat hulleself “blougatte” noem.

Ek google “blougatte” en kom op ‘n facebook groep af met trotse foto’s van 2009 se eerstejaarsgroep/troep; duidelik is dit nie net die standbeeld wat deurloop nie:

Ook sien ek ‘n Hoër Tegniese Skool se graadags word lieftallig “blougatte” genoem; die webwerf lys jukskei as een van hulle skoolsporte.

Tydens die oriëntering hang blou naambordjies om hulle nekke; aan die einde van die oriëntering sing hulle hand-op-die-bors hulle skoollied. Hier spring hulle vreugdevol in die lug:

>>

Die grensoorlog was vanaf 1966 tot 1989, maar ek vermoed dit impakteer tot vandag toe veral Afrikaanse skole en universiteite. Wat behoue gebly het, is die meem dat aftakeling van nuwelinge nodig is, of jy nou aankom in graad 8 of as eerstejaar – jy moet ‘n bietjie suffer om waarlik “man”/mens te word.

>>

Solank as wat skool- en koshuishoofde in hierdie georkestreerde boelie-gedrag glo, en dit as ‘n waarde ag, bly die tradisies en praktyke voortleef as ‘n onbedenkte spel – wat vir die meeste individue as ‘n hegte groep saambind, maar vir party hoër-op individue vrye teuels gee om sadisties en gemeen te wees, vir die pret.

>>

Jou eerste dag op universiteit: nou wat nou?

Standaard

So, vandag val vele studente hierdie kampus binne.

Wat kan julle verwag?  Hoe moet jy die eerste paar weke benader?  Hoe verskil ‘n universiteit van skool?

Welkom

As nuweling-eerstejaarstudent is dit moeilik om te weet wat om te verwag.  Jy kom na ‘n kampus veel groter as jou skool, waar jy vir lektore, anders as vir onderwysers, soms werklik bloot ‘n nommer is.

Jy kom na ‘n warm dorp met temperamentele weer.  Waar jy nogals veral in dié tyd soms regtig kan sweet.

  • Drink baie water
  • Smeer sonbrandroom gereeld aan
  • Bring gemaklike skoene – en genoeg sokkies
  • En let op: die skril klank wat jy hoor, is dié van sonbesies in die bome

>>

‘n Verwelkomingspan met ‘n plan

Jou eerste “hallo” is waarskynlik vanaf lede van ‘n privaatwyk of koshuis se huiskomitee (HK) – ‘n groep wat deur hulle medestudente in Augustus laasjaar tot leiersposisies verkies is.  Ook is daar mentors, senior studente wat aangestel is om jou by te staan met vrae oor jou studies.

Die HK en mentors gaan  jou die kampus wys, begelei tot by al die regte registrasielokale (waar jy soms in lang toue gaan wag) en probeer om jou te laat tuis voel tussen ‘n klomp mede-eerstejaars en ander vreemdelinge.

  • Wees bedagsaam
  • Neem deel
  • Let op wat die koshuis/wyk se waardes en etos is
  • Wees oopkop en gewillig, maar moenie als vir soetkoek opeet nie
  • Luister en moenie konstant vrae vra nie; die HK en mentors sal waarskynlik nog by die antwoord kom

Die verwagting by seniorstudente is dat jy ná die verwelkomingstydperk ‘n sin van kameraderie en lojaliteit met jou mede-eerstejaars en HK sal hê, en toekomstige funksies en bymekaarkom-geleenthede sal ondersteun.  Kortom, hulle hoop jy hou van die plek en sy mense.

Mede-nuwelinge

Maak vriende met die nuwelinge om jou.  In die eerste week het jy briljante kanse, met die huiskomitee wat waarskynlik hope “skakelings” en “ken-mekaar” sessies gaan reël.

  • Wees oop vir nuwe vriendskappe, juis met mense vir wie jy nouliks ken
  • Hou gerus ‘n notaboekie byderhand, vir name en adresse, kontaknommers en sulke dinge
  • Glimlag, groet, borsel jou tande, rol sweetweerders aan en wees ordentlik
  • Dink aan interessante vrae, bly weg van uitvra oor matriekpunte of vakrigtings; luister, en wees geïnteresseerd
  • Gebruik jou ketel, maak koffie, nooi mense.
  • Moenie probeer om onmiddellik jou droomman of -vrou te ontmoet en met soet woorde te vlei nie

>>

Respek, sonder gesag

Die verwagting vanaf universiteite se kant af, is dat die studenteleiers geensins optree soos boelies nie.  Immers, as mense jou volg slegs omdat jy hulle dreig, is jy nie juis ‘n leier nie.

Tog is dit ‘n strik waarin baie HK-lede trap.  Hulle dink jy moet as leier die baas wees, soos ‘n skoolhoof wat op kinders skree.  Daarom sal hulle dalk ‘n persona aanneem, ‘n skyn-self wat kamstig ouer is (soms groei mans baarde, of vroue HK-lede maak asof hulle alreeds verloof is), en wat moerig is, soos ‘n kwaai ouer wat op ‘n kind skree.

  • Pasop vir HK-lede wat die pot mis sit.  As daar op jou geskree word, mis hulle die punt
  • Nietemin, wees hulle, in soverre hulle nie te veel kwaad doen nie, maar genadig.  Besef dis ‘n skynbeeld wat hulle tydelik voorhou; hulle sal julle niks maak nie
  • Rapporteer wel jou HK se gedrag aan jou koshuis/wyk se monitor en/of die inwonende hoof.  Hulle aanbevelings word in ‘n verslag gepubliseer en help dan die volgende jaar se HK om te verbeter op die foute wat hulle maak
  • Alhoewel hulle benadering dalk verkeerd is, is hulle einddoel wel positief: hulle wil julle saambind as ‘n eenheid wat trots is op die nuwe identiteit wat jy bykry
  • HK-lede wat jou probeer intimideer, doen dit op verskeie subtiele en eksplisiete maniere, hulle speel vreemde musiek (opera of kindermusiek) om julle wakker te maak soggens, hulle laat tree julle aan in rye asof julle in die weermag is, laat julle dalk afkyk grond toe, praat met julle asof julle kinders is, spreek julle minagtend aan, terwyl hulle oordrewe titels vir hulleself toe-eien, hou julle in die duister oor die verwelkomingsprogram wat voorlê, en jaag julle aan van een plek na die ander, soos ‘n trop skape; hou brandalarmoefeninge in die middel van die nag.
  • Steve Biko (‘n SA vryheidsvegter) het gesê: the most potent weapon of the oppressor is the minds of the oppressed.  Bly sterk.

>>

As jy beginne moeg word

Jy kom sopas van ‘n vakansie waar jy ‘n luilekker lewe gehad het.  Die ritme van jou doen en late was als onder jou beheer.  Dalk was jy selfs ‘n jaar oorsee.  Maar nou word jy saam met ‘n gretige groep gevra om ‘n klomp aktiwiteite op uitgewerkte tye van smôrens vroeg tot saans laat te doen.  Jy sal dalk moeg word.  Veral teen dag drie.  Want dis mos maar soms moeilik om aanvanklik op ‘n nuwe plek aan die slaap te raak en, om heeldag besig te wees, eis sy fisieke tol.

  • Eet genoeg.  Jy kort die energie vir rondstap van die een uithoek van die dorp na ‘n ander
  • Gaan slaap so vroeg as wat jy kan
  • As jy vir lang tye regop moet staan, wieg op jou voortone en dan jou hak, om jou bloedsomloop aan te wakker en nie flou te val nie
  • As jy moeg of duiselig voel, gaan sit.  Jy hoef niemand se toestemming te vra nie.

>>

Registrasie en wat jy moet swot

Om te besluit watter rigting om in te studeer, is intimiderend.  Sommiges weet al van jonks af wat hulle wil word, en vir hulle is dit maklik, maar vir die res is dit ‘n amper-onmoontlike besluit met te veel opsies.

  • Sorg dat jy registreer vir die kursus waarvoor jy aansoek gedoen het, en met jou ouers bespreek het
  • In die eerste paar weke van die kwartaal is daar altyd nog tyd om van kursus te verander – vind uit wat die sperdatum daarvoor is en teken dit in jou dagboek aan
  • Elke universiteit het ‘n studentevoorligting- en ontwikkelingsentrum waarby jy kan gaan aanklop vir gratis beroepsvoorligting; gebruik dit en gaan maak ‘n afspraak
  • Woon getrou jou klasse by, en kyk of jy dalk by ‘n ander kursus ook kan gaan inloer tydens een van jou af-periodes, en besluit dan mettertyd
  • Onthou, daar is niks wat jou keer om op 40 weer ‘n ander beroepsrigting in te slaan nie; hierdie is geen kortste-pad-na-sukses speletjie nie; hierdie is ‘n algemene eerste opleiding om jou toe te rus vir verdere studie en beroepsgroei

>>

As die seniors beginne terugkom

As jy dit unlucky getref het, en jou HK probeer julle die heeltyd intimideer, dan sal hulle waarskynlik die illusie skep dat Wanneer Die Seniors Terugkom, Dán… maar die werklikheid is eintlik maar presies soos wat jy dit self kan indink: die “seniors” is maar net jongmense wat die vorige jaar vriende geword het, wat ná ‘n lang vakansie terugkom.  Hulle gaan raas, mekaar gul groet en ‘n lekker tyd hê.

Dit is deel van die ritme van kampuslewe dat daar elke jaar ‘n nuwe toeloop van studente is; dit is dus nie onverwags of uiters vreemd nie.

  • Groet diegene wat deel is van jou omgewing vriendelik
  • Wees oop om jouself voor te stel, en probeer om hulle name te onthou
  • Moenie bang wees nie, en verwag ‘n jolige geraas

Wat die universiteit betref, wil hulle koshuise en wyksareas omskep in demokratiese luister-, leef- en leerruimtes waar studente van alle jaargroepe en nasionaliteite met mekaar kan praat, debatteer en van mekaar kan leer.  Studente kom egter direk van skool, en dáár is daar dikwels sterk onderskeid tussen graad 8’s, seniors en matrieks, met die onderwysers en skoolhoof bo-aan die magshiërargie.  Ons wil nie dit by ‘n universiteit hê nie.

‘n Universiteit is ‘n plek van kennis, waar almal: eerstejaars, M-studente, lektore, professore inkluis, besig is met dieselfde edele doel: om kennis te skep en met mekaar te deel.  Ons is almal volwassenes in die sisteem, en as jy ‘n idee het, moet jy dit, op wetenskaplike wyse, kan voorhou aan ander, ongeag jou ouderdom.

Maar wees bedag dat daar by heelwat mense steeds ‘n versugting na hiërargieë is – veral tweedejaars smag daarna om nie meer juniors te wees nie.  Dus, wees dalk aanvanklik bereid om die mindere te wees, bloot uit respek.  As jy kan opstaan om vir iemand anders sitplek te verleen, bied dit gerus aan.  As jy iemand anders eerste kan laat kolf, of die bal kan gaan soek wat sopas weggemoker is, doen dit, sonder dat hulle jou vra.  So wys jy respek deur jou aksies.

Om ‘n ruimte te deel met ander

By jou ouerhuis was julle net ‘n klein groep mense.  As jy tussen meer persone bly, moet jy probeer bedag wees op hoe jou aksies op ander mense inwerk.

  • Probeer om nie te raas in gange of voorportale waar jou klank kan weergalm nie; gesels en lag eerder in jou kamer agter ‘n toe deur wat die klank absorbeer
  • Leer jou kamermaat en sy/haar gewoontes en behoeftes ken, luister dalk jou musiek met oorfone aan, respekteer sy/haar eiendom en sinchroniseer julle slaap- en opstaantye
  • Maak skoon ná jy ‘n kombuis- of badkamerarea gebruik het, of as jy iets laat val of mors het
  • Vra as jy iemand se koffie, suiker, tee, melk wil gebruik, en deel dan ook jou voorraad gelykmatig
  • Maak jou kamer- en ander deure sag toe, en wees bedag as jy jou meubels rondskuif, want die ouens onder jou kan elke skuifeling hoor

>>

Diegene wie jy agterlaat

Vir meeste skoolverlaters is die universiteitslewe die eerste keer dat hulle wesenlik weg is van hulle ouerhuis, en nie meer hoef te rapporteer wat aangaan in hulle lewens nie.  Nietemin:

  • Verbeel jou hoe jy sou voel as jy ‘n ouer was en skielik niks meer van jou kind hoor nie, ná 18 jaar.  Bel eerder gereeld, SMS, en bly in kontak, al trek die verhouding swaar
  • Koester jou vryheid ook, en wees bedag daarop dat jy nie elke naweek heelnaweek huis toe gaan nie; sien jou ouers die eerste Sondag, dan weer twee naweke daarná, maar probeer om nie elke naweek huis toe te gaan nie; jy moet meer onafhanklik word in dié fase van jou lewe – en ja, selfs sélf jou wasgoed was!
  • Werk aan jou verhouding met jou ouers, en behou ook soveel kontak as moontlik met skoolvriende, deur Facebook, ens.

>>

Verantwoordelike vryhede

Studentelewe is pret, daar is orals mooi, jongmense op kampus, daar is kuierplekke, drank, dagga, partytjies en dalk selfs strande met bikini-vroue en gespierde mans in die omtrek, as jou kampus naby die kus is.

  • Daar’s later tyd vir drink.  Kry eers jou akademiese sake in orde, wees rustig en moenie dadelik hals-oor-kop tekere gaan nie
  • Kuier saam met vriende, maar ook met nuwe mense wie jy nog nie goed ken nie, en ook met mense wat ander belangstellings as jy het
  • Besef jy is 18 en dus wettiglik volwasse en vervolgbaar vir enigiets wat onwettig is.  Om goed te breek, steel, of om onwelvoeglik op te tree, is nie aanvaarbaar bloot omdat jy ‘n student is nie; die mense omliggend tot universiteite is moeg vir gesteelde potplante en vandalisme en sal julle aankla
  • Pasop vir vry in ‘n bondel, en ken jou ABCD’s van seks
  • Ry slegs met mense wat nugter is; dronk studente is berug vir hulle dom bravade, en gevolglik begrawe ons talle belowende studente a.g.v. dronkbestuur-ongelukke

>>

Geniet dit

‘n Universiteit is nie ‘n skool nie.  Daar is nie onderwysers en leerders nie.  Almal is gelyke soekers na kennis, wat vrywillig en aspris hulleself blootstel aan mense wat anderste dink, van ander kulture afkomstig is en in ander dinge glo.  Jy leer hier hoe om te bevraagteken, hoe om krities na dinge te kyk, hoe om stomgeslaan te word deur die magdom van die wetenskap en die ryke verskeidenheid van mense en maniere om na sake te kyk.

‘n Universiteit is ook nie net ‘n plek vir beroepsopleiding nie.  Selfs al studeer jy ingenieurswese of aktuariële wetenskap, sorg dat jy die kunstenaars en kunssinniges bevriend, in hulle koppe klim en ‘n wyer wêreld leer verstaan as ene wat opgesluit is in tutoriaalopdragte en handboeke.

Geniet dit.  Maar geniet die volle ervaring, nie nét die wees-tussen-jongmense nie.  Geniet die uitdagende debatte met dosente, die laatnag-artikelsoekery vir werksopdragte, die slimmer-word en bevraagtekening van alles.  Die grootword, die geluk en seer van verhoudings, die hoop en teleurstellings van lewe.

>>

Enige raad wat jy vir ons het?

Wat’s die top tips waarmee jy jou kind/broer/suster/vriend by die universiteit sal los?

Hey, boetie, kom gou hier!

Standaard

“Hey, boetie, kom gou hier!” roep hy die huiskomiteelid nader – dis nou die vriend van my wat ook vyf jaar terug in die koshuis was.

Ek cringe en wil lag terselfdertyd.

Die eerstejaar wat afgevaardig was om ons weg te wys, het sopas vertel dat dié betrokke HK-“Meneer” hom aangesê het om dit te doen.

“Hey, boetie!” skree my vriend weer.

En lanklaas het ek iemand só verontwaardig gesien omdraai en aangestap kom.

* * *

Dis nogals ‘n long drop vanaf ‘n geëerde “Meneer” na ‘n geminagtende “Boetie”.  Ai, dis tragies as jy as buitestaander ‘n oogklap-hiërargie op sy kop keer.

Ope brief aan die primarius van my oud-James Bond koshuis

Standaard

Beste primarius (hoof-studenteleier) van my oud-universiteitskoshuis

Ek skryf jou hierdie ope brief uit deernis en respek vir ‘n plek waarvoor ek baie lief is en was.  In die 1990’s het my oudste broer vir drie jaar daar gebly, en met die oorgang in die nuwe millennium was ek vir sewe jaar daar.  En ná ek uit is, behou ek steeds kontak, ook met die nuwelinge daarso.

Vertrou asseblief dat ek hierdie skrywe goed bedoel.

Hiermee en met ‘n vorige inskrywing wil ek nie afbreek of wegvat nie, maar help voortbeweeg in ‘n rigting waarop ek trots was dat die instelling besig was om in te beweeg, en ek besef moeilik is om in te bestuur.

* * *

Ek het verlede Woensdag weer my oudkoshuis besoek en vlugtig met ‘n spul eerstejaars gesels wat by die trappe in die voorportaal kordaat gestaan en wag het vir ‘n ene huiskomiteelid, meneer Punt.

Die tien of so volwassenes was vriendelik en ontspanne en het my en my monitorsvriend (ook ‘n oud-koshuisman) beleefd gegroet en oop en gemoedelik met ons gesels.  (Verby en vergete was die onsekerheid van vroeër die week.)

Hulle was trots op hulle Huis.

Gevra hoeveel uit tien hulle gee vir die verwelkomingsweek wat hulle beleef het (oftewel besig was om te beleef), het sommige gesê 8 uit 10, ander 10 uit 10, en drie van hulle 12 uit 10.  Dus uiters suksesvol.

* * *

Hoe meet ‘n mens egter sukses?

Hoe wéét jy wanneer iets kompleks soos ‘n verwelkomingsweek suksesvol afgeloop het?

Watter kriteria gebruik jy?  En hoe méét jy of dit bereik is?

* * *

In die ou sisteem waar eerstejaars geïntimideer is, was dit maklik om sukses te meet.  Jou eerstejaarsgroep moes ja en amen sê op als wat ‘n senior beveel.

Ek onthou ons het ‘n kalant, Peet Mocke, gehad in 2001: ‘n tawwe, hardebaard plaasjaap en rugbyspeler van formaat.  Ons prim het hom geïdentifiseer as die enkeling wat die aanduiding moes wees vir die res.  As die Huiskomitee hóm kon breek (psigies knak), dan het ons geweet ons het die eerstejaarsgroep waar ons hulle wou hê.

Op dag vier het Peet se skouers gesak, en het ons die eerstejaars vir die eerste keer begin opbou.  (Dit was maklik om met moeë manne te werk.)

* * *

Ná ons hulle opgebou het, was die indikatore van sukses:

  1. Eerstejaars groet enige en alle seniors flink met ‘n “Goeiemôre/middag/naand, Meneer”
  2. Eerstejaars daag onmiddellik op as die all call hulle roep; of hulle nou stoele moet pak of blommetjies moet vou
  3. Eerstejaars sit op die vloer en voer opdragte van seniors uit as vermaak tydens huisvergaderings
  4. Eerstejaars ken hulle plek; dien nooit mosies in of lewer kritiek/kommentaar of voorstelle nie
  5. Eerstejaars ken al die seniors se name en noem hulle op hulle vanne
  6. Eerstejaars kyk af
  7. Eerstejaars support rugby.  Hulle daag in hulle getalle op, dra hulle koshuishemde en cheer vir die koshuisspan
  8. Eerstejaars vermy senior seksies.  Hulle ken hulle plek
  9. Eerstejaars staan hulle sitplekke aan seniors en Oumanne af.  Asook hulle toast as dit eerste uit die masjien uit pop
  10. Eerstejaars dra die seniors se bagasie in en pak dit vir hulle uit, die dag as hulle aankom

* * *

Met tye wat verander het – jy moet tog instem dat die tydsgees wêreldwyd wesenlik verander het vandat ons koshuis in 1961 gestig is (saam met die republiekwording van ons land)? – is dié maatstawwe, soos gelys hierbo, ongelukkig nooit weer werklik herbedink nie, vermoed ek.

Soos ou nota’s wat jaar op jaar vanaf ‘n vorige kopié afgerol word, met enkele dele geskrap, en hier en daar iets deur ‘n voorganger as kantaantekening aangebring, só herhaal ons geykte tradisies, bietjie leër as vantevore, voort.

* * *

(Kom ek gee jou ‘n voorbeeld van ‘n gewysigde verstaan van die wêreld wat die afgelope eeu verander het, maar ook kwalik in ons onderwysmilieu vernuwe word – die verstaan van hoe kennis verwerf word:

Sowat 100 jaar gelede het onderwysers geglo alle kennis en feite is objektief en kan met herhaling en memorisering by leerders vasgelê word.  Sê vir graad 1 leerders die aarde is rond, toets in ‘n klastoetsie of hulle dit kan herhaal en dán het leer plaasgevind.

Intussen het neurologiese navorsing vasgestel (en verklaar leerteorieë) dat leerders kennis konstrueer; dat kennis ‘n subjektiewe maaksel is wat nie altyd met ‘n toetsvraag gemeet kan word nie.  Vra vir ‘n graad 1 leerder of die aarde rond is, en hy antwoord “ja”.  Vra hom wat hy daarvan verstaan, en hy teken vir jou ‘n plat sirkel: die aarde is rond, ja, maar steeds plat: nie sferies soos die onderwyser gedog het hy leer hulle nie.

Vanuit die konstruktivistiese leerteorieë word daar dus gepostuleer dat lesings nie die beste onderrigmetodiek nie, maar eerder taakgerigte opdragte waar leerders in groepe die kennis wat hulle konstrueer, met mekaar onderhandel.

Tog sukkel ons onderwysstelsel om by dié verwikkelinge aan te pas.)

* * *

Vanaf 1961 tot nou – wat het verander?

Hoe verskil die eerstejaarsgroep van 1961 (waarvan baie eers ‘n draai in die weermag gemaak het) van die millenniër-generasie tans?

En hoe pas jy dít wat jy doen aan, sodat hulle soortgelyke uitkomste behaal?

En watter uitkomste is vir vandag se tyd nie meer relevant nie?

Kyk, baie van dít wat hulle toe wou bereik, was heel heilsaam, maar baie wat eerstejaars tóé geleer het, was ook net vir daardie tydsgees belangrik.

Dis nie vreemd dat ons koshuis haarself geposisioneer het om manne van “karakter, styl en trots” op te lewer nie, dink maar aan hoe gewild Sean Connery was as James Bond in Dr. No (1962),  From Russia with Love (1963), Goldfinger (1964), Thunderball (1965), You only live twice (1967), Diamonds are forever (1971) en Never say Never again (1983).

Om ‘n geheime agent te wees, vir volk en vaderland, sauve in ‘n militante land – dit was die ideaal vir ‘n geleerde, blanke jongman: ons vir jou, Suid-Afrika.

Die onderliggende waarde wat die studenteleiers tóé aan eerstejaars wou onderrig, was dalk eintlik maar bloot hoe om cool te wees.  Hoe om seepglad te skakel met meisies, om galant ‘n deur oop te swaai en aan die verkeer-kant van die sypaadjie langs haar te stap.  Om dagdrag te dra.  Om in verskeie tale te kan groet.

Baie van James Bond-wees is deesdae steeds cool – daarom dat so baie van dié dingetjies heel suksesvol steeds aan eerstejaars oorgedra kan word.  Tog sal ons ook vind dat fynere etiketreëls weggeval het: niemand vertel meer vir eerstejaars wat die verskil tussen ‘n dag- en ‘n nag-das is nie.  (Tereg so, omdat niemand meer das dra nie.)

* * *

Maar wat presies het als verander vanaf 1961 tot nou?  Julle kan self ‘n vollediger lys maak, maar ‘n paar ooglopende dinge is:

  • Die magstrukture is minder militant, oftewel meer demokraties as vroeër: eendragtelikheid het plek gemaak vir verskeidenheid, of soos ons landsleuse sê: Eenheid deur diversiteit
  • Individuele outonomiteit en menseregte word voorop gestel, skaaptrop-denke en broederbonde is uit
  • Skeppende, kritiese denke word van afgestudeerdes verwag, nie memoriseringsvermoë of vakmanskap nie
  • Waar jy ten alle koste ekonomies ingestel moes wees, moet jy nou ekologiese visie hê

* * *

Wat het dieselfde gebly?  Ook hieroor sou julle kon beraadslag en ‘n lys opstel:

  • ‘n Universiteitskoshuis is steeds ‘n tydelike tuiste vir ‘n klomp jongmense wat uiteenlopende grade wil vang
  • Julle wil steeds saam studentepret hê, mekaar leer ken (oor die jaargrense heen) en lewenslange vriende maak
  • ‘n Universiteitskoshuis was destyds ‘n plek van gesprek en debat oor die toekoms van ‘n turbulente land
  • ‘n Universiteitskoshuis is steeds ‘n plek waar jongmense groot drome droom, met idealisme en hoop handel en ná ‘n paar jaar as volwassenes uitstap

* * *

Julle eerstejaars het goed gevaar op die ou kriteria.  Soos soldaatjies het hulle op aandag gewag vir Meneer Punt.

Wat die eerstejaars nie kon doen nie, was om my gemaklik op my naam te noem.  Hulle het my ge-meneer ten spyte daarvan dat ek myself voorgestel het.  Hulle kon kwalik krities wees oor die week wat hulle beleef het.

Ná ek hulle gegroet het, staan die soldaatjies steeds kordaat in die voorportaal en wag op Meneer Punt wat van bo-af uit een van die verbode senior seksies moet verskyn.

Ek het sekerlik vir sowat 25 minute met hulle gesels, reken ek, toe ek en die monitorvriend (vir wie ek daai aand taxi moes speel) by die kar inklim.

Soos ek uitry, merk ek op dat ‘n bebaarde Meneer Punt op die grasvlakte van die koshuis besig is om die Vensters-verhoog aanmekaar te timmer.

Die groepie by die voordeur sou dus nog ‘n ruk lank moes wag.

* * *

Om verstaanbare redes eis die universiteitsbestuur al die afgelope dekade dat alle huiskomitees die nuweling-eerstejaars vriendelik, gasvry en menswaardig ontvang en by die grotere instansie verwelkom.

Wat die studenteleiers nie noodwendig besef nie, vermoed ek, is dat ons desnoods ander uitkomste ook moet stel – en nuwe sukses-indikatore moet uitwerk waaraan ons kan meet of dít wat ons nou doen, die gewensde uitwerkinge het.

Andersins meet ons steeds of ons met glimlagte soldate kan aflewer…

* * *

Hm.  Watter indikatore behoort jy daar te stel as jy vrydenkende individue wil aflewer?  En hoe meet jy dit?  Hoe meet jy gees en deelname – en wie moet jy meet?

Die getal eerstejaars wat aanvanklik vrywillig langs die rugbyveld staan – of eerder die mate waarin die ondersteuning vrywillig toeneem?  Of hoeveel ondersteuners ook vir die hokkiespanne cheer?

* * *

Nog ‘n vraag: Hoe meet jy die sukses van ‘n huiskomiteelid in die nuwe bestel?

Vantevore moes hy intimiderend wees, kwaai, professioneel, georden.

* * *

Beste primarius van my oudkoshuis

Ek het nie die antwoorde nie – ek kan bloot met jou deel watter vrae ek vermoed ons moet beginne vra.  Dat dít die gesprekke is wat ons as studenteleiers met mekaar moet begin voer.

Dat, in plaas daarvan om die eerstejaars in drie rye te laat staan, julle dalk eerder in kleiner groepe met hulle oor “karakter”, “styl”, “trots”, “wasmasjiene”, “finansies”, “universiteitslewe teenoor skool” en “gees en deelname” moet praat.

Eerder as wat twee dooplieutenante heen-en-weer marsjeer en leë begrippe die lug inslinger, vir hulle betekenis kontekstualiseer deur te sit en gesels oor die karakter wat dit vat om ná ‘n heelaand se vlotbou steeds voluit te gaan blikskud en vrolik-wees.

Dat julle, in plaas daarvan om ‘n komitee aan die werk te steek om trollies te versier sodat dit JOOLpunte wen, die inisiatief oorgee aan die eerstejaars: gee hulle die rou materiale en die JOOLkriteria – laat hulle sélf iets kan skep.

* * *

Beste primarius

Wat ek albei kere gesien het toe ek by julle kom inloer het, is hoogs gespanne huiskomiteelede.

Ek dink dis omdat julle die onmoontlike probeer vermag.

My pleidooi is dat julle sal ontspan – en as koshuis herbesin oor wat dit is om ‘n studenteleier te wees.  En herbesin hoe ‘n mens met jong volwassenes moet omgaan.  Hoekom julle hulle voordeurdiens laat doen.

* * *

Jammer vir dié lang brief, but I didn’t have time to write a shorter one (Mark Twain).

Ek hoop julle sal kan vermag wat ons in my finale jare in die koshuis, om teekan, aan die gang gepraat het: dat ons kritiese denkers wil kweek: eerstejaars wat voel hulle kan mosies indien by ‘n huisvergadering – sonder die spanning en eise wat ‘n magshiërargie stel.

* * *

Ek hoop nie jy beleef hierdie ope brief as ‘n aanklag teen jou gesag of leierskap nie, want dit is geensins hoe ek dit bedoel nie.  Inteendeel, ek verstaan die sistemiese druk wat van alle kante af op ‘n huiskomitee inspeel.

Met my eie wyk se huiskomitee sien ek hoe onvoorbereid hulle is op die produkte van hulle amper-vriendelike verwelkomingsprogram.

Ek hoop jy sien hierdie lang inskrywing vir dít wat dit is: as ‘n oorwoë buite-opinie – en ‘n uitnodiging om saam vorentoe hieroor na te dink; as ‘n gesprek wat wag om te begin.

In verbondenheid

Mnr. Müller André