Tag Archives: memoriseer

Die rol van die nar(rator) in die onderwys

Standaard

In die verlede was storievertel die enigste wetenskap; die enigste pedagogie.  Feite verweef met fiksie.

Kollektiewe kennis is deur oorvertel oorgedra.  Soms by die vuur, soms in die veld, soms langs die rivier.  Deur storievertel en self-probeer.

Kinders om ‘n kampvuur die klaskamer.

* * *

Die rol van die narrator – die ene wat die stories opmaak en oorvertel; wat die kinders se oë laat rek, en die jongelinge laat skater – is steeds vandag relevant.

Tussendeur die powerpoint slides en internet, word die meeste klasgee nog steeds met bordkryt en praat gedoen – en die vermoë van die onderwyser om leerders met blote woorde mee te sleur; hulle verbeeldings te prikkel; hulle te laat lag – bepaal nog merendeels die sukses van kenniskonstruksie by die kind.

* * *

Maar vertel ons nog genoeg stories?

Laat ons nog genoeg aan kinders se verbeelding oor – om self kamma-werklikhede in hulle koppe te skep?

* * *

Ek dink die wêreld sal ‘n beter plek wees as onderwysers vir kinders Die Kleine Prinsie lees, die verskillende karakters se stemme namaak en hulle die verskillende planete laat onthou.

(Later sou hulle die planete as mind mapping tool kon gebruik – en feite wat hulle moet memoriseer bêre op die ryke verbeeldingswêrelde wat hulle in hulle gedagtes geskep het.)

Advertisements

Om die lande van Afrika weg te gooi

Standaard

africa-mapNou die dag gooi ek amper ‘n pamflet weg waarop ‘n uitgewersmaatskappy ‘n kaart van Afrika het.  (Op die kaart is hulle logo oral waar hulle ‘n verspreidingstak het; amper in elke Afrikaland).  Sommer ‘n simpel pamflet.

Met die dromflap oop bekyk ek vlugtig my kontinent en wáár elke Afrikaland lê:  Togo, Benin, Burkina Faso.

Vreemd, dink ek, dat Aardrykskunde op skool atlyd vir my so ‘n onbenullige vak was.  Ek moes met moeite memoriseer dat hulle in die Vrystaat met mielies boer – ‘n feit wat vir ‘n stadskind in die Kaap nie veel beteken nie.

En daar waar ek toe staan, vooroorgebuk – gereed om Afrika weg te gooi – vang die nuuskierigheid my opeens: ek wil wéét waar elke land van Afrika is.

Ek hou die pamflet; gooi ander goed weg en besluit om die kaart te probeer memoriseer.

Die kaart laat dink my aan ‘n Aardrykskunde-eksamenvraag: tipies sou jy genommerde lande moes identifiseer. En die laerskoolonderwyser sou jou waarsku dat jy die kaart op bladsy 57 moet leer vir die toets.

Hmf.  Om te memoriseer is nie meer maklik nie.

Ek lees die rondom-die-Sahara lande se name, bekyk die grense en probeer dan die name herroep sonder om te kroek.  Ek herhaal die proses, tel later die dag weer die pamflet op en besef dat ek eintlik net my korttermyngeheue gebruik…

En toe tref dit my: ek is ‘n totale idiot.

Ek is só gekondisioneer om Aardrykskunde te memoriseer soos vir ‘n eksamenvraag, dat ek nie besig was om enigiets te leer nie.  Want om al die lande tydelik te kan uitken, leer my niks méér van enige van die Afrikalande nie.  Ek verwyl my tyd met ‘n sinlose memory game en nie met ‘n heelbrein leerervaring nie.

Ek onderrig myself verkeerd.

Hoe leer ‘n mens?  Ek wéét mos.  Ek wéét hoe leer werk:  Jy moet neuronverbindings skep; jy moet ‘n netwerk van kennis voortbou op bestaande kennis; jy moet jou meervoudige intelligensies inspan.

In plaas daarvan om die hele kaart deur te lees sodat ek dit ná ‘n ruk foutloos kan herroep, moet ek eerder land-vir-land ‘n bietjie gaan oplees op Wikipedia.  Síén hoe lyk die land se mense, wat hulle issues is, wat elke land uniek maak; eie assosiasies vorm met die nuwe kennis, sodat Togo nie net ‘n naam op ‘n kaart vir my is wat ek soms aan verkeerde grense koppel nie, maar dat ek die landsgrense kan inkleur met ‘n volle prentjie van ‘n volwaardige nasie.

So dikwels onderrig ons leerders bloot om feite te herroep in toetssituasies.  Ons moedig dit derhalwe aan.  Maar om dooie landsgrense te memoriseer, is nie lekker nie – dis vervelig; ons maak kinders se natuurlike fassinasie met die wêreld om hulle dood.

* * *

Eers nadat ek saam met ‘n vriend deur die nege provinsies van Suid-Afrika getoer het – en ek die veranderende landskap eerstehands kon ervaar – verstáán ek mynbou en mielies – én gee ek actually om.

Stadig maar seker, is ek besig om my passie vir aardrykskunde te herwin.  Net soos my pamflet van Afrika.