Tag Archives: menswaardig

Ope brief aan die primarius van my oud-James Bond koshuis

Standard

Beste primarius (hoof-studenteleier) van my oud-universiteitskoshuis

Ek skryf jou hierdie ope brief uit deernis en respek vir ‘n plek waarvoor ek baie lief is en was.  In die 1990’s het my oudste broer vir drie jaar daar gebly, en met die oorgang in die nuwe millennium was ek vir sewe jaar daar.  En ná ek uit is, behou ek steeds kontak, ook met die nuwelinge daarso.

Vertrou asseblief dat ek hierdie skrywe goed bedoel.

Hiermee en met ‘n vorige inskrywing wil ek nie afbreek of wegvat nie, maar help voortbeweeg in ‘n rigting waarop ek trots was dat die instelling besig was om in te beweeg, en ek besef moeilik is om in te bestuur.

* * *

Ek het verlede Woensdag weer my oudkoshuis besoek en vlugtig met ‘n spul eerstejaars gesels wat by die trappe in die voorportaal kordaat gestaan en wag het vir ‘n ene huiskomiteelid, meneer Punt.

Die tien of so volwassenes was vriendelik en ontspanne en het my en my monitorsvriend (ook ‘n oud-koshuisman) beleefd gegroet en oop en gemoedelik met ons gesels.  (Verby en vergete was die onsekerheid van vroeër die week.)

Hulle was trots op hulle Huis.

Gevra hoeveel uit tien hulle gee vir die verwelkomingsweek wat hulle beleef het (oftewel besig was om te beleef), het sommige gesê 8 uit 10, ander 10 uit 10, en drie van hulle 12 uit 10.  Dus uiters suksesvol.

* * *

Hoe meet ‘n mens egter sukses?

Hoe wéét jy wanneer iets kompleks soos ‘n verwelkomingsweek suksesvol afgeloop het?

Watter kriteria gebruik jy?  En hoe méét jy of dit bereik is?

* * *

In die ou sisteem waar eerstejaars geïntimideer is, was dit maklik om sukses te meet.  Jou eerstejaarsgroep moes ja en amen sê op als wat ‘n senior beveel.

Ek onthou ons het ‘n kalant, Peet Mocke, gehad in 2001: ‘n tawwe, hardebaard plaasjaap en rugbyspeler van formaat.  Ons prim het hom geïdentifiseer as die enkeling wat die aanduiding moes wees vir die res.  As die Huiskomitee hóm kon breek (psigies knak), dan het ons geweet ons het die eerstejaarsgroep waar ons hulle wou hê.

Op dag vier het Peet se skouers gesak, en het ons die eerstejaars vir die eerste keer begin opbou.  (Dit was maklik om met moeë manne te werk.)

* * *

Ná ons hulle opgebou het, was die indikatore van sukses:

  1. Eerstejaars groet enige en alle seniors flink met ‘n “Goeiemôre/middag/naand, Meneer”
  2. Eerstejaars daag onmiddellik op as die all call hulle roep; of hulle nou stoele moet pak of blommetjies moet vou
  3. Eerstejaars sit op die vloer en voer opdragte van seniors uit as vermaak tydens huisvergaderings
  4. Eerstejaars ken hulle plek; dien nooit mosies in of lewer kritiek/kommentaar of voorstelle nie
  5. Eerstejaars ken al die seniors se name en noem hulle op hulle vanne
  6. Eerstejaars kyk af
  7. Eerstejaars support rugby.  Hulle daag in hulle getalle op, dra hulle koshuishemde en cheer vir die koshuisspan
  8. Eerstejaars vermy senior seksies.  Hulle ken hulle plek
  9. Eerstejaars staan hulle sitplekke aan seniors en Oumanne af.  Asook hulle toast as dit eerste uit die masjien uit pop
  10. Eerstejaars dra die seniors se bagasie in en pak dit vir hulle uit, die dag as hulle aankom

* * *

Met tye wat verander het – jy moet tog instem dat die tydsgees wêreldwyd wesenlik verander het vandat ons koshuis in 1961 gestig is (saam met die republiekwording van ons land)? – is dié maatstawwe, soos gelys hierbo, ongelukkig nooit weer werklik herbedink nie, vermoed ek.

Soos ou nota’s wat jaar op jaar vanaf ‘n vorige kopié afgerol word, met enkele dele geskrap, en hier en daar iets deur ‘n voorganger as kantaantekening aangebring, só herhaal ons geykte tradisies, bietjie leër as vantevore, voort.

* * *

(Kom ek gee jou ‘n voorbeeld van ‘n gewysigde verstaan van die wêreld wat die afgelope eeu verander het, maar ook kwalik in ons onderwysmilieu vernuwe word – die verstaan van hoe kennis verwerf word:

Sowat 100 jaar gelede het onderwysers geglo alle kennis en feite is objektief en kan met herhaling en memorisering by leerders vasgelê word.  Sê vir graad 1 leerders die aarde is rond, toets in ‘n klastoetsie of hulle dit kan herhaal en dán het leer plaasgevind.

Intussen het neurologiese navorsing vasgestel (en verklaar leerteorieë) dat leerders kennis konstrueer; dat kennis ‘n subjektiewe maaksel is wat nie altyd met ‘n toetsvraag gemeet kan word nie.  Vra vir ‘n graad 1 leerder of die aarde rond is, en hy antwoord “ja”.  Vra hom wat hy daarvan verstaan, en hy teken vir jou ‘n plat sirkel: die aarde is rond, ja, maar steeds plat: nie sferies soos die onderwyser gedog het hy leer hulle nie.

Vanuit die konstruktivistiese leerteorieë word daar dus gepostuleer dat lesings nie die beste onderrigmetodiek nie, maar eerder taakgerigte opdragte waar leerders in groepe die kennis wat hulle konstrueer, met mekaar onderhandel.

Tog sukkel ons onderwysstelsel om by dié verwikkelinge aan te pas.)

* * *

Vanaf 1961 tot nou – wat het verander?

Hoe verskil die eerstejaarsgroep van 1961 (waarvan baie eers ‘n draai in die weermag gemaak het) van die millenniër-generasie tans?

En hoe pas jy dít wat jy doen aan, sodat hulle soortgelyke uitkomste behaal?

En watter uitkomste is vir vandag se tyd nie meer relevant nie?

Kyk, baie van dít wat hulle toe wou bereik, was heel heilsaam, maar baie wat eerstejaars tóé geleer het, was ook net vir daardie tydsgees belangrik.

Dis nie vreemd dat ons koshuis haarself geposisioneer het om manne van “karakter, styl en trots” op te lewer nie, dink maar aan hoe gewild Sean Connery was as James Bond in Dr. No (1962),  From Russia with Love (1963), Goldfinger (1964), Thunderball (1965), You only live twice (1967), Diamonds are forever (1971) en Never say Never again (1983).

Om ‘n geheime agent te wees, vir volk en vaderland, sauve in ‘n militante land – dit was die ideaal vir ‘n geleerde, blanke jongman: ons vir jou, Suid-Afrika.

Die onderliggende waarde wat die studenteleiers tóé aan eerstejaars wou onderrig, was dalk eintlik maar bloot hoe om cool te wees.  Hoe om seepglad te skakel met meisies, om galant ‘n deur oop te swaai en aan die verkeer-kant van die sypaadjie langs haar te stap.  Om dagdrag te dra.  Om in verskeie tale te kan groet.

Baie van James Bond-wees is deesdae steeds cool – daarom dat so baie van dié dingetjies heel suksesvol steeds aan eerstejaars oorgedra kan word.  Tog sal ons ook vind dat fynere etiketreëls weggeval het: niemand vertel meer vir eerstejaars wat die verskil tussen ‘n dag- en ‘n nag-das is nie.  (Tereg so, omdat niemand meer das dra nie.)

* * *

Maar wat presies het als verander vanaf 1961 tot nou?  Julle kan self ‘n vollediger lys maak, maar ‘n paar ooglopende dinge is:

  • Die magstrukture is minder militant, oftewel meer demokraties as vroeër: eendragtelikheid het plek gemaak vir verskeidenheid, of soos ons landsleuse sê: Eenheid deur diversiteit
  • Individuele outonomiteit en menseregte word voorop gestel, skaaptrop-denke en broederbonde is uit
  • Skeppende, kritiese denke word van afgestudeerdes verwag, nie memoriseringsvermoë of vakmanskap nie
  • Waar jy ten alle koste ekonomies ingestel moes wees, moet jy nou ekologiese visie hê

* * *

Wat het dieselfde gebly?  Ook hieroor sou julle kon beraadslag en ‘n lys opstel:

  • ‘n Universiteitskoshuis is steeds ‘n tydelike tuiste vir ‘n klomp jongmense wat uiteenlopende grade wil vang
  • Julle wil steeds saam studentepret hê, mekaar leer ken (oor die jaargrense heen) en lewenslange vriende maak
  • ‘n Universiteitskoshuis was destyds ‘n plek van gesprek en debat oor die toekoms van ‘n turbulente land
  • ‘n Universiteitskoshuis is steeds ‘n plek waar jongmense groot drome droom, met idealisme en hoop handel en ná ‘n paar jaar as volwassenes uitstap

* * *

Julle eerstejaars het goed gevaar op die ou kriteria.  Soos soldaatjies het hulle op aandag gewag vir Meneer Punt.

Wat die eerstejaars nie kon doen nie, was om my gemaklik op my naam te noem.  Hulle het my ge-meneer ten spyte daarvan dat ek myself voorgestel het.  Hulle kon kwalik krities wees oor die week wat hulle beleef het.

Ná ek hulle gegroet het, staan die soldaatjies steeds kordaat in die voorportaal en wag op Meneer Punt wat van bo-af uit een van die verbode senior seksies moet verskyn.

Ek het sekerlik vir sowat 25 minute met hulle gesels, reken ek, toe ek en die monitorvriend (vir wie ek daai aand taxi moes speel) by die kar inklim.

Soos ek uitry, merk ek op dat ‘n bebaarde Meneer Punt op die grasvlakte van die koshuis besig is om die Vensters-verhoog aanmekaar te timmer.

Die groepie by die voordeur sou dus nog ‘n ruk lank moes wag.

* * *

Om verstaanbare redes eis die universiteitsbestuur al die afgelope dekade dat alle huiskomitees die nuweling-eerstejaars vriendelik, gasvry en menswaardig ontvang en by die grotere instansie verwelkom.

Wat die studenteleiers nie noodwendig besef nie, vermoed ek, is dat ons desnoods ander uitkomste ook moet stel – en nuwe sukses-indikatore moet uitwerk waaraan ons kan meet of dít wat ons nou doen, die gewensde uitwerkinge het.

Andersins meet ons steeds of ons met glimlagte soldate kan aflewer…

* * *

Hm.  Watter indikatore behoort jy daar te stel as jy vrydenkende individue wil aflewer?  En hoe meet jy dit?  Hoe meet jy gees en deelname – en wie moet jy meet?

Die getal eerstejaars wat aanvanklik vrywillig langs die rugbyveld staan – of eerder die mate waarin die ondersteuning vrywillig toeneem?  Of hoeveel ondersteuners ook vir die hokkiespanne cheer?

* * *

Nog ‘n vraag: Hoe meet jy die sukses van ‘n huiskomiteelid in die nuwe bestel?

Vantevore moes hy intimiderend wees, kwaai, professioneel, georden.

* * *

Beste primarius van my oudkoshuis

Ek het nie die antwoorde nie – ek kan bloot met jou deel watter vrae ek vermoed ons moet beginne vra.  Dat dít die gesprekke is wat ons as studenteleiers met mekaar moet begin voer.

Dat, in plaas daarvan om die eerstejaars in drie rye te laat staan, julle dalk eerder in kleiner groepe met hulle oor “karakter”, “styl”, “trots”, “wasmasjiene”, “finansies”, “universiteitslewe teenoor skool” en “gees en deelname” moet praat.

Eerder as wat twee dooplieutenante heen-en-weer marsjeer en leë begrippe die lug inslinger, vir hulle betekenis kontekstualiseer deur te sit en gesels oor die karakter wat dit vat om ná ‘n heelaand se vlotbou steeds voluit te gaan blikskud en vrolik-wees.

Dat julle, in plaas daarvan om ‘n komitee aan die werk te steek om trollies te versier sodat dit JOOLpunte wen, die inisiatief oorgee aan die eerstejaars: gee hulle die rou materiale en die JOOLkriteria – laat hulle sélf iets kan skep.

* * *

Beste primarius

Wat ek albei kere gesien het toe ek by julle kom inloer het, is hoogs gespanne huiskomiteelede.

Ek dink dis omdat julle die onmoontlike probeer vermag.

My pleidooi is dat julle sal ontspan – en as koshuis herbesin oor wat dit is om ‘n studenteleier te wees.  En herbesin hoe ‘n mens met jong volwassenes moet omgaan.  Hoekom julle hulle voordeurdiens laat doen.

* * *

Jammer vir dié lang brief, but I didn’t have time to write a shorter one (Mark Twain).

Ek hoop julle sal kan vermag wat ons in my finale jare in die koshuis, om teekan, aan die gang gepraat het: dat ons kritiese denkers wil kweek: eerstejaars wat voel hulle kan mosies indien by ‘n huisvergadering – sonder die spanning en eise wat ‘n magshiërargie stel.

* * *

Ek hoop nie jy beleef hierdie ope brief as ‘n aanklag teen jou gesag of leierskap nie, want dit is geensins hoe ek dit bedoel nie.  Inteendeel, ek verstaan die sistemiese druk wat van alle kante af op ‘n huiskomitee inspeel.

Met my eie wyk se huiskomitee sien ek hoe onvoorbereid hulle is op die produkte van hulle amper-vriendelike verwelkomingsprogram.

Ek hoop jy sien hierdie lang inskrywing vir dít wat dit is: as ‘n oorwoë buite-opinie – en ‘n uitnodiging om saam vorentoe hieroor na te dink; as ‘n gesprek wat wag om te begin.

In verbondenheid

Mnr. Müller André

Want die ronding van haar skouers was verswelg deur ’n hoekige HK-baadjie

Standard

Ek het eergister Academia se primaria liederlik ontstel.

* * *

Só het Academia ook deesdae ‘n huiskomitee, neem aan JOOL deel, en nóém hulle hulleself ‘n koshuis.  (Inderwaarheid  is dit ‘n woonstelblok-ontwikkeling langs die ingenieursgebou wat privaatverblyf vir sowat 600 studente bied.)

As ek daar gebly het, sou ek my eerder roem op wat die plek werklik is: nie ‘n koshuis nie, maar gerieflik-op-kampus privaatverblyf waar jy met ‘n pel in ‘n woonstel kan bly en die volgende fase van volwassenheid saam deurleef.  Waar jy kan kies hoe en wanneer jy kan kom en gaan, en waaraan jy als wil deelneem.  Dis definitief ‘n alternatief tot normale koshuis- of private huisvesting wat sy eie voordele bied.

Maar dis nie hoe hulle huiskomitee dit sien nie; hulle ís ‘n koshuis en basta!

* * *

Nietemin, dit was als my kollega se skuld.  Hy’t gevra dat ek saamgaan, volwetend dat takt nie een van my sterkpunte is nie.

Daar gekom, sit al die nuweling-eerstejaars in ‘n groot markiestent en luister hoe die huiskomitee met hulle praat.  Toe ek binne hoorafstand is, kom hulle primaria sopas aan die woord:  haar ligte somersrok belas met ‘n swaar HK-baadjie.

Sy praat.  Afkeurend.

Dan venynig.  Bitsend.  Sarkasties.

Vir ‘n oomblik verwonder ek my aan hoe onvriendelik sy is. Helder oordag. Ek verwag dat sy binnekort dubbeld gaan vou en histeries lag; haar show ontbloot vir die grap wat dit is.  Maar sy doen nie.

Die toehoorders sit met skouers omlaag en oë dwalend.  Moeg.

Dan kry die eerstejaars ‘n finale aanmaning en ‘n opdrag wat hulle luidkeels herhaal.  Toe hulle opstaan, word daar gegil dat niemand gesê het hulle mag maar opstaan nie.  Almal wag. Tot sy. Uiteindelik. Hulle verdaag.

* * *

Ek kyk nog die prim ongelowig agterna toe twee breë glimlagte kordaat voor my kom staan: twee surfer kiddies vir wie ek, toe hulle graadnege was, vier jaar terug, skoolgehou het.  Hulle is bruingebrand en in my Facebook feeds het ek gesien watse jolly matriekvakansie gettogethers hulle gehad het.  Inderdaad jong volwassenes.

Ek merk op aan hulle glimlagte dat dit die enigste tande is wat ek in die hele omtrek sien.  Almal anders se mondhoeke is stram; mense mompel sag, huiskomiteelede frons vanaf hulle podium.  Oë gluur agter weerkaatsende lense.

Met ‘n paar sekuur-geplaasde vrae aan die twee oudleerders, bepaal ek gou dat dít wat ek sopas gesien het, aan die orde van die dag is.  Kortom, in hulle eie woorde: “Die verwelkoming is crap.” (Aldus twee kommerlose stadsjapies wat gedink het hulle huur ‘n woonstel waar hulle jong volwassenes kan wees.)

Toe my vrolike vriende opmerk dat my saamnooiende kollega die primaria nader wuif, groet hulle my versigtig en vlug met bukkende skouers by die tentflap uit.

* * *

Enters the prim.

* * *

Formeel groet sy my kollega, maar ek kry die eerste woorde in: “Jy was mooi vriendelik en gasvry sopas met die eerstejaars?”

Sy skuif haar brilraam haaks, kyk na my, onseker hoe om te reageer, en kyk vraend na my kollega.  Hy stel ons voor.

“Ek het gehou van hoe opbouend jy is met die eerstejaars; regtig inspirerend,” groet ek verder.  “Jy kan sommer die positiewe energie in die tent aanvoel, hoor!”

Sy snap die sarkasme en verweer met ‘n verduideliking wat sy verskonend aanbied.

My kollega bly tjoepstil en luister gul.  (Dit is immers hoekom hy my saamgenooi het.)

* * *

Die gesprek stuur ewe sinies, klinies en sarkasties voort.

Sy regverdig haar aksies, maar elke keer as sy na die “children” of haar “first years” verwys, swaai ek haar woorde om en vervang dit met “jong volwassenes” – dan klink haar verduidelikings bra belaglik.

* * *

Ná ‘n ruk, stop ek en verduidelik die oorkoepelende ironie waarmee ek besig is: Die sarkasme wat ek aspris meerderwaardig aan haar opdis – is soortgelyk aan die styl en toon waarin sy as primaria sopas met die nuwelinge gekommunikeer het. Ek vra haar hoe dit voel.

Die woede, veragting en moedeloosheid wat by haar opwel, is soortgelyk aan die emosionele respons wat dit by die eerstejaars veroorsaak.  Is dít haar doel?  Om die eerstejaars netso verkeerd en magteloos te laat voel?  Sou sy nie ‘n vriendeliker, gemoedeliker gesprek wou hê nie?

* * *

Vir ‘n rukkie bly sy stil, maar bied vir oulaas ‘n laaste argument: “Sy dóén haar werk,” sê sy, en begin alles te lys wat sy en haar huiskomitee in die paar dae alreeds vermag het.

Sy verwyt my.

Ek stop haar.

Met veel gesag en geen genade berispe ek: “I never said you are not doing your job…”

Sy sug, effens verlig, skielik kwesbaarder as vroeër.

“…I am saying that you are doing your job …badly.”

Toe gaap haar saamgeperste lippe vir die eerste keer effens oop.

En sonder verdere woordewisseling stap sy weg.

* * *

My oë volg haar soos sy spoedstap na die HK-kantoor toe (die naaste ontsnappingsweg): die ronding van haar skouers welliswaar deur haar baadjie verswelg, maar ek kon tog sien, toe sy die deur oopsluit, hoe haar skouers beginne ruk.

Vir ‘n oomblik was Academia se primaria weer ‘n eerstejaar.

* * *

En dit was maar crap.

In die aande het ’n kaalkop-bebaarde senior met ’n piksteel deur die gange gestap

Standard

Toe ek as eerstejaar by my universiteitskoshuis aangekom het, is my ouers met gul glimlagte begroet deur skyn-vriendelike huiskomiteelede (dertien verkose inwoners van die koshuis, meestal derde- en vierdejaars).

Diegene wat kon, het baarde oor die Desember-vakansie gegroei.  En die oomblik toe die ouers weg is, het hulle in nors karakters verander wat die eerstejaars laat afkyk, rondmasjeer en vir lang ure in die son staan.

Ons moes elke HK-lid “Meneer” noem, met ‘n rympie wat soms gegroei het tot “Meneer Gees-en-Deelname Van den Bergh” of “Meneer Beheer, Ons Onderprimarius, Meneer Olivier”, ens.  Ons is op ons beurt afgejak as “jarre” en moes onsinnige takies verrig tot die HK se plesier.

Soos die oriënteringsweek verbygesloer het, het die HK ons emosioneel en fisies afgebreek en strategies dag-vir-dag weer psigies opgebou.  Lateraan het die eerstejaars perfek geslow-march oor die quad en netjies in gelid gemasjeer en luid geroep “Alles vir die Huis” terwyl ons met ons vuiste teen ons borskaste slaan.

Daar is geskakel met die een vrouekoshuis ná die ander, in ‘n haarfyn-uitgewerkte program waarvan die jarre net-net betyds ingelig is om betyds te kon spoedstap na die volgende ontmoetingsplek wat uitgestip was.  Ons het danspassies en krete geoefen vir JOOL-aktiwiteite; ons het langs die atletiekbaan en swembad geskree.  Trots.

In die aande het ‘n kaalkop-bebaarde senior met ‘n piksteel deur die gange gestap.  Op die boonste vloer het hulle groot klippe gerol wat druisend weergalm het bo ons koppe.  Ons moes met oop deure slaap en in koue water stort.  Elke dag “dagdrag” dra: langbroeke en netjiese hemde in ‘n snikhete son.  Die gange het geruik na stink sokkies.

Heen-en-weer het twee dooplieutenante geloop en vir ure aaneen geprewel dat ons “karakter, styl en trots” moes hê.  Dat ons die gentlemen-koshuis is.  Hoe die wasmasjiene werk.  Refreine wat herhaal terwyl die eerstejaars moeg afkyk.  Nou-en-dan het iemand flou geval van die hitte.

Toe die seniors terugkom, het hulle geskree: “Jar, jou lewer is myne!”

* * *

Die jaar daarop is ek self as HK-lid verkies; my hare is afgeskeer – en op die laaste dag van die HK-kamp het die prim en onderprim die res van die huiskomitee ingelyf: klere uitgetrek, met visaas bestrooi, knoffel laat eet, op ‘n verlate parkeerterrein afgelaai, met duct tape vasgebind aan mekaar, twaalf houe elk met ‘n stuk pyp toegedien, en in die yskoue reën gelos.

In die donker het ons terug gestrompel, met stroop klewend tussen ons bene, en eiers, meel, aas en modder oor ons lywe.

Karakter, styl en kots.

* * *

Die jaar daarop was ek weer in die HK, saam met drie behoudende oud-HK-lede wat besluit het dié HK-inlywing moes voort.  Teësinnig staan ek toe met ‘n tuinslangpyp voor bukkende, vuilgesmeerde HK-lede.  Waansin.

* * *

Eers in my derde termyn kon ek dié onsinnigheid stopsit – en heel naweek oop en gemoedelik met die nuwe HK-lede kamp, sonder intimidasie of magspel.  Ons het die junior HK-lede gelykwaardig behandel.  Ons was vriendelik.

Vir die eerstejaars het ons op die naam begin noem; hulle welkom laat voel, laat sit in die skadu op die gras terwyl ons hulle staaltjies vertel en aanmoedig om mekaar uit te daag en vir mekaar om te gee.

Met opset het ons die doopkaptein-idee laat vaar – en elke aspek wat herinner het aan weermagpraktyke geskrap.

* * *

Want, het ek gereken: ons wil nie fikse enersdenkende soldate of flukse onbevraagtekende slawe oplei nie, maar kritiese, kreatiewe individue by ons koshuis verwelkom – wat hulle sê kan sê en inisiatief kan neem.

* * *

Ek onthou ‘n mede-HK-lid van my eerste termyn wat my berispe het: Moenie vriende maak met die jarre nie, ou – hulle is nie ons speelmaats nie.  Hulle gaan oor jou lóóp.

Hulle het nie.

Inteendeel, die eerstejaars vir wie ons vriendelik en gasvry ontvang het, en medemenslik behandel het – hulle het veel langer in die koshuis gebly, méér vir kampus gedoen en beter vriende van my geword as diegene wat moes afkyk terwyl ‘n HK-lid met hulle praat.

Waar my mede-HK-lede “jarre met kersgat houdings” gesien het, het ek ons toekomstige kampusleiers gesien.

* * *

“Ons wil nie die beste koshuis op kampus wees nie,” het die HK begin sê, “maar die beste koshuis vir kampus”.

* * *

Gister het ek weer ingeloer by my oudkoshuis.

Die eerstejaars wat leiers geword het, is nou uit.  Dis reeds drie generasies later.

Die jarre staan weer in drie rye, roep luidkeels “Meneer dit en dat” vir elke senior wat verbykom; die HK-lede is bebaard en glimlag nie.

Die eerstejaars lyk onseker en loer af ondertoe, hulle langmouklere natgesweet.

* * *

Ons is terug in die 1990’s, dink ek.

En sug.