Tag Archives: reën

as die reën inspireer en weer verweer

Standard

Dit blits en donder. ‘n Vriendin in die Strand pos ‘n haiku op haar facebook-voorstoep. Dit vang die weer se wanklanke vas:

bliksemstrale skiet
seemeeue in fladdervlug
donderweer sidder

>>

Traag en lui sit ek elders in ‘n dorp vol verroeste blare en verstopte riole, ‘n ent weg van die see. Ek dink my die krysende seemeeue in en sien die wolkmassa opbou oor die gryse grou. Van my vriendin se stoep sak die reën in vlae oor die swart pad.

reën dreun neer
in klakkelose weersin
op tere gemoed

my haiku eggo
soos ’n hond se blaf. die wind
’n besem oor die sand

daar waar die stoep nat
en die wolke dig is hier
sweef die eggo’s nou

hoor hoe skreeu die meeu
luister: jy hoor haar verlangs
krys: ’n oop gebed

die lug hang swanger
swaar die grys, die krys
die pryssang en lof

tog verdof die glim
die rante van die wolke
versomber tot swart

en lig flits soos pyn
’n oopgevlekte leuen
soos die water breek

Heel gelate terwyl dit buite giet

Standard

Gister reën dit heeldag:

Heel gelate hou ek sabbat onder my dubbeldoordonskombers tot laatoggend, staan gekamerjas op vir brunch, snoes terug tot vroegskemer, pantoffelstap kombuis toe vir ‘n aandetetjie of tee, span ‘n ruk uit voor die TV en kruip luiwarm terug onder my komberse in voor tien, ná ‘n stomende skuimbad.

Salig sou ‘n mens dink.

Maar die reën dreun aanhoudend.  In Xhosa is daar ‘n beter woord, kanabom, soos in: Imvula iyana kanabom.  [Die reën reën onophoudelik.]  Kanabom.  Hoor jy die hael teen ‘n sinkplaatdak?

Onrustig rol ek om in my helwarm bed.  Die reën hou nie op nie, skep nie asem nie, fel bloot voort.  Kanabom.  Elders klou rageltjies styf teen mekaar vir ‘n bietjie liggaamshitte.  Die water lê enkelhoog in shacks.  As die imvula (afgelei van -vula [oopmaak], soos die sluise van die hemel) maar net kan bedaar; rustig kan stuif en dan met net ‘n laaste plomp druppel plotselings kan stop!

Maar nee, gisteraand reën dit.

Heelnag.

Kanabom.