Tag Archives: see

Die pa wys na my en sê: “Kyk die snaakse oom! Kyk, hy is ook bang vir die water.”

Standaard

Ek dink om ‘n goeie onderwyser te wees, moet jy kan connect met ‘n kind op sy/haar vlak.

So stap ek nog op die strand, moeg en warm van balgooi vir ‘n paaltjiewagterknaap, verby ‘n pa met ‘n peuter wat skree.  Hy probeer sy bes.  Paai sy dogtertjie wat om die dood toe nie met haar voete aan die watermassa wil raak nie.

Laat los hy; laat spaander sy: hulle mossel aan mekaar vas.

Ek kyk en besluit hier moet ek help!

* * *

Stadig sluipvoet ek oordrewe nader aan die terugtrekkende brander, sodat sy nie anders kan as om na my te kyk nie.

Nes die volgende brandertjie beginne breek, draai ek beangs om en hardloop met slow motion trekke op my gesig wég van die dreigende gevaar!

Die dogtertjie lag!

Ek frons en loer wantrouig die brander agterna.  Sy kyk hom ook, stip.

Soos die skuimerige waterslym slu terugtrek, mimiekvoet ek wéér sluip-sluip agterna, nuuskierig…

Maar die oomblik toe die volgende spoegbrander breek, rukbewe ek, vries verskrik botstil – en draai weer volspoed bitterstadig om, met hoë knieë en bang treë stadig volspoed sagtesand se kant toe.  Sjoe!

Die dogtertjie skater!

Reg, ek het geconnect.  Nou vir die les.

Ek frommel my gesig in ‘n duisend plooie.  Asem ‘n mond vol Wolraad Woltemade in.  Stap met reghoekige elmboë swaaiend bo my ken.  Dawerend die noodlot trompop tegemoet!  Basta met bangwees!

Dapper kyk sy agterna hoe ek dapper haar vrees invaar, en klou dapper aan haar dapper pappa se hand.

Haar pa hou sy asem op.

Sy kyk my na.

Selfs omstanders staan stil.

En soos die witskuim rol, draai ek amper-amper om – ek weet sy weet ek wil weg, maar ek weet sy weet ek moet in – en wrik waagmoedig terug.  (Pot)sierlik – net-net vroegbetyds enkelhoog op SPRING ek – met ‘n glimlag breed soos dié van ‘n nar – …en land pabloems! in die water, mond waterwyd oop!

Sy is verstom!

En tóé begin ek dáns soos ‘n watermakranka en spat-spot rond-en-grond in die water.  Haai, haai, joegaai!  Luidrugtig gaan ek tekere sonder om ‘n klank te maak. 

Sy is oorstelp!  In haar -g-a-n-s-e- lewe het sy nog nooit so iets gesien nie.  Maar die punt is, sy glo die leuen.  Sy glo die les.  Van oor-tot-oor glo sy my.  As hierdie snaakse omie kan…

Ek glimlag breed en groet gul, sonder ‘n woord.

* * *

En ná ‘n paar treë se aanstap, netmooi ver genoeg dat ek weet hulle my nie meer sou nástaar nie, loerkyk ek vir ‘n oomblik om:

Die krulletjieskopkind los haar pa se hand…  beur braaf-braaf branders toe… en spring pabloems! die bangmaakwater plat!

Pappa voel-soek in sy sakke, kry sy selfoon en neem ‘n klinkklare kiekie van sy klein waternimf: hoe sy verspot, met hoë harlekynknieë, in die water dans!

Hy skud sy kop.

Sy lag.

En ek stap rustig aan.

Advertisements

Op voetsoolvlak sonder ’n taal met ’n krieketbal in die wolke

Standaard

Sondag in die natsand wandel ek toe voetsoolvlak langs die see. Alleen tussen skares strandsambreel-baaikostuum mense.

Begin somer.

Ek mis ‘n tennisbal in my hand en my ouer broers en suster hardlopend op die strand. Só sou ons balgooi en -vang en aspris-aspris mekaar injaag met tergende gooie kniedieper die see in. Destyds.

Sug. En dis hoeka laaggety: Hardloopspasie so wyd soos ‘n kind se bravade.

* * *

Maar toe, terwyl ek nog terugverlang, en asof in ‘n droom, stap ek wragtig verby ‘n kind met wicket keeping gloves aan en twee dieprooi krieketballe! EN niemand om dit vir hom te gooi nie!

Die kind is raadop, maar ek is voorop en skimp-wink vir ‘n bal; hy gee albei. Ek draai na sy ma en hou ‘n bal vraend in die lug; sy knik, al te verlig.  (Sy speel met twee jonger kinders in die vlak water.  Pa dobber in die diepsee.)

En só begin dit toe!

Ek beduie bietjie terug; hy draf agtertoe. Ek wys opwaarts; hy knak sy knieë. Ek slinger die bal met ‘n boog in die lug, en hy steier flink en doelgerig terug.

So hoog het hy waarskynlik nog nooit ‘n bal moes vang nie – onthou, ek het ‘n goed-geoefende rocket launch aksie.  Die rooi spikkel verdwyn oor ‘n seemeeu se rug bokant die son en val soos ‘n meteoriet vuurwarm uit die hemellug.

Sy oë op die bal; my oë op sy hande. Vasgenael. Kaplaks!

Ek klap my hande gelukwensend; hy glimlag breed en rol die bal terug. Skud sy hande.

Heen en weer hardloop hy; sy ma loer soms om en cheer hom aan as hy naby kom. Dán ‘n paar vinnige inskieters wat – ek weet – selfs deur die handskoene brand, gevolg deur ‘n paar hoë catches, en ene waarvoor jy moet omdraai, hardloop en oor jou kop moet vang; dan op die sagte sand sodat jy kan duik.

Uiteindelik groet ons; albei glimlaggend moeg.

En sonder ‘n enkele woord gewissel, sê ons totsiens.

Aandadig tot ‘n gedig

Standaard

Paarrym is maklik: die twee versreëls se eindwoorde moet rym.  Dit raak briljant as die een reël in die volgende reël inloop (as die versreëls enjambeer), d.w.s. as die ritme van die versreël nie soos ‘n stelsin elke keer by die rymwoord eindig nie – maar oorvloei tot die volgende reël.

Help my asb om die volgende gedig verder te voer deur elke keer twee reëls in paarrym by te voeg.

Kom ons hou dit maklik: die tema is die volslae geluksaligheid van die liefde en die lewe; die metafoor (beeld) bou ons rondom die see

Laat ons voorlopig die gedig  Gety-dig  noem sodat ons speel met die gedagtes van hoog- en laaggety, dig, gelyktydig dig, ens.

Kom ons lys ‘n paar rare see-woorde en -beelde en kyk of ons dit kan inwerk by die paarrym gedig:  branding = die seeskuim bo ‘n brekende brander;  skulp;  laaggety rotspoeletjies;  sandspore;  saam met iemand hand-om-die-lyf stap;  son;  hooggety;  surfers;  kindertjies;  sandkastele;  helder emmertjies;  strandsambrele;  sonbrille.

Lys gerus nog woorde/beelde, of voeg twee of vier reëls by tot die gedig…  Ek sal begin:

Gety-dig

in jou oë kaats die branding
van ons saamwees en ek sing
ob-la-di, ob-la-da
maar jy is al klaar
koud van die enkeldiep water

in die rotspoel waar ons later
gevaarlik sal rus
in die aandlig my kus
wat teen die kuslyn van jou nek
opwaarts sal strek
tot die skulp van jou oor

So, jou volgende versreël moet eindig met ‘n -oor… probeer dalk sommer ‘n hele strofe aanpak!  Kyk of jy dubbel-betekenisse (soos “kuslyn”) kan inspan.  Sterkte!

(O wee, waarheen sal die gety dié gedig ontydig heen spoel/smee?)