Tag Archives: sin

Life Skills #10 – wat jy wil word as jy eendag groot is

Standaard

Die nuwe matriekvak, Lewensoriëntering, het vier hooftemas waarvolgens die lesse aangebied word.  Sover het ek in my bloglesse hoofsaaklik gefokus op die eerste tema, Persoonlike Welsyn, en het ek gepraat oor leefstylkwessies van hedendaagse skoolleerders: hoe jy sosiaal rook, jouself nie moertoe drink nie, in matigheid vloek, en verantwoordelik vry.

Die laaste twee lesse was oor integriteit en onafhanklikheid.

Die voorafgaande lesse lei my na vandag se onderwerp oor Beroepsvoorligting:  Wat wil jy word as jy eendag groot is?

Dis eintlik ironies dat ek enigsins hierdie onderwerp aanpak, want self het ek nie ‘n clue wat ek eendag wil word wanneer ek groot is nie (en ek is nou al vinnig op pad 30 toe).

Tog weet ek hoe dit is om te sukkel met dié vraag, en in my worsteling, het ek al hoe méér vrae opgespoor wat ek sukkel om te beantwoord:

1.  Wat is my pokèmon specialities?

Ek noem die unieke kombinasie van talente, karaktertrekke en vaardighede: jou pokèmon specialities.  Dit waarin jy regtig goed is.

Vir my is dit makliker om ander se pokèmon specialities raak te sien as my eie, maar gelukkig bestaan daar verskeie psigometriese toetse wat vir jou sê wat jou aanleg, persoonlikheid en vaardighede is.  Die Myers/Briggs-toets onderskei of jy introvert/ekstrovert is, of jy met jou sintuie/intuisie inligting inwin, of jy jou besluite eerder op grond van jou denke/gevoelens maak, en of jy eerder situasies beoordeel/bekyk.

IK-toetse van ouds (wat fokus op linguistiese en wiskundige vaardighede) sal uitwys of jy ‘n rocket scientist kan word of nie.  Bykomend hiertoe kan meervoudige intelligensie-toetse jou help uitpluis wat jou voorkeur-denkstyl is (hoe jy die maklikste inligting aanleer).  Ook is daar linker- en regterbreintoetse.

Anyway, om jou pokèmon specialities agter te kom, is eintlik ‘n lewenslange soektog; dit help om te luister wat toetse, en wat jou ouers en vriende van jou sê, maar op die ou end moet ‘n mens in verskillende werksituasies ook maar agterkom wat jou laat tick en watter goed jy kan regkry waarmee ander mense soms sukkel.

2.  Watter werk sal die meeste fun wees?

Almal hou van ander tipe dinge.  (Vir my is “pret” eintlik overrated.  Ek is nie per se ‘n happy mens nie, so om uit te figure watter werk die meeste fun sal wees, is vir my besonder moeilik.)  Nietemin, ek het oor die jare agtergekom dis vir my lekker om onmiddellik te sien hoe dit wat ek doen ander mense help.  Dis vir my lekker om met jongmense te werk.  Dis vir my fun om mense te help om onmoontlike dinge aan te pak en dit dan amper-amper reg te kry.  Ek geniet dit om gesag uit te daag.  Ek hou van woordspelings, Nederlandse gedigte en spelfoute regmaak.  Ek geniet krieket en tafeltennis en skaak.  So, alhoewel ek nie alles waarvan ek hou in één werk noodwendig sal kan doen nie, is dit tog goed om te weet waarvan ek min/meer hou en watter tipe dinge ek regtig verpes.  Ek haat spitstyd verkeer, so ek sal eerder iewers werk waar ek binne stapafstand kan bly.

3.  Watter werk sal my moerse ryk maak en baie status gee?

Op die ou end werk ‘n mens om geld te kry om van te lewe.  Moenie dit vergeet nie.  Daar is beroepe in die wêreld waarvoor ‘n mens min geld kry, en daar is beroepe in die wêreld waarvoor ‘n mens baie geld kry.  Die doktors, ingenieurs en prokureurs word nou maar as die leiers van die samelewing beskou; die rekenmeesters, ouditeurs en aktuarisse gaan geld maak; dis hoe dit tans is.

Besef dus vooraf dat as jy kies om ‘n swakker-betaalde beroep te kies, jy baie sorgvuldiger moet lewe – veral aanvanklik.  Ongeag watter beroep jy doen – jy moet minder uitgee elke maand as wat jy verdien, jy moet geld spaar en soveel as moontlik belê in bates wat onafhanklik van jou insette, kan groei en vermeerder.

Moenie net op grond van inkomste kies watter beroep om te doen nie, maar as jy twee opsies het, straatveër of onderwyser, kies dan maar eerder die beroep waar jy effens meer geld en aansien gaan verdien (straatveër dus).  En moet jouself nie verknies aan jou tekort aan status nie.  Wat kan jy uit die lewe uit kry?

4.  Watse werk sal my die minste worries en meeste sekerheid gee?

Baie ouens wil weet dat hulle môre en oormôre steeds ‘n inkomste sal hê, ongeag van wat gebeur.  Sulke ouens sal dalk nie vir ‘n upstart-onderneming wil werk nie, maar eerder vir ‘n groot, gevestigde maatskappy met ‘n mediese fonds en ‘n aftreeplan.  Hierdie voorkeure sal ook verander hoe ouer jy word; aanvanklik kan jy dit moontlik bekostig om ‘n hoë-risiko beroep te betree, maar namate jy meer afhanklikes (soos kinders) het, sal jy dalk voel jy moet meer stabiliteit en sekerheid in jou beroepslewe hê.

5.  In watter job sal ek voel asof ek iets rêrig betekenisvoel doen?

Nie alle beroepe laat jou soos ‘n goeie mens voel nie.  Selfs nie eens ‘n doktor wat by die noodeenheid werk, voel elke dag asof sy/haar werk nuttig is nie (dis maar lastig om dieselfde meswond-pasiënt elke tweede week toe te werk).  Dalk vind jy dit nuttig om by ‘n koerant te werk – maar vir iemand anders kan dit totaal onsinnig wees om hom/haarself af te sloof vir ‘n publikasie wat slegs vir een dag gelees word.  Wat is vir jou sinvol om te doen?  Wat kan jy heeldag doen, sonder om moeg te word?  Wat laat tyd vir jou verbygaan sonder dat jy honger word?  Wat kan jy tot die lewe voeg?

6.  Watter tipe werk sal my die meeste vrye tyd gee?

Dalk is jy een van daai ouens wat net wil werk en bloot belangstel in status en mag.  Dis great, dan is vrye tyd nie noodwendig vir jou so belangrik nie.  Andersins, miskien is jy regtig iemand wat hou van movies kyk en kuier met vriende en eendag nie oor naweke wil werk nie, want jy sal dan eerder monopoly met jou kinders wil speel.  Gaaf – oorweeg dan eerder beroepe met vaste werksdagure en geen verpligtinge oor naweke nie.  Dalk wil jy vir ‘n ruk lank baie hard werk sodat jy vroeg kan aftree.  Probeer uitwerk van watter scenario jy die meeste van hou.

Wat wil jy word as jy eendag groot is?

Op dié vraag het ek self nog geen antwoord nie.  Dalk is dit omdat ek nog nie juis wil groot word nie.  Ek weet nie.  Maar ten spyte van my tekort aan rus of rigting, gun ek myself die tyd en vryheid om stadig deur die bogenoemde ses vrae te werk.

Ek het in graad 10 en op universiteit vakke gekies wat vir my so veel as moontlik opsies oopmaak, juis omdat ek toe nog nie ‘n spesifieke rigting kon vind wat my interesseer nie.

En nou, in die verskillende werksomgewings waarin ek myself bevind, vra ek voortdurend vir myself hierdie vrae hierbo af: is die werk fun, gee dit vir my geld en mag, laat dit my toe om nie te worry nie, het ek genoeg vrye-tyd, en is dit wat ek met my tyd doen sinvol?  So leer ek myself beter ken en kan ek my pokèmon specialities voortdurend slyp om vir myself ‘n prettiger, sinvoller en meer lonende beroep uit te kerf.

Sterkte!

Advertisements

lê die leë spasies nou

Standaard

So, toe het ek Vrydag met my baas koffie gaan drink – op sy aandrang.  Hy het my geprys vir my uitmuntende werk.  (Dié dat ek so lanklaas geblog het…)

En toe voel dit na die regte tyd vir my om hom te sê dat ek wil bedank.  (Dalk vir ‘n rukkie halfdag-werk, maar eindelik wel bedank.)

Die probleem met die werk is dat alles heel goed gaan; ek som verslae op, skryf notules, en ek doen dit goed.

Vandaar die rede dat ek moet bedank.  Dit help tog nie ek’s êrens waar dinge “goed” gaan nie.  Dan raak ‘n mens oorbodig – ek is op soek na ‘n plek waar ek meer “nodig” is – waar wat ek doen, “sin” het…  (of ‘n ruimte waar ek bloot kan skep en onttrek van die wêreld vir ‘n rukkie).

Hm, so what to do, what to do?  What makes a life worth living?

Het die naweek weer stad toe gery en by ‘n vriendin, nog ‘n vriendin, drie oud-kollegas, my ouers en my beste pel gaan kuier.  En twee goeie flieks There will be blood en Juno gekyk.

Hmf.  Die norme van die samelewing walg my ook.  En my vertroue in die bestaan van ‘n groter, edele “doel” is all gone.

So, buiten vir die bestaan van vriende, langnaweke en vakansies – wat doen ons hier op aarde?  Moet ‘n werk/beroep jou definieer?  Moet jy kwansuis ‘n bydrae maak as deel van goeie burgerskap?  Moet jy ‘n derde van elke weeksdag prysgee?  Moet jy smag na hoër aansien?  Trots daai leer klim?  Of bloot voortplant?

Gmpf.  Die see is ‘n ewige eierstok.  Die aarde hopies grond omgedop.  Die hemel ‘n leë eierdop.

Haha, hulle sê “‘n halwe eier is beter as ‘n leë dop…  maar al die halwe eiers wat nog na my kant toe gekom het, was vrot.” 

Enige raad?

Aspris #4 – sinloos vs sinneloos

Standaard

“sinloos” = sonder sin/betekenis.  “sinneloos” = sonder jou sinne/denke.

D.w.s. “sinlose bestaan” = ‘n bestaan sonder betekenis; ‘n doellose bestaan vs. “sinnelose bestaan” = ‘n bestaan sonder denke; ‘n waansinnige bestaan.

In alledaagse gepratery verwar ons soms dié twee woorde/begrippe met mekaar.  Ons sal praat van ‘n “sinnelose gesprek” wanneer ons eintlik ‘n “sinlose gesprek” bedoel.  In werklikheid sal ons dus sê iets was mallerig terwyl ons eintlik bedoel iets was nutteloos.

Sin sonder sinne? 

Vantevore (pre-postmodernisme) het mense aangevoer dat daar “sin” in die lewe is – ‘n universele doel vir mense se bestaan oftewel sin wat aan ons wese-wees gekoppel kan word. 

Deesdae (post-postmodernisme) is daar meer die geneigdheid om ‘n universele “sin” of doel te negeer (te verwerp), maar wel te sê dat elke mens ‘n eie, unieke doel/sin vir sy lewe moet skep.  Volgens ‘n postmodernistiese beskouing (en help my asseblief reg as ek dit te losweg interpreteer) is “sin” ‘n persoonlike konstruk – iets wat sin en waarde aan een mens se bestaan verleen, kan dus nie gecopy en paste word tot ‘n ander individu s’n nie.

(Altemit, dis wat fundamentele kerke met hulle onderskeie dogmas probeer doen?)

In die afwesigheid van ‘n samebindende godsdiens/geloof kan daar egter met moeite na ‘n sinvolle lewe verwys word soos in die ou dae…

D.w.s. die lewe is by verstek sinloos.  Dis ons (lewens)taak om sin tot die lewe te voeg. 

Hm.  Is die verlies aan ‘n duidelike doel nie hartseer nie?  (Al was dit arrogant om dit te wou hê?)

So my vrae vandag is: Is dit sinnevol om sin te soek?  Of is dit geheel en al sinneloos?  Is dit sinvol om jou sinne te gebruik om sin te skep?

Xhosa #2

Standaard

Hierdie blog-les gaan oor sinne-skep in Xhosa (‘n deel van taalkunde wat Sintaksis genoem word).

Elke taal het verskillende tipe sinne:

  1. Bevelsinne    Hamba!    Loop!    Hambani!    Loop, julle!
  2. Stelsinne    Umfundi uyahamba.    Die leerder loop.
  3. Vraagsinne    Umfundi uhamba na?    Loop die leerder?

Al die bogenoemde sinne is in die teenwoordige tyd.

1.  Bevelsinne

As ‘n mens bevelsinne van naderby bekyk, dan sien ‘n mens dat jy – as jy vir een mens ‘n opdrag wil uitroep – bloot die werkwoord netso gebruik:    Baleka!    Hardloop!,  Phila!    Leef!,    Khaba!    Skop!.  Dis maklik.  As die werkwoord net een lettergreep kort is, soos -tya  wat “eet”, of -za wat “kom” beteken, dan gebruik ‘n mens ‘n Yi- vooraan die werkwoord om dit ‘n opdrag te maak:    Yitya!    Eet!

As jy vir meer as een persoon ‘n opdrag uitroep, voeg jy die agtervoegsel -ni wat “julle” beteken, aan:    Balekani!    Hardloop, julle!,    Philani!    Leef, julle!,    Khabani!    Skop, julle!.    Die kort enkellettergrepige werkwoorde, wat ‘n Yi-  vooraan moet kry, se meervoudsvorm werk dieselfde:  Yityani!    Eet, julle!,    Yizani!    Kom, julle!

Stelsinne en vraagsinne behandel ons ‘n volgende keer.

Skryf die volgende bevelsinne in Xhosa:

  1. Leer, julle!
  2. Bestuur!
  3. Kom!
  4. Bestuur, julle!

Watter ander bevelsinne wil jy in Xhosa kan sê?