Tag Archives: Studenteleierskap

Die funksie was ’n “reuse-sukses”

Standard

In HK-portefeuljeverslae lees jy dikwels dat ’n funksie ’n “reuse-sukses” was, sonder dat die aard van die “sukses” of die “gehalte” van die funksie werklik gedefiniëer is of ontleed kon word.

So, dalk moet ons met ’n definisie van “gehalte” begin?

En in plaas daarvan om self ene op te maak, kom ons gebruik ene wat alreeds deur die Hoër Onderwys Gehaltekomitee (HOGK, HEQC in Engels) gebruik word:

The quality assurance framework and criteria of the HEQC are based on a multi-faceted definition of quality viz.:

  • Fitness of purpose based on national goals, priorities and targets.
  • Fitness for purpose in relation to a specified mission within a national framework that encompasses differentiation and diversity.
  • Value for money judged in relation to the full range of higher education purposes set out in the White Paper on Higher Education. Judgements about the effectiveness and efficiency of provision include but are not confined to labour market responsiveness and cost recovery.
  • Transformation, in the sense of developing the capabilities of individual learners for personal enrichment, as well as the requirements of social development and economic and employment growth.

Om HK-portefeuljes aan bogenoemde te meet, het ons nodig om vooraf openlik te stel wat die uitkomste van elke portefeulje is.

Dan kan ons kyk of dit belyn is met die koshuis- en universiteit se visie, en dit in terme van belangrikheid prioritiseer. Alle koshuise en privaatwyke kan en hoef ook nie álles wat doenbaar is, aan te pak nie – en soos wat die geval is met die verskillende tipe universiteite in Suid-Afrika, is dit dalk goed dat ons as omgewings onsself ook differensiëer t.o.v. ons unieke sterkpunte.

En wanneer jy ’n portefeulje bestuur, moet jy jou oog hou op koste-effektiwiteit (hoe om jou komiteelede in te span om hoë-kwaliteit aktiwiteite te reël teen die laagste moontlike onkoste) en transformasie (hoe jy jou komiteelede bemagtig om idees met mekaar te onderhandel en tot uitvoering te bring).

“Transformasie” kort waarskynlik ook ’n definisie, maar vir eers kan ons dalk volstaan by: die vestiging van ’n demokratiese, waardegedrewe kultuur by leef-en-leer gemeenskappe én die aktiewe afbreek van outokratiese magshiërargieë wat maklik vanself ontstaan.

Deel van ’n groter sisteem

Standard

Sodra jy as ’n studenteleier verkies word, is dit belangrik om te besef dat jy deel vorm ’n groter sisteem – ’n komplekse stelsel waarin daar baie rolspelers is. Dit help om te verstaan waarvan jy en jou huiskomitee deel vorm en wat die grotere doele is van universiteite en opvoeding, veral in ’n ontwikkelende land.

Voor jy as HK-lid verkies is, het jy waarskynlik weinig hieroor nagedink. Jou invloedsfeer was beperk tot jou vriendekring en klasmaats wat tot ’n groot mate oombliksmense is: ouens vir wie jy vinnig kan sms as jou sosiale planne verander.

Maar sodra jy deel van ’n grotere sisteem vorm, help dit om kennis te neem van strominge van geld, tyd, denke en energie wat alreeds met groot moeite deur die universiteitsbestuur in spesifieke rigtings gekanaliseer word. Jy moet “die tekens van die tye” kan lees – en jouself met bestaande inisiatiewe probeer belyn.

’n Universiteit is opsigself ’n komplekse organisasie: daar is wysgeërs wat hulle rol só verstaan, as die draers van kennis; akademici streef ’n sekere wetenskaplike ideaal na, maar probeer tog om hulle navorsing so relevant as moontlik te hou; die ondersteunende personeel help dat studente kan registreer, beurse ontvang, in koshuise bly, dat vraestelle afgerol word: die verskillende afdelings by ’n universiteit se doel is om die verrigtinge te stroomlyn en so koste-effektief as moontlik ’n stel dienste aan die personeel en studente te lewer – ’n ge-oliede masjien, met burokratiese prosesse; omdat die universiteit op die voorpunt van kennis is, is daar ook geldmaak-eenhede aan die instelling waar nuwe idees ontgin word vir geld en waar innovasie en ekonomiese spelreëls van toepassing is; inderwaarheid is ’n universiteit wat vir baie van ons as ’n lomp, stadige, statiese organisasie voorkom, konstant besig om te verander en te vernuwe: soms op grond van navorsingsontwikkeling, soms ter wille van koste-effektiwiteit of dienslewering – lees gerus Barnett (2011) se Being a University.

Sodra jy tot ’n studenteleiersposisie verkies word, is jy deel van dié organisasie. Jy kan nie bloot geld uit jou beursie haal en iets aankoop nie; jy moet drie kwotasies kry en ’n rekwisisienommer aanvra. Vir party nuutverkose HK-lede is dié rompslomp net een te veel, maar daar is ook groot voordele aan al die mannekrag en hulpbronne wat beskikbaar is – mits jy nie heeltyd onstrategies, man-alleen stroomop probeer swem nie.

In dié verband dink ek dit kan werklik help om jou rol te verstaan binne die huiskomitee, jou koshuis en die universiteit as leerinstellings (learning organisations), waar jy sistemies oor sake dink, jouself oopstel om nuwe vaardighede aan te leer, jou bestaande denkraamwerke krities bevraagteken, meewerk aan ’n gedeelde visie en gesamentlike leer as HK en koshuis nastreef – lees gerus Senge (1990) se seminale werk The Fifth Discipline – The Art & Practice of The Learning Organisation.

Om jou koshuisleierskapstruktuur as ’n leerinstelling te beskou, vermoed ek, beïnvloed beslis die wyse waarop jy sukses definiëer en die kriteria wat jy gebruik om jou portefeuljes mee te evalueer.

Studenteleierskap: ’n HK-webgids

Standard

In die vroeë 2000’s het ek die idee gekry van ’n HK webgids: ’n wiki- of website vir huiskomitees en studenteleiers om hulle kennis te deel van portefeuljebestuur en algemene leierskap binne ’n studente-opset.

In daardie tyd het my ervaring in ’n koshuis-huiskomitee my daartoe gelei om ’n omvattende onderprim-verslag saam te stel waarin ek ’n oorsig kon gee van al die HK-portefeuljes wat toe in my spesifieke koshuis bestaan het. Ek het vir drie agtereenvolgende termyne in die koshuis se huiskomitee gedien en het begin wonder hoe ’n mens kan weet wanneer een termyn “beter” as ’n vorige een was. Moes jy Karnaval (JOOL) gewen het? Moes jy ’n groter formele dans gereel het as die vorige jaar? Of ’n aanbouïng laat doen het aan die koshuis: geld ingesamel het vir ’n kuierkroeg of plaveisel gelê het onder die bome? Meet jy jou koshuis aan die akademiese sukses van die inwoners of aan hulle deelname, ondersteuning en/of prestasie op die sportveld?

Die verslag wat ek geskryf het, was toegespits slegs op my enkele koshuis se portefeuljes, maar terwyl ek dit geskryf het, het ek besef die inligting se reikwydte wyer kon wees – en dat my verstaan van wat “goeie praktyk” in my koshuis was, deur ander koshuise (ook van ander kampusse) se verslae verryk sou kon word. Ja, nie alle inligting sal van toepassing wees op almal nie: geskikte venues vir ’n formele dans sal afhang van die getal inwoners in jou koshuis, maar idees vir versierings, temas, die program van die aand en ’n standaard t.o.v. stylvolheid sou oral van hulp kon wees … selfs op ’n ander kampus elders in die land.

>>

Nouja, dit is tien jaar later. Op ’n CD het ek darem my onderprim-verslag herontdek, maar sover het geen HK webgids die lig gesien nie. Ek het ’n paar studenteleiers ná my aangepor om in dié rigting te probeer dink, maar soos dit met my ook was, was die termyne te kort en ná die tyd is jou fut ook maar uit.

So, vandag loods ek uiteindelik dié projek. Nie op die mees perfekte platform nie, maar nietemin – ’n blog waar studenteleiers my dalk kan raakgoogle en bydra tot die gesprek. Ek het alreeds sowat 40 inskrywings gemaak oor studenteleierskap in die breë, maar nog nie sistematies deur elke HK-portefeulje gepraat nie. Hiermee probeer ek nie sê dat ek al die antwoorde het nie, maar dalk kan ons sáám ’n basisteks skep vir verdere gidse/handleidings/wiki’s om te volg.

Hoe reël jy ’n “suksesvolle” funksie? Watter kriterira gebruik jy om “sukses” of “gehalte” te meet? Hoe help jy jou studente-omgewing om te transformeer tot ’n gesonde demokratiese gemeenskap? Hoe delegeer jy werk en hoe leer jy om jou tyd effektief te bestuur? Hoe kan jy voorkom om bloot ’n portefeuljebestuurder te wees en waarlik leiding neem onder studente?

Kom ons pak sáám hierdie vrae aan!

leierskap, innovasie en gras

Standard

Tydens ontbyt met ’n kollega gesels ons oor innovasie – ’n woord en daad wat ’n rukkie terug meer in vogue was as tans. “Geleidelike innovasie is maklik,” sê hy, “maar om radikaal te innoveer, glad nie.”

’n Mens kan prosesse yk en verfyn, stroomlyn en gladder olie – maar om radikaal te vernuwe en heeltemal weg te breek van dít wat die norm was, is besonder uitdagend, veral by ’n groot plek waar verskillende afdelings afhanklik is van mekaar.

Hy gebruik ’n goeie voorbeeld van radikale innovasie en vertel van ’n grassnyerfabriek wat jaar in en jaar uit beter grassnyers maak: die lemme raak skerper en elektrisiteitsgebruik effektiewer; die handvatsels duursamer en die beskikbare modelle meer gedifferensiëerd. Geleidelik innoveer hulle dus en word jaar-op-jaar beter, soos wat ’n goeie onderneming betaam.

Maar radikale vernuwing by ’n grassnyfabriek is ’n game changer: dit is as hulle gras begin kweek wat nooit lank word nie; nooit gesny hoef te word nie en vanself kort bly.

(Daar is sekerlik ’n paar ander moontlikhede ook wat kan lei tot relatief drastiese vlakke van vernuwing: nuwe ligter, goedkoper, meer duursame materiaal om grassnyers mee te maak, tegnologie wat die vervaardigingsproses ingrypend verander, of bv. outonome grassnyrobotte wat sonder mense die gras self sny, maar sy voorbeeld van ’n kortgrasvariëteit is nogals kragtig – dit verander die spelreëls vir ’n hele sakesektor.)

Nou hoe nou?

Eerstens is dit nie maklik vir ’n organisasie om voortdurend die grondbeginsels van sy bestaan te bevraagteken en krities daaroor te dink nie. Tweedens is dit nie maklik om lateraal te dink en bewus te wees van ontwikkelinge elders waarby jou organisasie kan baatvind nie. En derdens is dit nie maklik om vir werknemers te verduidelik dat hulle tipe werk drasties kan verander nie: mense hou van sekerheid; hulle is creatures of habit wat swaar kou aan verandering – moontlike posbenaminge en -veranderinge hou heelwat onsekerheid in.

Ten opsigte van ontwikkeling en bestuur is dit makliker om geleidelik beter sisteme en prosesse te ontwikkel, eerder as om radikale innovasie te implementeer … maar dis die ingrypende vernuwings wat die grootste impak maak op wie ons is en wat ons doen.

>>

In die studenteleierskapskonteks sukkel ons ook met vernuwing.

Tans is dit weer die verwelkomingstydperk op ons tradisionele kampusse. Nuweling-eerstejaarstudente word deur derde- en vierdejaarstudente wat as leiers in hulle omgewings aangewys is, ontvang en op kampus rondgelei.

Herhaaldelik in gesprekke met studenteleiers hoor ’n mens van tradisies en praktyke wat “weggeneem” word; ’n mens hoor die versugting van verlies, omdat eerstejaars nie meer gedoop of ingelyf word nie. Oral sien jy nog seniors met baarde wat in diep stemme in ’n streng stemtoon met die nuweling-eerstejaarstudente praat; jy sien nuweling-eerstejaarstudenet wat in rye staan en attent luister en geesliedjies sing. Jarre wat nie op die gras mag stap nie “as ’n teken van respek”.

Tot ’n groot mate leef ons gelyktydig in twee wêrelde: in die wêreld waar die kortgrasvariëteit reeds geplant is, maar ons steeds mense oplei om grassnyers te vervaardig. Ons lewe in ’n demokratiese, oop en kritiese bestel, maar verwag nog steeds gehoorsame, onkritiese navolgers wat luister na seniorstudente. Suid-Afrika het radikaal verander, maar ons sukkel nog steeds twintig jaar later.

>>

 

Jou eerste dag op universiteit: nou wat nou?

Standard

So, vandag val vele studente hierdie kampus binne.

Wat kan julle verwag?  Hoe moet jy die eerste paar weke benader?  Hoe verskil ‘n universiteit van skool?

Welkom

As nuweling-eerstejaarstudent is dit moeilik om te weet wat om te verwag.  Jy kom na ‘n kampus veel groter as jou skool, waar jy vir lektore, anders as vir onderwysers, soms werklik bloot ‘n nommer is.

Jy kom na ‘n warm dorp met temperamentele weer.  Waar jy nogals veral in dié tyd soms regtig kan sweet.

  • Drink baie water
  • Smeer sonbrandroom gereeld aan
  • Bring gemaklike skoene – en genoeg sokkies
  • En let op: die skril klank wat jy hoor, is dié van sonbesies in die bome

>>

‘n Verwelkomingspan met ‘n plan

Jou eerste “hallo” is waarskynlik vanaf lede van ‘n privaatwyk of koshuis se huiskomitee (HK) – ‘n groep wat deur hulle medestudente in Augustus laasjaar tot leiersposisies verkies is.  Ook is daar mentors, senior studente wat aangestel is om jou by te staan met vrae oor jou studies.

Die HK en mentors gaan  jou die kampus wys, begelei tot by al die regte registrasielokale (waar jy soms in lang toue gaan wag) en probeer om jou te laat tuis voel tussen ‘n klomp mede-eerstejaars en ander vreemdelinge.

  • Wees bedagsaam
  • Neem deel
  • Let op wat die koshuis/wyk se waardes en etos is
  • Wees oopkop en gewillig, maar moenie als vir soetkoek opeet nie
  • Luister en moenie konstant vrae vra nie; die HK en mentors sal waarskynlik nog by die antwoord kom

Die verwagting by seniorstudente is dat jy ná die verwelkomingstydperk ‘n sin van kameraderie en lojaliteit met jou mede-eerstejaars en HK sal hê, en toekomstige funksies en bymekaarkom-geleenthede sal ondersteun.  Kortom, hulle hoop jy hou van die plek en sy mense.

Mede-nuwelinge

Maak vriende met die nuwelinge om jou.  In die eerste week het jy briljante kanse, met die huiskomitee wat waarskynlik hope “skakelings” en “ken-mekaar” sessies gaan reël.

  • Wees oop vir nuwe vriendskappe, juis met mense vir wie jy nouliks ken
  • Hou gerus ‘n notaboekie byderhand, vir name en adresse, kontaknommers en sulke dinge
  • Glimlag, groet, borsel jou tande, rol sweetweerders aan en wees ordentlik
  • Dink aan interessante vrae, bly weg van uitvra oor matriekpunte of vakrigtings; luister, en wees geïnteresseerd
  • Gebruik jou ketel, maak koffie, nooi mense.
  • Moenie probeer om onmiddellik jou droomman of -vrou te ontmoet en met soet woorde te vlei nie

>>

Respek, sonder gesag

Die verwagting vanaf universiteite se kant af, is dat die studenteleiers geensins optree soos boelies nie.  Immers, as mense jou volg slegs omdat jy hulle dreig, is jy nie juis ‘n leier nie.

Tog is dit ‘n strik waarin baie HK-lede trap.  Hulle dink jy moet as leier die baas wees, soos ‘n skoolhoof wat op kinders skree.  Daarom sal hulle dalk ‘n persona aanneem, ‘n skyn-self wat kamstig ouer is (soms groei mans baarde, of vroue HK-lede maak asof hulle alreeds verloof is), en wat moerig is, soos ‘n kwaai ouer wat op ‘n kind skree.

  • Pasop vir HK-lede wat die pot mis sit.  As daar op jou geskree word, mis hulle die punt
  • Nietemin, wees hulle, in soverre hulle nie te veel kwaad doen nie, maar genadig.  Besef dis ‘n skynbeeld wat hulle tydelik voorhou; hulle sal julle niks maak nie
  • Rapporteer wel jou HK se gedrag aan jou koshuis/wyk se monitor en/of die inwonende hoof.  Hulle aanbevelings word in ‘n verslag gepubliseer en help dan die volgende jaar se HK om te verbeter op die foute wat hulle maak
  • Alhoewel hulle benadering dalk verkeerd is, is hulle einddoel wel positief: hulle wil julle saambind as ‘n eenheid wat trots is op die nuwe identiteit wat jy bykry
  • HK-lede wat jou probeer intimideer, doen dit op verskeie subtiele en eksplisiete maniere, hulle speel vreemde musiek (opera of kindermusiek) om julle wakker te maak soggens, hulle laat tree julle aan in rye asof julle in die weermag is, laat julle dalk afkyk grond toe, praat met julle asof julle kinders is, spreek julle minagtend aan, terwyl hulle oordrewe titels vir hulleself toe-eien, hou julle in die duister oor die verwelkomingsprogram wat voorlê, en jaag julle aan van een plek na die ander, soos ‘n trop skape; hou brandalarmoefeninge in die middel van die nag.
  • Steve Biko (‘n SA vryheidsvegter) het gesê: the most potent weapon of the oppressor is the minds of the oppressed.  Bly sterk.

>>

As jy beginne moeg word

Jy kom sopas van ‘n vakansie waar jy ‘n luilekker lewe gehad het.  Die ritme van jou doen en late was als onder jou beheer.  Dalk was jy selfs ‘n jaar oorsee.  Maar nou word jy saam met ‘n gretige groep gevra om ‘n klomp aktiwiteite op uitgewerkte tye van smôrens vroeg tot saans laat te doen.  Jy sal dalk moeg word.  Veral teen dag drie.  Want dis mos maar soms moeilik om aanvanklik op ‘n nuwe plek aan die slaap te raak en, om heeldag besig te wees, eis sy fisieke tol.

  • Eet genoeg.  Jy kort die energie vir rondstap van die een uithoek van die dorp na ‘n ander
  • Gaan slaap so vroeg as wat jy kan
  • As jy vir lang tye regop moet staan, wieg op jou voortone en dan jou hak, om jou bloedsomloop aan te wakker en nie flou te val nie
  • As jy moeg of duiselig voel, gaan sit.  Jy hoef niemand se toestemming te vra nie.

>>

Registrasie en wat jy moet swot

Om te besluit watter rigting om in te studeer, is intimiderend.  Sommiges weet al van jonks af wat hulle wil word, en vir hulle is dit maklik, maar vir die res is dit ‘n amper-onmoontlike besluit met te veel opsies.

  • Sorg dat jy registreer vir die kursus waarvoor jy aansoek gedoen het, en met jou ouers bespreek het
  • In die eerste paar weke van die kwartaal is daar altyd nog tyd om van kursus te verander – vind uit wat die sperdatum daarvoor is en teken dit in jou dagboek aan
  • Elke universiteit het ‘n studentevoorligting- en ontwikkelingsentrum waarby jy kan gaan aanklop vir gratis beroepsvoorligting; gebruik dit en gaan maak ‘n afspraak
  • Woon getrou jou klasse by, en kyk of jy dalk by ‘n ander kursus ook kan gaan inloer tydens een van jou af-periodes, en besluit dan mettertyd
  • Onthou, daar is niks wat jou keer om op 40 weer ‘n ander beroepsrigting in te slaan nie; hierdie is geen kortste-pad-na-sukses speletjie nie; hierdie is ‘n algemene eerste opleiding om jou toe te rus vir verdere studie en beroepsgroei

>>

As die seniors beginne terugkom

As jy dit unlucky getref het, en jou HK probeer julle die heeltyd intimideer, dan sal hulle waarskynlik die illusie skep dat Wanneer Die Seniors Terugkom, Dán… maar die werklikheid is eintlik maar presies soos wat jy dit self kan indink: die “seniors” is maar net jongmense wat die vorige jaar vriende geword het, wat ná ‘n lang vakansie terugkom.  Hulle gaan raas, mekaar gul groet en ‘n lekker tyd hê.

Dit is deel van die ritme van kampuslewe dat daar elke jaar ‘n nuwe toeloop van studente is; dit is dus nie onverwags of uiters vreemd nie.

  • Groet diegene wat deel is van jou omgewing vriendelik
  • Wees oop om jouself voor te stel, en probeer om hulle name te onthou
  • Moenie bang wees nie, en verwag ‘n jolige geraas

Wat die universiteit betref, wil hulle koshuise en wyksareas omskep in demokratiese luister-, leef- en leerruimtes waar studente van alle jaargroepe en nasionaliteite met mekaar kan praat, debatteer en van mekaar kan leer.  Studente kom egter direk van skool, en dáár is daar dikwels sterk onderskeid tussen graad 8’s, seniors en matrieks, met die onderwysers en skoolhoof bo-aan die magshiërargie.  Ons wil nie dit by ‘n universiteit hê nie.

‘n Universiteit is ‘n plek van kennis, waar almal: eerstejaars, M-studente, lektore, professore inkluis, besig is met dieselfde edele doel: om kennis te skep en met mekaar te deel.  Ons is almal volwassenes in die sisteem, en as jy ‘n idee het, moet jy dit, op wetenskaplike wyse, kan voorhou aan ander, ongeag jou ouderdom.

Maar wees bedag dat daar by heelwat mense steeds ‘n versugting na hiërargieë is – veral tweedejaars smag daarna om nie meer juniors te wees nie.  Dus, wees dalk aanvanklik bereid om die mindere te wees, bloot uit respek.  As jy kan opstaan om vir iemand anders sitplek te verleen, bied dit gerus aan.  As jy iemand anders eerste kan laat kolf, of die bal kan gaan soek wat sopas weggemoker is, doen dit, sonder dat hulle jou vra.  So wys jy respek deur jou aksies.

Om ‘n ruimte te deel met ander

By jou ouerhuis was julle net ‘n klein groep mense.  As jy tussen meer persone bly, moet jy probeer bedag wees op hoe jou aksies op ander mense inwerk.

  • Probeer om nie te raas in gange of voorportale waar jou klank kan weergalm nie; gesels en lag eerder in jou kamer agter ‘n toe deur wat die klank absorbeer
  • Leer jou kamermaat en sy/haar gewoontes en behoeftes ken, luister dalk jou musiek met oorfone aan, respekteer sy/haar eiendom en sinchroniseer julle slaap- en opstaantye
  • Maak skoon ná jy ‘n kombuis- of badkamerarea gebruik het, of as jy iets laat val of mors het
  • Vra as jy iemand se koffie, suiker, tee, melk wil gebruik, en deel dan ook jou voorraad gelykmatig
  • Maak jou kamer- en ander deure sag toe, en wees bedag as jy jou meubels rondskuif, want die ouens onder jou kan elke skuifeling hoor

>>

Diegene wie jy agterlaat

Vir meeste skoolverlaters is die universiteitslewe die eerste keer dat hulle wesenlik weg is van hulle ouerhuis, en nie meer hoef te rapporteer wat aangaan in hulle lewens nie.  Nietemin:

  • Verbeel jou hoe jy sou voel as jy ‘n ouer was en skielik niks meer van jou kind hoor nie, ná 18 jaar.  Bel eerder gereeld, SMS, en bly in kontak, al trek die verhouding swaar
  • Koester jou vryheid ook, en wees bedag daarop dat jy nie elke naweek heelnaweek huis toe gaan nie; sien jou ouers die eerste Sondag, dan weer twee naweke daarná, maar probeer om nie elke naweek huis toe te gaan nie; jy moet meer onafhanklik word in dié fase van jou lewe – en ja, selfs sélf jou wasgoed was!
  • Werk aan jou verhouding met jou ouers, en behou ook soveel kontak as moontlik met skoolvriende, deur Facebook, ens.

>>

Verantwoordelike vryhede

Studentelewe is pret, daar is orals mooi, jongmense op kampus, daar is kuierplekke, drank, dagga, partytjies en dalk selfs strande met bikini-vroue en gespierde mans in die omtrek, as jou kampus naby die kus is.

  • Daar’s later tyd vir drink.  Kry eers jou akademiese sake in orde, wees rustig en moenie dadelik hals-oor-kop tekere gaan nie
  • Kuier saam met vriende, maar ook met nuwe mense wie jy nog nie goed ken nie, en ook met mense wat ander belangstellings as jy het
  • Besef jy is 18 en dus wettiglik volwasse en vervolgbaar vir enigiets wat onwettig is.  Om goed te breek, steel, of om onwelvoeglik op te tree, is nie aanvaarbaar bloot omdat jy ‘n student is nie; die mense omliggend tot universiteite is moeg vir gesteelde potplante en vandalisme en sal julle aankla
  • Pasop vir vry in ‘n bondel, en ken jou ABCD’s van seks
  • Ry slegs met mense wat nugter is; dronk studente is berug vir hulle dom bravade, en gevolglik begrawe ons talle belowende studente a.g.v. dronkbestuur-ongelukke

>>

Geniet dit

‘n Universiteit is nie ‘n skool nie.  Daar is nie onderwysers en leerders nie.  Almal is gelyke soekers na kennis, wat vrywillig en aspris hulleself blootstel aan mense wat anderste dink, van ander kulture afkomstig is en in ander dinge glo.  Jy leer hier hoe om te bevraagteken, hoe om krities na dinge te kyk, hoe om stomgeslaan te word deur die magdom van die wetenskap en die ryke verskeidenheid van mense en maniere om na sake te kyk.

‘n Universiteit is ook nie net ‘n plek vir beroepsopleiding nie.  Selfs al studeer jy ingenieurswese of aktuariële wetenskap, sorg dat jy die kunstenaars en kunssinniges bevriend, in hulle koppe klim en ‘n wyer wêreld leer verstaan as ene wat opgesluit is in tutoriaalopdragte en handboeke.

Geniet dit.  Maar geniet die volle ervaring, nie nét die wees-tussen-jongmense nie.  Geniet die uitdagende debatte met dosente, die laatnag-artikelsoekery vir werksopdragte, die slimmer-word en bevraagtekening van alles.  Die grootword, die geluk en seer van verhoudings, die hoop en teleurstellings van lewe.

>>

Enige raad wat jy vir ons het?

Wat’s die top tips waarmee jy jou kind/broer/suster/vriend by die universiteit sal los?

Om “pa te staan” en die wanpersepsies van studenteleierskap

Standard

Ek vermoed leerders en studente het meestal ‘n wanpersepsie van volwasse leierskap.

Dis nie hulle skuld nie; inteendeel, dis noodwendig die geval, omdat hulle slegs omring word deur spesifieke tipe gesagsfigure (ouers en onderwyers) waarop hulle grootmens-gedrag modelleer.

Maar ouers en onderwysers vervul spesifieke gesagsrolle in die samelewing: hulle lê die reëls en struktuur neer en vervul ‘n koesterende rol teenoor kinders wat óf soetjies inval by die reëls óf op kreatiewe wyses dit buig/breek.

In ‘n volwasse en demokratiese leierskapsopset, voel ek, moet ‘n mens probeer wegbeweeg van ongelyke magsverhoudinge waar een party die ouer-rol probeer vervul, en die ander gereduseer word tot kinderlinge.

Volwassenes onderhandel met mekaar; luister mekaar uit en dwing nie soseer reëls op mekaar af nie.

Volgens die transaksionele analise teorieë beweeg ‘n mens konstant tussen verskillende ego-state: soms tree jy soos ‘n ouer op; soms speel jy soos ‘n kind, en ander kere onderhandel jy soos ‘n grootmens.  Daar is nie soseer “slegte” state nie, maar jy loop wel die gevaar om (tesame met diegene rondom jou) in sekere gedragsgroewe te verval, soos verklaar kan word deur dié verskillende rolle, wat dan almal se gedrag bepaal.

>>

‘n Tipiese voorbeeld van bogenoemde is huiskomiteelede wat hulleself dikwels in ‘n “ouer”-rol inplaas – en gevolglik eerstejaars (ook dikwels hulleself) in die “kinder”-rolle.

Sodanige verhoudings werk goed en is besonder volhoubaar: die een teer van die ander af, HK-lede beweeg tussen die rol van omgee- en tugtende ouer, en die eerstejaars vind hulle weg tussen een van twee rolle, dié van luisterende, wetsgehoorsame (hulpelose) kinders, of dié van morrende rebellie/verset teen die heerskappy.

Solank as wat die HK die reëls neerlê, sal daar huislede wees wat dit volg én huislede wat dit breek.  Saam-saam voed hulle mekaar se rolverwagtinge.

>>

Bogenoemde spel kan tereg heel plesierig wees as ál die partye besef dat hierdie rolle slegs speel-speel ingeneem word; as eerstejaars hulleself as volwassenes beskou en die kinderrol inneem as tydelike en ironiese spel met mede-volwassenes wat vir die pret as “ouer/onderwysers” optree: ‘n parodie op die magshiërargieë van die samelewing.

Probleme kom egter in as:

  • ‘n HK-lid nie hierdie spel verstaan nie, en hom/haarself ernstig in die gesagsrol inleef,
  • ‘n Eerstejaar nie hierdie spel verstaan nie, en eerlikwaar hom/haarself laat hiet en gebied,
  • ‘n HK-lid of eerstejaar eerlikwaar probeer om ‘n onderhandelende volwassene-rol te vervul in ‘n opset waar die verwagtinge en rolspel-verdeling anders uitgelê is.

>>

Alhoewel heelwat nuweling-eerstejaars universiteitskampusse betree met ‘n besef van dié ironie – omdat hulle alreeds vooraf gemaklik is in hulle volwassenheid (en hulleself as gelykes sien t.o.v. hulle ouer vriende, broers en susters) én hierdie ouer-kind spelreëls van ‘n oriënteringstydperk verstaan – is daar ook vele wat totaal oorbluf word deur dié teenstrydighede en geensins verstaan watse magspel aan die gang is nie.

En, omdat ons selde eksplisiet dink oor dié rolle wat ons vertolk – en in sommige gevalle dié spel te lank aanhou speel, sonder die verwagte denouement wat alles netjies oplos – verval ons in ‘n gekkeklug wat onvolhoubare verwagtinge vir alle partye skep.