Tag Archives: taal

Op die trappe by ’n studente-saamtrek verskree ek toe die arme verenigingsvoorsitter in ‘n poging om totsiens te sê en ‘n belaglike taaldebat in die kiem te smoor

Standard

Ek was eergister kortstondig by ‘n studentekonferensie waarna kampusleiers van die Wes-Kaap universiteite genooi is.  (Met “kortstondig” bedoel ek eintlik “korter-as-‘n-stonde” (‘n uur), seinde ek net sowat 25 minute daar was.)

In beginsel is sulke bymekaarkom-geleenthede vir my goed en dink ek heimlik terug aan die dae toe ons ‘n Wes-Kaapse studenteleierskapstruktuur (WC_InterimWrkngGrp_report) op die been probeer bring het.  Dis vir my goed dat studenteleiers forums bywoon en hulle verwysingsraamwerke verbreed.

* * *

Teen teetyd groet ek, maar word buite by die trappe per ongeluk vasgetrek in ‘n kortstondige gesprek met ‘n kampusverenigingvoorsitter wat Afrikaans wil beskerm en tolkdienste instel soos op Potch.

(Hy verwys na “Potch” asof dit ‘n universiteit op sy eie is, nie slegs een kampus van die Noordwes Universiteit nie.)

Ek sê vir hom hy is laf, besluite oor taal is ‘n akademiese kwessie, sy vereniging maak ‘n emosionele versugting daarvan en streef ‘n behoudende, Orania-gesinde Afrikanerbastion na. Ek is grappenderwys kortaf, want ek is op pad. Maar ek wil darem ook nie niks sê nie, wat op ‘n kampus moet ‘n mens krities wees en studente konfronteer met teenoorgestelde opinies, glo ek.

Maar hy stry opreg; probeer hulle missie en visie opsê en my verseker hulle leuse (Transformasie in Afrikaans) is méér as bloot ‘n dekmantel.

Ek sug, verdwaas dat hy my inlok in ‘n spel van skyndebat.  Hy moet eerder by die Berg- en Toerklub aansluit, sê ek.  Of by Eko-maties wat TEDx-konferensies reël.  Hy kan sy jonkmensweesgees en -drif elders beter aanwend tot doele wat meer sin het, meen ek.

Sy lapelwapens blink op sy baadjie, noulettend vasgespeld; nee, maan hy, sy vereniging is belangrik.

Afrikaans, voer ek aan, word mos uitgebou deur soms in klaskamers ook van Engels gebruik te maak, dit word nie deur Engels verdring nie.  Die Universiteit sê onomwonde dat hy Afrikaans bevorder as onderrig- en wetenskapstaal – nêrens sê hy iets anders nie.  Afrikaans in ‘n meertalige konteks.  Wat meer wil hulle hê?

Tolkdienste.

Ga! Wil jy nou nét in Afrikaans klasgee, met oorfone op die kop en tolkers wat honderde voorgraadse modules intyds vertaal?  Waar kry jy genoeg vakkennis-spesialiste wat oombliklik kan tolk? En hoe lei jy ‘n dinamiese klasgesprek in so ‘n opset? Moet ‘n dosent nie juis sy Afrikaanse studente ook blootstel aan die internasionale vaktaaldiskoers en -jargon nie?  Nee, gmpf, dis blote politiekery, groet ek.

Minderheidstaalregte hou hy vol.

Deur ‘n vereniging te run wat kasteelbesoeke aflê, agteraf konkel met konvokasie-raadslede en ‘n konstante kibbelary op raadsvlak aanmoedig? Dis counter-revolutionary, comrade.  Die vraag is nie óf universiteite Afrikaans moet bevorder nie, die vraag is hóé.  Deur die universiteitsbestuur verdag te maak, wen jy niks!

En met dit is ek toe eindelik daar weg, sonder ‘n koffie- of tee-opsie.

* * *

Ná die tyd berispe my kollega my.  Hoe kon ek dié student só verskree het.

Ek pleit onskuldig – miskien het ek ten tye effe hard gepraat, maar ek het hom nie verskree nie.  Met wisselende stemtoon het ek die belaglikheid van die saak beklemtoon. Ons was besig met ‘n skyndebat: die reëls is eenvoudig, ons neem mekaar nie ernstig op nie, want ons weet ons opinies verskil.  So, ons swaai ons sinne soos swaarde, skermend.

Nee, selfs ‘n kring omstanders het meegeluister, tugtig hy.

Wat my laat wonder oor die nut van dié spektakelspel.  Het die voorsitter later die skermutseling oordink?  Het hy die spel weer deurgespeel in sy kop en ‘n snydende retort gekry op my woeste veralgemenings? Wat het die spektators hiervan gemaak?

* * *

Maar as ek die voorsitter net beleefd gegroet het, hand geskud het, kamma-geïnteresseerd geluister het hoe hy homself as studenteleier beskou, opinieloos my kop geknik het en beleefd myself verskoon het, dán sou dit, voel ek, wesenlik “verkeerd” gewees het.

Hierdie was ‘n teachable moment probeer ek my kollega verduidelik, maar hom oortuig ek nie maklik nie.

* * *

Let wel: Hierdie is my eie weergawe van gebeure twee dae gelede. Ek skryf dit in ‘n ligte trant en het geen slegte gevoelens jeens die betrokke vereniging of -voorsitter nie.  Uiteraard het ons gesprek nie presies so verloop nie, ook nie my gesprek met my kollega daarná nie.  Hierdie is bloot ‘n anekdotiese vertelling wat ek juis neerskryf, omdat ek onseker is of my bravade sinvol was of nie.  Ek is só gewoond daaraan om volstoom op windmeule af te storm, dat ek nie altyd oplet dat dit nie soseer drake is nie.

Woer jy op jou woek of post jy op jou blog? Wanneer transleer jy swak en wanneer assimileer jy twak? En is daar enige meriete in die Taaldebat?

Standard

In ‘n vorige post vat my lesers mekaar aan oor hulle woordgebruik.  Die een sê die woord “woer” moet in sy moer in vlieg.

Self voel ek ambivalent oor al die vertalings wat Jan Internet aanpak: Oornag het my Facebook in ‘n boer verander en vandag praat my WordPress ook Afrikaans.

Die ding is vertaalkuns is maar moeilik.

Elke Jan Rap en sy google kan nie sonder meer frases oorplaas in ‘n ander taal deur net losstaande woorde te wil vertaal nie; jy verg ‘n vaardige fundi wat ‘n idee soomloos kan vertolk.

* * *

Ook in die akademie sukkel mense met die skep van behoorlike vaktaal-terminologie.  Computer jargon klink weird en fake in Afrikaans: Dubbel-klik met jou regtermuisknoppie op die Vensters-ikoon.  Ugh.

So, hoe gemaak met internetjoernalistiekterminologie?  Skep jy nuwes of copy en paste jy die Engelse woord?  Tik jy dit in italics?  Hm.  My voorkeur is dat jy ‘n nuwe post pos op jou blog.

* * *

Wanneer ek langs die Strand se kuslyn wandel, grief dit my telkens as ek die nuwe woonstelblokke se name lees: Topaz, Hibernian Towers, ens.  Ek sou die groot blou-gebou so graag wou Bloublasie noem en die groene Khula Khaya (khula = groei/vry wees en khaya = huis/tuiste).  Tsk.

* * *

Ek dink die truuk is om ‘n bietjie nederlands te gaan oplees om waarlik briljante neologismes te kan skep.  Oerwoorde wat ons al vaagweg verloor het, opdiep en heraanwend.

* * *

Uiteraard is ek ‘n voorstaander van die T-opsie: ek glo meertaligheid bevorder begrip.

Lesse uit ‘n klompie outentieke opsommings

Standard

Ek het onlangs vir BEd- en NOS-studente gevra om opsommings van sprokies te skryf.  Hulle kon enige sprokie kies – en geen voorskrifte is gegee oor hoe so ‘n opsomming moes lyk nie.

As onderwyser sou jy sulke outentieke (egte/ware/regte-wêreld) tekste kon gebruik as materiaal vir letterkunde-, skryf- en taalbesprekings en -lesse in die klaskamer.  Hierso is ‘n paar les-idees wat jy sou kon laat voortvloei uit die lees van die opsommings:

Historiese teenwoordige tyd (en die gebruik van verlede tyd-vertellinge in die algemeen)

Min onderwysers onderrig die “historiese teenwoordige tyd” as taalverskynsel in Afrikaans.  (vervolg…)