Tag Archives: vensters

JOOL is dood; lank lewe JOOL!

Standaard

JOOL is dood, lank lewe JOOL!

Die primkomitee (die hoofleiers van elke wyk en koshuis) het saamgesit en -dink en -wonder en gesê: “Genoeg is genoeg; basta! Tot hier toe en nie verder nie!” (Sien Die Burger: http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Maties-se-nee-vir-jool-20110507).

‘n Mens kan die redes hiervoor vanuit verskillende ooghoeke bekyk. Wat ek wil voorhou, is twee gehalteversekeringsuitgangspunte waarmee ek vermoed die JOOLkomitee nie tredgehou het nie. Om “gehalte” te meet, moet organisasies kan uitspraak lewer oor:

  1. Hoe gerat hulle is om in hulle doelwitte te slaag (fitness for purpose) en
  2. Of hulle doelwitte relevant is vir die huidige konteks en die rolspelers betrokke (fitness of purpose)

Alhoewel die JOOLkomitee, myns insiens, nogals redelik goed geraak het met dinge reël: hulle kan ‘n trollieresies reël in Victoriastraat wat skrik vir niks (fitness for purpose), het hulle dekades laas behoorlik ondersoek gedoen of dit nog enigsins sin maak om trollies te reël (fitness of purpose). Trollies = ‘n straat vol paviljoene (wat moeilik is vir koshuispare om te reël, want daar is net sovéél paviljoene op Stellenbosch), met eerstejaars wat skree vir tientalle trollies, gestoot deur enkele eerstejaars, in ‘n hindernisbaan, wat bepunt word bloot op die versiering daarvan, in ‘n week wat te vol en besig is vir die eerstejaars om dit te versier… Iewers het hulle duidelik per ongeluk die plot verloor. Die geleentheid opsigself maak nie sin nie.

>>

Netso met vele aspekte van JOOL. Waar daar destyds ‘n heel ander gemeenskapsgees geheers het en ‘n handvol vragmotors met ware blommetjies en ogiesdraad verniet versier is en kosteloos deur die strate van Stellenbosch gery het met ‘n gepaardgaande vreugdefees – het tientalle trokke ‘n duur storie geraak met crinkle paper, bloudraad, kragopwekkers, brandblussers, gesigverf, helder klerepakkies en duisende studente wat moeg deur die strate op ‘n bloedwarm Saterdagoggend moet stap en bedel. Basta, vlotte!

>>

Alle instellings loop die gevaar om, indien hulle nie gereeld hulle missie en visie – en die uitvoering daarvan – krities ondersoek en omvattend bevraagteken nie, irrelevant te raak. In dié geval het Student fun with a purpose al hoe meer vervaag, veral onder HK-lede wat hulleself oor ‘n mik moes werk om honderdduisende rande se borge en geldinsamelingstoere oor vakansies te reël. Not much fun. Not much fun at all.

En ook die direkte uiteinde van die fondse ingesamel t.o.v. die wyse waarop dit teruggeploeg is in die gemeenskap, is nie goed genoeg aan almal gekommunikeer nie… Dus not much of a purpose either.

>>

Alles is darem nie tot niet nie. Die koshuise en privaatwyke wil graag tydens die verwelkomingsweke direk by betekenisvolle gemeenskapsprojekte betrokke raak, sodat die nuweling-eerstejaarstudente die vreugde van medemenslikheid ten volle kan ervaar.

En die unieke skouspel, Vensters, word ook voortgesit, maar op ‘n koste-effektiewer manier: dieselfde verhoog, klank en ligte gaan deur verskillende produksies gedeel word, wat ook gaan beteken dat die eerstejaars sélf ook meer van die spektakel kan geniet.

>>

Wat was JOOL aanvanklik? Ek vermoed dit was ‘n fees vir die gemeenskap.

Wat het JOOL geword? ‘n Ondraaglike kompetisie.

Wat word JOOL nou? Ek vermoed weer ‘n fees vir die gemeenskap.

>>

O, en tussendeur was dit ook vlugtig bekend as “Karnaval”.

Vensters en JOOL en mooi lywe

Standaard

Vir privaatwyke is “verwelkoming” en “JOOL” sinoniem.

Die sosiale en aanpassingsprogram van eerstejaars by die universiteit, gaan gepaard met Akkerjolverkope, Trollies, Venstersoefeninge en Vlotbou en -optogte.

Ek het my bedenkinge oor van die aktiwiteite – of dit werklik student fun with a purpose is – en ek sou wou sien dat die kompetisie-element onderspeel word (en borge-inwinning sentraal aandag geniet).

Nietemin, jongmense wat in kleurvolle gewaad vermaak verskaf vir die hele Stellenbosse gemeenskap, vir ‘n goeie doel, is sekerlik oorwegend goed.

Gaan kyk gerus na my vriend, Bernard, se fotoblog by http://bravenboer.co.za/2010/01/24/stellenbosch-jool-rag-2010/ vir onlangse JOOL-foto’s.

Staan in die algemeen nader aan Vensters

Standaard

Gisteraand was dit weer sulke tyd: studente, ouers, kinders en locals kon happily deur Victoriastraat vleg om die spektakel van Vensters te beleef!

Destyds was Vensters bloot die versiering van koshuise se buitevensters as voorbrand vir die Vlotoptog, hier-en-daar aangevul deur klein toneel-impromptu’tjies.

Maar vandag is Vensters, met groot geverfde doeke teen stellasies opgehang, opgeboude verhoë, luidsprekers wat die dialoog en musiek uitbasuin, ingedrilde dansies, professionele klank- en ligte, en goeie skarebeheer op paviljoene, die main event.

Koshuispare skryf in die vakansie hulle 10-minute stories, neem dit op, werk dansies uit, en beplan die kostuums en backdrop sodat, wanneer die jaar begin, die eerstejaars net hulle passies kan inoefen en perform.

Wat ‘n belewenis!

Vanjaar was daar méér vertonings, met nuwe privaatwyke, en Boland Kollege, Isa Carstens en Elsenburg wat ook deelgeneem het.  Die shows was grappig en goed gechoreografeer, en die gees in die skares en onder die eerstejaars opgewek, drankvry en vrolik.

Graag wil ek dus, namens die klomp random mense wat gisteraand ‘n gratis kunstefees kon beleef, baie dankie sê aan al die joolkomitees, eerstejaars en organiseerders wat ‘n vreugdevolle gemeenskapsfees op die been gebring het.  Ek sien uit na volgende jaar dié tyd!

Gaan kyk gerus op Kommerkas se blog vir kleurryke joolfoto’s.