Tag Archives: verbeelding

Die rol van die nar(rator) in die onderwys

Standaard

In die verlede was storievertel die enigste wetenskap; die enigste pedagogie.  Feite verweef met fiksie.

Kollektiewe kennis is deur oorvertel oorgedra.  Soms by die vuur, soms in die veld, soms langs die rivier.  Deur storievertel en self-probeer.

Kinders om ‘n kampvuur die klaskamer.

* * *

Die rol van die narrator – die ene wat die stories opmaak en oorvertel; wat die kinders se oë laat rek, en die jongelinge laat skater – is steeds vandag relevant.

Tussendeur die powerpoint slides en internet, word die meeste klasgee nog steeds met bordkryt en praat gedoen – en die vermoë van die onderwyser om leerders met blote woorde mee te sleur; hulle verbeeldings te prikkel; hulle te laat lag – bepaal nog merendeels die sukses van kenniskonstruksie by die kind.

* * *

Maar vertel ons nog genoeg stories?

Laat ons nog genoeg aan kinders se verbeelding oor – om self kamma-werklikhede in hulle koppe te skep?

* * *

Ek dink die wêreld sal ‘n beter plek wees as onderwysers vir kinders Die Kleine Prinsie lees, die verskillende karakters se stemme namaak en hulle die verskillende planete laat onthou.

(Later sou hulle die planete as mind mapping tool kon gebruik – en feite wat hulle moet memoriseer bêre op die ryke verbeeldingswêrelde wat hulle in hulle gedagtes geskep het.)

Verbeelde lente (en gedagtes oor denke)

Standaard

‘n Verre vriendin wat my telkens aan die dink sit, vra my vroeër vandag oor “verbeelding” uit.

Hm.  Dis tog interessant dat ‘n mens as kind so ‘n ryke verbeelding het, maar dat groterwordende mense dit vaagweg verloor.

Miskien word ons realiteit-neuronstrate te veel geteer, en ons fiksie-wandelpaadjies te selde bewandel; dan groei dit toe en kwyn dit weg?

Ek het nooit ‘n imaginery friend gehad nie, maar hoe fassinerend is die gedagte nie! Om jouself ‘n hele wese te kan inverbeel.

Of miskien verloor volwassenes nie hulle verbeeldingskrag nie; ons kanaliseer dit bloot in “nuttiger” rigtings:

As kind verbeel ons onsself in speletjies in: cowboy & crooks of ontdekkingsreisigers of space rangers; as volwassenes verbeel ons onsself in ‘n mercedes of ‘n board meeting of doen ons ‘n statistiese vooruitskatting van voorspelbare scenarios.

Dalk dryf seks en werk ons gedagtes weg van onskuldige kinderrykdom-drome.

(Tog is dit belangrik in verskillende velde van die wetenskap om jou te kan verbeel wat sal gebeur as jy teen die spoed van lig sou kon beweeg… Ek wonder of die “tipe” verbeelding egter verskil van speel-verbeelding en/of blote white-picket-fence-drome?)

Dalk is mense maar oor die algemeen baie vatbaar vir meme/gemeenskaplike gedagtestrominge.

Ons verruil ons eie skeppendheidsgedagtes vir algemeen-aanvaarbare verbeelde “suksesse”, vandaar die sprokiestroues met ridders op wit perde en mans se threesomes met modelle op strande.  In welke geval ons denke die geneigdheid het om te verval in cliché’s.

Hoe het die skaduwees nie monstergesigte getrek teen die slaapkamermure nie; die wolke hasies geword wat spring nie; hoe lewendig was jou gunsteling speelgoed nie!

Dalk het verbeelding met breingolflengtes te doen: as jy speel is jou denke “losser”, die fyn lyn tussen skyn en werklikheid verstippel, amper soos wanneer jy slaap en jou denke soomloos spring van een beeld na ‘n ander.

Dalk dans ons onsself nie genoegsaam om vure in ‘n trans nie.

Of moontlik is verbeelding bloot chemiese afskeidings in die brein. As jy hallusinasies kan oproep met ‘n bietjie tik/dagga/morfien, hoekom enigsins ‘n mistieke element daaraan koppel? Dalk kry jy rasionele rekenkundiges op die een end van die chemiese spektrum en skisofreniese geestesieners aan die ander entjie.

T.o.v. skilder, skryf en storievertel het ons soms ‘n daggakoekie nodig om verby die alledaagse meme te dink; om klank te voel en kleure te proe. Om jou te verbeel; om te ontsnap – om te vlug na ‘n alternatiewe realiteit.

Dié daggakoekie kan self ‘n verbeelde entiteit wees: middele wat jou help om weer so wyd soos ‘n kind se genade te dink.

Andersins sou ‘n mens ook verbeelding kon opdeel in verskillende tipe opmaakdenke: ‘n geneurie in jou kop, of ‘n somuitwerkery; dalk duik jy op die sportveld terwyl jy stilsit in ‘n klaskamerbank; dalk beweeg jy na jou stil grasveldjie met ‘n rivierstroompie in jou kop, of verbeel jy jou sal-jy-met-my-gaan-fliek vraagvraery aan die rooikop twee banke links voor in die klas.

Hoe selde woerts ek deesdae weg op ‘n wilde verbeeldingsvlug?  Hoe selde verlustig ek my in ‘n absurde fantasie?

Where have all the flowers gone?

Gone to graveyards every one.