Tag Archives: verwelkoming

’n Haas onmoontlike taak

Standaard

Om ‘n goeie verwelkomingsprogram uit te werk, is moeilik.

Tans word huiskomitees gekonfronteer met verskillende wêrelde se verwagtinge:

  1. Die bestuur eis vriendelike, gasvrye en menswaardige programme, waar eerstejaars regtig welkom en tuis kan voel in hulle nuwe omgewings
  2. Die joolkomitee eis dat eerstejaars dansies en krete moet oefen, geld insamel en vlotte bou (aktiwiteite wat moeilik is om te bedryf sonder om eerstejaars rond te order)
  3. Die seniorhuis verwag dat die magshiërargie van die koshuis onder die nuwelinge gevestig word.

Dan kry jy verskillende boodskappe van ouers: die een groep wat verwag dat hulle eerstejaardogters ná 23:00 mag rondbeweeg soos hulle wil, en die ander groep wat hoop daarop dat hulle dogters weggehou word van die onderdorp se gefuif ná 23:00.

* * *

Om bogenoemde verwagtinge met mekaar te versoen, is haas onmoontlik.

Ons HK’s weet ook nie wát om te doen as eerstejaars op dag vier ná al die vriendelikheid, begin optree soos vriende nie!  Hulle voel nog húlle moet die wentrollie ontwerp – en dink nie daaraan dat die eerstejaars eintlik sélf inisiatief kan neem nie.

Die rol van ‘n studenteleier word misverstaan.

Advertisements

Want die ronding van haar skouers was verswelg deur ’n hoekige HK-baadjie

Standaard

Ek het eergister Academia se primaria liederlik ontstel.

* * *

Só het Academia ook deesdae ‘n huiskomitee, neem aan JOOL deel, en nóém hulle hulleself ‘n koshuis.  (Inderwaarheid  is dit ‘n woonstelblok-ontwikkeling langs die ingenieursgebou wat privaatverblyf vir sowat 600 studente bied.)

As ek daar gebly het, sou ek my eerder roem op wat die plek werklik is: nie ‘n koshuis nie, maar gerieflik-op-kampus privaatverblyf waar jy met ‘n pel in ‘n woonstel kan bly en die volgende fase van volwassenheid saam deurleef.  Waar jy kan kies hoe en wanneer jy kan kom en gaan, en waaraan jy als wil deelneem.  Dis definitief ‘n alternatief tot normale koshuis- of private huisvesting wat sy eie voordele bied.

Maar dis nie hoe hulle huiskomitee dit sien nie; hulle ís ‘n koshuis en basta!

* * *

Nietemin, dit was als my kollega se skuld.  Hy’t gevra dat ek saamgaan, volwetend dat takt nie een van my sterkpunte is nie.

Daar gekom, sit al die nuweling-eerstejaars in ‘n groot markiestent en luister hoe die huiskomitee met hulle praat.  Toe ek binne hoorafstand is, kom hulle primaria sopas aan die woord:  haar ligte somersrok belas met ‘n swaar HK-baadjie.

Sy praat.  Afkeurend.

Dan venynig.  Bitsend.  Sarkasties.

Vir ‘n oomblik verwonder ek my aan hoe onvriendelik sy is. Helder oordag. Ek verwag dat sy binnekort dubbeld gaan vou en histeries lag; haar show ontbloot vir die grap wat dit is.  Maar sy doen nie.

Die toehoorders sit met skouers omlaag en oë dwalend.  Moeg.

Dan kry die eerstejaars ‘n finale aanmaning en ‘n opdrag wat hulle luidkeels herhaal.  Toe hulle opstaan, word daar gegil dat niemand gesê het hulle mag maar opstaan nie.  Almal wag. Tot sy. Uiteindelik. Hulle verdaag.

* * *

Ek kyk nog die prim ongelowig agterna toe twee breë glimlagte kordaat voor my kom staan: twee surfer kiddies vir wie ek, toe hulle graadnege was, vier jaar terug, skoolgehou het.  Hulle is bruingebrand en in my Facebook feeds het ek gesien watse jolly matriekvakansie gettogethers hulle gehad het.  Inderdaad jong volwassenes.

Ek merk op aan hulle glimlagte dat dit die enigste tande is wat ek in die hele omtrek sien.  Almal anders se mondhoeke is stram; mense mompel sag, huiskomiteelede frons vanaf hulle podium.  Oë gluur agter weerkaatsende lense.

Met ‘n paar sekuur-geplaasde vrae aan die twee oudleerders, bepaal ek gou dat dít wat ek sopas gesien het, aan die orde van die dag is.  Kortom, in hulle eie woorde: “Die verwelkoming is crap.” (Aldus twee kommerlose stadsjapies wat gedink het hulle huur ‘n woonstel waar hulle jong volwassenes kan wees.)

Toe my vrolike vriende opmerk dat my saamnooiende kollega die primaria nader wuif, groet hulle my versigtig en vlug met bukkende skouers by die tentflap uit.

* * *

Enters the prim.

* * *

Formeel groet sy my kollega, maar ek kry die eerste woorde in: “Jy was mooi vriendelik en gasvry sopas met die eerstejaars?”

Sy skuif haar brilraam haaks, kyk na my, onseker hoe om te reageer, en kyk vraend na my kollega.  Hy stel ons voor.

“Ek het gehou van hoe opbouend jy is met die eerstejaars; regtig inspirerend,” groet ek verder.  “Jy kan sommer die positiewe energie in die tent aanvoel, hoor!”

Sy snap die sarkasme en verweer met ‘n verduideliking wat sy verskonend aanbied.

My kollega bly tjoepstil en luister gul.  (Dit is immers hoekom hy my saamgenooi het.)

* * *

Die gesprek stuur ewe sinies, klinies en sarkasties voort.

Sy regverdig haar aksies, maar elke keer as sy na die “children” of haar “first years” verwys, swaai ek haar woorde om en vervang dit met “jong volwassenes” – dan klink haar verduidelikings bra belaglik.

* * *

Ná ‘n ruk, stop ek en verduidelik die oorkoepelende ironie waarmee ek besig is: Die sarkasme wat ek aspris meerderwaardig aan haar opdis – is soortgelyk aan die styl en toon waarin sy as primaria sopas met die nuwelinge gekommunikeer het. Ek vra haar hoe dit voel.

Die woede, veragting en moedeloosheid wat by haar opwel, is soortgelyk aan die emosionele respons wat dit by die eerstejaars veroorsaak.  Is dít haar doel?  Om die eerstejaars netso verkeerd en magteloos te laat voel?  Sou sy nie ‘n vriendeliker, gemoedeliker gesprek wou hê nie?

* * *

Vir ‘n rukkie bly sy stil, maar bied vir oulaas ‘n laaste argument: “Sy dóén haar werk,” sê sy, en begin alles te lys wat sy en haar huiskomitee in die paar dae alreeds vermag het.

Sy verwyt my.

Ek stop haar.

Met veel gesag en geen genade berispe ek: “I never said you are not doing your job…”

Sy sug, effens verlig, skielik kwesbaarder as vroeër.

“…I am saying that you are doing your job …badly.”

Toe gaap haar saamgeperste lippe vir die eerste keer effens oop.

En sonder verdere woordewisseling stap sy weg.

* * *

My oë volg haar soos sy spoedstap na die HK-kantoor toe (die naaste ontsnappingsweg): die ronding van haar skouers welliswaar deur haar baadjie verswelg, maar ek kon tog sien, toe sy die deur oopsluit, hoe haar skouers beginne ruk.

Vir ‘n oomblik was Academia se primaria weer ‘n eerstejaar.

* * *

En dit was maar crap.

In die aande het ’n kaalkop-bebaarde senior met ’n piksteel deur die gange gestap

Standaard

Toe ek as eerstejaar by my universiteitskoshuis aangekom het, is my ouers met gul glimlagte begroet deur skyn-vriendelike huiskomiteelede (dertien verkose inwoners van die koshuis, meestal derde- en vierdejaars).

Diegene wat kon, het baarde oor die Desember-vakansie gegroei.  En die oomblik toe die ouers weg is, het hulle in nors karakters verander wat die eerstejaars laat afkyk, rondmasjeer en vir lang ure in die son staan.

Ons moes elke HK-lid “Meneer” noem, met ‘n rympie wat soms gegroei het tot “Meneer Gees-en-Deelname Van den Bergh” of “Meneer Beheer, Ons Onderprimarius, Meneer Olivier”, ens.  Ons is op ons beurt afgejak as “jarre” en moes onsinnige takies verrig tot die HK se plesier.

Soos die oriënteringsweek verbygesloer het, het die HK ons emosioneel en fisies afgebreek en strategies dag-vir-dag weer psigies opgebou.  Lateraan het die eerstejaars perfek geslow-march oor die quad en netjies in gelid gemasjeer en luid geroep “Alles vir die Huis” terwyl ons met ons vuiste teen ons borskaste slaan.

Daar is geskakel met die een vrouekoshuis ná die ander, in ‘n haarfyn-uitgewerkte program waarvan die jarre net-net betyds ingelig is om betyds te kon spoedstap na die volgende ontmoetingsplek wat uitgestip was.  Ons het danspassies en krete geoefen vir JOOL-aktiwiteite; ons het langs die atletiekbaan en swembad geskree.  Trots.

In die aande het ‘n kaalkop-bebaarde senior met ‘n piksteel deur die gange gestap.  Op die boonste vloer het hulle groot klippe gerol wat druisend weergalm het bo ons koppe.  Ons moes met oop deure slaap en in koue water stort.  Elke dag “dagdrag” dra: langbroeke en netjiese hemde in ‘n snikhete son.  Die gange het geruik na stink sokkies.

Heen-en-weer het twee dooplieutenante geloop en vir ure aaneen geprewel dat ons “karakter, styl en trots” moes hê.  Dat ons die gentlemen-koshuis is.  Hoe die wasmasjiene werk.  Refreine wat herhaal terwyl die eerstejaars moeg afkyk.  Nou-en-dan het iemand flou geval van die hitte.

Toe die seniors terugkom, het hulle geskree: “Jar, jou lewer is myne!”

* * *

Die jaar daarop is ek self as HK-lid verkies; my hare is afgeskeer – en op die laaste dag van die HK-kamp het die prim en onderprim die res van die huiskomitee ingelyf: klere uitgetrek, met visaas bestrooi, knoffel laat eet, op ‘n verlate parkeerterrein afgelaai, met duct tape vasgebind aan mekaar, twaalf houe elk met ‘n stuk pyp toegedien, en in die yskoue reën gelos.

In die donker het ons terug gestrompel, met stroop klewend tussen ons bene, en eiers, meel, aas en modder oor ons lywe.

Karakter, styl en kots.

* * *

Die jaar daarop was ek weer in die HK, saam met drie behoudende oud-HK-lede wat besluit het dié HK-inlywing moes voort.  Teësinnig staan ek toe met ‘n tuinslangpyp voor bukkende, vuilgesmeerde HK-lede.  Waansin.

* * *

Eers in my derde termyn kon ek dié onsinnigheid stopsit – en heel naweek oop en gemoedelik met die nuwe HK-lede kamp, sonder intimidasie of magspel.  Ons het die junior HK-lede gelykwaardig behandel.  Ons was vriendelik.

Vir die eerstejaars het ons op die naam begin noem; hulle welkom laat voel, laat sit in die skadu op die gras terwyl ons hulle staaltjies vertel en aanmoedig om mekaar uit te daag en vir mekaar om te gee.

Met opset het ons die doopkaptein-idee laat vaar – en elke aspek wat herinner het aan weermagpraktyke geskrap.

* * *

Want, het ek gereken: ons wil nie fikse enersdenkende soldate of flukse onbevraagtekende slawe oplei nie, maar kritiese, kreatiewe individue by ons koshuis verwelkom – wat hulle sê kan sê en inisiatief kan neem.

* * *

Ek onthou ‘n mede-HK-lid van my eerste termyn wat my berispe het: Moenie vriende maak met die jarre nie, ou – hulle is nie ons speelmaats nie.  Hulle gaan oor jou lóóp.

Hulle het nie.

Inteendeel, die eerstejaars vir wie ons vriendelik en gasvry ontvang het, en medemenslik behandel het – hulle het veel langer in die koshuis gebly, méér vir kampus gedoen en beter vriende van my geword as diegene wat moes afkyk terwyl ‘n HK-lid met hulle praat.

Waar my mede-HK-lede “jarre met kersgat houdings” gesien het, het ek ons toekomstige kampusleiers gesien.

* * *

“Ons wil nie die beste koshuis op kampus wees nie,” het die HK begin sê, “maar die beste koshuis vir kampus”.

* * *

Gister het ek weer ingeloer by my oudkoshuis.

Die eerstejaars wat leiers geword het, is nou uit.  Dis reeds drie generasies later.

Die jarre staan weer in drie rye, roep luidkeels “Meneer dit en dat” vir elke senior wat verbykom; die HK-lede is bebaard en glimlag nie.

Die eerstejaars lyk onseker en loer af ondertoe, hulle langmouklere natgesweet.

* * *

Ons is terug in die 1990’s, dink ek.

En sug.

Ek het op dag een van die Verwelkoming my HK laat huil.

Standaard

Ek het op dag een van die Verwelkoming my HK laat huil. (Ek is einde laasjaar as ‘n inwonende hoof van ‘n nuwe vrouekoshuis aangestel).

Nouja, ten minste dra die HK-lid vir eerstejaars nie meer ‘n swarthaarpruik nie. (Maar die eerstejaars mag nog steeds nie die hooftrappe gebruik nie.)

Hoe diep gesetel is die magshiërargieë op Suid-Afrikaanse kampusse nie? (Dat tweedejaars hulleself as eerstejaars se meerdere ag?)

Of is dit bloot die manier waarop ons op skool gekondisioneer word? (Kyk af, graadaggie – hardegat word sagtegat!)

Liberté, égalité ma non fraternité.

Vir senior studente om werklik eerstejaars vriendelik, gasvry en menswaardig te ontvang, moet hulle hul wynrooi baadjies in die kas ophang, van hulle high heels afklim en kruisbeen op die gras met hulle medemense (toevallig nuweling-eerstejaars) gesels.

Ons maak darem vordering.

Maar die hiërargie bly behoue.