Monthly Archives: September 2010

In die jaar 5771 (sonder christus)

Standaard

Gisteraand (Joodse Nuwejaar) het die skryfkring waaraan ek behoort, weer ontmoet en stories van ‘n verbygane maand gedeel.  En toe geskryf.  Ons moes aanhaak aan gebeure en verhale rondom die tafel en voortskryf aan ander se stories.  Wat volg, is my probeerslag:

>>

in die jaar 5771

brand die blou kers; met soetgoed op die tafel

die skrywers sit –

gehipnotiseer deur ‘n bonsende jeep wat ry deur die wild

wat staan op ‘n stil duin in die woestyn

hulle kyk oopmond op na die afwesige valskerms in die lug

die skrywers skryf  (immers soos skrywers betaam) –

soos aasvoëls elke stukkie vleis van ‘n been aftrek

en kwylend neerdaal – vallende engele

na ‘n bruilofsfees met beendere wit

die skrywers onthou-

vergete notaboekies op ‘n bonsende jeep

donker mandalas in ‘n sirkelende spiraal

‘n gekurkte bottel sonder oopmaker

die skrywers knik tevrede –

op Rosh Hashanah (met ‘n blou kers op die tafel, en soetgoed)

hulle sien die horende dowe wat wild dans op lae klanke

die skrywers sug en skep –

en uiteindelik drenk die wyn in deur woorde

die viltpen vervloei tot ‘n moerasagtige sop en

brood – ‘n laaste maaltyd –

hulle breek die brood, en drink die wyn

in die jaar 5771

vredig.