Tag Archives: digkuns

onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent

Standaard

onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent

span ‘n sagte songloed oor jou naakte lyf
waar ons op die leer rusbank mekaar helder oordag ontklee
jou gesig distort telkens as jy inkom vir ’n soen
en in ons nabyheid klink musiek, af in die straat raas kinders en die bure se worshond blaf

waar ons op die leer rusbank mekaar helder oordag ontklee
glimlag ons vir mekaar en my hand streel oor jou bors en langs jou heup
en in ons nabyheid klink musiek, af in die straat raas kinders en die bure se worshond blaf
terwyl ons ons onderlywe reëlmatig wieg, my lief

glimlag ons vir mekaar en my hand streel oor jou bors en langs jou heup
jou gesig distort telkens as jy inkom vir ’n soen
terwyl ons ons onderlywe reëlmatig wieg, my lief
span ‘n sagte songloed oor jou naakte lyf

* * *

Seinde ek in my vorige pantoen te veel leestekens gebruik het, het ek bogenoemde ene kaalgestroop.

Dis nogals tricky – maar belangrik, vermoed ek – om die enjambement (die oorloop van een versreël na ‘n ander, oftewel die vloei van twee versreëls in mekaar) in ‘n pantoen reg te kry (seinde die herhaling van versreëls die volgorde waarin hulle voorkom teenoor die ander reëls, verfomfaai).

Ek het die begin/eindreël aanvanklik vanaf  “onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent span ‘n gloed om jou lyf” verander na ‘n tipe stelsin “‘n sagte songloed span oor jou naakte lyf onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent” en uiteindelik na die opdrag (in die eerste versreël) wat vervorm tot ‘n stelsin (aan die einde) a.g.v. die enjambement/samevloei van die voorlaaste versreël.  Ook het ek die “onder die…voetenent” uit die gedig gesny en tot die titel verhef.  Ek’s onseker of wat ek gedoen het die beste opsie was, maar nou ja, lewer gerus kommentaar.

Let op dat daar geen beperking op die lengte/vorm van pantoene se versreëls geplaas word nie; dit sou dus – soos ook in my insomnia-pantoen (met die leestekens) – ‘n interessante besprekingspunt kon wees: Hoe dra die lengte van die versreëls (of die gebruik van welke leestekens ook al) by tot die tematiek/atmosfeer van die gedig?

Of ‘n gunsteling vraag: Hoe verskil die funksies van die dubbelpunt aan die einde van die eerste versreël met dié van die laaste versreël van die pantoen-gedig Langafstrand?  Haha – onthou, jy het nie ‘n grootmeester se gedigte nodig om poësie te onderrig nie.  Gebruik eerder die leerders se eie outentieke tekste, hulle eie pantoen-probeerslae, om oor enjambement en klankrym, ens. te gesels.

Die slagspreuk lui mos: Tell me and I will forget; Show me and I will remember; Involve me and I will understand.

Anyway, alle voorstelle en kritiek is welkom; ek beskou hierdie pantoene as ‘n lekker skryfoefening.  Probeer gerus ook ene!

Wat maak ’n goeie gedig goed?

Standaard

Hoe meer ek met pantoene en cinquiane rondspeel, hoe meer wonder ek of digkuns ‘n ambag is wat aangeleer en ingeoefen moet word, of nie.  Kan jy dit aanleer of is dit ‘n ingebore talent wat slegs aan enkelinge beskore is?

Op skool word poësie dikwels as ‘n mistieke entiteit aangebied.  Ons word agterstevoor onderrig: eers die meesterstuk, dan definisies en voorbeelde van die elemente van goeie poësie (rym, ritme, ens.).  En dan, eers nadat als bespreek en opgesom is, moet jy ‘n gedig oor ‘n lukrake onderwerp produseer as huiswerk vir die volgende dag.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hoe om rou emosie in woorde om te sit, dit krities te beskou, stelselmatig te redigeer en te wéét wanneer dit klaar/goed is.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hóé om ‘n cliché te herken of rymwoorde só in te span dat dit nie soos ‘n Kurt Darren song klink nie.

Die tricky ding is, goeie digters flans verskeie emosionele assosiasies saam in nuwe beelde, logies-georden met ‘n klankrykheid en -ritme.  Hulle span hulle kreatiewe en logiese denke afwisselend in.  Onderwysers moet dus éérstens ‘n emosionele respons by leerders wek, tweedens vir hulle begelei om dit kreatief te verwoord en derdens krities te verfyn.

Ongelukkig is daar nog ‘n bykomende stap: leerders moet eers hulle vrees vir foute-maak verleer.  Poësie moet dalk nét formatief (met opbouende kommentaar) geassesseer word, en nie vir ‘n rapportpunt gemerk word nie.

Leerders moet die vrymoedigheid hê om onklaar gedigte klas toe te bring en saam-saam mekaar te kritiseer en raad te gee.  Hulle moet gesels oor wát hulle wou bereik, sê hoe hulle dit probeer doen het, en vertel waarmee hulle nog sukkel.  Só ontmoet die onderwyser hulle op hulle vlak.

Wat die onderwyser wél kan bepunt, is leerders se refleksies oor die skryfproses.  As jy kan agterkom dat ‘n leerder gewroeg het met aspekte van sy/haar gedig(te), dan is dit goed.

Bogenoemde is ‘n heel anderste proses as wat ons tans in skole pleeg.  In skole ontleed ons poësie van die meesters en bepunt die rymelary van die leerders.  Die illusie word geskep dat digters ‘n ander spesie is; gebore met ‘n goue pen in die hand – nêrens op skool sien ons dat selfs die groot name met woorde wroeg/gewroeg het nie.

Beide die cinquian en die pantoen is nuttige digvorme om leerders te begelei om te waag, speel, probeer, kritiseer, aanpas en weer te probeer.

Maar eers moet jy die gevoel/emosie aanwakker – dit is die eerste stap.

Probeer ’n pantoen!

Standaard

Probeer gerus om ‘n pantoen te skryf.  Dis ‘n digvorm waar versreëls in die daaropvolgende strofes herhaal.  In Afrikaans help dit jou veral om iets meesleurends te skep.

Die digvorm verg slegs ses oorspronklike reëls wat dan volgens die patroon verdubbel en gerangskik word om oor twaalf reëls te strek.  Die laaste strofe skryf heeltemal homself!  En rym is opsioneel.

Strofe 1

Reël 1
Reël 2
Reël 3
Reël 4

Strofe 2

Herhaal reël 2 (strofe 1)
Reël 5
Herhaal reël 4 (strofe 1)
Reël 6

Strofe 3

Herhaal tweede versreël van strofe 2 (reël 5)
Herhaal reël 3 (strofe 1)
Herhaal vierde versreël van strofe 2 (reël 6)
Herhaal reël 1 (die heel eerste versreël van die gedig)

In die gedig hieronder het ek my verbeel ek staan op my oorle ouma se woonstelbalkon en staar na die see, die verte in.

Langafstrand

Anderkant die horison:
Waar die see die strand ontmoet,
Trek die gety nou terug;
En in rotspoele krioel die lewe

Waar die see die strand ontmoet,
Daar spoel die seeslakkies uit –
En in rotspoele krioel die lewe
Soggens en saans teen ’n verre kus

Daar spoel die seeslakkies uit –
Trek die gety nou terug;
Soggens en saans teen ’n verre kus
Anderkant die horison:

Lees nog pantoene op Estelleke se blog en speel-skryf saam.  Dit hoef nie meesterlike digkuns te wees nie; slegs ses reëls – ek is seker jy kan!

Om te stut en hamer

Standaard

Ek beskou myself nie as ‘n digter nie, maar het die afgelope twee jaar die voorreg gehad om met ‘n ywerige aspirant-skrywer/digter, Ronnie Elliott, te werk.  Die volgende gedig het hy in graad 8 (standerd 6) geskryf ná ek hom ‘n bietjie van Breytenbach vertel het:

bedreiging van die onkundiges
vir Breyten Breytenbach
 
Meneer Breytenbach, meester van poësie soos ek dit ken,
vergun my om myself aan u voor te stel:
ek is die tienderjarige met die bruin oë
en blas vel en ek plaas my verstand onder ‘n juk
om vir u ‘n gedig te brou   soos byvoorbeeld:
jou woorde is karamel wat op my smaakkliere
sambokslaan
en jou metafore is melkfonteine
en jyself – ‘n Zeus op jou vakgebied
(met ‘n grys baard)
en met oë soos dié van ‘n perd
     
jou gedigte is ‘n rekreasieterrein vir my siel
en uit elke soete strofe
borrel daar pers suikerstroop
en ek teug aan die sap
van elke klank
en lettergreep
     
ja, waarlik,
die vrugte van jou handewerk
is ‘n tonikum vir my geestestoestand
en ek drink aan die sjampanje
wat jy op ‘n wit blad brou
     
orals in my kamer
praat die ink van jou pen met my
en ek verheug my
oor die klank
van jou
saffierstem
   
meneer, in feetjieland kan ek skryf soos jy;
wanneer ek slaap en my kop met my smokkel,
maar ek weet    en jy weet
dat dit bloot ‘n gogelary met my oë en verstand is
want in die lewe van tyd sal niemand u ooit kan namaak nie
 
Ronnie Elliott (27/08/2006)
      
Hy is die daaropvolgende jaar (laasjaar) ‘n goue sertifikaat (100%) hiervoor toegeken by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod.  Dis nie aldag dat jeugdiges intertekstualiteit pleeg nie!  Of hoe?