Tag Archives: Ronnie Elliott

Ronnie, Breytenbach, en die getekende gedig

Standaard

In ‘n droeë stemtoon, na ‘n langerige gewag in die ry, sê Ronnie (dalk effe oorlams):  “Jy teken seker nou al die hele aand almal se boeke…”

Breytenbach kyk op na die jongeling-skoolseun wat met ‘n stapel boeke onder sy linkerarm voor die teken-tafeltjie staan.

“…maar laat ek nou iets vir jou teken,” sê Ronnie, en haal sy gedig op ‘n enkelblad uit sy lêer, en sit dit op die tafeltjie neer.  Dan draai hy dit om, sit sy boeke neer, buk vooroor en onderteken sy gedig.

Breytenbach knik dankbaar sy kop en sê dit maak sy dag, baie dankie.  Hy kyk vlugtig na die papier, maak ‘n grappie oor hoe hy seker is dat dit veel beter is as die oorspronklike gedig waarop dit gebaseer is, en vra dat Ronnie ook sy kontakdetails agterop moet skryf.

Trots agter Ronnie staan sy pa.  Hy gesels later ook.

(En op ‘n plastiekstoel weg van hulle sit ek en asem ‘n alles in en uit en in.)

Om te stut en hamer #3

Standaard

Hierso is ‘n derde, en vir eers die laaste, gedig van Ronnie Elliott wat ek gaan post.  Hy het nog 52 ander wat ek sou kon opsit, maar ek dink ons moet hom dit maar spaar.  Kom ons wag eerder vir sy debuutbundel?  Of hoe dink julle?

Druppelskiete en skerwe onthou
vir gogga

 As die reën so stukkend val teen die huis en vensters (soos muskiete)
 dan dink ek graag aan jou, my gogga
 en hoe jy in in jou slaapklere lyk wanneer jy daai stinkgoed aansmeer
 om die nagetters soos jy hulle noem weg te hou

 ek onthou watse moerse frustrasie dit vir jou was as die vlieë so in jou kombuis
 kom partytjie hou of dalk selfs ’n orgie
 en dan sal jy altyd kla oor die bliksemse goed wat so vinnig geepad
 as jy hulle met die vlieëplak wil bykom

 die aand wat jy so stýf teen my gelê het kraak nog in my geheue
 toe die spinnekop vanuit nêrensniksnadda gekom het om op jou arm te sit
 die fok weet jy’t jou gat afgeskrik daai aand (moenie worry nie, ek ook!)
 jy wou nie eens in ons bed meer slaap nie ons het toe maar in die gastekamer gaan lala

 dan dink ek ook terug aan die dag toe my broer die seekat gevang het
 die ding het nog aan jou vasgesuig en jy’t so gegil ek moet erken dit was te kostelik
 my ding, jy’t aan my vasgeklou ámper soos daai seekat
 en jy’t gesê jy wil huistoe gaan en ek’t geglimlag en gesê ai, my skat
(en die mense in die omtrek het ons nog vreemd aangekyk toe ons soen).

Ronnie Elliott
2007/05/20

Om te stut en hamer

Standaard

Ek beskou myself nie as ‘n digter nie, maar het die afgelope twee jaar die voorreg gehad om met ‘n ywerige aspirant-skrywer/digter, Ronnie Elliott, te werk.  Die volgende gedig het hy in graad 8 (standerd 6) geskryf ná ek hom ‘n bietjie van Breytenbach vertel het:

bedreiging van die onkundiges
vir Breyten Breytenbach
 
Meneer Breytenbach, meester van poësie soos ek dit ken,
vergun my om myself aan u voor te stel:
ek is die tienderjarige met die bruin oë
en blas vel en ek plaas my verstand onder ‘n juk
om vir u ‘n gedig te brou   soos byvoorbeeld:
jou woorde is karamel wat op my smaakkliere
sambokslaan
en jou metafore is melkfonteine
en jyself – ‘n Zeus op jou vakgebied
(met ‘n grys baard)
en met oë soos dié van ‘n perd
     
jou gedigte is ‘n rekreasieterrein vir my siel
en uit elke soete strofe
borrel daar pers suikerstroop
en ek teug aan die sap
van elke klank
en lettergreep
     
ja, waarlik,
die vrugte van jou handewerk
is ‘n tonikum vir my geestestoestand
en ek drink aan die sjampanje
wat jy op ‘n wit blad brou
     
orals in my kamer
praat die ink van jou pen met my
en ek verheug my
oor die klank
van jou
saffierstem
   
meneer, in feetjieland kan ek skryf soos jy;
wanneer ek slaap en my kop met my smokkel,
maar ek weet    en jy weet
dat dit bloot ‘n gogelary met my oë en verstand is
want in die lewe van tyd sal niemand u ooit kan namaak nie
 
Ronnie Elliott (27/08/2006)
      
Hy is die daaropvolgende jaar (laasjaar) ‘n goue sertifikaat (100%) hiervoor toegeken by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod.  Dis nie aldag dat jeugdiges intertekstualiteit pleeg nie!  Of hoe?