—————————-
Hierdie “sprokie” is opgeneem in Die Literator waar dit as parodie bespreek is. Ek post dit nou maar hier, omdat ek self terug in die Bos is! 😛 Verskoon asb. die taalgebruik – nie vir sensitiewe lesers bedoel nie!
—————————-
Grietjie en Hansie – ‘n Bos parodie
Net nou die ander dag rock Grietjie en Hansie op by die McD’s en lek hulle lippe af. Dis McFlurry tyd. En dis fokken laat. (Die son kom oor twee ure op en die Bos draai al klaar.)
“Fokkit!” sê Grietjie. “McDonalds is toe. Wie de fok het die fokken plek toegemaak?” Die vraag hang in die lug. “Dis fokken fucked up!”
Hans knik sy kop inskiklik. “Dit is so,” sê hy en wag dat die wêreld ophou draai/sy kop met sy brein opvang.
Grietjie smeer haar makeup-gesig teen die glasdeur wat nie wil oop nie. Daar’s ’n overall tannie wat rondbeweeg binne. “Hey, fucking bitch!” skree sy en skop teen die glas. Dit maak ’n spinnekoppie/kring uit in ’n web. “Fokken maak oop!” probeer sy weer, maar die cleaner verdwyn agter in die kombuis met ’n besem. “Fokken heks!” skree sy agterna.
(Die BP-petroljoggies werk ongestoord voort. Die glasruit hy word elke week vervang en die studente hy is nie mooi.)
Hans sukkel met sy balans. Sy vroeëre kopknik-beweging vang hom nou. Hy gryp in die lug en val onelegant neer op sy knie. Hy voel naar. (Veels te veel rosyntjiesap.)
“Fok, staan op!”
“Ek moet badkamer toe…” mompel Hansie. Hy besef sy fyn motoriese vaardighede is in hul moer. Hy het net pyn-moroniese vaardighede oor. “Fokkit, jy’s fucked,” sê Grietjie… “Jou klein doos.”“Ja…” kreun hy. Hy weet nie van die doos-deel nie, maar wat dronkheid betref, is hy inderdaad fucked. Grietjie kyk onsimpatiek na hom terwyl hy so beskaafd as moontlik op die grond probeer spoeg om sy naarheid weg te kry. “Waa’s’ie badkamer?”
“Fok jou! Fok off…”
Hansie stut mettertyd homself regop en sien vaagver ’n Klippies-en-Cola-poster teen die lamppaal swem. Hy swaaistap sukkelrig daarheen en hoor Grietjie verlangs vloek. By die baieste Klippies-lamppaal sien hy die pub en strompel by die trappe op. Êrens verbeel hy homself hy hoor ’n sirene.
Die dansbaan het net ’n uitgedunde groepie bittereinders en hy vleg maklik deur tot by die badkamer. Ná ’n ruk bibber sy selfoon. Hy vat ’n laaste sluk water, plas sy gesig wakker en lees Grietjie se SMS: “fok kom mcds toe.”
Hy maak so.
Of altans, hy probeer.
Buite die kuierkroeg volg hy die lamppale met die rooi-en-swart Klippies-en-Cola-Touch-Rugby-plakkate. Nou effe nugterder, is die pad heelwat korter.
Grietjie het nog nie moeg geraak van skop en skree nie. (Dit herinner hom aan kleintyd.) “Die plek is toe, Grietjie…” probeer Hansie toe hy naby is.
(Dit was die verkeerde ding om te sê.)
Op die volgende oomblik is daar glasskerwe oral en Hansie se lyf volg sy kop, of meer spesifiek, sy oor wat driftig deur sy suster gekoeksuster word.“Ék sal fokken besluit wanneer die plek toe is!”
(Of, meer spesifiek, wanneer dit oop is.)
“HAYI, SUKA WENA!,” skree die skoonmaakster. Iets is nie lekker met haar oë nie. Sy hou die besem beskermend voor haar bors. “EK GAAN HOM DIE BOERE (DIE POLISIE) BEL!” waarsku sy.
Hansie se kop suis van die oordraai. “Ons gaan in die sop beland, Grietjie!” skree hy. Hy verbeel weer hy hoor ’n alarm of ’n sirene of iets, maar dis waarskynlik die radio wat hard binne die McDonalds weergalm.
“Maak my ’n chicken McMeal, ’seblief,” sê Grietjie, amper beleefd (soos wanneer sy vir haar ouers vir nog sakgeld vra).
“Nie vir my nie, dankie!” chip Hansie in. “Ek’s op ’n dieet.”
“HAYI, WHAO! SUKA WENA! DIE KOMBUIS HY IS TOE! GA’ HYSTOE! VOETSEK! DIE POLISIE, HY GAAN JULLE VANG!”
Grietjie grinnik grimmig.
“Daar het jy dit nou, Grietjie…” probeer Hansie so diplomaties en sober as moontlik. “Ons kan net-nou ontbyt eet.” Hy kners op sy tande. “Kom ons gaan…”
“Fokkit!” sê Grietjie en kyk na die glasskerwe wat oral lê. Die glasoog cleaning lady dans bewerig soos ’n sangoma op ecstacy, alkohol en ongeëtiketteerde happy pills. Self gebeur als in Grietjie se kop in slow motion. Hansie krul onder haar duim-en-voorvinger-greep en kerm kort tjankgeluidjies. Buite kyk die petroljoggies soos opgewipte meerkatte na die hele petalje en duskant sien sy drie dronk ouens wat plakkate van die lamppale steel.
“Fokkit, Hansie…” sê sy weer. Die skoonmaakster steier stadig terug en val oor ’n stoel wat agter haar staan. Dit vat ’n ewigheid. Hansie wring Grietjie se voorvinger langsamerhand van sy oorlel af en ploeter lomp op die grond rond. Hy het glas in sy bene en op sy wang. Tyd staan amper stil.
’n Dik bedompigheid vermolm Grietjie se moed, so asof sy gaan uitpass. Sy voel half-doodnugter. “McFuckit, Hansie!” probeer sy weer en sien in haar gekraakte weerkaatsing te veel rooi.
En toe is dit dit.
’n Ruk later toe die wit ambulans aankom, was dit gans te laat.
Hansie is hospitaal toe en het kort daarna vir McDonalds gesue oor té gevaarlike glas en miljoene uit ’n settlement gekry. (Dis hoekom daar deesdae waarskuwings op glasdeure en vensters is.)
Die heks het nog tot laat wakker gebly, die cash register leeg-gesteel, die skerwe met ’n skoppie en borsel opgevee en al die bloed van die teëls opgemop.
KUGQITHA.
—————————-
Hierdie “sprokie” is opgeneem in Die Literator waar dit as parodie bespreek is. Ek post dit nou maar hier, omdat ek self terug in die Bos is! 😛 Verskoon asb. die taalgebruik – nie vir sensitiewe lesers bedoel nie!
—————————-